Dis amper asof hy soms die vreemdste dinge sê net om vir Ouboet vies te maak.
“Ouboet is nie soos oom Kleingert nie.” Dit klink of Mammie met haarself staan en praat. Sy skrop nou stadiger en staar deur die venster na die vrugtebome in die agterplaas wat hulle herfskleure begin wys. “Ek stem nie altyd saam met sy idees nie. Maar hy behoort darem nou ook nie aan die Ossewabrandwag nie, nè.”
“Nie sover ons weet nie,” mompel Kleinboet.
Wat Colette weet, en Mammie seker ook, is dat Ouboet brand om lid te word van ’n ander geheime organisasie vir Afrikaanse mans, die een of ander bond, maar daar kan jy nie sommer net gaan aansluit nie, jy moet wag tot jy gevra word. Deddie is nooit gevra nie. Blykbaar iets met sy half-Engelse vrou te doen, maar sy kan nie seker wees nie, want dis iets waaroor daar nooit gepraat word nie. Nie in hierdie huis of in enige ander Afrikaanse huis nie. Dis ’n geheime organisasie, onthou. Mens praat nie oor geheime nie.
Verdere stilte
• Colette Niemand 13/8/2007
To ?
Coimbra … Jinne, kind, jy lei my hart soos ’n steeks perd terug na soete waters. Al wat ek hoef te doen, is om my kop te laat sak en diep te drink.
Maar ek sou nie daar geaard het nie. Nie in Coimbra of Sintra of Lissabon of enige van die ander oorde langs jou Portugese roete nie. Daarvan probeer ek myself immers al ’n lewe lank oortuig. En nou kom flikflooi jy oor aalwyne en bloekoms en dergelike plante wat op meer as een plek kan wortelskiet, ai tog, en ek sak weer weg in vertwyfeling en selfverwyt.
Soete waters? Altemit. Maar vir my is daar geen rus langs daardie waters nie. Mag soet en stil wees, maar onder draai die duiwels rond. Moenie dink ek weet nie waarvan ek praat nie. My wreedste duiwel se naam is onthou en die afgelope week martel hy my weer soos lanklaas.
Ek vermoed dis nog ’n briefie dié wat ek liewers nie vir jou sal stuur nie.
My verlede is voorwaar alles wat ek gefaal het om te wees. Nee, dis nie ek wat so sê nie, dis al weer Pessoa. En moenie my vra waarom ek dan aanhou skryf as ek nie vir jou wil wys wat ek skryf nie. Sou dit nie ironies wees as ek hier op my oudag weer ’n joernaal begin hou nie? Asof die vorige een nie genoeg verwoesting gesaai het nie! En die vorige keer het ek ’n goeie verskoning gehad. Ek was jonk en verward. Vyftig jaar later is ek oud en verward. Hoe meer dinge verander?
Die onthouduiwel bring geen helderheid nie, net verlange en deurmekaar drome. Ek verlang nou al dae lank na my familie, na Deddie en Mammie en Kleinboet en Ouboet, ja, selfs na Ouboet! Ek wens ek kon hom nog net één keer sien, hom laat verstaan dat ek altyd vir hom lief gebly het, al het ons mettertyd niks meer vir mekaar te sê gehad nie. Bloed bly bloed, nè. Soos jy ook onlangs agtergekom het, liefkind.
Maar meer as enigiets anders verlang ek na ’n tydperk in my lewe, na daardie sorgelose paar weke in Portugal toe ek die twee Fernando’s leer ken het, die dooie digter en sy besonder lewendige naamgenoot wat my minnaar geword het. Ek verlang na die moedige jong vrou wat ek vyftig jaar gelede was. Here, ek het nie geweet dis moontlik om so na jouself te verlang nie!
OORWINNING
Colette bekyk haarself in die vollengte-spieël in haar ouers se kamer. Dis wat die heldinne in die liefdesverhale wat sy deesdae verslind altyd iewers in die boek doen. Die maklikste manier om die leser te wys hoe die heldin lyk, en sommer ook hoe sy oor haarself voel. Dis een van die wenke wat sy opgetel het sedert sy self ’n paar stories probeer skryf het. Nie liefdesverhale nie – van die liefde weet sy op die ouderdom van vyftien-en-’n-half helaas nog heeltemal te min – sommer net stories. Soms ook gediggies, aangevuur deur Belydenis in die skemering van Elisabeth Eybers, wat haar pa laas jaar vir haar present gegee het.
