Hy wag ’n rukkie voordat hy die deur vir die laspos oopmaak.
“Oom, kom sê dan net asseblief vir my ma hoe om ’n vuur te maak. Sy gaan die vleis verbrand.”
Hy kyk na die ernstige soebatgesiggie voor hom. “Nou maar goed, maar ek gaan net sorg dat daar genoeg kole is.”
“Dis dooddollies. Oom hoef nie te bly vir ete nie.”
Hy sê vir haar hy kom nou-nou.
“Oom moenie te lank draai nie. Die vuur is al aangesteek.”
Hy sê hy is nou daar. Hy stort, skeer, trek skoon klere aan en loop oor na die bure. Die meisie het nie oordryf nie. Die vrou wou net die rooster met skaaptjops op die vuur sit toe hy daar aankom.
Die meisie beduie met haar oë vir hom om in te gryp. “Ek dink die kole is nog nie heeltemal reg nie,” sê hy teësinnig.
Die vrou kyk van hom na die vuur. “Ek weet eintlik niks van vleisbraai nie,” gee sy toe. “My man het altyd gebraai terwyl ek die pap en die slaai gemaak het.”
“Nou los die die braaiery vir my,” sê hy.
Die meisie glimlag met hom asof hulle twee gekonkel het teen haar ma. Die vrou vra wat hy wil drink en sy en die meisie gaan saam die huis binne.
Hy was al ’n paar keer hier toe die vorige mense nog hier gebly het. Die hele klein agterplaas is geplavei en daar is ’n ingeboude braai, tafel en sementbankies om die tafel. ’n Lekker buite-onthaalplek.
Die jong meisie kom by die agterdeur uit met ’n glas rooiwyn vir hom.
“Dankie, oom,” sê sy vriendelik, dan: “Ek is so lief vir braaivleis, maar vandat ons hier bly, het ek nog niks anders as gebrande vleis geëet nie.”
Hy sê hy sal haar leer vleisbraai en sy sê dankie en dat hy sommer haar ma ook moet leer. Hy vra haar uit oor haar skool, haar vakke en haar stokperdjies, en hulle gesels daaroor totdat haar ma weer by hulle aansluit. Hy kan nog steeds nie onthou wat hul name is nie, maar gelukkig sê die vrou vir die meisie om neute in die kombuis te gaan haal en sy noem die kind op haar naam: Michelle.
Die kole vra vir die vleis en Tom voel hoe die spuug in sy mond begin versamel toe hy die tjops op die rooster sit.
Oor die muur sien hy sy donker, alleen huis. Hy het wragtig vergeet om die buiteligte aan te skakel. Seker ook die alarm vergeet. Maar hy dink darem Welcome is daar.
Die vrou vra vir Michelle om haar te help en hulle bring die borde, messegoed, die slaai. Die potjie met pap en sous word ook op die rooster gesit waar die vuur nie te warm is nie.
Wat de hel is die vrou se naam?
Hy moet hom inhou om nie die kos sonder kou af te sluk nie. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n ordentlike bord kos geëet het nie.
Selfs toe hy hulle later die aand groet en huis toe gaan, weet hy nog nie wat die mooi donkerkopvrou se naam is nie.
Tuis gaan hy sy e-posse deur en kyk ’n DVD wat Thomas vir hom gebring het.
Toe hy uiteindelik gaan slaap, is dit reeds ná tweeuur in die nag.
Hy sluimer in en weet toe wat haar naam is: Elize. Hy skakel die lig aan en skryf die naam in sy dagboek by vandag se datum. Elize. Hy skryf ook Michelle neer, vir ingeval hy haar naam ook weer vergeet.
7
Op pad om Michelle by die judo te gaan oplaai, hou Elize by Annabelle se huis stil. Sy sal tog ’n halfuur vir Michelle moet wag, kan dit netso wel by Annabelle verwyl. Ook weet Annabelle dalk meer oor die kwaaivriendskap tussen Fransie en Michelle, want uit haar dogter kry sy niks nie.
Toe sy deur Annabelle se voortuin met groot inheemse bome en boomvarings stap, maak Annabelle die voordeur oop. “Net betyds vir koffie,” sê sy, maar ten spyte van dié uitnodiging is haar houding koel. Of verbeel Elize haar dit net?
“Dit sal vinnig moet wees, want ek is eintlik op pad om Michelle op te laai,” sê sy.
