“Nee, toe nou, Karel, dis nou te laat om kleinkoppie te trek!”
Jaap-van-die-Kaap klap my pa op die rug. My keel trek toe, asof ek aan ’n stuk slangvleis wurg. Dit moes die man nie gesê het nie.
“Kleinkoppie!” Pa se stem styg soos wanneer hy besig is om ’n hofsaak te verloor. “Ha! Jy gaan vanaand nog jou woorde sluk, ou Jaap! Saam met ’n lekker happie gebraaide slang!”
“Bye, bye, Miss American Pie,” sing Don McLean oor die radio. “Drove my Chevvie to the levee but the levee was dry …”
Ek neurie saam, swaai my skouers en skop my voete asof ek deur die musiek wil swem.
“Hoekom het die ou sy kar na ’n toilet toe geneem?” vra Liefie met toe oë langs my.
“Ek het ook al gewonder.” Ek dog sy het aan die slaap geraak.
“Maar Simon sê mos as jy sing, hoef jou woorde nie sin te maak nie. Hy sê as almal meer sing en minder praat, sal die wêreld ’n beter plek wees.”
“Nie as almal so vals soos jý sing nie,” mompel Liefie.
Ek maak of ek haar nie hoor nie. Luister net na ou Bob Dylan, sê Simon. Oh, but I was so much older then, I’m younger than that now. Dis eintlik beter as die woorde so ’n bietjie deurmekaar is, sê Simon. Dan klink dit diep.
Londen
14 Julie 1992
Liewe kind
Ek haat dieretuine. Maar ek het so verskriklik verlang vandag dat ek my seun na ’n dieretuin toe gesleep het. Vandat ek laas maand my storie begin skryf het, voel ek aanhoudend homesick. Of hartsiek, soos ek verkies om dit te noem. Ek het gedog ek sou beter voel as ek ’n paar ander exiles uit Afrika sien, maar dit het my net meer bedruk.
’n Renoster agter tralies in die middel van ’n Londense park is ’n patetiese prentjie. Hy het net daar gestaan, roerloos, en met wrewelrige klein ogies na sy besoekers gekyk. Sy skurwe, vuilgrys vel het my aan die hakskene van die straatkinders langs Kaapstad se verkeersligte herinner, daardie kinders met die bedelende hande en bedwelmde oë wat altyd soos visioene uit die hel langs my toegedraaide motorruit verskyn het. Ek kon dit nie vat nie. Dit was een van die dinge wat my laat vlug het. Ek wou nie in ’n land woon waar kinders só lyk nie. En tog, toe ek vandag daar voor die renoster staan, het ek gewonder wie van ons twee voel meer ontuis hier in die hart van Londen.
Ek het my seun se taai hand beetgekry en koponderstebo koers gekies na die leeuhok toe. In sy twee-en-’n-half-jarige onskuld het hy in elk geval meer belang gestel in die pak dinosourus-lekkers in sy ander taai hand as in enige van die patetiese diere waarna sy ma wou kyk. Kinders is veronderstel om van dieretuine te hou, maar ek wonder of dit nie net nóg ’n mite is wat grootmense graag wil glo nie.
In die aandenkingswinkel, aan die einde van ons besoek, het hy my gevra om vir hom ’n plastiek-dinosourus te koop. Hulle verkoop nie dinosourusse hier nie, het ek hom onnodig ongeduldig toegesnou, gatvol vir die passie vir ’n spesie wat eeue gelede uitgesterf het. Dieretuine is vir lewende diere, het ek geduldiger probeer verduidelik. Waarom? wou hy weet.
Waarom, inderdaad.
Ek het aangebied om vir hom ’n plastiek-renoster te koop. Of ’n olifant of ’n leeu? Hy wou ’n plastiek-dinosourus hê. Soms is my seun ’n klipkop – soos enige kleuter – maar soms is dit asof sy hele lyf in klip verander. Dan word hy veel swaarder as wat hy lyk, heeltemal onbeweeglik. Dis wanneer hy my aan Pierre herinner.
Die leeu het eindeloos heen en weer agter die tralies gestap, sy maanhare die ene toiings. Hy het selfs slegter as die renoster gelyk.
“Leeu,” het ek vir my seun gesê.
“Leo,” het my Engelse seun herhaal, asof hy van ’n sterreteken praat.
“Roar, Young Lion!” het ek die leeu beveel, maar hy het so onbegrypend soos my seun na my gestaar. “Rrroaaa! Rrroaaa!”
