Toe die tee geskink word, sê meneer Toerien met ’n glimlag: “Jy kan natuurlik niks kry nie, Trompie. Jy’s mos siek.”
“Ek was, Pa – sommer ernstig siek – maar nou is ek weer beter. So ’n stuk koek sal my goed doen.” Hy draai na sy ma en vra: “Dink Mamma nie ook so nie?”
“Ek is nie so seker nie, Trompie, maar jy kan maar ’n stukkie kry.”
Trompie lê heerlik weg aan die koek. Wanneer hy klaar is, lek hy sy vingers een vir een af. Elke keer wat hy ’n vinger uit sy mond trek, maak dit so ’n klapgeluid, maar hy’s min gepla.
Meneer Toerien gesels oor die droogte, rugby en politiek, en toe dit nie vlot nie, maar weer oor die droogte. Hy besluit ook hy hou nie juis van die vent wat so aanstellerig is nie. Een of twee keer kyk hy kwaai na Trompie wat sy vingers so sit en afsuig. Die geluid irriteer meneer Toerien net soveel soos vir die snobistiese jongman, maar hy besluit om Trompie nie daaroor aan te spreek nie. Die seun kan sy vingers maar suig as hy dink daar is nog van die roomkoek aan. Hy glimlag by homself … Hy het die kind se vingers nog nooit so skoon gesien nie!
Anna is allesbehalwe op haar gemak. Sy sien die geselskap vlot nie en hou ook niks van die ondeunde manier waarop Trompie na Dirk de Jongh loer nie. Haar boetie kan soms so uit sy beurt praat. Sy hoop maar net hy onthou van die beloofde beloning.
Ná sy tweede koppie tee steek die gas vir hom ’n sigaret aan. Hy kyk na die klavier.
“Die meeste mense gebruik ’n klavier vir versiering in hulle huise. Dit gebeur selde dat ’n mens goeie klassieke musiek hoor.”
Hy draai na Anna.
“Speel jy?”
“So ’n bietjie,” stamel Anna. Sy voel effens onseker. Hy hét gesê hy hou baie van “Die Blou Donou”, maar sê nou hy beskou dit ook as popmusiek?
“Sal jy so gaaf wees om vir my iets te speel?”
Anna knik en gaan sit voor die klavier. Sy sou liewer alleen vir hom wou speel, nie met die hele gesin wat haar so geamuseerd aankyk nie. Maar nou kan dit nie anders nie. Asof dit bloot per toeval is, maak sy die musiekboek by “Die Blou Donou” oop.
Sy val weg. Foutloos speel sy die hele stuk deur. Die laaste note van heimwee sterf weg. Meneer Toerien wou net sê: “Oefening doen darem wondere” toe hy hom bedink. Sy dogter sal hom dit nooit vergewe nie. “Jy het pragtig gespeel, Anna,” is al wat hy sê.
“Bravo, ” sê Dirk de Jongh. “Jy het die stuk skitterend en op meesterlike wyse vertolk. Julle is seker bewus van die feit dat my suster gereeld voor groot gehore oral in die land optree. Wel, jou vertolking van hierdie gewilde wals was amper so geslaag as wat haar uitvoering daarvan altyd is.”
Daar heers doodse stilte in die vertrek. Anna voel nie juis gevlei nie. Hoekom moet hy haar met sy kamtige talentvolle suster vergelyk? Sy besluit sy hou nie meer van Dirk nie. Hy was so anders by die partytjie!
Skielik verbreek Trompie se skril stemmetjie die stilte: “Ek is bly jy dink Anna speel daai deuntjie amper net so goed soos jou suster, meneer De Jongh. Want sy oefen dit nou al dae lank om jou te beïndruk. Ons is almal al siek daarvoor.”
Trompie trek skewebek om sy woorde te onderstreep.
Anna is bloedrooi. Sy wens die berge wil op haar val. Mevrou Toerien gryp Trompie aan die hand en boender hom by die deur uit: “Kamer toe met jou!”
Anna kyk na haar hande op haar skoot. Sy is te skaam om op te kyk. Meneer Toerien besef hy kan Trompie nie hiervoor straf nie. Dit sal onregverdig wees, want hy het amper self ook so ’n taktlose flater gemaak.
Dirk de Jongh hoes droog in sy hand. Hy staan op en mompel: “Dit word laat. Ek moet gaan.”
Meneer Toerien stap saam met die jongman tot by die hekkie. Anna hardloop na haar kamer toe. Die middag was ’n mislukking.
