Vandag groet ons hom vir oulaas.
Die begrafnisdiens is in Moeder se kerk, met groot gebrandskilderde vensters waardeur gekleurde lig op die banke weerkaats. Die kerk is gepak, want Moeder en Pa het baie vriende en Robbie gaan al jare lank dood. Dis dieselfde mense wat die afgelope agt weke, toe Robbie op sy ergste was en die verpleegster ingetrek het, bakke kos op ons kombuistoonbank agtergelaat het: lasagnes, boboties, bredies en herderspasteie; Tupperware-bakke vol koek, kleinkoekies, kolwyntjies en fudge; en terte: suurlemoenmeringue- en appelterte in CorningWare-bakke wat ons moes teruggee.
Robbie moes op die bank lê en die mense ontvang. Sy vel was die kleur van mosterd en sy lyf maer, maar sy maag was groot van al die water waarvan sy liggaam nie meer ontslae kon raak nie. Elke besoeker het vyf minute gekry.
Die hele besigheid het Robbie uitgeput, maar toe ek vra hoekom hy dit nie vir Moeder sê nie, het hy net geglimlag en gesê: “Ag, Thea – dit gee haar iets om te doen.”
Ek dink ek het dit dalk meer gehaat as hy – al daardie skynheilige mense wat my laaste paar weke saam met my broer by my kom steel.
Terwyl die diens voortgaan, kyk ek na Moeder en Pa. Hulle hou mekaar se hande styf vas, ’n ongewone gebaar. Oupa het langs my ingeskuif en ek voel die drukking van sy been in die pak klere teen my romp – darem ’n troos. Hy vryf my hand liggies, kyk toe vorentoe en doen sy bes om nie te huil nie.
Ná die diens streel grootmense wat ek nie ken nie en sommige wat ek wel ken my kop en kyk na my met groot, hartseer oë, maar as ek wegkyk, praat hulle oor gewone dinge – hoe die weer darem perfek is vir ’n wintersdag, en het jy gehoor Sandra en Freddie is uiteindelik getroud, ná soveel jare.
Ek staan alleen buite toe die werklikheid my begin tref.
Ek was al gewoond daaraan dat Robbie nie meer buite met my speel nie, maar selfs uit sy bed het hy na my gekyk en gesê: “Haai, Thea? Hoekom lyk jy so af? Ek is nog nie dood nie, jong.” Hy het vir my stories gelees en, toe hy te siek word, sou ek langs hom sit en hom van die skool vertel en van Annie en dat sy vriend Tony nog die skool se albasterkampioen is – hoewel ons sonder twyfel weet hy sit Prestik onder sy skoene om albasters te steel wanneer niemand oplet nie. “Mý idee,” het Robbie eenkeer vir my gesê, en ek het gedink hy is superslim.
Toe ons eindelik terug is by die huis, probeer ek wegkom van die gaste af, selfs van Annie, wat saam met haar ouers gekom het. Toe Oupa my sover probeer kry om iets te eet, skud ek my kop en loop buitentoe, na die boomhuis onder in die tuin, en klim vinnig teen die stam op in my babapoefrok. Ek vryf met my vinger oor ons voorletters wat Robbie in die hoek van die boomhuis uitgekerf het. Die T lyk beter as die R – hy het gesukkel om die rondings met sy knipmes te maak, want die lem het aanhou toevou. Hierdie is ons ekwivalent van Robbie se bankie – ’n uitsig op die berg en ’n rustige plek om te dink. Deur die venster kyk ek hoe die mense rondmaal. Ek weet hulle sal almal huis toe gaan en van ons vergeet. Die kos sal ophou kom en ek sal in hierdie stil huis sit sonder Robbie, met net Moeder en Pa as geselskap.
Ek wil vir ’n lang, lang tyd hartseer wees, en aan my broer dink. Toe loer ’n kop by die boomhuis in.
“Ek het geweet jy sal hier wees,” sê Annie. Sy klim in en bied vir my ’n stukkie koek aan. “Wil jy hê? Dis soos karamel of iets.”
Ek vat ’n happie en dit smaak na niks – na poeier op my tong. Robbie se spesiale verekissie staan in die hoek. Ek leun oor en maak dit oop, sien die nuwe tarentaalveer wat ek ’n paar weke gelede by Kirstenbosch opgetel het toe Pa my soontoe geneem het om “’n bietjie uit die huis te kom”.
“Wat gaan jy vanaand maak?” vra Annie, haar mond vol krummels.
