Skaduself. Paula Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Paula Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798166089
Скачать книгу
wanneer sy haar hand beweeg. Appa sal raas as hy weet sy rook met my in die kar. Mamma rek om die radio aan te skakel. Sy draai dit so hard dat dit my ore seermaak en ek kan nie eens vra dat sy dit sagter maak nie.

      “O, jy laat ons agtervolg?” skree sy skielik en swaai haar kop om agter ons te kyk. Sy draai die musiek sagter en flikker die ligte toe sy dwars oor die pad beweeg.

      “Jy oukei, liefie?”

      “Ja.”

      Toe skree sy ’n rêrige lelike woord oor en oor en swaai links. “Los my uit!” sê sy. “Laat my alleen!”

      Maar Mamma is nie alleen nie – sy is by my, en ons gaan ’n burger eet en ’n fliek kyk in die middel van die week. Mamma leun oor. Sy kyk in haar handsak.

      “Waar’s dit? Waar’s dit?” vra sy.

      “Waar’s wat?” Maar sy hoor my nie, want sy swaai die kar verby ’n groot bus vol gesigte met monde soos groot O’s.

      “Jesus, tog,” sê sy, en nou is ek heeltemal deurmekaar, want sy praat nooit oor hom nie behalwe op Kersfees wanneer hy verjaar, 25 Desember. Dis ’n goeie dag, want 5 gaan presies 5 keer in 25.

      Mamma gooi haar sigaret by die venster uit. Ek weet vir seker dis ’n stoute ding om te doen. Sy is ’n morsjors wat die omgewing beskadig. Dan gaan die wêreld vergaan en het ons nêrens om te woon nie.

      Mamma se kar maak grrrrrr, grrrr, grrrr. My veiligheidsgordel trek styf oor my skouer toe ons om ’n draai gaan.

      “Mamma ry te vinnig,” sê ek. Dit is waar. Ek het ’n groot teken gesien en dit het 60 gesê, wat 60 kilometer per uur beteken. Sy gaan ’n boete kry! Miskien hoor sy my nie, want sy ry nie stadiger nie en sy gaan so vinnig om nog ’n draai dat ek dink ek gaan uitval. Ek druk die knoppie af om my deur te sluit.

      “Gee pad!” skree sy. “Piss off!” (Dis ’n lelike woord vir piepie.)

      “Waarnatoe gaan ons, Mamma?” skree ek.

      “Ek moet by Annie uitkom.”

      Ek hou van tannie Annie. Sy het een keer vir my ’n boek gegee oor ’n ou met die naam Newton, op wie se kop ’n appel geval het en toe werk hy uit hoekom dit gebeur het. ’n Akker het eenkeer op my kop geval, maar ek het nie aan enigiets slim gedink daarna nie.

      “Moenie bang wees nie, Sanusha – ons gaan oukei wees.”

      Ek wil net hê Mamma moet stadiger ry.

      “Ry stadiger, Mamma,” sê ek.

      “Ons moet hom eers afskud,” sê sy.

      Ek weet nie van wie sy praat nie.

      “Wie?”

      “Die man wat ons agtervolg. Ons moet by Annie uitkom.”

      My maag maak grom, grom, soos Winnie the Pooh s’n wanneer hy heuning wil hê.

      “Wat van ons burger?” vra ek. “Mamma het vir my ’n burger en ’n fliek in die middel van die week belowe!”

      “Sodra ons veilig is. Ek moet eers sorg dat ons veilig is,” sê Mamma, maar haar stem klink snaaks.

      Grom, grom, maak my maag.

      “Daar’s hy!” skree Mamma en die kar spring vorentoe soos ’n rekkie wat skiet. “Hou vas, Sanusha – as ek ’n afdraaiplek sien, gaan ek my kans waarneem!”

      Watter kans?

      Ek klou aan my sitplek vas. Die bande skreeeeeeeeeeeeeeeee. Mamma gil. Ek gil.

      Die kar draai al in die rondte.

      Toe stamp ons teen iets. Hard. Glas breek en val op Mamma. Sy is vol bloed. So rooi soos my trui.

      Ek is nie meer in my stoeltjie nie. Ek lê naby Mamma, maar ek weet nie hoe ek hier gekom het nie. My arm is seer – dit hang snaaks, soos ’n leë mou.

      Mamma se oë lyk snaaks, maar sy haal asem, daarom weet ek sy is nie dood nie.

      “Mamma? Mamma?”

      Sy sê niks.

      1, 2, 3, 4 …

      “Mamma?”