Annabelle-se-man verskyn agter haar in die deur. “Stuur ’n sms dat sy hiernatoe moet kom,” sê hy. “Dan kan julle langer kuier.”
Sy onderskep Annabelle se frons aan haar man. Waarsku sy hom? Weet sy van Michelle en Fransie se dinge?
’n Groot perkoleerkan staan inderdaad op die koffietafel. En dis nog halfvol koffie.
Hy sê hy gaan haal vir haar ’n beker en verdwyn in die kombuis.
Elize voel ongemaklik. Sedert die egskeiding het Annabelle haar nog nooit weer na hulle huis genooi nie. En toe sy verlede maand bel om haar met haar verjaardag geluk te wens, het Annabelle ongevraagd gesê dat sy vanjaar nie ’n verjaardagpartytjie gaan hê nie. Maar toe sy later ’n kennis raakloop, het dié vir haar vertel van die heerlike partytjie wat tot laat in die nag aangehou het sodat die bure gekla het.
Voor sy nog iets kan sê, is Annabelle-se-man terug uit die kombuis. Hy skink vir haar koffie, bly staan om die melk en suiker vir haar aan te gee.
“Hoe gaan dit met jou en met die nuwe werk?” vra hy vriendelik.
Elize vertel sonder ompaaie, maar hy bly uitvra, bly glimlag. Terwyl sy praat, kyk Elize na Annabelle wat met pyn op haar gesig na haar man kyk.
Goeie vader, is sy jaloers? Kan sy nie sien dat hy net gaaf probeer wees nie? Dat hy (heel waarskynlik) net soveel belangstelling toon omdat hy weet dat my eks my verwerp het. Dat hy my net ’n bietjie probeer opbeur. Dis tog wat hier gebeur, dan nie?
Annabelle probeer ’n paar keer om ook aan die gesprek deel te neem, maar haar man val haar aanhoudend in die rede. Toe hy oplaas sê: “Annabelle, ek luister die hele tyd na jou stories, ek wil nou hoor wat Elize sê,” voel dit vir Elize of iemand ysblokkies op haar maag pak.
“Maar ek wil hoor wat Annabelle sê, ek het haar lanklaas gesien,” is al wat sy kan dink om te sê.
Is daar trane in Annabelle se oë?
Annabelle maak net ’n afwerende gebaar en sê niks nie. Te besig om haar trane af te sluk?
Mans!? Hy is waaragtig nie van die ongelukkigheid bewus nie. Konsentreer net op haar asof sy ’n langverlore suster, nee eerder lover is … Ag nee, tog net nie dít nie.
Sy moet hier wegkom. As dit so aanhou, gaan sy nie meer een enkele vriendin oorhê nie. Toe sy nou die dag een van haar vorige buurvroue in ’n winkel raakloop, was dié juis tussen koel en yskoud toe háár man vriendelik met Elize gesels. Die buurvrou het die onderklere waarna sy staan en kyk het, net so gelos, nader gekom en by haar man ingehaak. Haar besitreg uitgestal.
Ai tog, het Elize gedink, ek het nog nooit in hom belang gestel nie. Hy is verveliger as die rankplante wat in julle tuin groei. Daarby skinder die buurvrou die hele tyd van hom. Van sy suinigheid, sy traagheid in die slaapkamer, sy traagheid as dit by persoonlike higiëne kom. Die buurvrou sal ’n tang moet saamgee … en selfs dan nog, nee dankie.
“Hoe bly jou nuwe huis?” vra Annabelle-se-man.
Elize vertel dat sy reeds ’n loodgieter moes laat kom omdat daar ’n lek in ’n ondergrondse pyp was.
“En jou dak? Is die dak darem in ’n goeie toestand?”
“Ek weet nie,” erken Elize. Sy het die huis gekoop oor die lekker onthaalhoek in die agterplaas.
“As die dak probleme gee, is dit groot onkoste wat jy nooit sal terugkry as jy die huis verkoop nie. Jy moes vir my gesê het om eers ’n inspeksie te kom doen.”
As sy vir iemand sou vra, sou dit haar broer wees, dink Elize. Maar selfs hy het nie aan ’n dak gedink nie, ook met haar saamgestem dat dit ’n heerlike braaihoekie is.
Weer let sy op hoe Annabelle met neergeslaande oë haar in haar leunstoel terugtrek.
As sy onthou het dat hy sommige