“Jy moet onthou die wit mense in Afrika het nog altyd ’n beleid van divide and rule gevolg. Kenyatta van Kenia sê die wittes bid eintlik dat die swartes moet aanhou baklei, sodat die wittes kan aanhou om baas te speel.”
“Jy bedoel …” Simon sluk ingedagte aan sy bier. “Die wit mense gee pad, maar die divide and rule gaan aan?”
“So iets. Maar ek dink ons eie regering gaan meer doen as om net te bid.” Pierre se heserige stem het ’n onheilspellende klank bygekry. “Ons ouens was nog altyd beter met baklei as met bid.”
Simon kyk hom fronsend aan, sy mond oop asof hy iets wil vra, maar nie die moed het om dit te doen nie.
“Ek dink hulle gaan die army instuur,” sê Pierre sonder om na Simon te kyk, sy swart oë op sy bierbottel.
“In Angola in?” Simon se gesig is die ene ongeloof, sy stem hoog van verbasing. “Nooit!”
“Hoekom nie? Die army is klaar op die grens. Hulle moet dit net oorsteek. Die soldate, die wapens, alles is daar. Dink jy hulle sal die versoeking kan weerstaan?”
“Maar …” Simon lag senuweeagtig. “Hoe sal ons weet wie se kant om te kies?”
“Maak dit saak?” Pierre haal sy skouers op en lag saam met my broer. “Divide and rule?”
Simon fluit sag deur sy tande. Hy lyk nie meer so ongelowig nie. Ek voel skielik grensloos geïrriteerd. Toe ek sug – heelwat harder as wat ek bedoel het – kyk Pierre verbaas op, asof hy nou eers onthou dat daar nog iemand saam met hulle in die kamer is.
“Jy’s verveeld met ons army-stories.” Dis ’n stelling, nie ’n vraag nie.
“Wel …” Ek is meteens dankbaar dat die kamer so donker is, want ek kan voel ek is al weer aan die bloos. “Ek’s bly ek hoef nie army toe te gaan nie …”
“Waaroor wil jy gesels?”
Spot hy met my?
“Met háár kan jy oor boeke gesels,” sê my broer. “Sy lees baie meer as ek.”
“Maar nie naastenby so baie soos jy nie,” skerm ek haastig en beduie met my hand na die oorvol boekrak.
“Baie van daai boeke behoort aan my ma en pa.” Hy sluk die laaste bietjie bier uit die bottel. “Al daai outydse ouens. Ek hou meer van moderne skrywers. En jy?”
“Nee … ek weet nie … solank die boek lekker lees …”
Nou klink ek presies soos ek gevrees het. Soos ’n idioot in standerd drie. My verstand verander in ’n kar met ’n pap battery. Ek pomp die petrolpedaal so al wat ek kan, soos ek al vir Ma sien maak het, wanhopig om ’n geluid voort te bring. Maar daar is niks behalwe ’n doodse stilte tussen my ore nie. Pierre glimlag, dié keer met albei mondhoeke, maar die een is steeds hoër as die ander.
“Is jy lus vir fliek vanaand?” vra my broer en red my van verdere vernedering. “Pierre ken die Portugees van die kafee langs die Plaza. Hy kan vir ons ’n spesiale home movie laat kry.”
“Spesiale?” vra ek versigtig.
“Ongesensor,” sê Pierre.
“Ek weet nie …” Hy bedoel tog seker nie een van die vuil flieks waaroor ons vroeër vanmiddag in die kar gesels het nie? “Watse fliek?”
“Moenie worry nie,” sê Pierre. “Ons sal niks kry wat ’n skoolmeisie laat bloos nie.”
En ek bloos wéér.
“Kan ek vir Dalena nooi?” vra ek op die ingewing van die oomblik.
“Hoe gaan sy hier kom?” vra my broer.
“Sy sal ’n plan maak.” Al moet sy haar pa se kar steel en self hierheen ry. Dalena sal nie so ’n kans deur haar vingers laat glip nie. Sy’s nie so lafhartig soos ek nie. “Sy kan mos maar vannag by ons op die plaas oorbly? Dan kan ons haar more terugneem?”
