“Moenie vir my lieg nie, Thea. Jy’t dit aspris gedoen.”
“Ek sal nooit so iets doen nie, Moeder. Ek het dit nie bedoel nie!”
Sy beweeg vorentoe. “Kyk hoe lyk jy! Vader Patrick is oor ’n uur hier. Ek het genoeg om my oor te bekommer sonder jou nonsens. Trek uit!”
Ek probeer my rok losknoop, maar my vingers bewe te veel.
“Tart jy my, jong dame?”
“Die knope sit vas.”
Met ’n enkele beweging ruk sy al die knope af, van bo tot onder. Die rok val op die vloer. “Dis verwoes. Jy het dit verwoes!” sê sy.
Ek vou my arms, bewend.
“Trek uit jou broekie,” sê Moeder, en loop uit.
Uit die badkamer kom die geluid van water wat in die bad instroom.
“Thea!” blaf sy.
Stoom warrel in reusewolke oral in die vertrek.
Met een beweging lig Moeder my op en gooi my hard in die bad neer. Met my hele lyf in die kokende water, voel dit asof my vel afgeskil word. Ek gil en gil.
Dis Pa wat my hospitaal toe neem vir tweedegraadse brandwonde op my bene en boude.
Moeder bly by vader Patrick agter om te bid.
*
Soveel jare later, in ’n ander hospitaal, word ek wakker met Clay wat langs my bed staan. Hoe is dit moontlik dat die koffiewinkel se bestuurder hier is en Rajit weet nie daarvan nie?
“Jou broer is ’n goeie ou,” sê die verpleegster en waggel met haar groot lyf tot langs my.
Hoe weet sy van Robbie?
“Hy’s maar net ’n seun,” sê ek. “Hy’t nooit regtig grootgeword nie.”
Die vrou knip haar oë, krap dan haar kop.
Hoekom kyk mense altyd so na my?
Terwyl ek hier lê, probeer ek die verpleegsters se name onthou, maar ek kan nie. Daar is net te veel van hulle, en omdat hulle uniforms dra, kan ek nie uitmaak watter een vir Raj werk nie. Maar ek hou hulle dop en ek ontleed hulle, nes hulle my ontleed. Hierdie een sit ’n koorspen onder my arm en konnekteer my aan ’n bloeddrukmonitor, asof ek deel is van ’n wetenskaplike proefneming. Wanneer sal hulle genoeg temperature, genoeg bloeddruktellings, genoeg urine, genoeg blóéd hê?
“Ek sal moet gaan,” sê Clay. “Ek moet by die werk kom.”
Ek knik toe hy my op my voorkop soen.
“Word beter, Thea.” Hy glip so stilletjies weg dat ek begin wonder of hy ooit hier was.
Raj se besoeke is opgewek en vrolik en hy hop soos ’n sonbesie in die kamer rond. Miskien maak die hospitaal hom senuagtig. Ek sien hoe die pasiënte in die ander beddens na hom kyk, asof hulle wil hê hy moet stilsit.
“Ek is jammer ek het jou ontstel,” sê hy. “Ek het my les geleer. Ek sal dit nie weer doen nie.” Hy sit ’n foto van ons drie op die bedkassie neer. “Sien, Thea? Sien jy hoe gelukkig was ons?”
“Hou húlle net weg van my af,” sê ek en klap die raam om, sodat die glas kraak. “Bly jy ook weg. Ek wil my dogter sien. Slegs my dogter.”
“Moet nou nie só wees nie …”
“Ek moet dink.”
“Jy’s geensins in ’n toestand om te dink nie,” sê Raj. “Jy verbeel jou goed. Ek is jou man. Ek moet namens jou dink.”
Idioot. Asof ek wil hê hý moet namens my dink.
Ek gee hom die kyk waaraan ek besig is om te werk. Dit maak vir seker die verpleegsters ongemaklik.
“Ek wil vir Sanusha sien.”
Raj knik. Ek kan sien hy is kwaad, maar hy kry dit reg om hom in te hou.
“Ek bring haar vanaand.”
“Dankie. Gaan sê nou vir daai kopdokter wat die hospitaal aanhou stuur hy kan dit maar los. Ek gaan nie met hom praat nie.”
Daardie aand sit Sanusha op my bed en lees vir my. Sy kyk ’n oomblik van die storie af op en vra: “Hoekom wil Mamma nie hê Appa moet inkom nie?”
“Ek en Appa sit so ’n bietjie vas.”
“Baklei julle?”
“As jy dit so wil noem.”
“Hy’s hartseer. Hy’t gesê ek moet vir Mamma sê hy’s baie jammer.”
Dus Rajit se afgevaardigde. Sonder enige hulp van monitors, weet ek dat my bloeddruk besig is om te styg.
Hou sý my ook dop? Wat vertel sy vir Rajit?
’n Ongemaklike knop kom sit in my maag. Ek byt hard op my lip en lê terug teen die kussings.
“Jy bloei, Mamma.”
“Wat?”
“Jou mond bloei.”
Ek vryf die rooi weg met my handpalm. “Dis niks.”
“Bloed het plaatjies en plasma,” sê Sanusha. “Wanneer jou bloed opraak, gaan jy dood.”
“My bloed gaan nie opraak nie.”
“’n Volwasse liggaam het 5 liters bloed.”
Ja, en as ek hierdie keer my polse behoorlik sny, raak ek dalk van genoeg daarvan ontslae. Kry haar hier uit – sy maak my gek.
“Mamma is moeg,” sê ek met ’n stywe glimlag. “Ek dink jy moet gou terughardloop na Appa toe.”
“Maar ek wil vanaand by Mamma slaap,” kerm Sanusha.
“Dis ’n hospitaal, om hemelsnaam, nie ’n pajamapartytjie nie. Gaan huis toe saam met Appa. Mamma is doodmoeg.”
“Thea?” ’n Stem by die deur.
Annie. Goddank.
“Kan ek maar inkom?”
Sanusha hardloop na my vriendin toe. “Mamma is baie kwaai vanaand, tannie Annie.”
“Mamma is siek, my skat.”
“Sy wil nie met Appa praat nie en sy wil hê ek moet huis toe gaan.”
Annie kyk na my. Haar gesig is rooi – sy was in die son. Gewoonlik lyk Annie soos ’n bleker weergawe van die vroulike helfte van Roxette. Haar hare is kort geknip, want sy is nog net so sportief soos altyd. Maar sy het hoegenaamd geen kurwes nie. So plat soos ’n duikplank – geen heupe, geen borste, geen boude nie.
“Wat kyk jy so?” vra Annie ná ’n rukkie vir Sanusha. “Is daar spinasie tussen my tande?”
“Ek hou nie van spinasie nie,” kondig Sanusha aan. “Dit smaak soos gras.”
“Wanneer laas het jy gras geëet?” vra Annie en tel Sanusha op. “Is jy dan ’n koei?”
Sanusha giggel. “Koeie het vier pense,” sê sy.
“Wel, ek het ’n ekstra pens net vir poeding. Selfs al eet ek al my kos, het ek altyd nog plek vir lemon meringue.”
Hulle laat my kop draai.
Waarvan praat hulle? Hoekom gaan hulle nie net weg nie?
Annie druk Sanusha teen haar vas. Hoe kan sy so benerig wees en steeds my dogter vasdruk sodat Sanusha in haar wegsink?
“Het jy gekyk?” prewel ek.
Annie sit Sanusha neer. “Luister, skattebol, gaan vra vir Appa om vir Mamma ’n koppie koffie te kry. Oukei?”
“Het jy gekyk?” vra ek ’n bietjie harder toe Sanusha uit