Noudat sy daaraan terugdink, word dit vir haar ook snaakser as wat dit aanvanklik was. Of dalk is dit die soet pienk vonkelwyn wat alles snaakser as gewoonlik maak. Sy vat nog ’n paar vinnige slukke. Net om te kyk of dit nie miskien nog snaakser kan word nie.
“Die Van Riebeeckfees het ons tróts op ons land gemaak,” sê Frans Louw LV, “tróts op die fyn beskawing wat ’n klein groepie wit setlaars in ’n donker onbeskaafde vasteland kon vestig, tróts om Afrikaans te wees!”
“Hoor, hoor!” roep ’n paar jong mans uit.
Die oom is nou behoorlik op dreef. Sy frases word langer, sy stiltes minder. Hy vertrou dat hierdie besonderse egpaar ons in die jare wat kom nog trótser gaan maak om deel te wees van ’n besonderse volk met ’n Godgegewe bestemming. Hy voorspel ’n besonderse blink toekoms vir hulle en hulle kinders …
“Kinders by die dosyne!” roep ’n stuitige jong man uit, wat almal laat lag en die bruid laat bloos.
Colette hoor haar maag grom van die honger en sluk die res van die vonkelwyn in haar glas af. Die tweede strooijonker skink haar glas weer vol. Elke keer as hy na haar kyk, kry hy dieselfde geamuseerde uitdrukking as in die kerk. Dis rêrig nie die reaksie wat sy by haar broer se ouer en meer wêreldwyse vriende op hierdie bruilofsfees wou uitlok nie.
Die bruid se vader het oplaas klaar gepraat en almal het nog ’n keer hulle glase gelig. Nou nog net die bruidegom se toespraak, dan kan hulle begin eet en dans. Hoewel sy nie weet met wie die armsalige derde strooimeisie veronderstel is om te dans nie. Haar pa sal met haar ma moet dans, daarvoor sal haar ma sorg, en haar oudste broer is mos nie ’n danser nie. Hy sal net die verpligte eerste wals met sy bruid so vinnig moontlik agter die rug kry en daarna met kamtige groothartigheid vir al die ander mans in die saal ’n kans gee om met die bruid te dans. Kleinboet dans lekker, maar daar is soveel mooi meisies in hierdie saal dat hy beslis nie sy tyd met sy sussie gaan mors nie. En sy het nie veel hoop dat enige ander aantreklike jong man haar sal vra nie, nie in hierdie strooimeisierok wat haar soos ’n kuiken met geelsug laat lyk nie.
Die oomblik toe Ouboet opstaan, verander die atmosfeer in die warm saal. ’n Vlaag opgewondenheid trek deur die jonger gaste soos ’n wind deur ’n koringland. Ouboet het skaars sy mond oopgemaak of Pietman begin bulderend sing: “Hy lyk vir my so baie soos tant Koek se hoenderhaan,” en onmiddellik word die liedjie deur ’n koor van manstemme verder gesing. Ouboet wag geduldig, met ’n gedwonge glimlag, voordat hy weer probeer.
“Almal het my gewaarsku dat dit die moeilikste toespraak van my lewe gaan wees …”
Niemand hoor ’n woord verder nie, want Pietman het weggeval met “Bobbejaan klim die berg”. Dié keer probeer Ouboet verder praat voordat die laaste stemme wegsterf. Dadelik word die koor weer ’n keer herhaal: “O, moenie huiiil nie, o, moenie treuuur nie, die Stellenbosse boys kom weer.” En weer en wéér. Elke keer as Ouboet ’n frase uitkry, kom die Stellenbosse boys weer met hulle dawerende koor. Party kap met hulle hande op die tafels en ander stamp met hulle voete op die vloer en die lawaai word heeltemal oorverdowend.
Oorkant Colette sing Kleinboet uit volle bors saam. Moet seker nogal salig wees om sy beterweterige ouer broer ’n slag stil te kry. Langs haar verkneukel Hannes hom ook in Ouboet se penarie. Die tweede strooijonker is nie ’n lelike kêrel nie, nie so voorbarig soos Pietman nie en nie so vroom soos Ouboet nie. Al wat eintlik teen hom tel, is dat hy Ouboet se vriend is. Die enigste mens in die saal wat skynbaar vir Ouboet jammer kry, is Mammie. Sy sit aan die hooftafel, effens weggesteek agter ’n bos geel en pienk rose, en kyk na Ouboet met die benoude uitdrukking wat sy gewoonlik kry wanneer sy ’n groot nood het. Of dalk het sy inderdaad ’n groot nood. In daardie geval is daar niemand in die saal wat die bruidegom bejammer nie.
Uit die hoek van haar oog, heel agter teen ’n muur, sien Colette vir Sina in ’n ou geblomde rok van Mammie langs die mank Mister Giuseppe met sy swaar kamera staan. Dit tref haar dat die Italiaanse mannetjie donkerder van kleur is as Sina met haar gelerige vel. En sy wonder onwillekeurig wat hierdie twee weglêhoendertjies, hierdie rare voëls van anderste vere, van die Godgegewe bestemming van die Afrikaner sou dink.
