Wat beskou hy as veilig? wou sy giggelend weet. Hy gee nie om as sy pa vir hom preek nie, het hy haar verseker, hy wil net nie hê sy broer moet heeltyd aangaan oor watter wonderlike toekoms nou op die Afrikaner wag nie. Want dit gaan nie so wonderlik wees nie, het hy voorspel. Daar is iets kleinliks in die siel van die Afrikaner wat besig is om kop uit te steek, het hy gesê, skielik ernstig.
“Is jy dan nie ’n Afrikaner nie?” het Colette gevra.
“Natuurlik. Dis hoekom hierdie kleinlikheid my so bang maak.”
Dis toe die beeld van ’n splinter die eerste keer by Colette opgekom het, ’n splinter wat ’n sweer kan veroorsaak as mens nie betyds daarvan ontslae raak nie.
Sy kyk na Ouboet wat steeds uitgestrek op die bed lê – met sy voete darem nou op die vloer – en kou aan ’n appel wat hy uit sy maroen streepbaadjie se sak gehaal het. Omdat sy ses jaar jonger as hy is, kon hulle nooit werklik maats word nie, maar kleintyd het sy hom soos ’n onbereikbare storieboekheld bewonder. Sy blou oë, dieselfde kleur as haar en Mammie s’n, was vir haar soveel mooier as haar en Mammie s’n, soveel treffender saam met sy swart hare en sy swart wenkbroue. Maar dit was voordat daardie koue lig in sy oë begin skyn het. Wanneer het dit gebeur? wonder sy nou. Wat het daardie lig aangeskakel?
“Het jou ma jou nooit geleer dat jy horings gaan kry as jy lê en eet nie?” vra sy voordat sy terugdraai na die spieël.
Hy kom oordrewe verbaas regop. “En wie is hierdie beeldskone jong dame wat my so vrypostig aanspreek?”
Nou ja, as doktor Malan se oorwinning haar ouboet in ’n grapjas gaan verander, sal dit miskien tog iets wonderliks wees. Elke gesin het ’n nar nodig. En dit klink hoeka of haar jonger broer moeg geword het van hierdie rol.
“Ons Afrikaners was edel toe ons die Boereoorlog verloor het,” het Kleinboet gister oor die foon gesê. “Maar nou het ons gewen. En dis baie makliker om ’n edel verloorder te wees as ’n edel oorwinnaar. Jy sal sien, sussie, jy sal sien.”
Sy het gewag vir die onvermydelike grappie, die punch line wat haar moes laat lag, maar al wat sy kon hoor, was iets tussen ’n steun en ’n sug. Amper ’n dierlike geluid, anderkant woorde, soos ’n soldaat op ’n slagveld as hy besef hy is gewond. Sy het gewonder of sý nou veronderstel was om iets snaaks te sê, maar toe vra hy haar om vir Mammie te roep. En toe jaag Mammie haar kombuis toe, om vir Sina te help groente skil, voordat sy met hom begin praat. “Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg, Colette.” En Mammie het dit nie as ’n grappie bedoel nie.
En nog stilte
• Colette Niemand 15/8/2007
To ?
Speak now or forever hold your peace. Waarsku jy my? Wel, ek vind dit interessant dat jy juis dié woorde gebruik, hierdie frase wat aan die trouformulier herinner, want die laaste paar dae tob ek onverpoos oor troues. Myne was ’n haastige seremonietjie in ’n Londense magistraatshof op ’n tipiese Engelse herfsdag, triestig en klam, asof die lae grys lug namens my wou huil. Asof die wolke al die trane wou stort wat ek myself so streng verbied het.
En dis omtrent al wat ek van my huweliksdag onthou. Dat dit gereën het, dat ek wou opgooi, dat ek gewens het ek was in Portugal. Dis nie iets wat ek juis wil oorvertel nie.
Jammer, liefkind, maar dis nog ’n briefie wat jy nie gaan lees nie.
Waarom onthou ek Ouboet se troue soveel helderder as my eie? Omdat dit soos gewoonlik makliker was om ’n toeskouer eerder as ’n deelnemer te wees? Ek weet nie, my ou vuurvissie, ek weet nie.
Maar ek vermoed soms kan stilbly seker ook ’n manier van praat word.
TROUE
Nou almal saam, roep die mank fotograaf-mannetjie met die eienaardige aksent uit: “Say cheeeeza.” En vir die hoeveelste keer herhaal die groep voor die kamera almal laggend “cheeeeza”.
“Ek sal nooit in my lewe weer kaas kan eet sonder om aan my troudag te dink nie,” kla Ouboet kastig.
