Toe Annabelle-se-man saamstap om haar by haar motor af te sien, wens Elize sy het die oormoed gehad om vir hom te sê om terug te gaan na sy vrou, om haar te komplimenteer met haar voorkoms en omdat sy so baie moeite met die huis doen.
Sy stel op die oomblik nie eens in mans belang nie, dink Elize. Sy is nog nie reg vir ’n ander verhouding nie. Te besig om haar wonde te lek.
Toe sy die volgende oggend op kantoor kom, sien sy die hele redaksie by Ulla se rekenaar staan.
“Ek hou nie van sulke ou vrouens op die voorblad nie,” sê Bessie terwyl almal probeer om beter op Ulla se rekenaar te sien hoe sy die sestig-plus-jarige sangeres ontplooi het.
“Sy’s baie gewild,” sê Lettie van Graan. “Gewilder as sommige van die jonger sangeresse. Help nie jy probeer ’n tydskrif met iemand onbekends verkoop nie.”
Ulla wys weer die oorspronklike foto, en dan die beeld wat so gephotoshop is dat sy skaars ’n plooitjie by haar oë het.
“Uitstekende werk,” sê Lettie.
“Maar waarom ’n ouer, bekende sangeres op die voorblad hê as sy 28 moet lyk?” vra Elize terwyl sy oor almal se skouers loer. Hulle draai om om na haar te kyk.
“Sy is nog steeds herkenbaar,” sê Lettie. “Ons laat haar maar net ’n bietjie minder moeg lyk.”
“Ja, so kan dit tog nie,” sê Ulla en die oorspronklike foto verskyn weer op die skerm. “Geen manier waarop ’n tydskrif met so ’n gesig sal verkoop nie.”
“Dit maak net nie vir my sin nie,” sê Elize. “Watse boodskap stuur ons die wêreld in. ’n Vrou mag sestig wees, mits sy dertig lyk. En as sy dit nie kan regkry nie, sal ons haar so máák.” (Eintlik wou sy “mismaak” gesê het, maar sy het die woord net betyds ingesluk.)
“Nee,” sê Ulla onverstoorbaar. “Ek het glad nie so baie aan die foto gewerk soos sommige van die ander tydskrifte doen nie. Sy lyk darem nog steeds na ’n mens.”
“Sy lyk glad nie soos die vrou wat ek verlede week hier op ons stoep gesien het nie,” sê Elize.
“Jy sal nog leer,” sê Hermia ietwat uit die hoogte: “Op voorbladfoto’s lyk niemand ooit soos mense in die regte lewe nie. Ons verkoop drome, nie die werklikheid nie.”
“Drome?” vra Elize. “Is ons nie dalk besig om gewone vroue minderwaardig oor hulleself te laat voel nie. Hulle kan in elk geval nooit lyk soos die mense op die voorblaaie nie. En nou maak ons die vroue wat mooi genoeg is vir die voorblaaie selfs nog mooier.”
“Almal in die tydskrifwêreld doen dit,” sê Lettie. “Geen manier hoe ons mense met plooie of puisies sonder ’n bietjie hulp op ons voorblad kan loslaat nie. Maak nie saak wat die lesers sê nie. Hulle koop nie tydskrifte met lelike of beplooide vroue nie.”
Ulla werk weer aan die foto. “Dáár, is dit nou beter? Ek het ’n plooitjie by haar mondhoeke teruggesit.
Te min, te laat, wil Elize sê, maar hou haarself in. Dit voel of sy elke keer die enigste teenstem is in enigiets wat hier gebeur.
Sy sien hoe Hermia stil glimlag en onthou dat Ulla nou die dag vir haar gesê het dat sy moet oppas. Sy het voorheen ook saam met Hermia gewerk en gesien hoe sy vir ’n hele paar mense se ontslag verantwoordelik was. “En sy gaan jou nie net met haar giftong bykom nie. Sy gaan jou by wyse van spreke nog daarmee vernietig ook.”
Bessie beduie met haar groot blou oë sy wil iets vir Elize sê.
Hulle gaan sit op die bankie in die tuin.
Bessie steek ’n sigaret aan. Sy lyk besonder jonk en aantreklik in haar blou rokkie, haar mooi bene uitgestrek na die son. “Ek het gister gehoor hoe Hermia vir Lettie sê jy kan nie die werk doen nie.”
