Gelukkig hou die hael nie te lank aan nie en die korrels bly, dankie vader tog, klein. Maar dit reën nou in alle erns. Toe sy by Engen wegtrek, skakel sy haar hoofligte aan. Dit neem drie keer so lank soos gewoonlik voordat hulle uit die verkeer die stiller pad huis toe vat. Sy probeer die stroom water aan die kant van die pad vermy, maar dit is reeds so groot en breed dat sy die water teen haar deur hoor vasslaan. Eenkeer het haar motor in so ’n storm gaan staan, en sy sug verlig toe die huis se hek voor hulle oopswaai.
3
Sarita word die nag van blitse en die donderweer wakker. Dit voel vir haar of al die geweld van die natuur op haar dak gekonsentreer is. Sy trek die gordyne oop, en lê en kyk na die skouspel in 3-D. Dit het vroeër die middag gehael en nou weer, selfs erger dié keer. Dit voel of die korrels uit ’n groot hoogte soos klippies teen die dak en ruite gesmyt word. Sy staan op, trek haar kamerjas aan en loop na haar sitkamer, want die storms kom gewoonlik uit die westekant en al kyk die sitkamervensters wes, klap dit nie so hard daarteen soos teen die slaapkamervenster nie. En selfs in dié donker nag is sy bewus van die nog donkerder skadu van haar groot akkerboom. Miskien is dit die gatkant van die storm wat haar kamervensters met soveel geweld tref. Uiteindelik hou die hael op en val daar net druppels reën met rumoerige uitbundigheid teen die ruite.
As dit dag was en die storm nie so erg nie, het sy buite op die stoep gaan staan. Sy lief die sensuele gevoel van reën wat jou hele lyf tot op jou vel deurweek.
Sy word halfsewe wakker pleks van die gebruiklike sesuur. Maar sy drink nog steeds haar eerste koppie filterkoffie van die dag in haar bed terwyl sy na Monitor luister. Vanoggend maak sy ook aantekeninge in ’n boek, ’n nuwe groot aantekeningboek wat sy spesiaal vir haar nuwe werk gekoop het. Sy het reeds byna al die skrywers wat sy vanweë haar lang verbintenis met die tydskrifwese leer ken het, geskakel om vir hulle te vra om verhale te stuur – langes wat sommer so oor vyf, ses tydskrifblaaie kan strek. Sy skryf nog ’n paar name neer.
Sy voel skielik weer of haar werk belangrik is, want in al die jare dat sy by ’n vrouetydskrif gewerk het, het haar werk al hoe minder geword. Jare gelede was daar ’n hoofstuk van ’n vervolgverhaal plus twee lang verhale in elke uitgawe. En die tydskrif was tweeweekliks.
Theresa (want in haar kop noem sy die nuwe tydskrif klaar soos Ulla voorgestel het) is soos ’n nuwe begin. Sy voel weer lus om werk toe te gaan. Sy het energie en voel nie moeg en lusteloos as sy soggens wakker word nie. Gister het sy selfs die sjokoladekoek wat ’n dag of wat onaangeraak op haar eetkamertafel gestaan het, vir Lina gegee.
Iets wat sy nog met niemand gedeel het nie, is haar droom om ’n roman te skryf. ’n Roman wat soveel indruk moet maak soos Marlene van Niekerk se Agaat. Nou die dag het ’n vrou by hulle leeskring vertel toe sy onlangs in Swede was, was Agaat heel bo aan die Sweedse boektrefferlys.
Sarita het al heelwat kere begin aan ’n roman, maar elke keer het sy haarself ná net ’n paar bladsye so gekritiseer, omdat sy gewéét het dit sal nie so fantasties soos Agaat wees nie, en die storie versmoor. Sy wil ook net met die heel beste skrywers in Afrikaans saampraat – of anders kan sy maar tot die dag van haar dood tjoepstil bly.
Dis nou al ná sewe sien sy toe sy haar koppie neersit. Sy sal binnekort moet gaan stort. Maar voor sy nog uit die bed kan kom, lui haar selfoon.
Dis Elize. Sarita moet asseblief vir Lettie sê dat sy laat sal wees. Lettie antwoord nie haar foon nie.
Elize klink so uitasem dat Sarita vra of daar fout is. “My broer-hulle is laas nag aangeval …”
“Ag aarde,” sê Sarita en dink aan haar dokterbroer en sy gesin in Perth in Australië. Hulle is ’n paar jaar gelede landuit, juis omdat hy sy gesin teen so iets wou beskerm. “Is hulle beseer?”
“Ek dink nie so nie, maar ek gaan nou kyk hoe groot die skade is.”