Die grootste verrassing van hierdie nuwe skryfstokperdjie is dat amper alles in Afrikaans uitkom – hoewel sy amper net Engels lees. Dalk iets te doen met Elisabeth Eybers, die eerste vrou van wie sy weet wat ’n Afrikaanse digbundel uitgegee het, en vir wie sy amper soveel vurige bewondering koester as vir Edna St Vincent Millay. (Millay se gediggie oor die kersie wat aan albei kante brand en nie die hele nag sal hou nie, bly darem nog vir haar die heel mooiste.) Of dalk is die Afrikaanse skrywery te danke aan haar goeie Afrikaanse onderwysers in haar goeie Afrikaanse hoërskool in die stad. Maar dis waarskynlik meer as enigiets anders haar pa se invloed. Deddie, vir wie sy nou al jare lank vergeefs probeer Pappie noem, met sy ewige opgewondenheid oor hierdie jong taal wat sommer nou die dag nog hier aan die suidelikste punt van Afrika ontstaan het.
“Pretty as a picture,” sê haar ma agter haar in die spieël. En hoe meer Afrikaans haar pa word, so voel dit soms vir haar, hoe meer aspris-Engels word haar ma. “Wat sê jy, Sina?”
“Ek kan nie glo dis onse klein Lettie nie,” sê Sina, nou ook sigbaar in die spieël, haar hande saamgeslaan in bewondering. Colette het jare gelede al by Sina verbygegroei, maar Sina maak asof sy dit nie sien nie en hou eenvoudig aan om haar klein Lettie te noem.
“Ek lyk … groot.”
“Is dit nie wat jy wou hê nie?” sê Mammie en lag. “A dinner dress to make you look grown-up?”
Sy het inderdaad vir Mammie gevra om vir haar ’n “grootmensrok” te maak vir die aandpartytjie wat een van haar klasmaats die naweek hou. Maar sy het nooit gedroom dat ’n rok en hoëhakskoene só ’n verskil kan maak nie. Sy is gewoond om haarself in ’n skooluniform te sien, die gestreepte kleurbaadjie en wit hemp en das, die dik swart kouse en lelike swart veterskoene, haar blonde hare in twee kort, vet koeksister-vlegsels, haar een skouer altyd effens skeef getrek deur die swaar skoolkoffer vol boeke. Of anders naweke in Bobby socks en plat skoene en ’n gemaklike romp en ’n Sloppy Joe-oortrektrui, of in een van die langbroeke waarvan sy so baie hou en wat ouma Trui steeds so diep ongelukkig maak. Dis die Colette wat sy ken, met wie sy tuis voel, ’n skoolmeisie wat tussen ’n skare ander skoolmeisies sal wegraak.
En nou staan hier ’n vreemde jong vrou voor haar, in ’n rok van glansende middernagblou satyn met ’n stywe bolyfie – wat haar borste in ’n nuwe inklimgordel-buustelyfie soos twee tregters laat lyk – en ’n romp wat oordadig wyd uitklok van die perdebymiddeltjie af tot laag teen haar kuite. ’n Lieflike jong vrou, dit kan sy nie ontken nie, maar bowenal ’n onbekende jong vrou. Haar enkels lyk ballerinadun in ’n paar van Mammie se blinkswart hakskoene, haar nek lank en skraal en vreeslik wit teen die donkerblou satyn. Veral noudat Mammie haar hare oplig en teen haar agterkop stapel.
“Hmm, ek dink ons moet dit krul en vassteek, wat dink julle? En daardie nek kort iets. ’n Stringetjie pêrels?”
“Nee, ek dink nie so nie,” keer Colette, haar stem amper paniekbevange, en skud haar kop om haar hare weer tot op haar skouers te laat val. “Ek wil nie só anders lyk dat die kinders in my klas my nie môreaand herken nie.”
“Jy’s nog dieselfde Lettie-lief,” troos Mammie. “Net mooier en groter. Wag, ek dink ons kan die middellyf nog so ’n klein bietjie invat.” Mammie knyp aan die materiaal en vra vir Sina om haar speldekussing op die dressing table aan te gee.
“Nee, asseblief, Mammie, ek voel klaar of ek nie behoorlik kan asemhaal nie.”
“Ek het ook so gevoel toe ek die eerste keer ’n steppien gedra het. Jy sal gewoond raak daaraan.”
“Ek weet nie hoe ek môreaand enigiets geëet gaan kry nie!”
“Het jy dan nie geweet nie?” terg Mammie. “Deel van die doel van ’n steppien is om meisies te dwing om soos voëltjies te eet. Kyk, hier’s nog so ’n halwe duim speling om die middel …”