Hermia is elegant aangetrek, so elegant dat sy netso wel in ’n Franse modetydskrif sou kon sit. Maar haar rug en nek is onelegant vorentoe gebuig en sy suig aan haar sigaret met ’n verbete uitdrukking op haar gesig.
Elize wens sy kon met iets diplomaties wegval, soos dat sy van Hermia se uitrusting hou, maar pleks daarvan begin sy op haar gewone reguit manier: “Ek het gedink Bessie het ’n goeie artikel oor haar besoek aan die plakkerskamp geskryf.”
“Ek nie,” sê Hermia. Sy buk vorentoe, laat val haar sigaret op die grond en trap daarop. “Ek het groot dele oorgeskryf, ook ’n nuwe intro, en haar taalgebruik is beroerd. Ek het haar oorspronklike storie en my veranderinge. Ek het die twee kopieë vir Lettie gegee. Sodra sy dit gelees het, kan jy daarna kyk. Ek is seker daarvan dat jy met my sal saamstem.”
“Wat ek van die storie gehou het,” sê Elize en voel ’n krieweling van ergernis soos ’n wurm aan haar ingewande vreet, “is die eerlikheid, die manier waarop ons onkunde oor die kultuur en die gewoontes van mense met wie ons die land deel, ontbloot word. Goed, haar taalgebruik is nie van die beste nie, maar dis niks slegter as dié van ander jong joernaliste nie. En ek het gesien sy het nie ’n sterk genoeg intro geskryf nie, maar is dit nie juis die werk van ’n sub om die taal te verbeter en moontlik die intro oor te skryf nie?”
“Ek het tot drieuur laas nag aan die storie gewerk … as daar ’n naam moet bykom, sal dit myne moet wees …”
“Jy het natuurlik saam met ’n fotograaf met ’n taxi na ’n plakkerskamp gery, die aand saam met ’n gesin geëet, die nag daar geslaap en die volgende oggend vieruur opgestaan om ’n taxi te haal om betyds by jou werk te wees.” Elize wens sy kan die sarkasme uit haar stem vee, maar sy is so vererg dat sy haarself nie kan help nie. Hoe gaan ek saam met dié vrou werk? wonder sy.
“Ek dink in elk geval die storie is passé. Ons mense wil nie meer lees oor hoe swaar húlle kry nie. En ons gestryery hieroor is bloot akademies. Die artikel sal boonop nie in die tydskrif wat gepubliseer gaan word, verskyn nie.”
Nou vererg Elize haar eers. “Wie sê so?”
“Ek,” sê Hermia. “En Lettie het met my saamgestem.”
“Maar ons kan nie wegskram van die werklikheid nie. Ons kan ook ’n artikel skryf oor wit plakkerskampe … oor plaasaanvalle … Maggie gaan skryf oor misdaad in Muldersdrift, misdaad is ’n werklikheid waarmee ons hier in Johannesburg moet saamleef.”
Hermia steek nog ’n sigaret aan en blaas die rook uit. Sy lag ’n bietjie uit die hoogte. “Dis duidelik dat jy nie eintlik ’n idee het van wat by vrouetydskrifte aangaan nie. Al die stories wat jy tot nou toe uitgedink het, is koerantstories. By vrouetydskrifte gaan dit daaroor om vroue te bemagtig, om hulle goed te laat voel oor hulleself, om hulle te wys hoe hulle hulself kan verbeter – hul uiterlike, sowel as hul innerlike … ons bly weg van politieke stories en sulke onaangename dinge.”
“Ek verstaan dat ’n mens positief moet wees, maar ek verstaan nie die ontkenning van die Suid-Afrikaanse werklikheid nie. Ek verstaan dat ons stories oor haar- en velversorging moet plaas en resepte moet gee, ek verstaan dat ons opgewonde moet word oor die akteurs van Sewende Laan, maar wat ek nie kan verstaan nie, is dat dit voel of ons in … of dit net so goed Londen, New York of Parys kon wees. Dit is beslis nie die geval nie. Ons bly in Afrika.”
“Almal wat nog met dié resep gelol het, het hul gatte gesien, Femina bestaan nie meer nie en Fair Lady se sirkulasie val.”
“Ek gaan met Lettie hieroor praat. Bessie se naam moet by die artikel wees,” sê Elize en staan op.
Hermia trap die tweede sigaret dood en staan ook op.
“Wat ek nie kan verstaan nie,” sê sy, “is: waarom is jy aan die kant van ’n junior joernalis? ’n Mens sou dink dat jy my sou wou ondersteun. Ek waarsku jou: Moenie ’n vyand van my maak nie.”