In Trompie se kamer praat sy ma ernstig met hom. Op sy manier voel Trompie ook nogal sleg oor die hele affêre, maar hoe moes hy geweet het sy onskuldige woorde sal almal so omkrap? Sy ma dring daarop aan dat hy sy suster om verskoning moet gaan vra. Hy sal dit seker maar moet doen. En wie weet, miskien gee sy nog steeds vir hom so ’n ietsie, al is dit nie al die geld nie. Hy het mos mooi stil gesit en niks gedoen nie – tot hy die woorde gesê het wat kastig so verkeerd was. Ja-nee, hy sal maar om verskoning gaan vra. Hy weet nie eintlik hoekom nie, maar anders sal hy mos nooit rus vir sy siel hê nie.
Anna sit op haar bed voor haar en uitstaar. Sy kyk net een keer op toe Trompie en haar ma binnekom. Meneer Toerien staan agter hulle. Hy stamp Trompie vorentoe.
Trompie maak ongemaklik keel skoon. “Kan jy my hoor, Ousus?”
“Ja. Wat is dit?”
“Ek wil net sê ek’s jammer ek het die verkeerde ding gesê …” en dan voeg hy mompelend by, “maar hy’s darem ’n ou suurknol.” Trompie het sy sê gesê en gee haastig pad uit die kamer. Hy hoop almal is nou tevrede.
Toe hy uit is, sê Anna sag vir haar ouers: “Trompie is reg. Daai Dirk is ’n verwaande vent. Hy’s gans te hoogdrawend en hy’t g’n sin vir humor nie.”
“Ek is bly jy dink so, want dis presies hoe ek ook voel,” sê meneer Toerien laggend. Anna lag saam. Maar nie mevrou Toerien nie. Sy sien die trane in haar dogter se oë. Sy besef Anna is nie verlief op die kêrel nie, maar sy weet ook hoe diep gekrenk haar kind is omdat Trompie haar so voor die jongman verneder het. Wat ’n ongelukkige affêre.
In sy kamer sit Trompie diep en nadink. Hy het al weer opgemors en hy voel sleg oor die hele besigheid. “Sommer baie sleg,” mompel hy by homself. En dis nie oor die geld nie – dis oor Anna. Sy is verlief op die vent en hy wat Trompie is, het hom hier weggejaag.
Hy skud sy kop radeloos. Wat sien Anna in ’n man wat nie eens Afrikaans praat wat ’n mens kan verstaan nie?
“Ongemaklik. Dis die woord,” brom Trompie. Ja, hy voel baie ongemaklik. Soos die keer toe hy Dawie se appel uit meneer Stavrinos se appelboom gedeps het voor sy maat dit kon bykom. Weke voor hul strooptog het Dawie die appel al deur die heining dopgehou en die ding so te sê bespreek. Toe die goed uiteindelik ryp is en hulle die boom bekruip, was Trompie eerste daar en het hy die groot rooi appel gegryp. Dawie was woedend, maar Trompie het vir hom ’n hap daarvan gegee om sy gewete te sus, en sommer nog twee ander kleintjies ook. Sy hemp het in elk geval soos ’n vaatjie om hom gestaan van al die appels wat hy daarin gegooi het.
Trompie ervaar nou weer daardie selfde gevoel. Dis glad nie lekker nie. Hy sal iets moet doen om Anna te help. Hy besluit om eers in die spieël te kyk hoe ’n mens lyk wat nie lekker voel nie. Dan sal hy dink hoe hy Anna kan help.
Die Boksombende se leier sit op ’n stoel voor die spieël. Hy trek sy voorkop op ’n plooi en sê met ’n growwe stem: “Ek voel niks lekker nie.” Hy glimlag. Darem ’n beeld van ’n man. Hy draai sy kop skuins en rek sy oë sodat hy nog kan sien hoe hy lyk. Dan sê hy met ’n piepstemmetjie: “Ek voel niks lekker nie.” Hierdie posisie werk nie so goed nie. Hy kan homself nie behoorlik sien nie.
Hy staan op sy tone, steek sy een hand by sy hemp in en hou sy ander hand oor sy bors wat hy so ver moontlik uitstoot. Soos ’n wafferse Napoleon sê hy dan: “Manne van die Boksombende, julle dapper bevelvoerder is die beste leier wat julle nog ooit gehad het. Enigeen wat nie saamstem nie – staan eenkant!” Trompie, wat intussen vorentoe geleun en sy vuiste gebal het, kom weer regop en praat verder. “Julle groot leier het ’n probleem. Sy suster is verlief en het ons hulp nodig. Daar lê baie gevare voor, maar ons sal oorwin. Sy’s agter meneer Dirk de Jongh aan en ons sal hom vir haar kry. Dis ons taak. Enigeen wat