Skaduself. Paula Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Paula Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798166089
Скачать книгу
stilte te verlig. In stilte skil ek die komkommer in wisselende strepies van donker en lig, soos Moeder daarop aandring, voor ek dit in skyfies sny.

      “Jy’s vroeg by die huis,” sê Moeder terwyl sy koppies rys in die pot afmeet.

      Ek weet dis ’n stekie. Ek is een van daardie tipiese tieners wat die huis soos ’n hotel gebruik. In vir maaltye en om my wasgoed te bring, dan uit, uit, uit. Ek kom graag uit onder my moeder se intense, starende oë, ontsnap graag aan die herinnering aan ’n gedeelde verlede wat sy skynbaar gerieflikheidshalwe vergeet het. Ek probeer haar vergewe vir die manier waarop sy my behandel, maar ek is nie soos sy nie – ek is nie so geseënd om ’n instapbiegstoel te hê en die oortuiging dat ’n paar Ave Marias alles sal beter maak nie.

      “Ek wou met Moeder praat,” sê ek.

      “O?” Moeder kyk op en lig haar geplukte wenkbroue. “Hoekom?”

      “Wel, ons sien nie veel van mekaar nie.”

      “Ek moes nooit vir jou jou pa se kar gegee het nie. Ek moes dit verkoop het. Elke keer dat ek die enjin in die oprit hoor brul, dink ek dis hy.”

      Sy hoef niks meer te sê nie. Selfs my aankoms by die huis veroorsaak vir haar pyn.

      “Miskien moet ons dit dan liewer verkoop,” stel ek voor. “Iets anders kry.”

      “Nie elke agtienjarige het ’n kar nie. Toe ek so oud soos jy was, het ek bus gery. Of geloop. Toe jou pa by my vlerkgesleep het, het ek met ’n boek van Bishopscourt af Mowbray toe geloop net om hom te sien te kry. Ek kon twee hoofstukke op pad lees.”

      Ek het dit al tevore gehoor. Dat ek nie van lees hou nie, is nog ’n teleurstelling. Ons ruil nie boeke uit soos ander ma’s en dogters nie; ons gaan nie saam biblioteek toe en maak nie ons mandjies vol hardebandboeke nie.

      “Moeder mis hom seker vreeslik,” sê ek.

      “Hy was my sielsgenoot,” antwoord sy, “iets wat jy eers sal verstaan wanneer jy ’n bietjie ouer is.”

      “Ek is lief vir Rajit, Moeder,” sê ek.

      “Liefde!” antwoord sy en gooi ’n koppie chenin blanc by die rys voor sy die aspersies se sous byvoeg. “Wat weet jy van liefde?”

      “Moeder was nie veel ouer as ek toe Moeder vir Pa ontmoet het nie.”

      Moeder roer die mengsel, en draai toe die hitte laer. Ek sny ’n tamatie en die mes vang my vinger. Bloed pomp na die oppervlak en ek lek die druppels af. Hoekom smaak gesprekke met Moeder altyd soos geroeste metaal?

      “Ek was ’n vrou toe ek jou pa ontmoet het. Jy’s ’n kind.”

      Ek voel my gesig brand, my wange rooiwarm gloei. “Ek verwag, Moeder, so ek sal seker vinnig moet grootword.”

      Moeder skakel die stoof af en stoot die pot eenkant toe. Toe draai sy na my toe, haar vertrekte gesig net-net onder beheer, en klap my deur my gesig.

      “Jou klein slet,” sê sy. “Elke dag bid ek dat jy in ’n beter mens sal verander. En nou doen jy dít.”

      Ek raak aan my wang, onseker of nog geweld gaan volg, en beweeg instinktief weg van die mes wat nog op die houtbord lê.

      “Ek is nie ’n slet nie. Rajit is my baba se pa. Ek is lief vir hom. Hy’s lief vir my.”

      “Hy’s nie die eerste man by wie jy slaap nie, Thea – ek is nie dom nie. Ek weet van jou reputasie. Dit volg my elke keer wanneer ek kerk toe gaan. Ek het al so baie vir jou gebid.”

      “Ek het verander.”

      “Regtig? Jy dink jy ken hierdie seun. Jy ken hom nie, Thea. Jy weet niks van hom af nie.”

      “Ek kan leer.”

      “Jy gaan op die harde manier leer.”

      Moeder se gesig is so naby myne, ek kan die aartjies in haar oë sien. Toe gryp sy my polse en stamp my teen die kas. My rug is teen die handvatsel en pyn skok langs my ruggraat af. Sy los my polse, gryp ’n handvol van my groot bos krulhare, en kap my kop teen die kersiehoutkas.

