Nou het ek te oud gevoel.
“Nou ja, ek moet seker gaan.” My ma se gesig was blink gesweet. Dit was ook háár eerste kennismaking met die grysheid van ’n koshuiskamer. Sy het na my gekyk asof sy my nooit weer sou sien nie. “Jou pa sit in die warm kar en wag.”
Hy wou mos hier kom woon, het ek gedink.
“Sal jy regkom met die uitpakkery?”
Sy het na die nuwe nylontas op die vloer gekyk. Grys – asof ons ’n voorgevoel gehad het toe ons dit die vorige week gekoop het – met die handvatsel en afwerking so uitspattig oranjerooi soos die blomme in die onbekende boom.
“Ja, natuurlik. Ma kan maar gaan.”
Sy het opgestaan en my vasgedruk, vlugtig, bang vir ’n uitbarsting van emosie. Sy het soos altyd geruik, na babapoeier en sigaretrook en die sieksoet haarsproei (For Firm Hold) wat haar hare aan ’n mens se vingers laat vassit, maar haar reuk het met die vreemde reuke van die kamer gemeng – muwwe kos, ontsmettingsmiddel, Peaceful Sleep teen die muskiete – en ek het my kop weggetrek omdat ek naar geword het. Sy het gedog dis omdat ek haar nie wou soen nie.
Eers toe sy uit die kamer is, het ek gehuil.
Jare later het sy my vertel dat sy ook gehuil het, heelpad huis toe. Terwyl my pa haar probeer oortuig dat ek spangees en gehoorsaamheid en goeie tafelmaniere in die koshuis sou aanleer – en al die ander ordentlike dinge waaraan sy vier kinders volgens hom ernstig te kort geskiet het.
“Dis wat gebeur as jy kinders op die moderne manier wil grootmaak,” het hy haar beskuldig, nie vir die eerste keer nie. “Uit dokter Stock se boeke!”
“Spock,” het Ma gesug.
“Jy weet goed wat ek bedoel. Ek het jou al baie gesê, Marlene, moenie by mý kom huil as hulle eendag drop-outs of dwelmslawe word nie.”
My vakansie langs die see het soos iets uit die verre verlede gevoel. Ek kon nie eens onthou watter kleur Niek se oë was nie.
Bruin, natuurlik, het ek in ’n vlaag van paniek gedink, maar hóé bruin? Bruin soos bitter sjokolade of bruin soos melkkoffie of bruin soos gemmerbrood of … Ek was honger, het ek besef, en gewonder of koshuiskos rêrig so sleg sou wees soos almal sê.
Die bed oorkant my was leeg, die lakens en kussingsloop vuilwit met die uitgewaste letters T.O.D.T.E.D.T.O.D.T.E.D.T.O.D … in ’n eindelose ry as enigste versiering. “Ons hou altyd een of twee beddens oop,” het die koshuismoeder verduidelik. “Daar is altyd nuwelinge wat ’n dag of twee laat kom.” Haar stem het soos ’n slaghuissaag deur murg en been gesny. Ek het gehoop die nuweling vir wie dié bed bestem was, sou op pad hierheen in ’n motorongeluk beland. Ek wou nie aan die slaap raak langs ’n kind wat ek van g’n kant af ken nie.
Die klok het so skril gelui dat ek verskrik na die kamerdeur toe gehardloop het. Buite in die gang, bokant die deur, het iets gehang wat soos ’n fietsklokkie vir ’n reus gelyk het – ’n opskepbak van vlekvrye staal wat ’n onbeskryflike geraas maak. Van al die kamers in die lang, lang gang het ek die een reg onder die klok gekry. Ek het die deur toegedruk en in trane uitgebars.
Dit was die aandeteklok, die eerste van baie klokke wat ek in my nuwe lewe as koshuiskind sou leer ken.
Die eetsaal was vir my selfs leliker as die slaapkamer. Om elke lang tafel het agt meisies op harde houtstoele met hoë rugleunings gesit. Terwyl die koshuismoeder bid, het party met oop oë na ’n bak bruinbrood in die middel van die tafel gestaar, gesigte gespanne soos atlete wat wag om weg te spring. Die oomblik toe die saagstem “Amen” sê, het almal gelyk na die bak gegryp.
Daar was twaalf snye brood in die bak, het ek later besef, wat beteken dat net die vier vinnigste eters ’n tweede sny kon kry.
Dis selfs erger as wat ek verwag het, het ek gedink, terwyl die meisie langs my ’n stuk brood in groot, gulsige happe afsluk en haar hand uitskiet vir ’n volgende sny. Dis soos iets wat Charles Dickens geskryf het!
