Bloedwater. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798155588
Скачать книгу
kerke in die nabye omtrek daarvoor verantwoordelik is nie. Tot en met twaalfuur snags word elke nuwe uur met kerkklokmusiek uitgebasuin. Ná middernag verander dit na stigtelike tydslae wat so min inbreuk moontlik wil maak op die slaaptyd van permanente inwoners en besoekers aan die “binnenstad” van Delft.

      Die genade van slaap kom eers ná 04:00 vir haar. Haar brein gee voor om te rus, maar keer nie haar ledemate om onwillekeurig te reageer op die deurmekaar beelde wat in die slaapnewels opdoem nie. Gesiglose fetusse wat die ingange na kerkdienste bewaak terwyl hulle tandeloos grynslag en enigiemand wat wil binnegaan, met septers daar verwilder.

      Meer as dertien reisuur daarvandaan in Somerset-Wes, Suid-Afrika, sit Woudstra Bosman koponderstebo by die kombuistafel. Sy vingers strengel klossies hare orent. Wat het hy aangevang? As narkotiseur is hy gewoond aan druk, om te help heelmaak aan mense wat operasies moet ondergaan. Soms loop dinge verkeerd en word radikale besluite geneem om iemand se lewe te red. Dan moet mens die situasie aangryp en die een geleentheid wat jy daarvoor kry, ten beste benut.

      Al wat hy met sy telefoonoproep uitgerig het, was om afgeskud te word soos ’n lastige vlieg. Die stilte in sy oor het hom laag getref.

      Waarom het hy so oorhaastig geraak? Hy wou oorspronklik eers môreoggend bel, maar toe kry hy ’n bevlieging en besluit: Nou. Dit moet nou gebeur voordat sy moed hom in die steek laat. Want los kan hy dit nie. Daar is nie meer ander mense oor om by te gaan smeek nie. Adriana was sy laaste uitweg. As hy sy skoonma as voorwendsel moes gebruik, dan moes dit maar. Dit was nodig.

      Hoe het hy dit reggekry om die snippermandjie papier te laat vreet nog voor hy behoorlik begin praat het? Nadat hy hom meer as ’n uur lank voorberei het op wat om te sê – die invalshoek – om haar tog net op die lyn te hou. Want hy het geweet dit gaan nie maklik wees nie. Adriana was siedend vir hom en Marlinda, en met goeie rede. Dit klink nie of die verloop van tyd dit enigsins vir haar versag het nie. Sy gaan moontlik nooit daaroor kom nie.

      Sal daar ooit ’n einde kom aan hierdie gemors?

      2

      Ná die ongewone nag het die outydse geskril van die wekker Adriana vir ’n oomblik so deurmekaar dat sy wonder wat aan die gang is. Hoekom dit by haar kant van die bed afgaan terwyl Stijn die een is wat ’n luitoon uit sy kinderjare verkies. Eers toe sy die leë plek langs haar voel, onthou sy weer waarom hy nie daar is nie en sy die wekker gestel het. Sy vervies haar weer van voor af vir Woudstra se onbedagsaamheid en probeer dit demp deur te dink aan die skuimerige “koffie verkeerd” wat Stijn soggens vir haar in die bed gebring het. Vir die eerste keer in ’n lang tyd wonder sy of sy ’n fout gemaak het toe sy haar geborge bestaan saam met hom opgesê het.

      Stijn Verhoeven het ses maande ná Woud en Marlinda se troue in haar lewe verskyn. Nou nie so letterlik en dramaties die golwe in en uit soos ’n Wolraad Woltemade nie, maar hy het haar ook uit die diep waters gesleep waar sy beswaarlik kon water trap.

      Hy was een aand in die restaurant van die hotel in Kaapstad waar sy die hoofsjef se regterhand was. Ná ete het hy gevra om persoonlik dankie te sê aan die persoon wat sy gereg voorberei het. Dit was vir haar ’n aangename verrassing. Sy was nog net ’n paar maande daar in diens en dit was goed om te weet iemand het ’n gereg wat sy gemaak het so geniet en waardeer.

      Onseker oor presies wat om te verwag, het sy na die tafel gestap. Die man het halfpad tussen dertig en veertig gelyk, seker ’n goeie twaalf jaar ouer as sy. Hy het hoflik opgestaan en haar oë laat rek omdat hy so lank is – maklik die langste mens wat sy al ontmoet het. Met sy hand na haar toe uitgesteek, het hy hom voorgestel: Stijn Verhoeven van Delft, Nederland. In Suid-Afrika vir besigheid. Lank laas het hy so ’n keurig voorbereide maaltyd geniet. Hy was daar vir ’n paar dae en het uitgesien na nog van dié sjef se heerlike kos.

      Sy blou oë het sonder ’n sweem van familiariteit of bedreiging na haar gekyk. Hy was net ’n kliënt wat sy tevredenheid aan haar wou oordra.

      Die ingenome kliënt het ’n paar aande later weer na die “young chef” gevra. Hierdie keer om te hoor wanneer sy ’n aand van diens af sou wees want hy wou haar uitneem vir ete.

