Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу
en vergeet van Henry wat in elk geval aangestap en in die proses sy gasheer verloor het.

      Hy vind die hertogin se tande soos tronktralies voor hom. Vanaand, noblesse oblige, lag sy. Haar hare is in ’n stywe bolla agter haar kop gebind, ’n syserp is om haar nek met diamante vasgegespe, haar hoof is agteroor gewerp, haar ogies op ’n skrefie, en sy gryns haar welwillendheid vir die goy, getrou aan die gees van geestelike herbewapening.

      “O, lieflike aand, kleurvolle aand, dansende, ekstatiese aand!” besweer sy, lady Mandrake, uitdagend haar mistifikasie in hierdie wêreld wat vir haar vreemd is. “O, Henry!” weeklaag sy haar alleenheid en rus haar hoof op sy skouer. “O, Henry!” sug sy op die barre eiland in die see van gas­te wat met liefde teen hulle aanklots.

      Aan die ander kant van die rondawel sien hulle sir Henry, maar vanaand lyk hy moeg, oud en verwaarloos. Hy sit eensaam op ’n bank langs ’n In­diërvrou, haar sari glinsterend, haar belangstelling bloot intellektueel en beperk tot menseregte. Liefdeloos sit hy daar in die steriele wêreld van groepsliefde.

      “O, Henry!” sug lady Mandrake en lei hom na die kroegie waar landgoed­wyn vir hulle ingeskink word.

      ’n Naturelleman van Kenia, uitgevat in ’n vlekkelose aandpak, ’n dassie-vel om sy hoof, dans by hulle verby. (Die dans het al weer begin.) Hy sien lady Mandrake, voer ’n paar ingewikkelde passies uit, en sing die refrein: “Don’t point your finger at your neighbour because your thumb is pointing at you!”

      Hy kyk vas in die koue aangesig van ’n desintegrerende beskawing, in ’n museumstuk wat gevoelloos die blik van toeriste ervaar, in ’n geskiedenisboek met snaakse prentjies, in ’n meubelstuk op ’n stowwerige solder, in die stof wat tot stof terugkeer.

      Hy dans verder en whoop! erkenning van ’n jongmeisie wat whoop-whoop! die nuwe ritme verstaan.

      “O, Henry,” sê lady Mandrake. Maar haar stem het meteens ferm ge­word. “Lyk sir Henry nie vir jou afgemat nie? Lyk hy nie siek nie?”

      Hulle kyk saam na sir Henry wat hulle oë op hom voel, moedeloos na die Indiërvrou kyk, en met moeë fatalisme sy ken op sy bors laat sak.

      Lady Mandrake lig haar glasie.

      “Hasta la muerte!” sê sy, en haar stem, woorde en houding is meteens onheilspellend.

      V

      Steeds beweeg Henry voort. Met elke skrede, namate sy beeld rasgenoot, Oosterling en Neger betrek, wissel die patroon van segregasie-integrasie, gaan die kleure in mekaar oor, stol die beeld telkens vir die geringste breuk van ’n sekonde, leef die vistas van twee gesigspunte by herhaling.

      Hy word voorgekeer deur ’n mannetjie wat ongeskeer, onvanpas en hopeloos verlore nogtans aangedryf word deur sy obsessie.

      “Waar is hy?” vra hy.

      Henry herken nou die tuinier.

      “Mr Silberstein, waar is hy?”

      Die mannetjie kyk na die veelkleurige mense, maar daar is nie die minste belangstelling of verbasing by hom te bespeur nie. Hy gewaar Jock Silberstein in die verte en baan sy weg tussen ’n Neger en ’n Kanadees deur. Hy is die enigste een wat nie lag nie. Sy ken is aggressief na vore, sy stoppelbaard doelgerig, sy aandag afgesonder in die enigste wêreld wat vir hom betekenis het.

      ’n Hele groep het nou ’n conga-ry gevorm en hulle beweeg al in die rondte tot by ’n sentrale punt.

      “Chook-chook!” sing hulle. “The train of happiness. Off to Hallelujah Boulevard.”

      Henry sien ook die twee Misses Silberstein. Hulle was nog nooit so uitgelate nie. “Chook-chook!” sing hulle en swaai hulle lyfies.

