En die lig flits deur die hele vertrek. Die afsluiter rits met ’n vyftigste van ’n sekonde en bokant die bereik van die menslike oor bulder en bulder en bulder die stem van die bees.
IV
Daardie nag, toe die nuwe gedreun oorneem en die waaiers die onsigbare stowwe deur die luike warrel, en die voorhuis leeg is, maar nog warm van die mense, en die vensters wyd oop is om die reuk van die bees te verdryf, – terwyl die maan agter die wolke uitkom en Welgevonden se mure hulle skaduwees oor die grasperke skiet, klink daar ligte voetstappies in die gang, en klop-klop iemand aan Henry se deur. Maar, diep vervalle in slaap, is die geluidjies buite die grens van sy sintuie en hoor hy slegs die angskrete van al daardie stemme wat gedurende die dag onhoorbaar was.
HOOFSTUK IV
Fuga van geestelike herbewapening,
apartheid en beplanning
I
“Indien jy aan Raphael, die sterrewiggelaar, glo, dan is vandag die laaste dag vir die goeie,” sê Jock Silberstein toe hy vir Henry die volgende môre buitekant in die tuin kry. Die dou blink in die son; die verre stemme klink vrolik in die oggendlug. “Hoe heerlik,” sê Jock as hulle op die heuwel staan, bokant die wingerde wat broei in die son. “Hoe kan mens dit ooit beskryf?” as hulle langs ’n granietklip die enkele denneboom sien met sy takke teen die blou, die heide in die vlei, die aronskelk langs die stroompie water, en die suring teen die klawer. Jock lyk nog groter vanmôre: die dinamiese heerser op sy landgoed; die goue god van Welgevonden.
“Die eerste vier dae is bestem vir die goeie,” sê hy. “Die vyfde en sesde vir die bose. En die sewende is weer die triomf van die goeie.”
Hierdie keer besoek hulle die laboratoriums van die wynmakery. Henry word voorgestel aan professor Dreyer van die navorsingsafdeling. “Miskien die beste wynkenner in die land,” fluister Jock. “Daar word gesê dat hy geblinddoek die soort, jaar en omgewing van enige wyn kan bepaal.”
Professor Dreyer is ’n lang, somber man, ’n diaken in sy kerk, ’n geheelonthouer, en Henry merk op, toe hy die monsters teen die lig hou en die eienskappe van elke soort beskryf, dat sy liefde beperk is tot die substansie. As hy na die wyn kyk, die kelkie skuins omhoog, die kleur veredel deur die alchemie van die son, dan is dit nie skakerings van goud en barnsteen wat hy sien nie, nog minder die romanse van liefde en wyn, wyn en gesprek, gedagtegang en wyn, wyn en verbeeldingsvlugte, maar ’n gekleurde vloeistof, volmaak volgens sy aard, met ’n skoonheid wat gedistilleer is tot ’n abstraksie. Toe hulle loop, en al die studentehelpers gegroet het (die jongmanne met B.Sc.Agric.-grade, met hulle borselkoppe en ’n liefde vir rugby, skyfskiet en meisies), toe hulle deur die rye, rye proefbuise en chemiese apparaat hulle weg na buite vind, sien Henry vir professor Dreyer met ’n buisie in sy hand, afgesonder in spesiale vervoering.
“Dis die man van die nuwe syn,” sê Jock. “Selfs ons begrip van skoonheid het sy vorm verloor.”
“En nou wil ek jou die pronkstuk van Welgevonden wys,” sê Jock ’n rukkie later.
Hy lei vir Henry deur ’n tuin waar Hollandse tulpe ’n binneplaas simmetries tweekleurig verdeel. Die geel aan die een kant en die rooi aan die ander kant vlam presies ewe hoog in die son en is ’n toonbeeld van estetiese noukeurigheid.
“Verkies jy hierdie vorm van skoonheid?” vra Jock.
Selfs die buitelyne van die geboue wat die tuin in hulle binneplaas omsoom, is ’n model van matematiese patroon.
“Dink mooi daaraan,” sê Jock. “Is die losse samestelling van kleure, die holderstebolder van groei en verval, die asimmetrie van toevalligheid in die natuur werklik mooier?”
Hulle kyk om hulle heen, en meteens, in ’n oomblik van insig, word Henry vervul met ’n soort emosionele ontvanklikheid vir hierdie skoonheid van beplanning waar al die kleure en geheel en al die uitleg, soos die wyn vir professor Dreyer, ’n bevrediging van sy eie gee.