      Een maal.

      Twee maal.

      Drie maal.

      Duiselig probeer ek haar wegstoot, maar haar swaar spykerhak vergruis my voet. My gesig vertrek, ek doen my bes om nie te skree nie.

      Ek ken hierdie buie van haar. Maak of jy dood is. Hou jou slap. Maar hierdie keer kry ek dit nie reg nie. Wat as sy my baba seermaak? Met al die krag wat ek bymekaar kan skraap, stoot ek haar weg. Skok wys op haar gesig en sy tree terug voordat sy weer haar gesig teen myne druk.

      “Jy’s ’n vieslike hoer, Thea. Nes jou ma.” Moeder sit haar hand onder my ken en blaas haar walms in my gesig. “Raak ontslae daarvan,” sis sy. “Raak ontslae van hierdie baba of ek vergewe jou nooit.”

      Ek verlang na Pa, na sy kalm redelikheid wanneer hy dit durf waag het om haar teë te gaan. Ek huil. Ek probeer ophou, maar die snikke kom in my keel op, tot ek dink ek gaan verstik.

      Ek snak na my asem. “Wat sê Moeder?”

      “Jy weet goed genoeg wat ek sê. Laat dit aborteer. Ek gaan nie ’n bastergebroedsel in hierdie familie toelaat nie.”

      “Ek dag Katolieke glo nie aan aborsie nie, Moeder.”

      “Dis nie ’n baba hierdie nie, dis ’n fout.”

      “Ek gaan met Rajit trou, Moeder. Ons het klaar besluit.”

      “Oor my dooie liggaam. Dink jy om ’n baba groot te maak is maklik? ’n Huwelik is maklik? Jou pa draai in sy graf om. Die Here alleen weet hoe ek my vir jou skaam. Om te dink ek het jou van die straat af opgetel, jou soos my eie grootgemaak, en dís wat jy aan my doen!”

      “Ek gaan nie my eie kind doodmaak nie. Ek weier.”

      Ek het iemand nodig wat my sal liefhê.

      My moeder trek haar rok reg en stoot haar vingers deur haar hare. “Ek gee jou vier en twintig uur om daaroor te dink. As jy doen wat ek sê, sal ek daarvoor betaal, en ons vergeet daarvan. Maar as jy met Rajit trou en daardie gebroedsel hou, kan jy maar jou koffers pak, my meisie. Dan wil ek jou nie langer in my lewe hê nie.”

      Sanusha (5 ½): ’n Paar belangrike goed om te weet

      Eendag vat tannie Annie vir Mamma dokter toe en hy gee vir haar lekkervoelpilletjies. Dit is soos toorgoed, want party dae glimlag Mamma meer as een keer ’n regte glimlag. Partymaal lag sy sommer. Wanneer Mamma glimlag, is sy rêrig, rêrig mooi. Wanneer sy nie glimlag nie, is sy ook mooi, maar nie heeltemal so goed nie. Ek is nie mooi nie, al glimlag ek. My mamma is lank en skraal – sy het die langste bene. Ek is kort en rond. Ek lyk soos Asmita Ayaa en al is ek vir Asmita Ayaa 10 keer rondom die wêreld lief, is ek nie bly ek lyk soos sy nie.

      Hier is die 5 belangrikste goed wat ek van my ouma weet:

      1. Wanneer ons ’n video uitneem, sit Asmita Ayaa langs Appa op die bank, met Kandasamy Ajah aan haar ander kant. Mamma sit op haar eie, of partykeer by my.

      2. Asmita Ayaa speel met Appa se hare en noem hom “my seun” al is hy al groot. Dit pla vir Mamma en dan byt sy haar naels.

      3. Daar is meer van Asmita Ayaa as van Mamma om te druk.

      4. Asmita Ayaa was eers ’n prokureur. Nou is sy ons baas. Mamma wil in haar eie huis bly sodat sý ons baas kan wees.

      5. Ayaa se gesig het knoppe en gate soos die maan, en grimering laat dit nie beter lyk nie. Ek mag niks daaroor sê nie.

      Asmita Ayaa en Mamma hou meer van mekaar wanneer Appa weg is universiteit toe. Wanneer Appa huis toe kom, voel dit soos ’n resies om te kyk wie gaan eerste by Appa uitkom. Mamma soen hom op sy mond en Asmita Ayaa druk hom styf vas. Hy glimlag en tel my op en sê ek is sy prinses. Dan gaan hy na die tuinwoonstel toe om te stort en te skeer. Wanneer hy klaar is, eet ons. (Ons eet amper nooit in die woonstel nie.)