Skaduself. Paula Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Paula Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798166089
Скачать книгу

      

      Skaduself

      Paula Marais

      Human & Rousseau

      Aan my ma, Marilyn Marais, wie se belangrikheid in my lewe nie in ’n enkele sin verwoord kan word nie.

      It was Hansen who first made me aware of shadow selves. He would lie in bed watching me for whole minutes, and I would look back into his eyes and wonder, What does he see? How can he not see the truth? Where is it hidden? It made me ask, when I looked at other people, what possible selves they were hiding behind the strange rubber masks of their faces. I could nearly always find one, if I watched for long enough. It became the only one I was interested in seeing.

      – Look at Me deur Jennifer Egan

      Om te pleit

      Ek sit op ’n bankie in ’n klein kamertjie, ’n bekrompe, bedompige ruimte. Hulle kom jou haal, hoor ek, en kyk rond. Ek kan nie behoorlik sien nie. Dis soos om aan die slaap te wees en te voel jy moet jou oë oopmaak, maar jy kan nie. Hoe meer jy probeer fokus, hoe paniekeriger raak jy en hoe meer afgesonder voel jy. Ek wil die katarakte van my oë afkrap, maar selfs as ek my oë op skrefies trek, lyk dit asof die kamer op en af beweeg.

      Die kamer is ’n brander. Die lawaai is ’n brander.

      ’n Gekletter.

      ’n Geskal.

      Ek sit stil en laat my kop op my knieë rus.

      “Dis oukei, Thea, ek het mos gesê ek is hier.”

      Robbie. My hart is tot oorlopens toe vol stemme, maar my broer klink soos altyd. Seesiek leun ek oor die kant van ’n boot met ’n glasbodem. Onder my dryf visse, almal dood en bebloed.

      ’n Haai tol onder my na benede, ’n helder rooi wond waar sy vin afgesny is.

      ’n Tol wat draai en draai. Om en om.

      Ligte aan. Ligte af.

      Ligte aan. Ligte af.

      “Mevrou, jy moet nou kom.” Ek is nie seker of dit die haai is wat praat nie, maar ek voel ’n hand op my elmboog en stamp dit weg. Daar is ’n hoë skreegeluid, soos dié van ’n maer vark, of ’n ketel wat fluit. Toe word ek opgelig, ek sweef in ’n ballon.

      Weeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeee …

      “Dis die hof, Mevrou,” sê die stem weer. “Jy moet nou opstaan. Ons gaan met die trap boontoe.”

      “Willie,” sê ek. “Wil slaap.”

      “Dame, ná wat jy gedoen het, gaan jy ’n leeftyd hê om te slaap. Daar’s nie veel anders om in Worcester te doen nie.”

      Worcester? Waarvan praat hy? Ek is nie in Worcester nie. Was ek dan nie veronderstel om te slaap nie, by my kinders en by Robbie nie? Het hy dan nie belowe nie?

      “Los my uit,” sê ek. “Ek hou nie van jou nie.”

      “Dame, ek hou ook nie van jou nie.”

      Ek kyk na hom en sy gesig kom asof deur digte mis nader.

      Vet neus. Stomp wimpers. Oë die kleur van koffie. Pet op sy kop.

      “Ons moet jou boei, Mevrou,” sê iemand, maar ek dink nie dis hy nie, want sy lippe beweeg nie.

      “Soos in hándboeie?” vra ek vir Robbie.

      “Ek dink so,” sê hy. “Wat anders kan hy bedoel? Gaan net, Thea. Jy onthou hoe ons altyd in die boomhuis met boeie gespeel het? Polisie-en-dief?”

      Maar toe was dit lekker en nou maak dit seer.

      “Dis nie nodig om my te stamp nie,” sê ek, en ek klink soos Ma.

      “Kom, dame, beweeg nou. Die landdros hou nie van wag nie.”

      Toe loop ek. Ek hou ook nie van wag nie. Dit irriteer my wanneer Clay laat is. My man Clay. Ek kyk altyd duisende kere op my horlosie en wonder hoekom hy nie genoeg respek vir my het om betyds te wees nie. Altyd die een of ander noodgeval by een van sy koffiewinkels.

