Tussen heinings. Corlia Fourie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Corlia Fourie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624074779
Скачать книгу
… En skielik is daar skote, stemme, mense wat hardloop … buite die huis, deur die tuin … nog skote … en toe Eben se stem …”

      “Wat het hy probeer doen? Hulle kon hom doodgeskiet het.”

      “Eben het die noodknoppie in sy kamerjas se sak gehad en dit gedruk toe hulle ingekom het. Die sekuriteit was binne minute hier.”

      Elize gaan na Catherine, druk haar skoonsus vas, voel hoedat die stywe lyf begin ontspan, hoe sy begin ruk en toe huil asof sy nooit weer gaan ophou nie.

      Toe Eben hom later by hulle aansluit, staan hulle nog so. Hy loop na hulle en slaan sy arms om sy vrou en sy suster. Hou hulle albei styf vas asof daar iewers nog ’n aanvaller is waarteen hy hulle moet beskerm.

      “Even when I close my eyes,” sê Catherine, “even then I have flashbacks. I can still hear the swish, swish of their raincoats and gumboots.”

      Elize maak koffie en toebroodjies vir almal voordat sy werk toe ry.

      5

      Welcome sit omtrent alles wat hy het in ’n groot swart tuinafvalsak: ’n ekstra (stukkende) langbroek, ’n uitgerekte trui met gate, deurgeloopte tekkies, ’n reisdeken, die halwe brood van gister, ’n Coke-bottel met kraanwater, en ’n gebreide mussie wat hy op ’n vullisdrom gekry het. Hy voel in sy broeksak of die paar note van gister nog daar is en steek sy selfoon, lottokaartjie en knipmes by die geld in sy sak.

      Teen die heuwel af het die tarentale al begin roep: Kier-kier-kier, kier soos ’n fiets wat olie kort, en die duiwe koer in die bome. Die koppie het oornag van vaal na groen verkleur, maar Welcome sien nie die groen nie en is skaars bewus van die voëls. Hy hou net die huis skuins onder in die straat dop vir wanneer Boer Tom by die agterdeur gaan uitkom om sy koerant uit die hek te haal. Gisternag het die nuus byna net so vinnig soos die geswiep van swaeltjies in die aandlug onder die mense op Welcome se koppie versprei dat die Bokgato en hul chanas, die security mense en diesulkes, Albert’s Farm, die Northcliff-koppies en Welcome se koppie van “ongewenste elemente” gaan bevry. Van vroegoggend af het mense met supermarktrollies, tuinvullissakke, swart munisipale vullisdromme op wieletjies en verweerde koffers die straat gevat om iewers anders ’n heenkome vir vannag te gaan soek.

      Daar is Boer Tom uiteindelik! Hy trek die koerant uit die hek, klim die trappies heel vinnig op vir so ’n ou man en loop by die agterdeur in. Welcome wag nog so ’n rukkie voordat hy by die koppie afklim en die klokkie by die hek gaan lui.

      Tom maak die agterdeur oop: “You’re early,” sê hy, maar nie onvriendelik nie. Hy sluit die hek oop. “Jy kan die rotstuin by die sypaadjie eerste skoonmaak. Los jou goed in die tuinhuisie. Ek maak solank koffie.”

      Die houttuinhuisie agter die huis is feitlik leeg, buiten net ’n paar stukke tuingereedskap in ’n hoek. En ’n stapel ou koerante en tydskrifte in ’n ander hoek. Welcome trek sy broek, T-hemp en skoene uit, en trek die stukkende broek, trui en tekkies aan. Hy vou sy uitgetrekte klere op en bêre dit in die swart sak. Die sak kom in ’n hoek van die tuinhuisie. Dis dié huisie waar hy wil bly. Waar hy sy goed wil neersit en nie sy kop af moet bekommer om dit veilig te hou nie.

      Op sy hurke werskaf hy met die klein tuinvurkie in die rotstuin net buite die hek. Ná die goeie reën staan die onkruide geil tussen die plakkies, vygies en aalwyne.

      Tom roep by die agterdeur. Hy gee Welcome ’n beker koffie en ’n bord toebroodjies.

      “Thanks, Masta. Masta, can I sleep in the garden shed. Just for tonight?”

      “Why?”

      “The police. They want to catch us tonight. They will send me back to Zimbabwe, please, Masta.

      “There is nothing in the garden shed. On what do you want to sleep?”

      “Please, Masta, I will sleep on the newspapers and I have a blanket, please, Masta.”

      “Okay, but only for tonight.”

      “Thanks, Masta. Thanks.” Welcome bring sy hande saam om sy dankbaarheid te wys.

      Die res van die dag neurie hy terwyl hy in die tuin werk, ’n groot gewig het van sy skouers afgeval. Om net vir een nag te kan slaap sonder om bang te wees vir die mense rondom jou. Bang dat hulle van jou goed in jou slaap gaan steel. Bang dat hulle jou iets gaan aandoen.