Sy praat of dit oorlog is, dink Elize toe sy binnetoe gaan om met Lettie te praat.
Die woede waarmee Michelle vir Fransie op die judomat takel, laat Elize met ’n droë mond sit en kyk.
Michelle pluk aan Fransie se lapel en probeer ’n skouergooi. Toe Fransie blok, gryp Michelle haar vriendin (?) se gordel agter haar rug vas en swaai haar regterheup in vir ’n heupgooi. Met haar lang bene kry Fransie dit reg om die gooi te fnuik, maar toe sy met haar een been bo-oor Michelle se heup trap, steek Michelle haar regterbeen uit en pootjiegooi Fransie hard. Fransie hou vas en Michelle val bo-op haar op die mat. Hulle val so hard dat Elize seker is sy het ribbes hoor kraak. Toe Michelle regop sit, kreun Fransie en hou haar hande beskermend oor haar ribbes.
Faan, die afrigter, is dadelik by. “Michelle, dis judo, the gentle art, nie ’n stoeiwedstryd nie,” raas hy. “En, Fransie, hoeveel keer moet ek nog vir jou sê om ’n breekval te doen as jy gegooi word. Om nie vas te hou nie … Jy kan jouself en jou opponent beseer.”
Michelle staan op sonder om na Fransie te kyk. Sy trek haar judoklere reg, buig vir die mat en loop na die kleedkamer.
Fransie bly kreun, maar toe Elize haar skoene uitskop en nader gaan, kom sy orent.
“Fransie,” vra Elize, “waar is dit seer? Moet ek jou dokter toe neem?”
Die kind hyg met ’n vertrekte gesig. “Nee, tannie, ek dink nie iets is gebreek nie. Michelle het net my wind uitgeval.”
“Ek sal jou by die huis gaan aflaai.”
“Dis nie nodig nie, tannie.”
Dit lyk of Fransie seerkry as sy asemhaal en Elize wag totdat sy uiteindelik uit die kleedkamer kom. Sy loop darem nou regop. (Michelle het intussen die sleutels gegryp en in die motor gaan wag.)
Faan beduie vir die judoka op die mat om voort te gaan en kom na Elize aangestap.
“Mevrou Greeff, is dit moontlik dat Michelle Dinsdae en Vrydae ’n uur langer kan bly? Ek wil hê die beginnermeisies moet bietjie die gevoel van die mat kry – so ’n bietjie begin veg. En ek wil hê Michelle moet help. Ek sal haar daarvoor vergoed.”
Sy hou nie van die manier waarop sy al gesien het hy vir Michelle kyk nie, maar miskien sien sy net goed wat nie daar is nie. “Het jy al met Michelle gepraat?”
“Ja, sy wil graag.”
“Dan het ek nie beswaar nie.”
Op pad na Fransie se huis ’n paar blokke verder praat die twee meisies nie met mekaar nie.
Elize wil uitklim om met Annabelle te praat, maar Fransie keer haar.
“Nee, tannie, moenie vir my ma sê nie. Ek voel al klaar beter.”
Elize wag totdat Fransie agter die groot muur van haar huis verdwyn voordat sy wegtrek.
“Vertel my wat op die judomat gebeur het,” sê sy vir Michelle. “Ek verstaan nie. Wat gaan tussen jou en Fransie aan?”
“Sy’s sommer net simpel.”
Toe Elize aanhou vra, sê Michelle: “Ek wil nie nou daaroor praat nie, Mamma. Anderdag.”
Elize kyk weer na die nors profiel van haar dogter en sug innerlik. In die verte is daar donker wolke en twee ligflitse kruis mekaar. Bokant hul kop trek ligter reënwolke tussen die donkeres deur. ’n Storm gaan enige oomblik losbars. En voor hulle nog by Northcliff Corner kom, begin dit hard te reën met byna dadelik yslike haelkorrels wat luid teen die ruite vasslaan. Elize ry by die Engen-garage in en gaan staan op een van die parkeerplekke.
“En nou?” vra Michelle ongeduldig. “Hoekom sit ons net hier? Wag ons vir beter dae?” Daar is spot in die kind se stem en Elize herken die “wag vir beter dae” as iets wat sy al vir Michelle gesê het as dié lê en boek lees pleks van om haar huiswerk te doen.
“Wag vir die hael om op te hou … oor die radio gehoor dis wat ’n mens moet doen in ’n haelstorm.