Skaduself. Paula Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Paula Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798166089
Скачать книгу
moet nie. Ons eet almal met ons hande, behalwe Mamma. Sy gebruik ’n lepel. Wanneer ons klaar geëet het, is Appa moeg en hy help nie afdra nie, want dis ’n vrou se werk.

      Ek verstaan nie Appa se werk nie. Mamma sê hy studeer om die rekeninge te betaal.

      Vandat sy die lekkervoelpilletjies drink, studeer Mamma ook. Sy het eers geleer hoe om ’n toergids te wees en nou gaan sy haar Skoolfrans gebruik wat my ander ouma haar gedwing het om te neem.

      “Dis ten minste een ding wat sy reg gedoen het,” sê Mamma.

      Soggens gaan Mamma na ’n plek iewers in die stad toe waar sy “bondjoer” en “arriewhaar” sê. Partykeer bring sy kinderboeke van die biblioteek af en lees dit vir my in Frans. Ek hou van die prentjies. Mamma sê sy gaan iets van haarself maak. Maar ek weet nie wat jy kan maak as jy klaar iets is nie. En wanneer gaan sy tyd saam met my spandeer as sy so besig is om iets van haarself te maak?

      Noudat Mamma partymaal glimlag, neem sy my park toe ná Hompie Kedompie. Dit beteken dat ek ’n ekstra uur elke dag kan gly en swaai, behalwe as dit reën. Ek hou die meeste van die leer wat tot bo in die boom gaan, maar omdat ek so kort is, is dis moeilik om weer af te klim. Mamma moet my vang en sy gee nie eens om as ek haar klere vol modder maak nie. Ons kom vuil by die huis aan en klim saam in die bad.

      Mamma se vel is ligter as myne, maar dis nie mooi onder haar klere nie. Sy het kneusplekke. Dit is allerhande kleure: rooi, blou, groen. Een van haar nuutstes lyk soos Afrika en Mamma het vir my Egipte gewys en van die piramides vertel waar daar hope dooie lyke lê, toegedraai in wit lappe. Hulle is konings en koninginne, so hulle word nie in die grond begrawe nie en ook nie verbrand soos Amoy Ayaa nie, al is ek te jonk om haar te onthou. Mamma sê sy is baie lomp omdat sy haar stamp in die nag wanneer sy in die donker toilet toe gaan sonder om die lig aan te sit. Ek wens sy wil versigtiger wees.

      “Mamma moet die lig aansit,” sê ek en raak aan die kneusplekke op haar maag.

      “Wat?”

      “Sit die lig aan wanneer Mamma gaan piepie.”

      Sy kyk na my en maak of sy glimlag.

      “Goeie plan,” sê sy. “Ek sal dit probeer.”

      Ek en Mamma doen dit al twee. Sy maak of sy na my luister en ek maak of ek haar glo.

      Wanneer ons uit die bad klim, kies ons klere wat bymekaar pas. Ons hou daarvan om dieselfde kleure te dra. My gunstelingkleur is pienk. Mamma se gunstelingkleur is ook pienk, so dis goed. Ons dra heeltyd pienk en gister het Mamma ’n nuwe trui gekoop, so sag soos ’n hasie. Sy lyk ekstra mooi daarin en sy vat daaraan asof sy net so lief is daarvoor soos ek.

      Hier is ’n paar gunstelingkleure:

      1. Appa se gunstelingkleur is swart, maar ek dink nie dis ’n goeie kleur nie. Swart is donker en bang en nag.

      2. Asmita Ayaa hou van rooi, soos ’n brandweerwa.

      3. Kandasamy Ajah vra hoekom pla ek hom, ’n kleur is ’n kleur. Ek dink grootmense kan ook verkeerd wees. ’n Kleur is nie enige kleur nie, hoekom sou ons verskillende verwe kies by Hompie Kedompie?

      Mamma studeer nie die hele tyd nie. Party oggende wanneer sy nie bondjoer leer nie, neem sy toeriste in Kaapstad rond. ’n Toeris is ’n besoeker wat nie in daardie plek woon nie. As ek in Durban is op ’n toer, dan is ek so iemand. In Kaapstad is ek nie ’n toeris nie en daarom mag ek nie saam met Mamma op haar spesiale bus ry nie. Ek dink nie dis regverdig nie, want busse het baie sitplekke en ek is maar klein. Maar Mamma sê hierdie vreemdelinge hou van privaat wees en wil nie ander mense se kinders op die bus hê nie. Asmita Ayaa sê dis goeie maniere om te deel, maar miskien het hulle ander maniere waar hulle vandaan kom.

      Appa laai vir Mamma by die bus af sodat sy nie haar kar hoef te los waar die busse parkeer nie. Hy sê altyd vir al die toeriste hallo en dan vertel hy vir hulle hy is Mamma se man. Partykeer wag ek in die kar.

      Ek het ’n Engelse woord vir bus geleer: coach. Ek en Appa het dit op die kant van die bus gelees: Coach tours. Dit beteken om in die bus saam met Mamma deur Kaapstad te ry.

