“Mannetjies wat enigiets bykom wat beweeg. Tot hulle eie kleintjies ook. En ek praat nie net van diere nie.”
Sina spoeg die woorde uit met so ’n bitter trek om haar wye mond dat Colette haar verstom aangaap. Sy het al voorheen gewonder waarom Sina nooit oor haar kinderjare op die plaas praat nie.
“Maar as Ouboet dit moet hoor …” fluister sy benoud. “Hy hou klaar nie van Uncle David nie oor hy dink hy’s aan die Engelse se kant!”
“Hy hoef dit nie te hoor nie.” Sina staar stip na haar, haar stem sissend sag. “Niemand anders in die huis hoef dit te hoor nie. Verstaan ons mekaar, Lettie?”
Colette knik. Die wete dat daar nou nóg iets is wat nooit by die naam genoem gaan word nie, laat haar keel toetrek. Uncle David sal emigreer en Mammie sal hartseer wees, want sy weet nie wanneer sy hom ooit weer sal sien nie, maar sy sal vir niemand vertel wat haar broer haar vanmiddag vertel het nie. Dalk nie eens vir Deddie nie.
En wat, wonder Colette, moet sý met al hierdie ongewenste inligting maak? Oor melk en koffie en haar mooi oom die moffie en Somerverdriet se mense wat hulle soos diere gedra en wie weet wat nog alles. Iewers in haar agterkop sal sy plek moet inruim vir alles waaroor sy nie mag praat nie, ’n soort solder waarin sy al die skaamtes en skandes van haar huis en haar familie en haar land kan wegsteek. Ja, dís wat sy nodig het, besef sy daar op die swart-en-wit teëls van die kombuisvloer terwyl Sina opstaan om die morsige oorblyfsels van die koek in die vullisdrom te gaan gooi. ’n Denkbeeldige solder waar al hierdie geheime in die donker kan lê en stof vergaar tot die tyd eendag ryp is om ’n lig daarop te skyn. Wanneer dit sal gebeur, óf dit ooit moontlik sal wees, daaraan durf sy nie nou al dink nie.
Re: Sintra
• Colette Niemand 11/8/2007
Toe maar, dis net ’n nare griep wat my ’n paar dae platgetrek het, niks om oor bekommerd te wees nie. En dis heerlike inniebedblyweer, hoor. As dit so koud en nat is buite, voel dit mos amper soos bederf om onder ’n donsduvet na die reën teen die ruit te lê en luister. En Sina sorg vir my, soos altyd. Ons twee ou tannies sorg vir mekaar.
Goed, dis heeltemal genoeg oor my gesondheid, kom ons keer terug na Sintra! Ek hoef net my oë toe te maak, dan sien ek die dorp voor my. Ek onthou die paleis van Pena hoog op die heuwel, die Moorse balkonne met die uitsig op die see, die vergeelde ou foto’s van die laaste Portugese koningsgesin. Soveel vergange glorie, nè. Dit het my destyds al melankolies laat voel, al was ek amper so jonk soos jy. Maar nou ja, teen dié tyd het jy ook al agtergekom dat jy jou in ’n land bevind waar melankolie maklik vastrapplek in jou siel kry.
Ek is nie ’n teenstander – of ’n voorstander – van koninklike krone nie. Net nog iets waaroor ek nooit werklik ’n mening gevorm het nie? Of miskien het ek soveel kere van mening verander dat ek nie meer mooi weet wat dit oorspronklik was nie. Ek onthou wel dat ek en Mammie nogal opgetrek was toe die ou Engelse koning George en sy statige vrou en die twee pragtige prinsesse deur die Unie kom toer het. Sestig jaar later is die jongste prinses lankal saliger en die oudste sussie ’n bejaarde koningin van ’n ryk wat al hoe kleiner krimp en die Unie ’n onafhanklike demokratiese land met ’n swart president. En al wat ek eintlik voel as ek aan al hierdie omwentelinge dink, is oud.
Nee wat, liefkind, moet jou nie aan my skete en my stiltes steur nie. Hou asseblief tog aan om vir my te skryf, al antwoord ek nie altyd nie, en moenie ophou soek nie. Jou hart sal vir jou die pad wys. Dit bly maar die beste kompas. As ek myne ’n halfeeu gelede gevolg het, sou ek nie nou so verdwaal gevoel het nie. Miskien ook nie so verdomp óúd nie.
Liefde van jou bedlêende beskermengel (maar môre is ek weer op die been, belowe).
PRINSES
“Seën, Heer, wat ons eet en laat ons nimmer U vergeet,” bid Deddie aan die Sondagmiddagtafel, elke woord van die versie stadig en duidelik uitgespreek, asof hy dit net daar sit en uitdink. Hy herinner sy kinders gereeld dat die eerste Afrikaanse Bybel eers ná Colette se geboorte verskyn het. Vir hulle is dit vanselfsprekend om in Afrikaans te bid; vir hom bly dit ’n voorreg.