Hulle poseer al amper ’n uur lank vir Mister Giuseppe; eers net die bruidspaar terwyl die res toekyk, daarna die bruidspaar saam met hulle ouers, en nou die hele boksemdais, strooimeisies, strooijonkers, blommemeisie en hofknapie ook. Die amptelike troufoto’s word in die roostuin van ’n Bolandse spogplaas geneem, teen die agtergrond van ’n dam met eende, ’n witgepleisterde slaweklok en ’n Kaaps-Hollandse gewelhuis. Te mooi vir woorde, sê die bruidegom se bewoë moeder elke nou en dan met ’n sug. Ouboet se bruid het in hierdie gewelhuis grootgeword, oudste dogter en oogappel van ’n welgestelde wynboer wat deesdae ook Lid van die Volksraad is. Vir doktor Malan se party, natuurlik.
“Jou broer het omtrent met sy stert in die botter geval toe dié nooi vir hom ja gesê het,” het die hoofstrooijonker gister teenoor Kleinboet opgemerk terwyl die bruidspaar en hulle gevolg in die NG kerk op die dorp vir die seremonie gerepeteer het. Aikôna, het Kleinboet gesê, my broer is nie die soort wat ooit val nie. Nie eens in die botter nie. Alles word sorgvuldig beplan.
Colette was nogal geskok deur sy aanmerking. Só koelbloedig is Ouboet darem nie, het sy ná die repetisie met Kleinboet geraas. Enigeen kan sien hy’s dolverlief op Elsa!
“Natuurlik,” het Kleinboet gepaai. “Kom ons sê maar net dit was vir hom makliker om dolverlief te raak op ’n meisie met ’n ryk en vername pa as op enige ander meisie.”
Maar Ouboet het nie ’n ryk of vername skoonpa nodig nie, meen Colette. Daar word tog al van kleins af vir hom ’n Blink Toekoms voorspel. Hy was elke jaar ’n presteerder in sy regskursus op Stellenbosch, die laaste jaar ook in die Studenteraad, almal op die kampus ken sy naam. Soos sy gou agtergekom het toe sy laas jaar begin studeer het. Selfs noudat Ouboet weg is van die kampus, besig om naam te maak as briljante jong prokureur in die stad, gooi sy Blink Toekoms ’n swaar skaduwee oor haar en Kleinboet.
Kyk net hoe staan en grinnik hy daar in sy swaelstertpak met sy stralende bruid aan sy arm, sy vername skoonouers en sy trotse ouers en sy groot gevolg soos ’n waaier oopgesprei rondom hom, die strooijonkers almal ook in swaelstertpakke, die strooimeisies in kuikengeel brokaat en sy. Colette hou nie van geel klere nie; dit bring die geel in haar blonde hare en bleek vel uit en laat haar soos iemand met nierversaking lyk. Maar as derde strooimeisie, saam met die bruid se beste vriendin en die bruid se jonger suster, het sy nie eintlik ’n sê nie. Elsa is gek oor geel, dit pas goed by haar gebronste vel en goudbruin hare, en op hierdie heuglike dag wou sy haarself met geel omring. Selfs die strooimeisies se satynskoene en lang handskoene is liggeel. Kleinboet is ook ’n strooijonker, saam met twee van Ouboet se studentemaats, Pietman en Hannes, en voel sekerlik net so ongemaklik in sy swaelstertpak as sy suster in haar kuikenuitrusting. Een swaeltjie maak nie ’n somer nie, so troos Colette haarself, nes een kuiken nie ’n bruilof kan bederf nie.
Elsa se trourok is ’n mirakel van brokaat en tulle en kant, ’n hartvormige bolyfie en ’n noupassende baadjie van deurskynende kant en pêrelknopies wat haar kaal skouers en arms bedek en tog ook vertoon – ordentlik genoeg vir die kerkseremonie, maklik genoeg om die baadjie later by die onthaal uit te trek – en ’n romp so uitspattig wyd dat sy op pad kansel toe amper in die kerkpaadjie vasgesit het.
Daar was ’n absurde oomblik terwyl die eerste orrelnote van die troumars deur die kerk dreun en die gaste in die kerkbanke almal afwagtend omkyk en die bruid versteen bly staan omdat sy skielik besef het dat haar rok aan die ewe uitspattige ruikers teen die kante van die kerkbanke kan vashaak. Dít het niemand voorsien nie! Vir die sorgvuldige repetisie gister het die bruid natuurlik nie haar trourok gedra nie. En die ruikers van pienk en geel rose uit die plaas se tuin was nog nie teen die kerkbanke vasgemaak nie. Toe die bruid dus onverwags in haar spore vassteek, het die tweede strooimeisie in die eerste strooimeisie vasgeloop, waarna albei van skone senuweeagtigheid aan die giggel geraak