Colette vergaap haar aan die diep duik wat die kuiltjie in haar oom se ken maak wanneer hy glimlag. Voor die oorlog was hy amper té mooi vir ’n man, soos sy al vir Mammie hoor opmerk het, maar nou het hy rêrig dashing geword. Sy gesig is goudbruin gebrand deur die woestynson in Noord-Afrika en daar’s ’n fantastiese litteken op sy wang wat deur glasskerwe in ’n bomontploffing veroorsaak is en hy stap effens mank omdat sy linkerbeen in dieselfde ontploffing beseer is.
Maar dit bly vreemd om hom sonder ’n uniform te sien, in ’n wit oopnekhemp en ’n gestreepte sportbaadjie en ’n wye beige langbroek met plooitjies onder die belt. Nie dat Colette hom al dikwels in haar lewe gesien het nie, want hy het nog altyd ver van hulle in Natal gewoon. Tussen die Rooinekke, volgens Ouboet. En die laaste paar jaar was hy bloot ’n byna onbekende soldaat in ’n uniform op ’n foto wat Mammie pal in haar handsak gedra het. Dis hoe Colette aan hom leer dink het. The unknown soldier.
“Colette,” herhaal Mammie, dié keer dreigend. “Moenie dink omdat jy amper op hoërskool is, gaan ek jou toelaat om tande te tel as grootmense wil gesels nie. Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg.”
Sy staan gedwee op en loop sleepvoet kombuis toe.
“Jy was net so nuuskierig toe jy haar ouderdom was,” hoor sy haar oom geamuseerd opmerk.
“En ek is geleer nuuskierige agie brand sy magie. Dis wat Moeder altyd gesê het.”
“And Father said curiosity killed the cat,” sê Uncle David en lag, maar dan kan sy nie verder hoor nie, want die kombuisdeur swaai agter haar toe.
Sy kyk hoe Sina die kookwater versigtig oor die teeblare in die fynste wit porseleinpot skink, presies nes Mammie haar geleer het, en gaps ’n tuisgemaakte gemmerkoekie uit die bakkie wat klaar op die silwerskinkbord met die geborduurde lappie gerangskik is.
“Sie jy ophou om so aspris te wees,” brom Sina met ’n kwaai frons onder haar geblomde kopdoek. “Daar’s winkelkoekies in die kas vir jou. Hierdies het jou magoed gister vir master David gebak.”
“Hierdie hele groot sjokoladekoek het sy ook vir ‘master David’ gebak,” sê Colette en gaan sit met haar boude op die kombuistafel langs die teeskinkbord. Sy sprei haar treinbankgroen dirndl-rompie wyd uit oor die tafel en swaai haar voete in haar wit sokkies verveeld heen en weer. “Jy sou sweer sy dink daar’s nie sjokoladekoek in Australië nie.”
“Nie wat jou ma gebak het nie,” sê Sina baie beslis.
Colette hou vir Sina dop terwyl sy ’n paar laaie ooptrek om teelepeltjies en koekvurkies uit te haal en die silwerteesiffie te soek, so klein en seningrig skraal dat dit moeilik is om te glo sy is al sestien. Die spierwit gestyfde voorskoot wat sy bo-oor ’n verbleikte werkrok vasgebind het, vou amper reg rondom haar dun lyf – nie net ’n voorskoot nie, spot sy self, maar sommer ook ’n agterskoot – en hang tot op haar enkels. Onder die soom steek ’n paar ou wit tennisskoene uit wat lankal te klein geword het vir Colette, maar steeds effens te groot gaap aan Sina se voetjies. En tog, elke keer as Colette onthou hoe tingerig en teruggetrokke die meisietjie was wat hulle drie jaar gelede op Somerverdriet gaan haal het, besef sy dat Sina al ’n hele paar duim moes gegroei het en tien keer meer selfvertroue gekry het.
Partykeer voel dit vir Colette asof Sina – al sal sy seker altyd die kleinste in die huis bly – lankal die oudste in die huis geword het. As sy so vir jou gluur met haar swart kraalogies in haar geelbruin gesiggie, lyk sy sweerlik ouer as Tafelberg, slimmer as Jan Smuts. Boesmanbloed, sê Pappie, gemeng met Slamaaier. En natuurlik iewers langs die pad ook ’n bietjie melk by die koffie.
Colette het maar onlangs eers agtergekom wat Pappie bedoel as hy so van melk en koffie praat. Sekere dinge word eenvoudig nie by die naam genoem nie, dit het Colette ook al op amper dertien geleer, nie in hierdie huis nie. Vermoedelik ook nie eintlik in die res van die land nie.