Aan die bopunt van elke tafel het ’n matriekmeisie gesit wat eerste kans kry om kos te skep. Daarna word die staalskottels heen en weer oor die tafel aangegee, totdat dit oplaas aan die onderpunt uitkom, waar die verloorders sit. Die ongewildes, die lelikes, die dommes, die nuwes, soos ek. Teen die tyd dat ek die oorskiet uitgeskep het, was die matriekmeisie se bord al amper leeg geëet.
Aandete was pap en wors en ’n sous van gebakte tamaties. Waar ek vandaan kom, eet jy soggens pap, met melk en suiker en ’n klont botter. En selfs soggens is ek nie mal oor pap nie.
Die matriekmeisie aan die bopunt van die tafel het soos ’n klein dogtertjie gelyk, met ’n knopneusie en hare wat in boksterte hoog bo haar ore vasgemaak is. Totdat jy haar borste opmerk – twee majestueuse bergpieke wat alles in die omgewing oorskadu. Ek het onbeskaamd daarna gestaar.
Dalk is hierdie omgewing so vrugbaar dat nie net die plante vinniger as op ander plekke groei nie. Dalk is die mense ook almal beter bedeel? Ek het my sewe tafelmaats bekyk. Hulle het natuurlik nie almal groot borste gehad nie, maar die een langs my se grypende hande was amper so groot soos my pa s’n. En die een oorkant haar se vlegsel was so lank en so dik soos ’n laerskoolkind se arm.
“Wat het jy gesê is jou naam?” vra die een met die ongelooflike vlegsel toe sy agterkom ek kyk na haar.
“Mart.” Die pap het soos wondergom aan my tande vasgesit. “Mart Vermaak.”
Nou kyk al sewe na my. Waar kom jy vandaan? In watter skool was jy? Ken jy vir … Maar so skielik soos die sarsie vrae begin het, vergeet hulle weer van my. Sewe koppe draai weg van my af. Sewe stemme gesels geesdriftig oor die afgelope vakansie.
Ek het na die gebakte tamatieskille in my bord gestaar – so grillerig soos melkskilfers in ’n koppie koflie – en probeer onthou presies hoe dit klink as ’n brander oor ’n rots breek.
Nog ’n vaal teëlvloer in die badkamer, twee rye vuilwit wasbakke oorkant mekaar, twee rye toilette en baddens agter toe deure, en ’n paar oop storte aan die verste muur. Wat het van al die kleure in die wêreld geword? Selfs die meisies om my het kleurloos gelyk, vuilwit in hulle somernagrokke, asof ek na ’n oorbeligte foto kyk.
Ek het my tande geborsel en aan my vakansie gedink. Die reuk van sonbrandolie probeer oproep, die gekerm van meeue wat deur die wind weggewaai word, die taai gevoel van sand teen ’n nat lyf. Enigiets om van hierdie onwerklike werklikheid weg te kom.
Maar al wat ek kon ruik, was die Clearasil wat die meisie langs my aan haar puisies smeer. Terwyl sy met oopmond-konsentrasie na haarself in die spieël staar, heeltemal onbewus daarvan dat ek haar dophou. Al wat ek kon hoor, was water wat uit wasbakkrane en stortkrane stroom. As ek my oë toemaak, kon ek my dalk verbeel dis branders.
Toe ek my oë toemaak, het ek die skerp skuimsmaak van tandepasta op my tong geproe, en skielik onthou dat Niek se mond na pepermente en tabak gesmaak het, met so ’n effense souterigheid agterna.
’n Klok het gelui – nóg een – en almal het uit die badkamer geskarrel soos kokkerotte wanneer ’n lig in ’n donker vertrek aangeskakel word. Ek het ook in ’n kokkerot verander.
In my nuwe slaapkamer het my uitgepakte kleretas en my leë skoolrugsak op die bed gelê. Bo-op die tas was ’n paar stukke gekreukelde koerantpapier waarin ek ’n koffiebeker en ’n porseleinpoppie en ’n paar ander patetiese ornamente toegedraai het om my aan die huis te herinner. Ek het op die bed gaan sit en een van die koerantberigte begin lees omdat ek nie geweet het wat anders om te doen tot die volgende klok lui nie.
Ons vyande moet weet dat elkeen wat ons aan die grens afgee, ons hegter bind aan ons land, Suid-Afrika. Die Minister van Polisie, mnr. Jimmy Kruger, op die begrafnis van ’n jong konstabel wat in Rhodesië doodgeskiet is.
Ek het die koerantpapier opgefrommel en ’n snippermandjie gesoek. Onder die tafel het ’n draadmandjie gestaan.