Die seuns dink ernstig oor Trompie se woorde na. Dan sê Rooie: “Aha, nou verstaan ek! Jy bedoel hy kom in en sê sy sê van sy groot liefde en sy sê haar sê en dan sê hulle hulle is meisie en kêrel en alles is weer reg.”
“Net so,” sê Trompie opgewonde, “dan is alles weer reg. En hulle sal nooit uitvind die boodskappe wat hulle gekry het, was nie waar nie. En al vind hulle dit ook later uit, maak dit nie saak nie. Want dan is hulle mos smoorverlief en hulle weet hulle is smoorverlief, en hulle is bymekaar.”
Die Boksombende keur Trompie se plan goed, maar hulle is nogtans nie so ingenome daarmee soos wat hy verwag het nie. “Die spul het ook g’n verstand nie,” mompel hul leier toe hy en klein Dawie na die prokureursfirma toe stap waar Dirk de Jongh werk. Rooie en Blikkies is op pad na Trompie se huis toe om vir Anna te vertel De Jongh wil kom kuier. Vanaand sal Trompie die twee in die sitkamer afloer en môre sal hy vir sy maats vertel hoe uitstekend sy plan uitgewerk het.
Voor die prokureurskantoor begeef Trompie se moed hom byna. Hy wonder of dit regtig so ’n goeie plan is. Moet hy dit nie maar los nie? Hy loer na klein Dawie. Hy sien sy maat hou hom onderlangs dop. Rooie en Blikkies is seker nou al by Anna. Nee, hy sal maar moet deurdruk.
Sommer by die eerste kantoor waar Trompie en Dawie inloer, sien hulle vir Dirk de Jongh agter ’n groot lessenaar sit. Hy kyk op na die twee vuil gesigte in die deur.
“Wat wil julle hê?” vra hy bars.
Trompie sluk en stamel: “Ons het ’n boodskap.”
“Nou kom binne. Hoekom staan julle daar?”
Trompie en Dawie maak die deur versigtig agter hulle toe.
Trompie haal sy pet af. Die twee stap nader.
Die man kyk na die slordige seuns. Die grootste een se gesig lyk bekend.
“Wie’s jy?” vra hy.
“Ek’s Trompie, Oom, Anna se boetie.”
Nou onthou De Jongh hom. Natuurlik, dis die klein skurk wat verlede Saterdag met so ’n grynslag op sy bakkies in die Toeriens se sitkamer gesit het!
“Wat wil jy hê?”
“Anna het my gestuur.”
“Ja?”
“Ja, Oom, sy sê Oom moet asseblief vanaand by haar kom kuier. Dis glo baie dringend.”
Dirk de Jongh verstaan dit glad nie. Hy was nou die dag vir die eerste keer by haar, maar dit het nie goed gegaan met die kuiertjie nie. Hy het besluit sy ’n mooi meisie, maar nie sy soort nie. Hulle pas glad nie bymekaar nie.
“Wat wil sy hê?” vra hy.
“Nee, ek weet rêrig nie,” antwoord Trompie en skud sy kop treurig, “maar sy huil van Saterdag af baie – sommer vreeslik baie …”
Klein Dawie sug diep en mompel ook: “Baie-baie …”
“Hoekom huil sy?” wil die prokureur weet.
“Wel, dis moeilik om te sê,” sê Trompie versigtig, “maar van praatjies wat ek by die huis hoor, lyk dit my sy’s verlief. Baie verlief …”
De Jongh kyk die twee seuns verbaas aan.
“Op wie?”
“Wel, …” Trompie sluk-sluk kastig. “Sy het begin huil toe Oom Saterdag so gou daar weg is en sy huil nog een stryk deur.”
Die prokureur kan sy ore nie glo nie. Anna huil oor hom? Hy trek sy das tevrede reg en skiet ’n donsie met sy wysvinger van sy hempsmou af. Baie meisies het al op hom verlief geraak, maar só gou! Nogtans, sy het dae aaneen geoefen om “Die Blou Donou” vir hom te speel. Dan moet dit seker so wees.