      En môre, môre gaan hy weer soebat, sy hande mooi bymekaarbring. Tom het ’n jammerhart. En so ’n jammerhart sê nie maklik nee nie.

      6

      Ná die begrafnis en Thomas se vertrek, alleen in sy stil huis met net die geluid van karre wat nou en dan verbyry, duiwe op die dak, ’n hond wat iewers blaf, mense wat pratend straatop loop, het Tom stom by sy eetkamertafel bly sit. Die wond was so diep dat die senupunte vernietig was. Daar was geen gevoel nie; net verlamming …

      Hy kruip in die bed en bly dae lank daar.

      Een middag (hy is nie seker watter dag nie) hou sy hekklokkie lank aan met lui en toe hy uiteindelik opstaan en by sy kombuisvenster uitkyk, is hy net betyds om die jong meisie van langsaan te sien wegloop.

      Sy moet maar loop.

      Hy gaan stort, trek die bed skoon oor, haal twee snye brood uit die vrieshokkie, ontdooi dit in die mikrogolf, maak vir hom ’n kaas-en-tamatie-toebroodjie en gaan lees sy e-posse. Daar is ’n lang een van Thomas, drie dae gelede gestuur, wat sê hy het weer veilig in Londen aangekom. Sy pa moet asseblief na sy eie gesondheid omsien. En onthou om sy deure te sluit. Lank gelede het hy dieselfde vir Thomas gesê toe hy vir die eerste keer uit die huis is en Tom nie seker was dat sy seun (so besig met intellektuele dinge) gesond sal eet as hy op sy eie is nie.

      ’n Paar dae gelede het Thomas hier saam met hom by sy kombuistafel gesit, sy elmboë op die tafel, sy gesig ontevrede. “Maar, Pa, dis nie veilig vir jou om so alleen te bly nie. Verkoop die huis en kom Engeland toe. My plek is groot genoeg vir ons al twee. En as jy dan siek word, of verswak, is daar behoorlike versorging beskikbaar. Of ek sal bedags ’n versorger kry om na jou om te sien. Geld is nie ’n kwessie nie. Ek het ’n goeie werk en ek het geen ander verpligtinge nie. Pa, dis nou net ek en jy. Ons het net vir mekaar.”

      Hy het niks gesê nie. Sy seun is vir hom amper ’n vreemdeling. Nie net omdat hy in Engeland woon nie. Van kleinsaf al. Hy kon Thomas as kind ook nie verstaan nie, kon nie eens raai wat in sy kop aangaan nie. Daar was nooit probleme met die kind wat sy skoolwerk betref, of eens by die huis nie. Thomas was van altyd af pynlik netjies en het omtrent elke middag by sy tafeltjie, wat as lessenaar diens gedoen het, gewerk. Wanneer sy skoolwerk klaar was, het hy ’n boek gelees. Hy moes Thomas soebat om ’n bal te gaan skop in die park, of te gaan swem of enigiets anders fisieks te doen. Hy het nooit gevra om ’n vriend of ’n vriendin huis toe te bring nie. As tiener het dit nooit gelyk of hy in meisies belang stel nie. Soms het Tom gewonder of hy nie gay is nie, maar nee, dit het ook nie gelyk of hy in seuns belang stel nie. Hy was net altyd alleen, heeltemal tevrede met sy boeke en sy eie geselskap.

      Teen Thomas se slaapkamermure is (nou nog) afdrukke van sterrestelsels, komete, planete, nie van atlete of filmsterre nie. Nie dat Tom ’n haan onder die meisies was nie, maar hy kan tog onthou hoe hy as jong hoërskoolseun ’n afdruk van ’n baie sexy foto van Gina Lollobrigida wat met ’n pruilmond vooroor leun, haar borste beurend teen ’n lae hals, aan die binnekant van sy kas geplak het en hoedat hy gereeld gemasturbeer het terwyl hy na haar halslyn gestaar het. Sou Thomas gemasturbeer het terwyl hy na die sterrehemel gekyk het? Het hy ooit gemasturbeer?

      Toe hy hom eenslag wou vertel van hoe babatjies in die wêreld kom, het Thomas gesê: “Pa, ek weet. Ek het al ’n hele paar boeke daaroor gelees.”

      Tom het na sy seun se alwetende oë gekyk en gedink: Ja, jy sal my stellig ’n hele paar dinge oor die onderwerp kan vertel. En toe nooit weer na seks verwys nie, selfs skuldig gewonder hoeveel kere Thomas dalk al geluister het na die geluide wat agter sy ouers se toe kamerdeur gehoor kon word, want die kamers is nie ver uitmekaar nie.

      Dis ook nie net oor hy eintlik niks het om vir sy seun te sê