“Ek weet nie. Ons is veronderstel om saam met vader Patrick te bid.”
“Hoekom?” vra Annie, haar bleek gesiggie op ’n plooi. “Is dit nie nou te laat nie?”
Ek kyk na Annie en begin giggel. Gou lag ek so erg dat ek die boomhuis voel skud. Toe begin Annie saamlag. Ons lag tot die trane oor ons wange loop.
Dit voel goed.
“Ek wens jy kan na ons toe kom. Dis nie so hartseer by ons huis nie,” sê Annie en ons druk mekaar styf vas.
“Moeder sal my nie vanaand laat gaan nie.”
“Reg,” sê Annie, “as jy moet bid, moet jy bid.”
Dit laat ons weer giggel.
Ons hoor Annie se pa van die stoep af roep.
“Is jy oukei?” vra sy, en hou haar hand teen myne sodat ons hande ’n spitsdakkie maak.
“Ja.”
En toe is ek weer alleen in die boomhuis.
Ek weet nie hoe lank ek sit nie; toe die son begin sak, kry ek koud. Hier in ons spesiale plek begin eensaamheid my oorweldig en ek begin snik uit ’n deel van my wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Dis nie hartseer nie: Dis dieper, wyer, hoër, langer, en ek dink nie ek sal kan beweeg voor ek my hand op my hart gesit het nie, waar Robbie my eenkeer vertel het hy sal wees wanneer sy liggaam weg is. Maar ek kan hom nie daar voel nie – al wat ek kan voel, is hoe seer dit is, en ek weet hy het gejok.
Hy gaan nooit weer by my wees nie. Wie kan ek nou vertrou?
Sonder om te dink gryp ek Robbie se verekissie en klim deur die boomhuis se venster tot op die breë tak waar ons eenkeer ’n suikerbekkie gesien het. Met een hand hou ek vas, en ek knyp my bobene om die growwe bas. Met die ander hand maak ek die kissie oop, gryp ’n handvol vere en stuur dit swewend uit op die wind. Woedend gryp ek nog ’n handvol, en nog een, en nog een, totdat nog net die aasvoëlveer oor is, te groot om te gooi.
Daar is ’n brandpyn in my hart en ek kan nie behoorlik deur my trane sien nie. Toe besef ek dat al wat ek nog van Robbie oorgehad het, van my af wegvlieg en tussen die blare vashaak, en ek probeer van die vere terugkry. Ek kan nie bykom nie, daarom rek ek en die tak buig en buig onder my gewig …
KRAAK!
Ek gil toe die tak breek. My val word effens gestuit toe my romp aan ’n ander tak vashaak en skeur. Ek land in die bosse, my rok papnat van ’n poel ou reënwater. Ek sit ’n oomblik, te verdwaas om te roer. Dan hoor ek voetstappe.
“Thea? Thea?” roep my pa. “Wat maak jy hier buite?”
Ek staan vinnig op, probeer my skoonvee en hardloop huis toe waar al die ander grootmense binne staan. Toe ek by die sitkamer inbars, draai almal om en kyk na my.
“Thea?” vra Moeder in ’n stywe stem.
“Ek het uit die boomhuis geval,” sê ek. “Ek is jammer.”
“Gaan onmiddellik boontoe,” sê Moeder. “Ek kom oor ’n minuut. En moet niks anders vuil maak nie.”
Pa knik toe hy by die vertrek inkom, sy oë op my begrafnisrok. “Maak soos jou ma sê.”
Ek skuifel tot by die trap, bewus van grootmensoë wat my oordeel terwyl hulle niks weet van hoe dit is om ’n kind, ’n eensame kind soos ek, te wees nie.
Ek wag in my slaapkamer en luister na die mense wat groet. Toe die swaar plof van die voordeur wat toegaan. Die grendel skuif toe, die sleutel draai in die slot. Ek bewe in my nat klere en druk desperaat met ’n spons aan my rok in ’n poging om die ergste modder af te vee.
Moeder se voetstappe klink op die trap, Pa se kalm stem kom agterna. “Ek is seker dit was net ’n ongeluk.”
Moeder se voetstappe hou op. “Sy’t dit aspris gedoen, Stu. Hoekom dít? Hoekom vandag?”
“Kom ons kry haar net in die bad en los dit daar, skat. Dit was ’n moeilike dag.”
“Ek sal met haar afreken. Bring jy liewer die borde van buite af in.”
“Kan ons dit nie maar vanaand los nie? Net hierdie een keer, Veronica?”
“Vader, Stuart, ek wil nie môre in ’n