Skaduself. Paula Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Paula Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798166089
Скачать книгу
in ons buitekamertjie, verander Raj weer in die man wat ek gedink het ek mee trou. Ons speel gin rummy, lê op die bed en lees vir mekaar voor en Raj masseer my voete toe dit begin swel. Ons praat oor name vir ons kind, maar dis nie veel van ’n debat nie omdat Raj klaar besluit het.

      Maar ek hou van die naam Sanusha vir ’n meisie. Dit klink soos musiek. Seunsname sal die familietradisie volg. As dit ’n seun is, sal hy na sy oupa heet: nie my pa, Stuart, nie, maar Rajit se pa, Kandasamy.

      Ek gee nie om nie. Ek is lief vir Rajit en wat hy wil hê, is belangriker as wat ek wil hê. Ek is seker nie ’n wafferse feminis nie en my ambisie is beperk. Ek wil ’n gelukkige gesin hê, ’n nuwe grondslag vir my drome.

      Maar namate die swangerskap vorder en ek begin nesskop, raak Rajit toenemend rusteloos. Hy studeer met ’n volle beurs, en verdien ekstra kontant deur klas te gee in statistiek. Ek gee nie om oor die nauurse bedrywigheid nie, maar ek begin vermoed hy praat nie altyd die waarheid nie.

      “Maar hoekom hou jou lesse dan so laat aan?” vra ek.

      “Dis die tyd waarvoor sy gevra het,” antwoord Rajit. “Wil jy hê ek moet liewer nie gaan nie? Hoe gaan ons dan vir die karstoeltjie betaal?”

      Wanneer hy teen byna middernag eers by die huis kom, is hy gewoonlik in ’n goeie luim. ’n Bietjie te goed.

      “Jy’t gedrink,” sê ek.

      “Een glas wyn, Thea. Wil jy hê ek moet soos ’n sissie lyk?”

      Maar dis nie net die wyn nie. Dis die manier waarop hy na enige verbygaande mooi vrou kyk wanneer hy met sy arm om my in Pick ’n Pay loop. Hy probeer dit ook nie wegsteek nie.

      “Wat daarvan?” vra hy. “Kyk is vry.”

      “Ek is swanger, Raj. Ek voel nie op my beste nie.”

      “Wel, Thea, jy lyk ook nie juis op jou beste nie. Dis ’n stadium. Kom daaroor.”

      Ek probeer beter lyk. Ek bestee ure daaraan om my hare droog te blaas en my gesig mooi te maak met grimering wat ek by Clicks se uitverkoping koop. Ek oefen getrou en eet baie min, veral voor Rajit.

      “Jy swel soos ’n ballon,” sê hy terwyl hy kyk hoe ek uit die stort klim.

      Ek veg teen die trane, draai ’n handdoek om my en doen my bes om nie die wesentjie in my te haat wat my lyf begin oorneem nie.

      Ek probeer mooi Punjabi’s kry om aan te trek – swanger Indiese vroue lyk altyd so elegant. Asmita kom selfs saam met my, en knik oor my kleurkeuse.

      “Turkoois pas jou goed,” sê sy.

      Maar ek voel nooit ek lyk goed genoeg nie, nie eens wanneer Annie ingewip kom vir ’n haastige besoek terwyl Raj uit is nie.

      “T, jy lyk fantasties. ’n Mens kan van agter af nie eens sien jy verwag nie.”

      “Raj dink nie so nie.”

      “Raj is simpel. As ek die helfte so goed soos jy lyk wanneer ek eendag verwag, sal ek maar te bly wees.”

      Ek wil haar glo, maar my gedagtes keer aanhoudend terug na Raj en wat ek kan doen om hom tevrede te stel. Die vorige aand het ek ’n kantnommertjie bed toe aangetrek en kaalvoet in ons kamertjie geparadeer. Hy het van sy handboek af opgekyk met daardie ou glimlag uit ons uitgaandae, en ’n golf van verligting het oor my gespoel. Hy het sy boek op die bedkassie neergesit en regop gesit.

      “Dit voel seker ’n bietjie styf,” het hy gesê. “Onthou jy hoe sexy jy altyd daarin gelyk het?”

      My reaksie het seker op my gesig gewys.

      “Ag, kom gee my maar in elk geval ’n drukkie.” Raj het gewys dat ek langs hom moet kom sit. Toe soen hy my op my voorkop en streel oor my deinende maag.