Hy kyk na Trompie.
“Sê vir haar ek sal agtuur daar wees.”
“Reg, Oom.”
Die twee seuns maak vinnig spore.
De Jongh staar ingedagte voor hom uit.
Buite bokspring Trompie en Dawie ’n paar keer.
“Sien jy,” sê Trompie opgewonde, “ek het jou mos gesê my plan sal werk.”
Soos afgespreek, ontmoet hulle Rooie en Blikkies voor die Griek se kafee.
“Hoe het dit gegaan?” wil Trompie dadelik weet.
“Nie te sleg nie,” sê Blikkies. “Ek en Rooie het vir Anna gesê meneer De Jongh het ons gestuur om te vra of hy vanaand kan kom kuier, maar sjoe, Trompie …”
“Wat’s dit?”
“Ons het niks gesê van sy groot liefde vir haar nie, want sy het nogal moeilik gelyk.”
“Wat bedoel jy, moeilik?”
“Wel,” antwoord Blikkies, “toe ons sê hy vra of agtuur haar sal pas, het sy net gesê: ‘Wat wil die vent hê? Maar sê hy kan maar kom.’”
Die seuns dink hieroor na.
“Trompie,” vra Rooie skielik, “is jy seker die twee hou van mekaar? Anna lyk nie soos ’n verliefde meisie nie …”
“Man, hulle is mal oor mekaar. Ek weet dit,” sê Trompie, maar hy voel nie meer so lekker oor die affêre nie.
“Ek sal vanaand kyk hoe sake staan en môre vir julle alles vertel.”
Aan tafel die aand sê Anna vir haar ouers: “Dirk de Jongh het laat weet hy kom vanaand kuier.”
“O,” sê mevrou Toerien. “Dis nogal onverwags.”
“Ja, ek wonder wat die verwaande vent wil hê.”
Trompie luister met gespitste ore. Hy hou nie van die woorde “verwaande vent” nie. Is dit moontlik dat hy wat dinge wil regmaak nou weer opgemors het?
Meneer en mevrou Toerien gaan die aand na ’n vergadering toe. Anna sit in die sitkamer en lees. Trompie dwaal voor op die lang stoep rond. Hy het reeds gesorg dat die een sitkamervenster oop is. Hy sal daardeur kan loer en hoor hoe die twee hul liefdesverklarings doen.
Die tuinhekkie piep. Trompie sien dis Dirk de Jongh. Hy sit doodstil in die donker hoekie langs die prieel. Hy hoor hoe die prokureur sy suster groet en sy hom binnenooi. Die seun loop stilletjies met die stoep langs tot by die oop venster. So ja, nou kan hy alles hoor en sien.
De Jongh sit op ’n stoel oorkant Anna wat weer op die rusbank gaan sit het. Hy maak keel skoon en dan begin hy: “Anna, ek … ek het nie besef jy voel so oor my nie.”
Anna frons.
“Wat bedoel jy?”
Die jongman gryns verleë.
“Jy weet goed.”
Anna frons nog dieper.
“Nee, ek weet nie. Wat presies bedoel jy?”
Anna se stem is so koud soos die koudste wind van die Noordpool af. Dirk de Jongh sit ongemaklik rond. Hy voel daar is iewers ’n fout. Iets is nie pluis nie. Het sy dan nie gesê hy moet vanaand na haar toe kom nie? Huil sy dan nie al van Saterdag af oor hom nie?
“Ek bedoel – jy weet mos,” stamel hy, “ek het nie besef hoe jy oor my voel nie … Dat jy … op my verlief is nie.”
Anna is asvaal. Trompie se oë is groot waar hy deur die venster staan en loer. Sake loop lelik verkeerd.
“Verlief!” Anna se stem is skril. “Op jou? Waar op aarde kom jy daaraan?”
“Maar jou boodskap …” prewel Dirk verslae.
“Wat se boodskap?”
“Die