Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу
besluit om te vertrek en hy bedank mev. Dreyer vir “die aan­gename koppie tee en die gasvryheid”.

      “Salome was so pas hier,” sê sy by die deur. “As jy gou maak, kry jy haar nog buite.” Sy is haastig dat hy moet gaan; sy gloei pienk in ’n romantiese aura; haar oë is sag van begeerte en sy projekteer haar eie soet verwagtings op die twee jongmense.

      Hy keer sy rug op die prentjie: die cottage, die groen voordeur, die klimop, die stokrose, die plesierige vroutjie, die rooikopreus agter haar – op die huislike toneeltjie wat die prelude is tot vrolike owerspel aanstons, in die kamertjie agter die venster met die roosgordyne.

      III

      Alleen dwaal Henry weg van die pikareske in die rigting van die geordende fabriek, óór die braak waar die natuur toelaat dat klawer, rank, onkruid en wilde blomme die paadjies toegroei – weg, weg, met sy eie gedagtes wat nooit die verantwoordelikheid van eie besluit ken nie, onverwikkeld tussen al die botsende aansprake op sy partydigheid, met ’n leegheid wat tog ryk is in die vermoë om die nuwe te trek sonder om dit te klassifiseer. Hy voel nog steeds die son op hom, hy kyk op na die leë blou hemel en hy herken iets van die ylheid wat ook in hom is. Hy kyk af en sien iemand wat moontlik Salome is: ’n meisie, wasig in die verte, en sy is mooi, al kan hy haar nie behoorlik uitken nie, want daar is ’n harmonie in haar bewegings, ’n koördinasie en ’n musikaliteit wat eie is aan alle welgeskapenes.

      Hy volg haar langsaam en lomerig terwyl die afstand tussen hulle soms kleiner word as sy stilstaan, óf omdraai en (gesigloos vir hom) in sy rigting kyk, óf met of sonder rede soms skynbaar vir hom wag.

      Hulle nader nou die fabriek en sy loop effens vinniger verby die kan­toortjie waar die tuinier op sy kolossale rekenmasjien meteens .00 druk, versigtig na die syfers kyk en, toe sy verby is, uitspattig volg met 34269-. Hy stamp die tabulator in, en toe Henry sy verskyning maak, trek hy die hefboom en kry 65731*. Verslae, en tog geprikkel deur die duisternis van syfergeheime, staar hy na die masjien, suiwer dit terug tot 00* en, as Henry ook verby is, tel hy sy handboekbybel op om meer van hierdie god te lees.

      Die plante keer die lig af en maak die letters moeilik herkenbaar in hulle skaduwees. Hy kyk op met oë waarin nuwe belangstelling ou liefdes verdring. Hy besluit om net die volgende dag minstens helfte van daardie loof by die venster te verwyder. . .

      En nou lyk Salome vir Henry anders: nie meer die nimf van die heide nie, maar slank en ryk, die dogter van die Welgevondenheerser tussen die netjiese wit mure en die broeikastulpe van geel en rooi. Selfs in die waas van sy bysiendheid is daar in die golwende buitelyne die nabeeld van ’n oorspronklike patroon. Dis Salome, die replika van Jock en die slank Mrs Silberstein, die chemiese kombinasie van twee wesens wat saam nie juis groter volmaaktheid geskep het as die totaal van die oorspronklike nie, maar iets nuuts wat, in verbinding, eiesoortig volmaak is.

      Blink rooi, blink geel as hulle een na die ander deur die tuin stap: eers vir Salome met volbloedbewegings, met die Huis van Levi hergebore in Welgevonden; blink geel en blink rooi vir Henry, met die satynglans van suiwer satinet, vir die goy met die silwersiel.

      Die jong studente, rondom professor Dreyer-in-kontemplasie, die wyn in sy hand klatergoud, verstrak soos poppe toe sy inkom, die donkeroogdogter van Silberstein. Dan los hulle hulle buisies, swerm om haar en beduie vir haar met die enorme energie van hulle jeug. – Maar sy staan by die professor met die kort baadjie, die vaal das, die vaal vel en die vaal oë, wat seksloos, seksvergete, seksontdaan slegs – nie die goud nie, nie die warmte nie, nie die romanse nie, maar die suiwerheid kan sien.

      ’n Rukkie later kom Henry in. Hy gewaar geen Salome nie, hy gewaar slegs die professor wie se vrou nou vreugdevol haar volbringing gil.

      “She went that-a-way,” sê een van die studente en wys na die deur wat na die eerste kamer lei.

      Déúr die stoombad, nou, waar die naturellemans, hulle tenk leeg, hulle waentjies vasgevang in ’n knoop, net kyk en kyk tot by die volgende kamer.