Re: Kontak!
• Colette Niemand 17/8/2007
Ek dink aan jou, my skat, ek dink heeltyd aan jou. Terwyl ek die koue Kaapse winter verduur, ry ek saam met jou in Lissabon se vrolike geel trems. Dan vergeet ek sommer van die koue en die ouderdom en kry ek dit amper weer reg om jonk en hoopvol te voel. Tot ek die reën teen my kamervenster hoor tik en die blaarlose bome in die tuin sien. Dan onthou ek weer waar ek is en hoe laat dit geword het. Dan klim ek uit die trem en kom lê op my bed en dink aan lank gelede, aan hoe graag ek wou wegkom voor dit te laat was, en dan wonder ek waarom ek teruggekom het. En dan dink ek weer aan jou. Ek dink heeltyd aan jou, lieweling.
JUFFROU
Die reuk van bordkryt en blou ink en tienersweet hang swaar in die bedompige klaskamer. Dis die warmste, lomerigste uur van die skooldag, kort voor die laaste klok lui, in die warmste, luiste week van die jaar, die laaste week voor die lang somervakansie.
Die enigste geluide is die gegirts van vulpenne op papier, bladsye wat omgeblaai word, ’n brommer wat hoog in ’n hoek naby die plafon vasgekeer is. Buite, in die bewende wit lig, die jillende stemme van laerskoolkinders wat vroeër mag huis toe gaan. Hier binne so nou en dan ’n selfbejammerende sug van ’n leerling wat half aan die slaap aan sy lessenaar hang, soos ’n drenkeling wat met sy laaste bietjie krag aan ’n drywende plank vasklou.
Siestog, dink Colette, as die hitte vir haar in ’n koel somerrok hier voor in die klaskamer so erg is, hoe ondraaglik moet dit nie vir hulle in ’n skooluniform wees nie. Die stywe dasse en die lang grys sokkies van die seuns, die dik en donker materiaal van die meisies se jurke, die beklemmende veterskoene om sweterige tone en skurwe hakskene. Hierdie kinders van koringplase en plattelandse stofstrate word kaalvoet groot, hulle kan skoenloos deur ’n veld vol duwweltjies draf, soos haar neefs en niggies kleintyd op Somerverdriet, hulle voetsole soos leer gebrei.
Maar hulle moet darem seker meer gewoond wees aan die versengende hitte as hulle jong “Engelse juffrou” wat haar skooljare in ’n milder klimaat deurgebring het. Laerskool aan die reënerige agterkant van Tafelberg, hoërskool in die beskermende bakhand van die moederstad. Soos ’n ma wat oor ’n bord kos blaas voordat sy dit vir haar kind voer, so blaas die sagte seebriese in Kaapstad altyd die kwaaiste hitte weg. Behalwe natuurlik wanneer die Suidoos van agter die berg opstoot om jou heeltemal van jou voete af te waai. Niks moederliks aan die Kaapse dokter nie.
Op sulke snikhete windstil dae tussen die witgeel koringlande is die verlange na Kaapstad soos ’n maagsweer wat haar van binne af verteer. ’n Hartsweer, mymer sy terwyl haar ooglede al hoe swaarder word. Hoewel sy eintlik na veel meer as Kaapstad verlang. Sy smag na kosmopolitaanse wêreldstede wat sy nog net op foto’s gesien het, na oorsese kunsskatte en katedrale waarvan sy nog net gelees het, na vreemde tale en onbekende kosse, na opwinding en avontuur. Storieboekplekke, dis waarna sy al die hele jaar lank hunker, terwyl sy in ’n losieshuis op Piketberg tuisgaan en vir plaaskinders probeer Engels leer.
’n Onverwagse knal ruk haar regop, uit haar dagdrome, terug na die werklikheid van ’n plattelandse klaskamer met prente van Shakespeare en Edna St Vincent Millay en albei die koninginne Elizabeth, die eerste en die tweede, teen die mure geplak. Op die swartbord agter haar, in haar eie netjiese bordkrytskrif, die onderwerp waaroor die standerd- agts vandag ’n paar sinne moet skryf: I shall always remember 1955 as the year when …
“Sorry, Miss Cronjé,” sê ’n gespierde lummel grinnikend in die agterste ry. “I had to make dead this fly.” En terwyl almal onderlangs proes, hou hy sy groot palm met die groenblink brommer wat hy pas vermorsel het na haar toe uit.
Op sulke oomblikke wonder sy waarom sy nog bodder. ’n Jong man soos Leendert van Niekerk, minstens twee jaar ouer as die meeste van sy klasmaats omdat hy al minstens twee standerds gedop het, gaan nooit leer om Shakespeare se taal te waardeer nie. En waarom sou hy ook? Hy gaan binnekort die boerdery by sy pa oorneem, begin vry na ’n meisie