“Eenvoud,” sê Jock. “Volmaaktheid. Daar is geen plant wat ongesond is nie. Daar is jare se studie gewy aan die perfekte plant.”
Hulle kyk na links en na regs, en die plante kaats hulle helder rooi en helder geel terug: stil van links en stil van regs.
“Dink aan die ou man wat die permitte gee,” sê Jock. “Onthou jy hom? Die een met sy kamer vol wildrankende plante? Ons het hom in die Kaap gekry. Hy was opsigter in die tuin van ’n Katolieke kerkie in een van die voorstede. Hy het sy tuintjie saam na sy kantoor gebring en sy plante roei hom uit. Sy kop is soos ’n rekenmasjien waarvan die syfers verskuif het en elke berekening chaoties geword het. Maar sy getrouheid aan reëls, sy liefde vir permitte, sy ontkenning van die uitsondering ten opsigte van die baas verklaar sy onbewuste drang na die matematika van beplanning. Hy is reeds nie meer dieselfde mens nie. Een van die dae sal hy ophou om sy plante te versorg en die dooie blomme uit te knip. Spoedig sal hy alles by die venster uitgooi. Hy sal alles bereik in die voltooiing van die vorms.”
Jock gaan op ’n nuwesoortige bankie sit wat in die vorm van ’n uurglas ontwerp is.
“Een van die dae gaan ons hom ’n computer gee,” sê Jock. “’n Pragtige masjien vir elke soort vorm en berekening. As hy dit eers baasgeraak het, sal hy hom al hoe meer verlustig in die kombinasies wat dit kan bereik. Dit gee ’n diepe bevrediging namate jy volgens die instruksies vorder en allerhande verhoudings wat volkome konsekwent is, ontdek. Daar is meer kombinasies as wat die menslike brein, met sy losse assosiasies, kan improviseer.”
Jock slaan sy hande saam en daar is ’n lig in sy oë.
“Ek voorsien dat die oubaas ure van genot sal hê en tog terselfdertyd ons berekende doel bereik.”
Daar is eenderse aartjies in elke blom om hulle: ’n ligte groen bepaal deur die eweredige verspreiding van die blommesap. En die kleure is egalig rooi en egalig geel.
“As die mens improviseer,” sê Jock, “dan verloor hy in die proses sy houvas op die materiaal. Ons dink met die vlam van ingewing, maar iets gaan verlore in die ontbranding. Ons moet die ewewig kry, die balans – ietsie van die masjien in die mens. Dis ’n fantastiese avontuur.”
Hy beskou Henry noukeurig, maar kan niks wys word uit die volkome negatiewe uitdrukking op die jongman se gesig nie.
Hulle verlaat die tuin en gaan by een van die geboue in.
II
Die gebou is ontwerp deur ’n Kaapse argitek wat hom ten doel gestel het om die gees van die Kaapse styl in die moderne fabrieksontwerp behoue te laat bly. Die groot saal wat hulle nou betree en waarin die verskillende wyne gebottel word, is verlig deur groot ou Hollandse vensters met klein ruitjies; die vloer is van Bataafse stene; die plafon van geelhout met swaar kruisbalke. Jock druk ’n knoppie en al die vensters gaan oop. Hy druk nog ’n knoppie en stadig gly hulle toe.
“In hierdie saal,” sê hy, “word al die rooi en wit wyne gebottel.”
Glaspypies spruit aan weerskante van die mure uit. Hulle word outomaties gekoppel aan bottels wat horisontaal aangeseil kom op ’n band om dan meteens vertikaal gelig te word vir die oomblik van kontak wanneer die gevulde bottels, presies tot die nek in rooi en goud, staande deur ’n tonnel in die muur verdwyn.
Aan die kant van die wit wyn is ’n reeks kleurlingmeisies in wit, en aan die kant van die rooi wyn is ’n reeks blanke meisies in bruin uniforms geklee. Dis nie duidelik wat hulle doen nie. Hulle hande beweeg; hulle betas die bottels; hulle draai aan instrumente en hulle is druk besig met ’n werk waarvan die presiese aard die waarneming van die oningeligte toeskouer ontsnap. Maar daar is ’n ritme in die wyse waarop hulle hande beweeg