      Hy kom te staan voor ’n donkerogige meisie en hy wonder terloops of sy nie Salome is nie. Sy is baie aantreklik en gesels met hom oor liefde. Sy het al die nirwana van geestelike herbewapening bereik. Seks, godsdiens, goeie wil en onbaatsugtigheid golf deur haar gesprek en haar ware persoonlikheid het vir goed verdrink in die see van universele erbarming. ’n Zombie van liefde, met haar wit arms en donker oë, bloedloos te velde in haar kruistog, die vaandels van leukemie wapperend bo die stryd.

      “Ek het myself met almal vergelyk,” sê sy. “Ek het myself minderwaardig en dikwels meerderwaardig gevoel. Maar nou …”

      Sy wys na die sirkelgang wat die hele kamer betrek en aan hulle pluk om deel te word.

      “Maar nou het ek die bose uit my uitgedryf. Boetvaardig het ek om verskoning gevra, eerlik het ek myself ondersoek en blootgelê.”

      Dan glimlag sy, ’n glimlag wat nie haar gesig ophelder nie, maar wat bloot gevorm word, wat grafstene bekring met rooi, wat die stryd tussen goed en kwaad vir ewig oplos deur volkome onttrekking, tot die vormloosheid van die Groot Saamwees.

      Dr. Johns en regter O’Hara sluit by hulle aan, hulle aandag getrek deur die woord “bose” in die verbygaan, maar hulle word deur haar hooghartigheid en deur haar afsydigheid vernietig – die akademie van hulle wêreld van boeke, wyn en spitsvondigheid blootgestel as die nuwe filistynsheid, hulle self hardvogtiglik geopenbaar as Regs en benede kennis.

      Nou wandel Henry nie meer voort nie; hy word onkeerbaar saamgesleep deur die stroom van geestelike herbewapening, gedwing tot die ritme van liefde, geledig tot deel van die groot protoplasma, en uitgepers in ’n conga-ry bestaande uit ’n

      Indiër,

      Kanadees,

      Sweed,

      Mauritiaan,

      Switser,

      Mexikaan,

      Sierra-Leoon,

      Kongolees,

      Matadiër,

      Swazi,

      Brasiliaan,

      en Birmaan.

      Die conga-ry bereik die middelpunt en ontbind in ’n chaos van begrip. Hy word heen en weer gevoer deur ’n liriese oorgawe wat, onder donderende musiek van die orkes, dreig om ’n enkeling pynlik te vertrap.

      Waar het Jock al hierdie mense vandaan gekry?

      Boem-boem! dreun die tromme, en iemand skree in Henry se oor:

      “Lookin’ for a cat in Caux!”

      Henry gewaar ’n “gone” eendstert wat, gans verdwaal, op ’n verkeerde partytjie beland het.

      “Gimme a chick from Bánáná!” skreeu die eendstert.

      Hy kyk van die een na die ander, sy ketelpypbene dril soos riete in die wind.

      “Glory Hallelujah!” skree hy. “Dig that rhythm!”

      “Ekstase! Ekstase!” fluit die stemmetjie van lady Mandrake wat, botstil, hopeloos dronk, die vrolikheid begriploos gadeslaan.

      Henry sien die tuinier. Hy het Jock in ’n hoek betrap.

      “Kyk, meneer,” sê die tuinier dringend terwyl hy aan ’n puisie op sy enkel krap. “’n Mens moet ’n toekoms hê.”

      Hy gryp die een arm van sy heer in ’n ysterklem vas.

      “Ek verstaan die masjien. Gee my ’n kans. Ek het ’n vrou en ses kinders. Ons moet lewe.”

      Liefde ruk hulle uit mekaar en Henry en Jock kry mekaar vir ’n oomblik alleen.

      “Hy lieg,” sê Jock. “Hy het net een kleinkind wat by hulle bly.”

      ’n Liberiër blaas ’n speeltrompet in Henry se oor.

      “Hy wil die werk van die man hê wat die knoppies by die bottelary druk,” sê Jock.

      “Is dit moeilik om die knoppies te druk?” vra Henry. “Ek bedoel, vereis dit heelwat wiskundige