Dan rol hy sy hempsmoue op, wikkel sy skouers soos ’n dirigent net voordat hy sy stokkie lig, tel ’n vlymskerp mes en ’n groot vurk op – hier verbeel Colette haar altyd sy hoor die eerste dawerende note van Beethoven se Vyfde Simfonie – en begin die gebraaide beesvleis sny.
Mammie dink omdat hy ’n dokter is, kan hy beter vleis sny as enigiemand anders wat sy ken. Deddie sê alles wat hy van die sny van vleis weet, het hy op die plaas by sy pa en sy oupa geleer, nie in die mediese skool nie. Nonsies, sê Mammie, hy het ’n dokter se hande, nie ’n slagter se hande nie. Dan grinnik Deddie en sê hy is bevrees Mammie was maar nog altyd ’n snob.
Saam met die rosbief en gravy is daar ook hoenderpastei op die tafel, en pampoenmoes en soetpatats en blomkool met witsous en sousboontjies en beetslaai. En rys en aartappels, natuurlik. Mammie skep solank die ander kos op en hou elke bord voor Deddie sodat hy ’n sny vleis daarop kan rangskik, so half bo-oor die ander kos, want teen daardie tyd is die borde propvol. In baie huise is witbrood en goeie vleis twee jaar ná die einde van die oorlog nog skaars, maar danksy ouma Trui wat gereeld vrugte en groente, tuisgebakte brood en heuning, botter en eiers, slaghoenders en rooivleis van Somerverdriet af stad toe stuur, ly die Cronjés van Rondebosch nooit honger nie. En wanneer Colette se broers naweke van hulle koshuise kom kuier, word daar geëet asof die oordeelsdag môre aanbreek.
“Is die rosbief ter ere van die Britse koning?” spot Ouboet toe hy sy bord aanvat.
Mammie klik haar tong vies. “Asof ons nooit roast beef geëet het voordat die koning kom kuier het nie.”
“Ek vra maar net. Colette het die laaste ruk so aangegaan oor die prinsesse dat ek gedog het …”
“Ek het nie ‘aangegaan’ nie,” protesteer Colette. “Ek sal dit nie waag as jy by is nie. Almal weet jy hou nie van die Royals nie!”
“Kinders,” vermaan Mammie.
“Would Her Royal Highness graciously accept to pass me the salt?” vra Kleinboet vir Mammie met ’n hele aartappel in sy kies gedruk, sy Britse aksent so oordrewe dat hulle almal uitbars van die lag.
Dankie tog vir hierdie broer wat so snaaks kan wees, dink Colette al hoe meer, want die oudste een word al hoe moeiliker. Kleinboet is in matriek, in Deddie se ou skool in die Paarl, en Ouboet het laas jaar ’n Matie geword. So trots op sy maroen gestreepte kleurbaadjie dat hy dit selfs naweke by die huis dra. ’n Skrander student, sê almal, ’n natuurlike leier, ’n jong man vir wie daar ’n Blink Toekoms voorspel word. Maar vir Colette is hy bowenal ’n beterweterige spoil sport. Vandat koning George en sy gesin twee maande gelede in Kaapstad aan wal gestap het, het hy nog nie opgehou om haar te treiter nie. En dit net omdat sy en Mammie daardie dag saam met derduisende ander mense op die sypaadjie staan en wag het vir die koninklike optog.
Goed, sy wás miskien ’n bietjie te opgewonde oor die lang swart kar met die Union Jack waarin hulle so stadig deur die strate van die stad gery het. En die snaakse manier waarop die koningin vir die skares wuif, so met die agterkant van haar hand soos ’n bejaarde ballerina. En sy hét seker nogal baie gebabbel oor prinses Elizabeth en prinses Margaret en hulle hoede en handskoene en hare en alles wat vir haar so onvergeetlik mooi was. Maar dit maak haar nog nie ’n Rooinek of ’n volksverraaier nie!
“Ek was Maandag by die Youth Rally,” sê sy, “en dit was glad nie net ’n Engelse affêre nie. Daar was tot ’n groep wat Volkspele gedoen het. Hulle het ‘Jan Pierewiet’ gesing, en ‘Sarie Marais’ en …”
“Alles tot eer van die magtige Britse Empire,” sê Ouboet kopskuddend.
“Nee, tot eer van die prinses se 21ste verjaardag. Almal het vir haar ‘Happy Birthday’ gesing en die orkes het ‘For she’s a jolly good fellow’ gespeel en daar was Kleurlingkinders wat in wit rokke gedans het, die oulikste klein klimeidjie wat heel voor op haar toontjies getrippel