      Ek loop, maar elke tree wat ek gee, is swaar, asof ek deur water loop. Ek beur teen die trap op.

      Op, op.

      Die kettings klingel agter my waar die polisiemanne staan. Hulle gesels.

      “Toe vertel sy vir my my seun het my kar gesteel terwyl ek by ’n ongelukstoneel was. Dronk, jy weet! Sestien jaar oud! Ek het hom op Muizenberg-strand opgespoor. Hy’t seker gedink hy’s te oud vir ’n klap.”

      Ma was goed daarmee. Later was my eerste man meer soos sy as wat sy ooit sou wou erken.

      Geweld. Lyf teen lyf.

      Ek ril. Wat sê hulle altyd? Iemand loop oor my graf.

      Aan die bopunt van die trap loop ek teen ’n uniform vas. Die man hou my terug.

      “Stadig nou, wag tot ons gereed is.”

      Gaan. Wag. Loop. Staan. Gaan. Ek wens hulle wil verdomp besluit. Ondertoe staan die ander polisiemanne steeds en gesels.

      “En die kar? Wat daarvan? Wat was fout met die kar? ’n Duik aan die voorkant, jong. Hy gaan ’n jaar lank blare hark om daarvoor te betaal.”

      Hark. My Zen-tuintjie het my laat ontspan. Patrone in die sand. Krulle. Draaie. Tot Joe die sand op die mat uitgegooi het en Clay gesê het: Dis nou genoeg. Ek hou nie van sand onder my voete nie.

      Daar is ’n geruis hier bo. Stemme wat op- en afgaan. En die ligte is so helder.

      Ek knip, knip, knip my oë.

      ’n Hand kom na my toe, verdwyn weer. Iemand skree: “Staan weg van die gevangene!”

      “Dis jy,” sê Robbie.

      “Ek weet,” antwoord ek. “Ek voel dit aan my polse.”

      Ek dink my oudste dogter, Sanusha, is ook hier met haar warm olyfgroen oë. Sy skree: Hoekom, hoekom, hoekom? Ek wens Robbie wil vir haar verduidelik. Dis beter so. Vir Joe. Vir baba Caitie. Vir my. Selfs vir Sanusha.

      Sy het haar pa om na haar te kyk. Sy het mý nie nodig om haar te red nie.

      Die polisieman stoot my vorentoe; ek voel sy vingers in my ribbes.

      “Eina,” sê ek en vryf my sy.

      “Daar,” sê hy. “Staan daar.”

      Ek is voor ’n mikrofoon waarvan die klank afgeskakel is. Die regter – is hy die regter? – fluister iets. Ek kyk na hom, konsentreer, probeer hard om te hoor.

      “Mevrou,” sê hy.

      Hier is my prokureur, Tom Harper. Vir hóm ken ek, lankal. Hy glimlag en knik gaaf. Maar Tom is nie gaaf nie. Hy maak my deurmekaar. Hy sê iets vir die regter en kom nader.

      “Antwoord net die vrae, Thea,” sê hy.

      “Watter vrae? Ek kan hom nie hoor nie.”

      “Hy vra jou volle name.”

      “Weet hy dan nie? Hy moet harder praat.”

      “Edelagbare, die gevangene sê sy kan u nie goed hoor nie.”

      Toe bulder hy en hy klink soos God, soos Ganesha. “Mevrou, sê asseblief vir die hof jou volle name.”

      “Doen dit net,” sê Robbie. “Doen wat hy vra, en sê ‘Meneer’. Jy moet respek toon.”

      “Thea June Middleton … Meneer.”

      “En jou volledige adres, asseblief?”

      Dit ken ek. “Jamiesonstraat 28c, Rondebosch.” (Tans elders in aanhouding.)

      “Ek vra jou hierdie vrae om seker te maak jy is die regte beskuldigde, verstaan? En volgens die rekord hier voor my is jy.”

      Ek besef Tom staan steeds voor my, sy gesig na die regter gedraai. Sy hande is voor sy middel gevou; hy lyk soos ’n berouvolle skoolseun. Een of twee keer draai hy om en kyk na my, asof ek veronderstel is om hom te verstaan. Ek kyk na die