Hy moet die kryt nou onder sy tong sit. Dan sal sy ma hom kamer toe stuur om te gaan rus. Hy sal vir so ’n uur daar lê en kreun. Ja-nee, hy moet kreun. Hy oefen solank en gee ’n lang, uitgerekte kreun. Dit klink soos ’n varkie wat geweldig seer het. Trompie skrik self vir hoe erg dit is. Hy glimlag. Hy hou van die geluid. Hy probeer weer. Ja-nee, sy ma gaan haar boeglam skrik as hy gebukkend loop en só kreun wanneer hy die kombuis inkom. En dan gaan sy boonop ook sien hoe asvaal hy is. Trompie lag lekker. Sy sal nooit van die kryt weet nie. Hom net dadelik kamer toe stuur. Later sal sy pa by die kamer inloer en ook bitter jammer voel vir sy arme seun wat so siek is. Hy sal nie ’n woord rep oor die onkruid in die tuin nie.
Trompie sit alles mooi en uitwerk. Ja-nee, hy gaan vir ’n uur so in sy kamer lê. Sy ma sal vir hom kos bring. Hy sal eet en dan sal hy beter word. Ná die uur om is, sal hy sê hy voel nou sommer weer stukke beter. “Dit was maar net ’n lelike maagpyn,” sal hy mompel asof dit niks ernstigs is nie.
Sy ouers gaan so bly wees hul seun voel beter dat hulle nie daarop sal aandring dat hy nog langer in die bed bly nie. En dan – Trompie lag hard – en dan … weg is hy kloof toe om in die dam te gaan baljaar. En wat meer is, vanaand kry hy boonop dubbeld Anna se gewone omkoopgeld! Ja-nee, alles is reg en sy planne is netjies agtermekaar.
Trompie loer rond. Daar is niemand wat hom dophou nie. Hy vat die stukkie kryt en sit dit onder sy tong. Ugh! maar die ding proe sleg in sy mond. Hy lê met sy kop teen die tuinbank se leuning. Hy hoor hoe Anna in die huis klavier speel – dis al weer “Die Blou Donou”. Hy wonder wat haar makeer. Sy speel hierdie deuntjie al van vroeg vanoggend af oor en oor. Hy sit sy hande op sy wange. Hy kan voel hy word bleek. Dan gryns hy half verleë. ’n Mens kan mos nie voel hoe jy bleek raak nie. Hy wens hy het ’n spieël, maar hy kan nie eers na sy kamer toe gaan nie. Nee, hy moet al kreunende by die huis instrompel.
Trompie staan op. Hy reken hy is nou seker bleek genoeg. Hy spoeg die stukkie kryt uit. “Hug! Hug!” begin hy ’n roggelgeluid maak en strompel na die kombuisdeur toe. Hoe nader hy aan die huis kom, hoe harder word die kreune.
“Wat makeer, Trompie?” vra sy ma bekommerd toe sy hom by die deur inhelp. Anna is ook by.
“Ek gaan dood, Ma. Dit lyk my … ek gaan … dood,” stamel hy. Hy sak kreunend op ’n stoel neer en mompel: “Dis … dis … seker alles verby met my.”
“Waar het jy pyn?” vra sy ma besorg en voel aan sy voorkop. Trompie lyk vir haar baie bleek. Hy gee ’n harde kreun wat amper soos ’n triomfkreet klink.
“My maag, Ma! O, my maag! Die pyn! Die pyn!” Trompie wieg heen en weer op die stoel. Hy loer vlugtig om te sien watter uitwerking die kreunery op Anna het. Sy staan hom doodstil en aankyk. Sy lyk agterdogtig. Trompie kreun harder. Wat makeer die meisiekind? Kan sy dan nie sien hoe hy ly nie, dat dit omtrent die einde is nie? Maar sy ma glo hom, dis seker! Anna kan gaan bars as sy nie wil glo hy is siek nie. Hy is baie siek. Trompie kreun nog harder.
Mevrou Toerien sê vir Anna: “Help my dat ons hom in die bed kry.”
Anna pluk hom rof op sy voete. Sy wonder watse ding Trompie nou beplan. As hy vanmiddag moeilikheid maak wanneer daai ou hier is! Sy weet nie so mooi nie … Sy slag hom lewendig af! Anna glo niks van hierdie kamtige maagpyn nie. Hy is net so min siek as wat sy is.
Trompie het sy skoene en kouse uitgetrek en lê in sy hemp en broek op die bed onder ’n laken. Sy ma sit langs hom en hou sy hand vas.
“Moet ek die dokter kry?” vra sy sag.