      – waar haar romp swaai, en die waai van haar bene gestreel word deur die kant van ’n onderrok, terwyl die deur aan die oorkant toeslaan en die wit- en bruinmeisies se hande soos kapelle pik en pik aan die lang ry van rooi en wit wat na tonnels en deur tonnels reis.

      – tot by die kaleidoskopiese kamer van pataphysique met die teken van Ubu

      – en daar is geen Salome nie.

      Die man met die wit jas druk op ’n knoppie

      – en daar is geen Salome nie, net die landgoed van die Silbersteins as Henry in die vrye natuur terugbeweeg na die opset van geboue waar die blackamoor deurdringend die ete aankondig

      by die vleisbraaiplek.

      Braaivleis in die sonlig terwyl die Xhosa-kok se wit mussie sy stysel verloor en soos ’n mislukte soufflé ineenstort. Braaivleis met bier in die sonlig saam met die slank Mrs Silberstein, haar blou rok oor die gras versprei, haar oë beskadu deur ’n wawielwye sonhoed, haar rus tot sluimering gesus deur die larie van paramour Van Eeden wat, hande agter die kop, op die naat van sy rug, sotto voce sy liefdesinspirasie in die son vertolk.

      Braaivleis, blou lug, bier en die luiheid van ’n sonligmiddag as die groepies gas­te afpaar in die afgesonderde kamertjies van hulle fluistergesprekke. Braaivleisbene, bierblikkies en langer skaduwees as hulle, een na die ander, wegdwaal na koel donker kamers, koel gras langs waterstroompies, koel oorhange van wilgertakke terwyl die sonbesies dreun, en die ladybirds van drieklawer tot vierklawer vlieg en twee meteens in die seldsaamheid die rede vir oorgawe sien.

      Tussenoomblikke tussen gekwetter van voëls en skielike stiltes wanneer skames in die lugleegte die moed kry asof hulle nie self betrokke is nie. Stilte en hitte wanneer eksperte die ou spel tot nuwe ontdekkings voer. Hitte en stilte wanneer die slank Mrs Silberstein haar soos ’n kat uitrek en die gemmerkleurige moestas wild staan terwyl die roué-oë blind word van genot. Hitte, stilte, sonlig, terwyl die reus Silberstein welbehae vind in die arms van die dogter van die mens. Sonlig terwyl die vaal professor in die stilte van sy verlate laboratorium in onbeskryflike nuanses nuwe essensies gewaar. Hitte as die tuinier in sy klein kantoortjie, sy ete vergete, die dui­selingwekkende moontlikhede van sy masjien met siddering ervaar. En stilte, as Henry in die afsondering van sy slaapsaal wegdryf na die donkerte van ’n diepe slaap wat hom wegvoer tot ’n allesoorweldigende niks – ’n niks waarin Welgevonden soos ’n negatief lê en almal en alles teenwoordig is om met bewuswording netnou in volle kleur te voorskyn te kom.

      Daar is iets, weggesteek in die niks wat, alreeds gebore, wag op die lig. Daar is stemme, gedagtes en vorme in ’n magiese tussenwêreld wat alleen die profetiese blik kan begryp. Daar is avonture van liefde en haat en al die ou emosies wat wag op die silwersiel van iemand soos Henry wat self sonder ’n bepaalde persoonlikheid, en sonder filosofieë, net wag en wag en wag. Daar is iets in staaltenks, en bulle, en wyn, en bottelary, en vierklawer gemeng met tulpe, en kranksinniges met masjiene soos Frankenstein-monsters, en die misteriespel van goed en kwaad wat sigself in parodie herhaal in Bishops court, en owerspel, seks, godsdiens en die wordende gees van ’n nuwe tyd. Daar is ’n nuwe chaos wat kook in die pot. Daar is die frisheid van ’n nuwe orde en die tinteling van ’n nuwe verset.

      Maar dis vir iemand soos Henry. En die vlugtende Salome.

      IV

      Henry voel vars en gloeiend ná die slaap. Hy lê eers en kyk na die vergulde dak terwyl sy energie oplaai. Dan gaan hy na die badkamer waar hy ’n interessante ontdekking doen. Die kamer lyk nou twee keer so groot soos in die verlede. Iemand het skuifdeure oopgemaak en die res van die vertrek ontbloot. Die nuwe gedeelte is ’n soort sitkamertjie gemeubileer met ragfyn Chippendale-stoele, ál om ’n ottoman wat met handdoekmateriaal oorgetrek is.

      Hy bad eers in ’n stroom warm en koue water, bruisend uit die leeubekke, gegeur deur die parfuum uit hulle oë, en dan lê hy op die ottoman terwyl ’n egalige stroom gereguleerde lug hom afdroog. In ’n sekere stadium gaan hy op een van die stoele sit en hy vind alles doelloos totdat dit hom byval dat hierdie kamer vir intieme