      Daar was nie ’n vry aand in sig nie, altans nie voordat hy sou terugkeer Nederland toe nie. Adriana was dankbaar sy poging tot ’n afspraak was nie suksesvol nie. Sy het gevlei gevoel deur die man se waardering vir haar werk, maar nie lus gehad vir niksseggende ek-vertel-jou-en-jy-vertel-my-praatjies met ’n ooglopend ouer man wat op pad terug na sy land is nie. In Nederland het daar tien teen een ’n mooi blonde vrou en oulike kindertjies met klompe aan gewag dat hy met geskenksakke vol kralepoppies en houtrenosters huis toe kom. Buitendien, sy sou nooit weer in haar lewe ’n man kon vertrou nie. Nie eens een met sulke goeie maniere nie. Sy het vir die man geglimlag en sonder skroom gelieg. Gesê dit spyt haar werklik, maar dit sal nie moontlik wees nie. Die diensrooster kon nie verander word net om haar onthalwe nie. Hy het hom nie so maklik laat afskrik nie. Dan sou hy eenvoudig sy reisplanne verander en aanpas. Wanneer is haar eerste vry aand dan?

      By die deftige restaurant waarheen hy haar geneem het, was dit duidelik dat die personeel hom redelik goed ken. Die hoofsjef het hom by die tafel kom groet en uitgevra na sy ouers. Daarna is die young chef en haar talente deur die hoogs tevrede kliënt aangeprys by haar ouer en meer ervare eweknie.

      Teen haar verwagting in het die aand aangenaam verloop. Stijn was toe sewe en dertig en, as die buitelandse verteenwoordiger van sy ouers se familieondernemings, gedurig op reis. Hy was ’n perfekte gasheer en het onderhoudend gesels. ’n Wewenaar, het hy vertel, nadat sy vrou twee jaar tevore oorlede is aan servikskanker. Hulle het nie kinders gehad nie omdat sy eers haar loopbaan as ’n modeontwerper behoorlik wou vestig.

      Twee maande later was hy weer vir besigheid in Kaapstad. Hy het haar gekontak vir ’n afspraak en geen geheim gemaak daarvan dat hy in haar geïnteresseerd is nie. Sy was nie gereed vir ’n verhouding van enige aard nie en in ’n poging om wal te gooi, het sy hom vertel hoe haar verlowing met Woud geëindig het. Van die detail moes sy verswyg omdat sy self nie geweet het wat dit behels nie. Want toe Woud met haar daaroor wou praat, het sy geweier om te luister. Al wat saak gemaak het, was dat hy die verlowing kort voor hul troue verbreek het om met Marlinda te trou. Omdat sy ’n kind van hom verwag het. Marlinda, wat skaars agttien en pas klaar met matriek was.

      Adriana het dit aan Stijn duidelik gemaak dat sy oor niemand weer sou kon voel soos oor Woudstra Bosman nie. Sy het geen hoop gesien vir ’n normale verhouding tussen haar en Stijn nie. Hy sou net seerkry en besoedel raak met haar bitterheid oor ’n ander man. Nee, dit sou nie werk nie.

      Tot haar verbasing was Stijn rustig daaroor en het hy haar besliste nee vertolk as ’n uitgestelde ja. Hy het aanvaar dat hy nie die ware liefde van haar lewe sou kon word nie, maar nou ja, sy was ook nie syne nie. Hulle het mekaar agt maande geken toe hy onverwags ’n verloofring te voorskyn bring en ’n huweliksaansoek gerig het: “Alsjeblieft Adriana, trouw met me? Beide van ons zijn onvolledig met veel tekortkomingen. Mogelijk zullen we nooit genezen maar we kunnen het toch wel proberen? In Delft wacht een goed leven op je, dat kan ik je beloven. Ik wil je wegnemen van deze plaats van beproevingen, anders blijft het altijd bij je.”

      Sy het daaroor gaan nadink en besluit om Stijn se aanvoeling te vertrou. Op haar eie oordeel kon sy nie toe staatmaak nie. Sou sy ooit weer weet hoe liefde voel, dit herken as dit by haar wou aandoen? As hy dan nie die beste keuse was vir haar nie, was hy darem seker ook nie ’n heeltemal ongeskikte een nie. En as dinge tussen hulle later nie uitwerk nie, sou hy dit net moes verstaan. Sy was nie verlief of gelukkig nie. Maar sy het ’n gerusstellende gevoel van veiligheid ervaar en daar was weer ’n beduidenis van ’n platform onder haar voete – hoop dat sy kon begin bou aan ’n redelik vervullende lewe.

      Vier dae later is hulle voor die landdros getroud. Stijn fors in sy donker pak, en sy in ’n knielengte blou rok met ’n ruikertjie geel rose in die hand. Dwarsdeur die kort seremonie het hy plegtig afgekyk na haar. Sy oë het haar geannekseer en op die plek vasgepen, asof hy bang was dat sy dit dalk net in haar kop kry om kort om te spring en te laat spaander.

      Die versoeking om dit te doen, het nie by haar opgekom nie, maar sy het gestoei met die gedagte dat hierdie realiteit glad nie by haar jongmeisiedrome oor trou inpas nie.