“Wie’s Dalena?” wil Pierre weet.
“Mart se kamermaat,” sê Simon. “Sy’s glo ’n seksbom.”
“Ek het nooit só gesê nie!”
“Wel, jy’t gesê sy’s sexy.”
“Sê vir haar sy’s welkom.” Die keer glimlag Pierre so skeef soos my oupa Visdam nadat hy sy eerste beroerte-aanval oorleef het. “Sê vir haar sy’s baie welkom.”
“Hoekom het jy nie vir my gesê jou broer is so ’n dish nie?” wil Dalena weet die oomblik toe ek my oë oopmaak.
Sy lê op haar maag in die ander bed in my kamer, ken in die hand, asof sy al ure wag dat ek wakker word.
Ek maak my oë dadelik weer toe. Die lig is te skerp en haar stem te diep. Gewoonlik hou ek van Dalena se seunstem, maar vanoggend wens ek sy was ’n hoëtroustel sodat ek die basklank kon uitdoof. Ek het te laat in die bed gekom, ná ek te veel bier gedrink het om vir Simon en Pierre te probeer imponeer. Iets klop in my kop, aanhoudend, en my hare ruik die ene rook.
“Hei, jy kan nie nou verder slaap nie,” fluister sy dringend.
“Hoekom nie?” fluister ek met toe oë.
“Ek het ’n belangrike saak om met jou te bespreek.”
Ek voel hoe ’n kussing my teen die kop tref. Spelerig, maar hard genoeg dat ek my oë oopmaak. Ek weet wanneer ek verloor het.
“Wat’s dit, Dalena?”
“Vertel my meer oor jou broer.”
Ek gooi die kussing terug na haar kop toe.
“Hy’s gevaarlik. Hy rook en hy drink en hy breek meisies se harte by die dosyne. Wat wil jy nóg weet?”
“Klink onweerstaanbaar.” Dalena glimlag haar skaamtelose breë glimlag.
“Hoe’t jy van die fliek gehou?”
“Ek kan niks daarvan onthou nie,” sê sy. “Dit was onmoontlik om te konsentreer met jou broer wat so naby my sit.”
“Môre, môre.” My ma steek haar kop by die kamerdeur in. “Ek het vir julle koffie en beskuit gebring.”
Ma het haar Japannese kamerjas aan, die een wat sy ’n kimono noem. Eendag wil sy nog die Ooste sien, sê sy altyd. (En Rusland en Egipte.) Sy bring nie gewoonlik vir my koffie in die bed nie, maar sy hou daarvan om my maats te beïndruk. Sy dra ook nie elke dag die kimono nie.
“Dankie, tannie, dit gaan heerlik smaak!” sê Dalena in haar soetste stem en spring op om die skinkbord, met ’n gehekelde lappie so styf soos karton gestysel, by Ma oor te neem.
Ma glimlag dankbaar. “Het julle ’n lekker aand gehad?”
“Ons het ’n goeie fliek gesien. The Graduate. Het Ma al daarvan gehoor?”
“Met Dustin Hoffman?” Ma gaan fliek maar min deesdae, maar sy hap nogtans gulsig aan elke brokkie skindernuus oor die sterre van Hollywood in haar geliefde tydskrifte. “Hy’s darem so kort en vaal! Ek weet ek’s outyds, maar ek hou nog daarvan dat ’n leading man moet lyk soos ’n leading man!”
“Soos Clark Gable of Rock Hudson,” mompel ek met my mond vol beskuit.
“Soos Clark Gable of Rock Hudson,” stem Ma ernstig saam.
Die oomblik toe Ma se blinkblou kimono om die kamerdeur verdwyn, spring Dalena weer op en kom sit kruisbeen op my bed, amper bo-op my.
“Sê my nou reguit, Mart,” sê sy dringend. “Sê my of jy dink ek het ’n kans.”
“Vir wat?”
Ek suig die kofiie uit ’n deurweekte stuk beskuit en steek my hand uit om die radio op die bedkassie aan