“Jissie, kan mens dan nie eens loer hoe jou nuwe kêrel lyk nie?”
Anna word rooi en sê hard: “Hy’s nie my kêrel nie! En laat ek jou net naby die sitkamer vang, dan kry jy nie ’n sent nie.”
“Orraait dan,” sê Trompie, “as jy dink die ou is van glas gemaak en hy gaan breek as mens net na hom kyk, dan sal ek in my kamer bly. Maar vanaand kry ek my geld, anders is daar moeilikheid – groot moeilikheid!” Hy probeer om die woorde “groot moeilikheid” te sê soos daardie bendeleier wat hy in die fliek gesien het. Hy maak ook asof hy met ’n denkbeeldige snor speel.
Toe Anna by die kamer uit is, lê Trompie en dink aan hoe onregverdig die lewe is. Grootmense verstaan hom glad nie. Hier moet hy in die bed lê, al voel hy perdfris. Hy het skoon vergeet dis deur sy eie toedoen dat hy die middag in sy kamer moet bly. Hoe gaan hy so ’n lang middag omkry? Hy oorweeg dit om deur die venster te spring en weg te loop, maar dis dalk te gevaarlik. Sy ma sal seker later vir hom tee bring en dan sal daar moeilikheid wees as hy nie hier is nie.
Trompie haal sy kettie en die boksie klippies onder die kussing uit. Lusteloos sit hy ’n klippie in die velletjie. Die venster is oop. Hy korrel en trek los. Dis raak! ’n Aster se wit blomblare fladder grond toe. Trompie voel sommer dadelik beter. Daar is niemand in die dorp, in die land, in die hele wêreld wat soos hy met ’n kettie kan skiet nie!
En miskien kan hy darem vanmiddag net so ’n klein bietjie loer wanneer Anna se nuwe kêrel kom kuier. Sy sal mos nie weet nie. Ja-nee, dis wat hy gaan doen – maar niks meer as net loer nie, want hy wil vanaand sy geld kry.
Trompie voel nou sommer baie beter. Hy spring uit die bed, neem die lepel uit die sopbord en sit dit bo-op sy kas. Hy gaan probeer om die ding met sy kettie daar af te klits.
5
Trompie maak weer droog
Terwyl Trompie in die kamer besig is om met sy kettie na die lepel op die kas teiken te skiet, stryk Anna ’n rok in die kombuis. Haar ma is ook daar. Mevrou Toerien sien dit is Anna se mooiste rok. Sy begin dink haar dogter is nogal ernstig oor die middag se besoeker.
“Wie is die kêrel?” vra sy.
“Sommer ’n nuwe prokureur op die dorp, Ma. Ek het hom nou die aand by ’n partytjie ontmoet.”
Anna neurie “Die Blou Donou” terwyl sy haar somerrok stryk.
“Hoekom so aanhoudend ‘Die Blou Donou’?” vra mevrou Toerien.
Anna bloos.
“Hy hou baie daarvan, Ma. Die orkes het dit nou die aand gespeel en toe’t hy vir my gesê dis sy gunstelingstuk. Ek wil hom vanmiddag verras.”
Mevrou Toerien wil nog iets sê, maar dan bly sy stil. Die ma en dogter draai hul koppe skuins en luister aandagtig. Trompie is in sy kamer besig om “Die Blou Donou” te fluit, maar só vals!
“Ma weet,” sê Anna, “ek gaan sy nek nog eendag omdraai!”
“Ag nee wat,” lag haar ma, “Trompie bedoel niks slegs nie. Het het maar net so ’n onnutsige geaardheid.”
“As hy hom vanmiddag in die sitkamer kom neerplak met daai onnosele grynslag op sy sproetgesig, dan weet ek sowaar nie …”
Mevrou Toerien maak klikgeluidjies en sê sag: “Moet jou nie so oor niks onstel nie, kind. Trompie is siek. Hy sal in sy kamer bly.”
“Siek se voet!” sê Anna en ruk die strykyster net betyds op. Sy het amper haar rok verbrand.
Toe Anna later na haar kamer toe stap, gaan staan sy eers by die klavier in die sitkamer en streel saggies daaroor. Vanmiddag wil sy “Die Blou Donou” perfek speel. Anna het op skool klavierlesse geneem, maar nie baie aandag daaraan gegee nie. Sy speel sukkel-sukkel, maar sy het die afgelope paar dae hard aan “Die Blou Donou” geoefen. Sy weet haar familie is al moeg vir die wysie, maar sy gee nie om nie.