“Wat wil hy in elk geval in Australië gaan soek?” mompel sy so half vir haarself.
“Dis nie wat hy gat soek nie. Hy’t klaar gesoek, nou gat hy net sy prys haal,” antwoord Sina en begin met ’n onverwagse kekkellaggie sing: “En ek wil ek wil ek wil by my noientjie gaan vry, sy is so mooi en so liefies vir my … Hy’t mos die nursie van daai land in die oorlog leer ken.”
Asof dit alles verklaar.
“Ek dog sy’t ’n ambulans bestuur,” sê Colette, sommer vies vir hierdie onbekende Australiese meisie wat haar oom afgerokkel het.
“Sal nie kan sê nie. Weet net dis iets met ’n hospitaal te doen, dis mos hoe hulle ontmoet het, ná hy seergekry het in die ontploffing.”
Sina staan ’n tree terug om die teeskinkbord met ’n skewe kop te bestudeer. Dan knik sy, blykbaar tevrede dat miesies Lizzie tevrede sal wees.
“Maar vir wat wil hy nou agter haar aan foeter na ’n ander land toe? Hoekom bring hy haar nie hierheen nie?”
“Jou ma-goed sê hy wil ‘’n nuwe lewe in ’n nuwe land’ begin.”
Colette swaai haar hangende voete al hoe driftiger. “Ek het ook gehoor sy sê vir my pa jy sou sweer Uncle David skaam hom vir sy familie in Afrika.”
Sina kyk op ’n vreemde manier na haar, so asof sy dink Uncle David het dalk ’n punt beet, voordat sy weer prakties word. “Dra jy die tjoklitkoek in, dan bring ek die skinkbord met die res van die goete.”
Colette tel die enorme koek op ’n silwerbord op en balanseer dit versigtig op een hand terwyl sy die kombuisdeur met haar ander hand ooptrek.
“Dis nie ’n sy nie, Liz, dis ’n hy,” hoor sy haar oom in die voorkamer sê.
“Jy bedoel …” Die skrik in haar ma se stem laat Colette in die deurkosyn versteen.
“Ek gaan Australië toe agter ’n man aan.”
Colette kyk oor haar skouer na Sina wat met die swaar gelaaide skinkbord aangestap kom, skud haar kop benoud en beduie sjuut met haar vinger voor haar mond, terwyl sy terselfdertyd geluidloos agteruit probeer tree.
“Ek het altyd vermoed …” sê haar ma, haar stem verslae. “Maar ek het gehoop …”
“Lizzie, I’ll never be myself in this country. You’d probably die of shame if I tried. As ek weggaan, hoef niemand ooit te weet nie, nie jou skoonfamilie of jou kinders of …”
“Verskoon my, David, dis net … die skok …” sê haar ma en spring op en skarrel by die vertrek uit.
“Hier kom sy!” fluister Colette paniekbevange en gee so ’n vinnige tree agtertoe dat sy amper vir Sina onderstebo stamp. Jy hoor net silwer en porselein rinkel en ’n enkele oneindige oomblik lank lyk dit asof die skinkbord op die vloer gaan beland en Mammie se mooiste teepot in skerwe gaan spat. Colette gryp met een hand na die skinkbord om vir Sina te help en voel hoe die sjokoladekoek van die silwerbord in haar ander hand afgly. Magteloos kyk sy hoe die koek op die swart-en-wit teëlvloer val. Dan hoor sy haar ma se voetstappe op die trap, seker op pad na haar slaapkamer om haar neus te blaas en te poeier, en sy wonder wanhopig of daar nie ’n manier is om die bruin pappery op die vloer bymekaar te skraap en die koek weer reg te dokter voor Mammie terugkom nie.
“Shame.” Sina sit die skinkbord op die tafel neer en buk om die oorblyfsels van die koek op te tel. “Nóg ’n skok vir arme miesies Lizzie.”
En skielik begin Colette giggel. Miskien is dit net van skrik en senuweeagtigheid, maar die gedagte dat ’n verwoeste sjokoladekoek vir haar ma ewe erg kan wees as die nuus dat Uncle David op ’n man verlief geraak het, is meteens vir haar baie snaaks.
“Sie jy ophou om so verspot te wees,” sis Sina. “Gee vir my die skoppie en die besempie aan, gou-gou, voor jou ma kom.”
“Kan jy glo my oom is ’n homoseksualis?” fluister Colette met haar oë wyd gerek terwyl sy op die vloer