Wat sal Mammie sê!
Want die feit dat sy nie met Janneman Diederiks wil trou nie – nog minder met enige van die ander boertjies wat vanjaar na die jong blonde skooljuffrou in die losieshuis kom vry het – word vir Mammie ’n saak van ernstige kommer. Op byna drie-en-twintig behoort ’n meisie se trousseaukis klaar propvol te wees en haar kop kansel toe te staan, dis nou maar hoe dit is, anders bly sy altemit op die rak agter. En wat wil Colette nou meer hê as ’n oulike boerseun uit ’n vooraanstaande familie met ’n pragtige plaas? As hy boonop ’n bietjie boekgeleerdheid ook het, soos Piketberg se eie James Dean, ’n klavier of ’n kitaar kan tokkel, ’n lagie “fyn beskawing” soos ’n parfuum oor homself kan spuit, well, really, Colette, what more do you want? vra Mammie met groeiende ongeduld.
En Colette weet nie wat om te antwoord nie. Sy weet net sy wil méér hê. Meer as wat sy hier kan kry. Miskien, as sy eers oorsee was, as sy ’n wyle gereis het en iets van die wêreld gesien het, vreemde tale gehoor het en onbekende geure geruik het en eksotiese smake geproe het, miskien sal sy dan tevrede wees om met ’n jong boer soos Janneman Diederiks te trou en op Dwarskersbos te gaan vakansie hou? Maar nie nou al nie, Mammie, verstaan tog, asseblief?
“Wakey, wakey, Leendert!” Sy klap met haar liniaal teen Leendert van Niekerk se lessenaar en hy ruk vervaard regop, wat weer eens ’n rimpeling van giggelende genot deur die klas laat trek.
“But I’m finished, Miss!” kla hy.
“I have finished,” korrigeer sy outomaties. Vir wat bodder sy nog?
Nie nou al die huweliksbed nie, Mammie. Dáárvan is sy seker. Waarvan sy glad nie meer seker is nie, is of sy haar Afrikaanse James Dean se smeulende seksualiteit veel langer sal kan weerstaan sonder om saam met hom in ’n bed te beland. Of dalk nie eens ’n bed nie. Sê nou sy swig een donker nag op die voorste sitplek van sy rooi-en-wit Chevrolet Bel Air met die afslaandak en die punt-in-die-wind stertvinne? Ai, ai, ai, die skande. Sy kry al hoe warmer en die leerlinge vroetel en fluister al hoe meer agter haar rug. Ook maar goed die Kersvakansie begin volgende week. Dankie tog sy kan weer ’n slag stad toe vlug, terug na die beskerming van haar ordentlike familie, weg van die hitsigheid van haar losieshuiskamer en die spulsheid van ’n kêrel met ’n sportmotor.
Sy tel ’n Time van haar tafel op en wikkel dit soos ’n waaier voor haar gloeiende gesig. Calm down, Miss Cronjé. Op die voorblad pryk prinses Margaret se bloesende portret in pastelkleure geskilder, nog ’n jong vrou wat vanjaar gepla is deur haar hormone – maar op die ou end tog die tradisionele, rasionele weg gekies het en vir Group Captain Peter Townsend afgesê het. Siestog.
’n Vragmotor dreun verby in Van der Stelstraat, genoem na die goewerneur wat drie eeue tevore naby die huidige dorp deur ’n renoster bestorm en byna verpletter is. Nou se dae is daar nie meer renosters in hierdie geweste nie, almal uitgewis deur die boere met hulle roere, die koloniale grootwildjagters, die genadelose mars van die wit beskawing in Afrika. Hoor sy Kleinboet se spottende stem in haar ore? Hier is wel nog ’n magdom slange en skerpioene, harige spinnekoppe en vieslike vlieë en ander goggas wat die Engelse juffrou uit die stad tot in haar tone laat gril. Iewers het sy gelees dat daar nie slange in Engeland is nie. Of is dit Ierland? Hoe wonderlik moet dit nie wees om op ’n sagte groen slanglose eiland te lewe nie …
So droom Miss Cronjé die laaste martelende minute van die skooldag om terwyl sy teen die muur agter in die klaskamer leun. Oor haar linkerskouer gluur Elizabeth I; oor haar regterskouer die hedendaagse Elizabeth, ousus van die prinses met die hormone; voor haar kriewel die leerlinge soos perde wat die stal geruik het, niks kan hulle nou meer beteuel nie. Slegs Samuel Levy, die skrander Boerejoodjie twee rye van agter, buig steeds met volle konsentrasie oor sy opstel. Omdat hy erg bysiende is, ondanks sy swartraambril, raak sy lang neus amper aan sy lessenaar, wat dit moeilik maak om te sien waaroor hy so vlytig skryf. Miss Cronjé skuifel ongemerk nader. Hy is die enigste kind in die klas wat die Rooitaal met gemak kan rondgooi. Wel, hy sou kon, maar hy is heeltemal te skugter en te lomp om enigiets te gooi, nie ’n bal nie en ook nie ’n taal nie.