“Nee wat, Ma.” Trompie probeer lyk soos iemand wat sy lyding heldhaftig verdra. “Die pyn sal darem seker beter word.”
“Het jy iets snaaks geëet, Trompie?”
“Nee, Ma. Net die roomkoek. Dit was seker maar dit.”
“Maak jou oë toe en rus. Ek gaan medisyne haal.”
Terwyl sy ma in die hoofslaapkamer se medisynekas rondsoek, haal Trompie ’n kettie onder sy kopkussing uit. Hy kry ’n sigaretboksie vol klippies uit sy bedkassie en begin skiet na die wit asters wat voor sy venster groei. Dis vir hom tog te lekker as hy een raak klits en die blomblare trek so deur die lug.
Hy hoor sy ma se voetstappe en die kettie en die dosie klippies verdwyn vinnig onder die kopkussing in. Die kreungeluide begin weer.
Sy ma kom binne en Trompie se pa is ook by. Maar watse bottel het hy in sy hand? Dis kasterolie! Trompie se oë word groot en hy raak nou éérs bleek.
“Wat’s dit, Ma?”
“Kasterolie, my seun,” sê sy en gooi daarvan in ’n glas.
“Nee wat, Ma, dis onnodig. Ek voel baie beter.”
“Het jy in die tuin gewerk, Trompie?” vra sy pa.
Trompie het al skoon vergeet hoekom hy maak of hy siek is. Sy pa se woorde bring hom terug na die werklikheid. Hy kreun weer. “Ja, Pa, ek het gewerk tot die pyn só erg was dat ek nie meer kon nie.” Meneer Toerien glimlag en kyk na sy vrou.
“Gee hom ’n stywe dop, vroutjie. Dit sal hom regruk.”
Trompie trek ’n vies gesig. Sy pa wys vir hom vinger en sê: “Vanmiddag bly jy in die bed. Jy sit nie jou voet uit die huis nie!”
Ná groot moeite en baie snorke van ontevredenheid het Trompie die kasterolie uiteindelik in. Hy lê op sy bed en dink bitter gedagtes. Sy pa en ma is in die kombuis besig en Anna speel nog steeds klavier – nog steeds “Die Blou Donou”.
Trompie het nooit gedink dinge sou só ’n wending neem nie. Hy makeer niks, absoluut niks nie, maar hy moes kasterolie drink en boonop moet hy nou heeldag in sy kamer bly. Nee, wat te erg is, is darem te erg. Kasterolie! Jig! Hy trek ’n lelike gesig.
As hy aan die kasterolie dink, voel hy sommer siek. Ja-nee, hy is siek, regtig siek – en kyk hoe verwaarloos sy familie hom. Anna sit voor die klavier en speel dieselfde deuntjie oor en oor en sy ma en pa is in die kombuis. Hulle kom kyk nie eens of hy nog lewe nie. Hulle verwaarloos hom verskriklik. As hy nou sag moet heengaan en hulle kom in en daar lê arme ou Trompie morsdood, dan sal hulle jammer wees. Dan sal hulle lang trane huil, maar dan sal dit te laat wees. Trompie wens hy kan doodgaan, maar nog steeds sien hoe grens hulle oor hom. Dit sal ’n goeie straf vir hulle wees en hy sal eers weer lewendig word wanneer hy dink hulle het genoeg gely.
Trompie lê nog so en dink hoe hy hulle gaan laat boet wanneer sy ma met ’n bord sop inkom.
“Eet dit alles op,” sê sy. “Dit sal jou goed doen.”
“Is dit al wat ek kry om te eet?” kla Trompie. “Ek is honger!”
“Jy kan vanaand meer eet, Trompie, maar nie nou nie. Jy het dan kasterolie gedrink!”
Sy ma sit die bord sop langs hom neer. Hy kyk met minagting daarna. Toe sy ma weer by die deur is, sê hy: “Ma?”
“Ja, Trompie?”
“Kan ek nie maar vanmiddag uitgaan nie? Ek voel regtig baie beter, Ma.”
“Nee, Trompie, jou pa het mos gesê jy bly in die bed.”
Trompie sug, maar voor sy ma die deur kan toemaak, vra hy vinnig: “Hoekom speel Anna daai wysie so aanhoudend? Is sy mal?”
“Sy kry vanmiddag ’n gas. Sy oefen om dit vir hom te speel.”
“Sê asseblief vir haar ek wil met haar praat, Ma. Dis ernstige sake. Sy sal verstaan.”
Trompie hoor hoe Anna ophou speel en vinnig na sy kamer toe aangeloop kom. Sy maak die deur oop.
“Ja, Trompie?”
Sy twee ogies loer oor die lakens na haar.
“Wat van die geld?”
“Wat daarvan?”