Dirk het by die partytjie vreeslik uit die hoogte oor kuns en musiek gesels en Anna het saamgepraat asof sy alles daarvan weet. As hy vanmiddag die klavier sien, sal hy haar seker vra om te speel en dan wil sy sy geliefde wals speel soos hy dit nog nooit voorheen gehoor het nie!
Sy gaan sit op die klavierstoeltjie om die stuk net nog een keer deur te speel voor sy in haar kamer gaan aantrek. Die soet, strelende musiek vul die huis.
In die tuin staan meneer Toerien en sy vrou en luister.
“Hoekom speel sy die ding so baie?” vra hy nors.
“Sy wil die nuwe prokureur vanmiddag verras. Lyk my ons dogter is nogal ernstig oor hom. Ek dink jy moet vir jou ’n skoon hemp gaan aantrek.”
Meneer Toerien loop brom-brom kamer toe om aan sy vrou se versoek te voldoen. Hy sal seker maar vanmiddag saam met Anna en haar kêrel moet tee drink. Hy wil die vent vir wie sy so baie moeite doen deeglik deurkyk.
In sy kamer lê Trompie en luister na Anna se spelery. Is die meisiemens dan stapelgek? Tring! klink dit soos hy die lepel op die kas raakskiet. Dit val op die vloer. Trompie kyk mismoedig na die lepel. Hy skiet heeltemal te goed. Hy moet elke slag weer opstaan en die ding optel. Hy word nou moeg vir die spulletjie. Dit begin hom verveel. Hy wens Anna se kêrel wil kom sodat hy kan sien hoe die kamtige wonderlike ou lyk. Ja-nee, loer gaan hy loer.
Trompie hoor die tuinhekkie piep. Hy spring uit sy bed en kyk by die venster uit. Dit is seker Anna se kêrel: ’n lang, donkerkop man, netjies uitgevat. Hy hoor hoe Anna, sy pa en ma die ou op die stoep groet en binnenooi. Trompie gaan sit op sy bed. Hoor hoe vriendelik is hulle, en dit nogal met ’n vreemdeling. En hier sit hy! Niemand kom eens kyk hoe dit met hom gaan nie. Hy kon al halfdood gewees het en hulle sou dit nie eens geweet het nie.
Trompie spring van sy bed af op en gaan luister met sy oor teen die sleutelgat. Hy hoor die stemme in die sitkamer net dofweg. Hy wonder of hulle van hom praat. Moet wees. Dis mos al waaroor hulle in hierdie huis aangaan. Sy suster vertel seker hoe sleg hy is. Sy pa beaam natuurlik alles, maar sy ma skud haar kop en sê: “Die kind is nie regtig so sleg nie. Ons hoop maar vir die beste.” Trompie snork vies. Almal pik op hom. Dit maak ’n mens sommer siek. Maar hy gaan uitvind wat hulle van hom sê. Hy gaan stilletjies in die gang afsluip en dan by die sitkamerdeur se sleutelgat afluister en net so ’n bietjie inloer ook.
Op sy tone beweeg Trompie in die lang gang af. Sy skouer stamp per ongeluk aan ’n skildery teen die muur. Die ding val af en Trompie vang dit net betyds voor dit die vloer tref.
“Oeps,” sê hy en hang die skildery weer op sy plek. Hy staan doodstil en luister. Dan beweeg hy weer voetjie vir voetjie verder.
By die sleutelgat luister hy. Hulle praat nie oor hom nie. Die geselskap is vervelig en dit is boonop ongemaklik om so gebukkend te staan. Hy kom eers ’n bietjie regop, rek hom uit en buk dan weer, hierdie keer om te loer. Hy druk sy een oog teen die sleutelgat. Die eerste ding wat hy sien, is ’n stuk roomkoek op die tafel. Nou is Trompie omgekrap. O so, hulle sit en roomkoek eet terwyl hy in sy kamer op sterwe lê! Hulle bring vir hom niks nie!
Trompie aarsel vir ’n oomblik. Hy dink aan Anna se beloning, maar dan besluit hy om in te gaan. Hy sal doodstil sit en net na die koek staar. Dan sal sy ma vir hom ’n stukkie gee. Dit weet hy. Hy sal niks sê en g’n moleste maak nie, dan sal Anna nog steeds vir hom sy geld moet gee. Trompie maak die deur oop en loop in. Sy pa kyk na hom en sluk hard. Anna word bloedrooi. Dirk de Jongh wonder wie die sproetgesig skepsel met die ongekamde bos hare, uithanghemp en skurwe kaalvoete is. Sy ma sê sag: “Hoekom het jy opgestaan, seun? Voel jy beter?”
“Baie beter, Ma.” Trompie se oë rus strak op die koek.
“Dis… my boetie,” stamel Anna.
Trompie kyk