4
Op pad Sandton toe terwyl Elize op die N1 stop-ry-stop (sou daar iewers ’n ongeluk wees?), onthou sy dat sy ses maande tevore ook so ’n oproep gekry het. Toe was Eben en Catherine die vorige nag gekaap. Hulle kapers het ure lank met hulle rondgery. Eben-hulle moes agter in hul BMW lê, ’n pistool teen Catherine se kop. Die kapers het al die geld uit hul onderskeie rekeninge getrek voordat hulle hulle sonder hul selfone, beursies en skoene langs die pad afgelaai het. Hulle is gou daarna deur ’n motoris opgelaai wat hulle na die naaste polisiekantoor geneem het. Hulle het toe eers uitgevind dat hulle naby die Hartebeespoortdam was.
Meer as ’n uur nadat sy by haar huis weg is, ry Elize by haar broer se oop hek in. Die skuifhek lê in die blombeddings. Eben staan in die motoroprit en gesels met ’n groot vet polisievrou by ’n motor. Catherine kom uit op die stoep. Sy het jeans en ’n wit hemp aan. Haar bleek vel is sonder grimering en haar bruin hare staan verward asof sy haar hande herhaaldelik daardeur getrek het. Sy het haar skoonsuster ses maande gelede laas so onversorg gesien, dink Elize, ná die kaping.
Toe Eben sy gesig draai om haar te groet, sien sy eers dat sy een oog blou is en dat hy steke op sy voorkop het. Maar toe sy besorg vra of dit seer is, lyk hy vererg. Hy wil nie jammer gekry word nie. “Lyk erger as wat dit is. Gaan troos vir Catherine.”
Die kinders is nie skool toe nie, sit en TV kyk. Hulle is bleek. Die seuns se oë bly op die skerm, maar Rika staan op en gee vir Elize ’n drukkie.
“Hoe gaan dit nou?” vra Elize nadat haar niggie haar ’n tweede keer omhels het.
“Tannie, ek het eers wakker geword toe alles al verby is. Ek bly by my boeties om my ma te help.”
“Michelle stuur groete en sy sê sy is baie jammer en jy moet kom kuier en oorslaap.”
Rika knik en gee Elize nog ’n drukkie. Die kind moet baie groot geskrik het, want sy is nie gewoonlik so liefdevol nie.
Elize gaan saam met Catherine na die groot wit kombuis wat lyk of dit uit ’n oorsese huistydskrif kom. Die meeste van die kaste het glasdeure sodat jy die mooi glase en fyn Engelse breekgoed kan sien. In die middel is daar ’n langwerpige ingeboude tafel waarby die huismense kan sit en eet. Bokant die tafel is ’n kontrepsie waaraan blink potte en panne hang.
Catherine vertel soos ’n slaapwandelaar (of is dit dalk ’n spraakwandelaar?), hoe hulle wakker geword het van ’n geluid, moontlik glas wat breek en dat Eben sy kamerjas aangetrek en sy rewolwer uit sy kas gehaal het. Maar nog voordat hy by die deur kon kom, het twee mans hulle kamer binnegekom … met Klein-Eben … ’n rewolwer teen die kind se kop gedruk. Hulle het reënjasse aangehad, gomlastiekstewels en balaklawas sodat jy net hul woedende oë kon sien.
“The first thing I noticed was the swish, swish of their gumboots and raincoats as they entered the room …”
Hulle wou geld, juwele, selfone en rekenaars hê.
Hulle wou net nie glo dat daar nie duisende rande in die brandkluis is nie.
En toe?
“Ek het nou fokken genoeg gehad. Van die land. Van die mense. Van die hele situasie. Ek het vir Eben gesê ek wil nie langer hier bly nie.”
Elize sê niks nie. Sy het al vermoed hulle oorweeg emigrasie. Catherine het meermale gesê hulle het genoeg punte vir Nieu-Seeland. Dit is net Eben se verknogtheid aan die land en sy mense wat hulle hier gehou het. Vir Catherine gaan dit daarom dat sy ’n veilige toekoms vir haar kinders moet skep. En dat sy al lankal begin twyfel het of dit hier nog hoegenaamd moontlik is.
“Eben het gesê hulle moet Klein-Eben los, gesê hy sal die kluis gaan oopsluit. Hy het sy rewolwer vir hulle gegee. Hulle het Klein-Eben op die bed gestamp, ons selfone gevat en is met Eben hier uit – rewolwer teen die kop. Die deur is toegeklap en gesluit. En ek het op die bed gesit, Klein-Eben vasgehou … nie geweet wat om te doen nie …”
“Rika en die kleintjie?”
“Geslaap, deur dit alles geslaap.”
Elize