      “Jy moet mooi met my werk,” het ek gesê. “Ek doen my bes.”

      Daar was ’n stilte, toe trek Raj my bo-op hom en liefkoos my nek met sy lippe. “Ek moet later uitgaan wanneer ons klaar is,” het hy gesê. “Ek het die ouens belowe ek sal kom poker speel. Jy kan vir jou nuwe nagklere koop met die geld wat ek wen. Dink net hoeveel beter dít jou sal laat voel.”

      Sanusha (6): Om ’n kans waar te neem

      My mamma het strepe op haar polse. Dit is dof en wit, soos spinnerakke. Ek het dit getel. Op haar horlosiearm het sy 7. Op die regtereen (die een waarmee sy skryf) het sy 5.

      7 + 5 = 12

      Daar is 12 maande in die jaar. 12 in ’n dosyn, dit is hoe Mamma eiers koop. Maar wil jy iets snaaks hoor? ’n “Baker’s dozen” is nie 12 nie, dis 13! Dis omdat bakkers in Engeland lank gelede, miskien toe daar nog dinosourusse was, ekstra brood weggegee het sodat hulle nie in die moeilikheid kom omdat hulle te suinig is nie. As Mamma 13 strepe op haar polse gehad het, sou sy ’n baker’s dozen gehad het. Getalle is cool.

      Toe ek vir Mamma vra waar haar strepe vandaan kom, sê sy dit is littekens van toe sy seergekry het.

      “Hoe?” vra ek.

      “Wat?”

      “Hoe’t Mamma seergekry?”

      “Dit was ’n ongeluk,” sê sy. “Soos toe jy van jou fiets af geval en jou tand gebreek het.”

      “My tand gaan teruggroei,” sê ek, en druk my vinger in die gat.

      “Jy’s gelukkig,” sê sy en glimlag.

      “Maar as ek dit weer breek, is dit finish en klaar,” sê ek.

      “Wie sê so?” vra sy.

      “Asmita Ayaa. Sy sê ek moet my soos ’n dame gedra en nie so vinnig ry nie.”

      “Gmf,” sê Mamma. “Ek en Robbie het altyd op ons fietse in ons oprit resies gejaag. Partykeer het ek gewen, maar eintlik eers nadat hy siek geword het.”

      “Miskien is dít waar Mamma die strepe gekry het,” probeer ek help.

      “Nee,” sê Mamma beslis. “Dis nie hoe dit gebeur het nie.”

      Toe begin sy my op die gras kielie en ek giggel.

      Vandag is ons by Kirstenbosch. Mamma het nie toeriste nie, daarom het sy baie tyd vir my. Ons het ’n piekniek ingepak met regte gemorskos! Weense worsies. Tjippies. Jelliewurms. En Melrose-kasies. Appels en nartjies ook, en ’n groot bottel grenadellasap. Ons gooi ’n groot kombers op die boonste grasperk oop en kyk na die mooi uitsig. Dis ’n sonskyndag en ons soek diere in die wolke. Ek kry ’n leeu en ’n akkedis, maar die akkedis het vlerke. Mamma sien ’n eenhoring. Dis ’n perd met ’n horing soos ’n renoster s’n.

      Dis lekker, net ons twee. En toe kom ’n man aangehardloop, en hy bly staan. Hy is papnat gesweet. Hy drup soos ’n kraan wanneer jy vergeet om dit heeltemal toe te draai.

      “Thea?” sê hy.

      En Mamma antwoord. “Hallo, Clay! Jy lyk dors.”

      “Ek is,” sê hy. “Ek was op die kontoerpad.”

      “Hou aan hardloop,” sê ek baie, baie sag, want ek wil hê hy moet weggaan.

      “Sanusha!” sê Mamma in haar skrikmaakstem. “Wil jy ’n bietjie sap hê, Clay?”

      “Ja, hoekom nie?” sê hy, maar ek hou nie van sy groot oë wat so na Mamma kyk nie.

      “Dis my dogter, Sanusha,” sê sy.

      “Hallo, Sanusha, jy lyk nes jou ouma.”

      Boring! Ek steek my tong by die hoek van my mond uit. Wie is hierdie ou?

      “Clay is die bestuurder van die koffiewinkel waar ek soggens koffie drink,” sê Mamma. “Hy maak prentjies in my cappuccino’s. Dit is ’n nuwe kunsvorm.”

      “Wat daarvan?” vra ek, en Mamma se gesig word hard soos ’n klip.

      “Ignoreer