Sy glimlag koketterig en vee oor haar blonde krulle, wat sy deesdae kleur om die grys drade weg te steek, en kyk afwagtend na Deddie. Hy is nou veronderstel om iets te sê soos: ag, my vrou, vir my sal jy altyd jonk en mooi bly. Maar Deddie kyk na sy bord en kou aan sy vleis, sy gedagtes op ’n ander plek.
Dis waar dat Mammie eintlik nog goed lyk vir iemand wat al oor die veertig is. Plomper as toe Colette kleiner was, maar niks wat ’n goeie steppien nie kan wegsteek nie, soos sy gereeld vir Colette verseker terwyl sy steun en kreun om die hakies van haar inklimgordel vas te kry. Vandag dra sy ’n blou-en-grys geruite oorvourok met ’n breë belt in die styl van die Amerikaanse ontwerper Claire McCardell, wat sy soos gewoonlik self gemaak het. Meisies soos ons kan maar elke dag blou dra, sê sy vir Colette, dit bring die blou in ons oë uit. Dis nou nie meer vir Colette so oulik as haar ma van “ons meisies” praat nie. Vandat sy laas jaar hoërskool toe is, beskou sy haarself as groot genoeg om ’n meisie te wees, maar Mammie is mos darem lankal nie meer ’n meisie nie. Mammie is ’n tannie, en soms wens Colette sy wil haar ’n bietjie meer soos ’n tannie gedra, en ’n bietjie minder soos die lawwe flapper wat sy twintig jaar gelede was. En tog vermoed sy dat Mammie eendag op tagtig steeds diep in haar hart ’n flapper sal wees. ’n Patetiese gryskopvroutjie wat met ’n tandelose glimlag wag dat haar man haar verseker dat sy vir hom altyd jonk en mooi sal bly.
Colette raak so benoud dat sy sommer met haar mond vol rosbief verder praat. “En die prinses het ’n toespraak gemaak ook. Sy praat die móóiste Engels!”
“I am very glaaad to see so many young people heaahr todaaay.” Kleinboet boots die prinses se hoë stemmetjie en koninklike aksent so goed na dat almal weer aan die lag raak.
“Wel, ék is baie bly sy het nou op die skip terug Engeland toe geklim,” sê Ouboet net voordat hy ’n yslike hap hoenderpastei vat. “Nou kan ons hopelik van die Britse koningshuis vergeet en weer ’n slag op ons eie probleme in die Unie konsentreer.”
“Tot sy weer kom,” terg Colette. “Sy’t gesê sy wil gou weer kom kuier.”
“Ons sal sien,” sê Ouboet op ’n onheilspellende toon. “Dit sal afhang van wie die land vorentoe gaan regeer. Of hoe sê ek, Pa? Pa!”
Deddie knip sy oë asof iemand skielik ’n skerp flitslig daarin skyn. “Jammer, ek kan net nie ophou wonder oor Peers se grot waar ons gister was nie. Die Vishoekman se brein was soveel groter as wat ons tot dusver geglo het. Ons weet eintlik nog só min van ons prehistoriese voorouers, nè.”
“Ai, my man, jy kan tog so wroeg oor wat ons weet en wat ons nie weet nie. Al wat ék weet, is dat die uitsig van die grot af my asem weggeslaan het. Die hele Skiereiland en al twee die oseane. Wie die Vishoekman ook al was, hy was slim genoeg om ’n fantastiese uitsig vir sy huis te kies.”
“Wat ék graag wil weet,” sê Kleinboet, “is hoe Pa dit reggekry het om vir Mammie en Colette om te praat om tot daar bo by die grot te klim. Het hulle nie heelpad gekla nie?”
“Nogals nie,” glimlag Deddie. “Ek het hulle nie omgepraat nie, sien, ek het hulle eintlik omgekoop. Belowe as die prinsesse weer kom kuier, sal ek saam met hulle in die warm son staan en waai vir die optog. So, kom ons hoop jy’s reg, Ouboet. As óns mense aan bewind kom, sal die prinsesse nie gou weer genooi word nie.”
Deddie en Ouboet grinnik vir mekaar, kompleet nes twee skelms wat ’n komplot smee.
“Wie’s óns mense?” vra Colette.
“Kom ek gaan haal die poeding,” sê Mammie en staan haastig op. Klaar gepraat.
Ná ete moet Colette en Kleinboet die skottelgoed afdroog en wegpak terwyl Mammie was, want Sina werk nie vandag nie. Colette is nogal nuuskierig oor wat Sina op haar vry Sondae doen. Die ander inslaapbediendes in die buurt is almal ouer en praat Engels, wat Sina sukkel om te verstaan, of ’n Bantoetaal, wat Sina nie eens probeer verstaan nie. Colette vermoed dat sy meestal maar in haar buitekamer bly en deur die ou tydskrifte blaai wat Mammie vir haar versamel. Toe Colette laas in die buitekamer was, het sy vir Sina gehelp om mooi kleurprente van natuurtonele uit te knip en teen die kaal mure te plak, maar Deddie het ’n stokkie daarvoor gesteek. Hou jou by jou soort, Lettie. Deddie is nooit naar met Sina nie, hy behandel haar altyd beleef, maar hy beskou haar klaarblyklik nie as van dieselfde soort as die Cronjés nie.