      Stemme wat skree en ligte en mense wat hardloop. Hulle maak die voorste deur oop.

      … 31, 32, 33, 34, 35 …

      “Is jy oukei, meisie? Ons het ’n ambulans laat kom.”

      Ek wys na Mamma met my gesonde hand. “Sy’s nie dood nie,” sê ek. “Maar sy’t haar kans waargeneem.”

      Thea: Nie ’n vinnige dood nie

      Die eerste keer toe ek in die hospitaal beland het, het Moeder vir my gesê om “op my maniere te let” en “niks te sê oor hoe dit gebeur het nie”. Wel, dít is wat regtig gebeur het. (Ek het nie ’n ketel kookwater oor my bene uitgegooi, soos my pa vir die verpleegsters vertel het nie.)

      Hulle het daardie dag vir Robbie in die grond gesit. Hy het nie die bank gekry wat hy wou gehad het nie en ek is gedwing om ’n haatlike valletjiesrok aan te trek. Ek wou eerder ’n jean dra, en ’n T-hemp met “Kleinsus” voorop, want Robbie hou daarvan. Het daarvan gehou.

      “Moet my net nie vandag van alle dae moeilikheid gee nie, juffroutjie,” sê Moeder en trek my jeans so hard af dat haar nael my boud krap.

      Ek vou my arms oor my bors sodat sy nie my hemp kan bykom nie, maar Moeder is sterker as ek. Ek het gedink sy gaan my slaan, en toe is dit verby, want toe ek vir my gesig keer, verloor ek my greep. Moeder vat die skêr uit my potloodsakkie op my lessenaar en ek moet toekyk terwyl sy my gunsteling-T-hemp stukkend knip. Stukkie vir stukkie laat val sy dit in die snippermandjie terwyl ek ’n keel opsit.

      “Jy’s nie meer ’n kleinsus nie, Thea. Dra nou die verdomde rok. En hou jou mond.”

      Pa kom by die kamer in, sien wat aangaan en loop weer uit, soos gewoonlik.

      Ek staan stil terwyl Moeder ’n frokkie oor my kop trek, want ek wil net hê sy moet weggaan. Die rok se romp is ’n aaklige groen, soos babapoef. Die bolyf het wit knope en die romp het lae en lae kantvalle reg rondom. Ek lyk soos daai gehekelde poppies wat Nana op die plaas oor die toiletrolle sit. Die plaas was Robbie se gunstelingplek, en ek probeer my troos deur daaraan te dink.

      Nadat Robbie siek geword het, het hy gewoonlik die meeste van die lang pad soontoe omgeslaap, sy kop op ’n vet kussing, sy mond halfoop. Ek sou die liggies oor Kaapstad dophou wanneer ons vroegoggend ry, flikkerende geel spatsels, en bome met spokerige arms in die wind. Verder aan lyk die berge soos groot stekelrige dinosourusse wat hulle koppe lig om na ons te kyk. Wanneer die pad reguit word, strek dit voor ons uit tot by die horison, asof dit vir ewig aangaan. Eindelik ry ons stadiger en stamp-stamp oor die spoorlyn, en langs die draad sien ek die koppe van oupa se volstruise, pienk en oranje geverf in die oggendlig. Asof hulle ons verwelkom.

      Dan skud ek vir Robbie wakker, saggies, saggies. Hy sal dit nie wil mis nie – hy is mal oor voëls en hy het selfs ’n lys. Soos Pa, kan hy voëls uitken aan die manier waarop hulle vlieg, of aan die vorm van hulle sterte, of die kleur van hulle snawels. Ek kan nie die verskil sien nie, maar ek is tevrede om agter hom aan te drentel om vere op te tel vir sy juweelbedekte versamelkissie uit Indië. Hy het selfs ’n aasvoëlveer, amper so lank soos my arm en beslis breër. Moeder het altyd heelwat te sê oor kieme.

      Toe hy nog sieker word, mag hy nie meer die kissie in sy kamer hê nie, en ek mag ook nie by hom kuier nie, in geval van kieme. Robbie gee vir my die kissie om op te pas en ek besef dis ’n eer.

      Op die plaas hou ons veral daarvan om na die volstruise toe te gaan, hoewel ons nooit naby die volwasse voëls toegelaat word sonder dat die grootmense by is nie. Volstruise is baie beskermende ouers, en hulle maak beurte om die eiers uit te broei; as dit vir ’n volstruis lyk asof jy te naby kom, kan hy jou doodskop. Oom Ray en Oupa laat nie die volstruise toe om al hulle eiers te hou nie. Hulle het ’n spesiale