My seun se kouende kakebeen het ’n oomblik verstar voordat hy sy hande opgewonde geklap het. Applous vir sy ma wat haar soos ’n gek gedra.
Daar was lank gelede ’n dieretuin skuins onder Rhodes Memorial in Kaapstad. Ek weet nie of ek ooit daar was nie. Miskien was dit vóór my tyd. Miskien het my ma my daarvan vertel. Maar ek kan swéér ek onthou so ’n uitgeteerde leeu in ’n vuilerige hok naby ’n snelweg.
Dis my vroegste dieretuin-herinnering. Die ander is selfs erger.
Op laerskool het ek saam met ’n spul skoolmaats in ’n bus na die Tygerbergse dieretuin toe gery. Al wat ek dáárvan onthou, is ’n klomp krioelende slange in ’n slangput. Ek het maande lank oor slange gedroom, skreeuend wakker geword nag ná nag. My ma was raadop met my.
En dan was daar natuurlik die besoek aan die Pretoriase dieretuin, die dag toe die foto geneem is waarvan ek jou laas maand vertel het. Ek was ’n tiener, die ene lang bene en skaamdele, swetend in ’n kabelkarretjie hoog bo-oor ’n seekoei se kamp, met niks behalwe die dun vloer van die kabelkarretjie en ’n helse long drop tussen my en die seekoei nie. Pierre het die karretjie met sy maer lyf heen en weer geswaai, laggend, uitdagend in sy lelike bruin army-uniform. Ek het my oë toegeknyp en gebid dat ek op ’n ander plek kon wees – enige ander plek – as ek hulle weer oopmaak. Toe ek dit waag om weer deur my wimpers te loer, het ek bo-oor die renoster se hok gehang. Dit was waarskynlik die begin van my voortdurende vertwyfeling oor die mag van gebed.
“Which is worse?” het ek vir my seun gevra, ’n speletjie wat ek gereeld met hom speel. “To be squashed by a hippopotamus or impaled by a rhinoceros?”
Hy’t geskaterlag en my selfs een van sy dinosourus-lekkers aangebied. Hy’s gek oor sulke afgryslike moontlikhede. Gee hom ’n storie met ’n gewelddadige einde en hy glimlag van oor tot oor. Dwergies wat hulself middeldeur skeur van woede. Hekse wat in gloeiende skoene dans tot hulle dood neerslaan. Waar kom hierdie bloedlus vandaan?
Sy Afrika-voorvaders se jagtersgeeste? Of sy Ierse voorvaders se vegtersgeeste?
Ek het hom ’n uur gelede met nog ’n genadelose sprokie aan die slaap gesus, sodat ek my eie genadelose storie verder kan vertel.
Hoe voel dit om sestien te wees? Ek sou dit graag weer wou voel – werklik vóél, nie net oppervlakkig onthou nie – sodat ek my storie beter kan vertel.
Verder sou ek graag wou glo dat dit goed gaan met jou, waar jy ook al is.
M.
Nights in white satin
Dis donker in die koshuiskamer, en neerdrukkend warm, soos elke nag. Nie heeltemal so donker soos elke nag nie, besef ek ná ek ’n ruk met oop oë gelê het. Die maan moet amper vol wees.
Simon sou geweet het. Sy buie raak altyd snaakser soos die maan voller raak. Dis onverklaarbaar, sê Ma, dit behoort eintlik met my te gebeur omdat die maan my ruling planet is, maar sy meen dit het dalk iets met sy rising star te doen. My ma neem dié dinge ernstig op. Simon lag net en sê hy glo nie aan die sterre nie, dis oor hy ’n weerwolf is dat hy met die maan gepla is.
Ek draai op my sy sodat ek na Dalena se bed kan kyk. Sy lê ook op haar sy. Seker net so nat gesweet soos ek. Die reuk van Peaceful Sleep hang bedwelmend in die lug. Soos elke nag.
Ek skrik toe ek die wit van haar oë sien.
“Ek dog jy slaap,” fluister ek.
“Te warm,” fluister sy.
“Raak mens dan nooit gewoond daaraan nie?”
“Aan die hitte?”
“Aan alles,” fluister ek. “Ek’s al amper twee maande in die koshuis, en dit voel of ek nooit gaan aanpas nie!”
“Jy’s maar net nie ’n koshuiskind nie.”
“Is jý?”
“Ek’t