Colette pak die skoon glase al fluitend weg, “Jan Pierewiet” se deuntjie wat sedert die Youth Rally in haar kop bly draai, tot Mammie agter die wasbak waarsku dat meisies wat fluit by die deur uitgesmyt word. Om die vrede te bewaar neurie sy dan maar verder, hoewel sy nog nooit kon verstaan waarom meisies mag neurie maar nie mag fluit nie. Toe sy buk om ’n stapel borde in ’n lae kas te pak, piets Kleinboet haar met ’n nat vadoek op die boud.
“Aitsa! Hoe lyk dit dan vir my of my maer klein sussie besig is om lekker stewige Boesmanstêre te kry? Pla die kêrels jou nog nie, Lettie-lief?”
“Moenie vir jou laf hou nie,” giggel Colette.
“Wel, as hulle lastig word, onthou jy’t twee ouer broers wat jou eer sal beskerm. Dis meer as wat die arme prinses Elizabeth kan sê.”
“Sy’t nie broers nodig nie, sy’t lyfwagte. Wat haar beter behandel as wat my broers my nog ooit behandel het.”
“Hoor net daar, Ma! Het ons haar nie nog altyd soos ’n prinses behandel nie?”
“Soos ’n prinses,” glimlag Mammie vir die skuimwater in die wasbak. “Ons eie prinses Lettie-lief.”
“Maar as ouma Trui moet sien hoe styf daai langbroek oor prinses Lettie-lief se boude span, sal sy die stuipe kry.”
“Op die plaas sou ek nie op ’n Sondag ’n langbroek mag gedra het nie, al het dit ook soos ’n streepsak aan my lyf gehang.”
“En op ander dae word dit ook maar erg onwillig verduur,” sug Mammie. Vandat Deddie en oom Kleingert oor die Ossewabrandwag begin baklei het, gaan Mammie met ’n verdrietige winterse hart op Somerverdriet kuier. “Julle ouma en oupa is oud, hulle weet nie van beter nie, mens kan verstaan dat hulle nie die moderne wêreld verstaan nie. Maar daai broer van julle pa het wraggies nie ’n verskoning om so uit die oude doos te wees nie!”
“Tannie Wilma is nog erger,” kla Colette. “Daar’s so baie dinge wat mens op Sondae nie daar mag doen nie. Jy mag nie brei of naaldwerk doen nie, dan steek jy die naald in die Here se oog, jy mag nie lag of grappies maak nie, want ná vrolikheid kom olikheid, jy mag nie langbroek of lipstiek dra nie, moenie my vra hoekom nie, jy mag dan nie eens papierpop speel nie! Nie dat ek nog papierpop wil speel nie,” voeg sy vinnig by voordat haar broer haar weer terg. “Ek sê maar net. Voel vir my al wat mens mag doen, is om handjies gevou te sit en wag dat die dag verbygaan.”
“Terwyl die volk al die werk moet doen,” sê Kleinboet gemaak sedig. “Dan kan hulle mos in ons Blankes se plek hel toe gaan omdat hulle die Sabbat onteer.”
“Haai nee, Kleinboet, só kan jy darem nie sê nie!” maak Mammie beswaar.
“Is Mammie bang Ouboet hoor my?”
Mammie skrop so kwaai aan ’n kastrol dat die skuimwater tot op die vloer spat. Gelukkig het sy ’n voorskoot bo-oor haar nagemaakte Claire McCardell-rok vasgebind. Hulle hoor Ouboet se ontstoke stem op die stoep, seker weer besig om te praat oor dinge wat Mammie nie wil hoor nie, terwyl Pappie swyend aan sy pyp sit en suig.
Colette rangskik die swaar silwermessegoed wat hulle net Sondae gebruik in die oopklapboks met die koningsblou fluweelvoering en loer onderlangs na haar broer. In sy kakielangbroek en wit hemp, kraag oopgeknoop en moue opgerol, donker hare blink geolie en agtertoe gekam, lyk hy heelwat ouer as ’n matriekseun. Kleinboet is nie juis wat sy dashing sal noem nie, hy is te kort en stewig gebou, sy vel is te blas, sy neus te groot. En tog behaal hy baie meer sukses met die teenoorgestelde geslag as Ouboet wat gans te ernstig is om te flankeer, te besig om sy Briljante Toekoms te bou. Die pad na ’n meisie se hart loop deur haar lagspiere, beweer Kleinboet. Hy katrol die nooiens in, die een na die ander, met