      Hier is 7 dinge om in Kaapstad te doen:

      1. Tafelberg. Jy kan opgaan in ’n kabelkarretjie. Dis ’n bietjie soos ’n trein aan ’n tou wat na die bokant gaan en weer af kom.

      2. Groentemarkplein. Jy kan goed daar koop en daar is baie mense, daarom moet jy jou mamma se hand vashou en nie wegraak nie.

      3. Twee oseane wat ontmoet. Jy ry baie ver om twee oseane te sien wat bymekaarkom. Dis die punt van Afrika, maar nie rêrig nie, want Mamma sê daar is nog ’n punt op ’n ander plek. Jy kan kyk hoe duikers tussen die seegras in die water swem, en bobbejane kan jou piekniekkos steel, want ’n bobbejaan het my broodrolletjie geëet, en dit was kaas en konfyt, my gunsteling.

      4. Kirstenbosch. Dis ’n groot tuin met proteas en bosse en berge aan die agterkant. Daar is ’n bad waarin ons nie mag klim nie.

      5. Druiweplase – as jy omtrent 2 jaar ry kom jy by hierdie plek waar mense wyn drink in klein glasies wat jy mag hou. Maar kinders mag nie wyn drink nie. Ons drink rooi druiwesap. Rooi is die beste. Ek het mos al gesê kleur is superbelangrik.

      6. Kompanjiestuin. Die man het ’n kasteel gebou en hy het vrugtebome geplant om vir die matrose kos te gee sodat hulle nie die te-min-vitamiene-siekte kry nie. Die geboue is baie oud. Vir my is die beste plek daardie een met al die skilderye. Ons gaan partykeer soontoe wanneer dit reën. Mamma vertel vir my stories wat my laat lag.

      7. Robeiland. Jy kan van Houtbaai af op ’n boot soontoe gaan. Ek het eenkeer gegaan en die robbe was oulik maar baie stink. Ek het ’n dooie een sien dryf.

      Wanneer Mamma huis toe kom van haar werk af, vra Appa altyd vir haar ’n klomp vrae, want hy is baie nuuskierig. Appa hou van getalle, net soos ek, daarom vra hy goed soos: Hoe lank was julle by Kirstenbosch? Hoeveel mense het opgedaag? Hoe lank het dit gevat om terug te kom? Hy hou ook daarvan om alles van die toeriste te weet: Waar kom hulle vandaan? Was dit ’n gesin? Gaan Mamma hulle weer sien?

      Mamma antwoord al die vrae, maar sy lyk verveeld. Wanneer Appa nie vir Mamma kan gaan aflaai nie, neem Asmita Ayaa ons na die coach (nuwe woord!). Mamma sê vinnig dankie en spring uit. Partykeer is sy so haastig dat sy vergeet om vir my ’n soentjie te gee.

      Partymaal neem Mamma ’n klein groepie met ’n bestuurder wat ’n vriend is van Appa. Sy naam is Lankesh. Mamma neem die toeriste rond en Lankesh wag in die kar. As hulle middagete eet in ’n deftige restaurant, eet hy wegneemkos in die kar. Mamma hou nie van Lankesh nie. Hy is nie aantreklik soos Appa nie, en sy sê hy ruik snaaks. Appa lag en sê sy’s sommer vol fiemies. Niemand ken die agterstrate soos Lankesh nie. Ek wonder wat die agterstrate is, en, as hulle die agterstes is, waar vind jy die strate aan die voorkant?

      Thea: Om te leer hoe om ’n goeie vrou te wees

      Toe ek met Clay trou, het ons twee genoeg gehad om die lewe op ons eie aan te pak. Maar in my eerste huwelik het ons niks gehad nie. Ek en Rajit het by sy ouers ingetrek. Asmita en Kandasamy het die tuinwoonstelletjie opgeknap. Daar was ’n kombuisie met ’n mikrogolfoond – iets nuuts in daardie dae – ’n tweeplaatstofie en ’n piepklein oondjie. Die dubbelbed is uit die hoofhuis soontoe gedra, maar dit het altyd vir my te kort gevoel. Wanneer ek soggens wakker word, het my voete alewig oor die onderent van die matras gehang. Wanneer ek by Rajit daaroor kla, het hy die duvet oor my voete getrek nadat hy my saggies op elke toon gesoen het, al het hy seker dieselfde probleem gehad.

      “Dis die beste wat ek kan doen,” het hy gesê.

      ’n Langer matras sou my in elk geval nie beter laat slaap het nie. Die baba het wakker geword die oomblik dat ek gaan lê, en op my blaas gespring tot ek gevoel het asof daar nie ’n uur verbygaan sonder dat ek moet opstaan om te piepie nie.

      Hoewel my ma my nie veel omtrent die liefde geleer het nie, was ek onder die indruk dat ek leer kook het deur haar dop te hou. Ek het haar dikwels genoeg bekyk: ’n sliert hare agter haar oor ingedruk, ’n netjiese voorskoot oor haar twinset en pêrels. Ek sou gou