“Waar? Hoe?”
“Ek wou vir Lettie gaan sê ek sal die hele dag by M-Net wees. Die deur was nie heeltemal toe nie en voor ek kon klop, het ek vir Hermia hoor praat …”
“Wat het Lettie gesê?”
“Sy’t gesê dis nog te vroeg om te sê. Maar …”
“Ja?”
“Sy hou jou dop.”
“Wie? Lettie?”
“Ja,” sê Bessie asof sy ’n kind is wat ’n sterretjie by juffrou verwag. “Maar ek dink Hermia hou jou ook dop.”
Dis waar. Net nou die dag het sy gesien dat Hermia al die e-posse wat sy vir haar gestuur het, uitdruk en aanmekaar vasspeld. Seker om na Lettie te neem as nog ’n bewys van haar onbevoegdheid.
“Wat gaan jy doen?” vra Bessie.
“Ek gaan … ek weet nie …” Sy weet dit klink lamtietie-damtietie. Sy gaan net nog harder werk, maar sy wil dit nie vir Bessie sê nie.
“Jy moet Hermia terugkry. Skryf ook alles in ’n boek neer wat sy sê en doen.”
“Is dit wat sy doen?”
“Ja. Ek het al gesien as jy praat, skryf sy in haar boekie. Sy het so ’n spesiale pienk boekie waarin sy almal se ‘sondes’ neerskryf. Myne en Ulla s’n ook. En ’n paar keer toe Sarita gepraat het, het sy ook geskryf .”
“Dan moet sy maar skryf. Klink of almal haar vyande is.”
“Maar jy is haar grootste een.”
Elize staan op. “Ek gaan binnetoe. Ek het nog baie werk.”
“Ek gaan eers nog ’n sigaret rook. Maar jy beter aan iets … ’n plan … dink.” Aan haar ernstige gesig kan Elize sien dat Bessie nie ’n grap maak nie.
Elize loop stadig terug. Daar is geen plan nie. Sy was nog nooit in haar werklewe in so ’n situasie nie. Niemand het nog ooit oor haar werk gekla nie. Maar toe sy die stoeptrappies opklim, dink sy dat sy haar die volgende paar weke baie stil moet gedra: Doen net jou werk. Bevraagteken niks nie en temper jou mening. Jy is in ’n vreemde omgewing. Jy wil nie vir jouself die lewe nog moeiliker maak, nog meer belemmerings op jou pad plaas nie. En dink aan ’n paar waarlik goeie idees vir artikels. Jy móét hier oorleef, al is dit net vir die volgende paar maande. Jy het ’n nuwe huis en ’n kind op wie se pa jy nie altyd geldelik kan staatmaak nie.
Die middag toe Elize haar toebroodjies in die tuin eet, kom sit Sarita by haar. Sarita vra of Elize ’n verhaal sal lees. Die verhaal, sê Sarita, is duidelik outobiografies; oor ’n kind wat deur haar biologiese oom gemolesteer is. Dit is met heelwat emosie geskryf en sy kan dit dalk in dieselfde uitgawe as byvoorbeeld twee ligte verhale gebruik.
Elize lees die verhaal en stem met Sarita saam dat dit heel goed geskryf is. “Maar ek dink jy moet vir jouself uitmaak hoeveel grense jy wil verskuif? Is dit nie eerder iets wat ’n mens in ’n artikel moet aanpak nie?”
“Ek is onseker,” sê Sarita, “en ’n redakteur het eendag vir my gesê: ‘When in doubt, don’t.’ ”
“Daar het jy nou jou antwoord, maar, Sarita, het jy nog nooit daaraan gedink om self te skryf nie?”
Sarita maak haar kosbakkie oop, haal ’n hardgekookte eier uit en kap dit liggies teen die bank voordat sy dit begin afdop.
Foeitog, sou sy elke middag hardgekookte eiers eet? wonder Elize.
“Ja, ek wil … ek gaan nog ’n roman skryf, maar ek kom nie so ver nie omdat ek nie dink ek is goed genoeg nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek wil net skryf as ek soos Marlene van Niekerk of Ingrid Winterbach kan skryf.”
“Dis mal, Marlene is ’n woordfabriek en Ingrid het ’n kolossale kennis van kuns en mitologie.”
“Ek weet,