Dan merk sy twee woorde op wat soos vlamme van die papier af spring en sy deins terug asof sy bang is dat sy gebrand sal word. Emmett Till, lees sy. En, met ingehoue asem, ’n paar reëls laer: gouging out his eye before shooting him. Byna aan die einde van die bladsy, net voordat Samuel Levy omblaai, kry sy dit reg om ’n volle sin te lees. His mother decided to have an open coffin funeral because she wanted the world to see what white men had done to a 14-year-old black boy.
Hier kom moeilikheid, voel Miss Cronjé aan haar bloed wat skielik hoorbaar deur haar kop suis. Sy weet wie Emmett Till is. Was. Sy het iewers gelees van die Negerseun wat in Mississippi deur wit mans gemartel, vermoor en in die Tallahatchierivier gegooi is omdat hy glo op ’n parmantige manier met ’n wit vrou gepraat het. Nie in die Time-eksemplare wat sy klas toe gebring het nie, nee, sy weet nie of Time se gerespekteerde joernaliste enigsins oor Emmett Till se moord verslag gedoen het nie. Waarom sou hulle? Dis die soort ontstellende berig wat wit middelklas-lesers in Amerika nie werklik wil lees nie. In Suid-Afrika nog minder, natuurlik.
Dis nie ’n mooi storie nie, dis ’n stink storie, en waarom sou die skrander en skugter Samuel Levy nou so ’n vrot eier hier onder haar neus kom oopbreek? Dit onthuts haar, dit ontstig haar, dit ontstel haar, nie omdat dit in die verre Mississippi gebeur het nie, maar omdat sy haar kan voorstel hoe maklik dit hiér kan gebeur. Piketberg of Potchefstroom, Pretoria of Port Elizabeth, van die stowwerigste gehuggie tot die grootste stad, oral in hierdie land is daar woedende wit mans wat niks daarvan sal dink om ’n hansgat hotnotjie of ’n kordaat kaffertjie op die wreedste moontlike manier te straf nie.
Die Nasionale Party se beleid, hierdie aanhoudende opeenhoping van wette, wette, wette wat apartheid genoem word, dis ook ’n eier met ’n reuk wat al hoe meer verdag word. Die Verbod op Gemengde Huwelike en die Ontugwet en die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet en die wet wat strande en sportgeriewe en bioskoopsale skei en die wet wat Bantoes dwing om na aparte skole te gaan en die onsmaaklike manier waarop die regering besig is om die Senaat te vergroot sodat Kleurlinge van die Kaapse kieserslys verwyder kan word en, en, en, alles in skaars sewe jaar! En met dié dat die bejaarde doktor Malan nou opgevolg is deur die vurige Leeu van die Noorde, noudat Strydom baas van die plaas geword het, gaan die eiers sweerlik net nog vrotter word.
Wáár gaan dit eindig? wonder Miss Cronjé in haar stinkwarm klaskamer met ’n hart wat al hoe wilder klop en ’n kop wat draai asof sy gaan omkap. As al hierdie eiers gelyk breek, gaan dit mos tot in die hemel geruik word. Sy haal so hard asem dat Samuel Levy oor sy skouer opkyk na haar, sy oë knippend agter sy dik brillense. Verbeel sy haar, of betrag hy haar nou op ’n parmantige manier?
Calm down, Miss Cronjé. Sy het daarvoor gesoek, het sy nie? I shall always remember 1955 as the year when, staan daar in haar eie pedagogiese sierskrif op die swartbord geskryf, gevolg deur drie suggestiewe puntjies soos in ’n goedkoop liefdesroman. Sy hét tog die vae vlammetjie van hoop gekoester dat party van die leerlinge oor iets meer as hulle eie eng plattelandse lewetjies sou skryf. Het sy nie?
En nou voel sy asof sy ’n brandende vuurhoutjie in ’n hooimied laat val het. Die vlamme lek hoog die lug in, niks wat sy daaraan kan doen nie, behalwe om hulpeloos toe te kyk en te wonder waar dit gaan eindig.
Sy sluk swaar aan haar spoeg en knik vir Samuel Levy, byna ongemerk, ’n suggestie eerder as ’n werklike beweging van haar kop. Nie om te sê sy stem saam met hom nie, eerder ’n bedekte waarskuwing. Trap in jou spoor, Samuel, wil sy hom meedeel, want van hierdie oomblik af gaan ek jou dophou. Sy staar stip na die blink lagie sweet tussen sy sensuele bolip en sy neus, na die ernstige knippende oë agter die swaar swart brilraam, na die skraal vingers wat die pen vasklem. Hy is al ’n jaar lank in haar klas, maar dis die eerste keer dat sy hom werklik sién.
Dan stap sy vinnig terug na haar tafel. Nog net twee minute voordat die klok lui.