Skepsel. Willem Anker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Willem Anker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802188
Скачать книгу
Die lens bewe. Die hele liewe skip is lewendig.

      Performance art het nog nooit sale volgemaak nie. Dit is meestal onkykbaar. Jy sien ’n vrou met ’n brandblusser in ’n galery rondhardloop en gemeenplase skree in Pools en jy weet dat jy met moord kan wegkom, maar dat jy eerder iets lewends wil maak. Kuns sonder libido is net iets werd omdat dit duur is. (Jy wil nie name noem nie, maar Jeff Koons.)

      Jy wil uitvind hoe ’n mens dans met ’n stoomtrein.

      Jy sal moet slim wees. Jou seksuele oriëntasie maak jou nie uniek nie. Dit is so oud soos Quasimodo en Pygmalion. In 2009 het ’n Nigeriese man met sy kussing getrou en in 2011 trou ’n ander ou met ’n Nintendo-karakter. Baie webblaaie vertel van die huwelike van Erika Eiffel met die toring, Eija-Riitta Eklöf-Berliner-Mauer met die Berlynse muur en Linda Ducharme met die kermiswiel genaamd Bruce. Die vrou wat trou met die heining. Die man en sy verhoudings met ’n Hammond-orrel en later ’n stoomlokomotief. Mense en hul klankborde, motors, knope. Hoe sommige mense seks het met hulle objekte of in hulle teenwoordigheid masturbeer, maar die meeste eerder sekslose, maar intieme emosionele verhoudings met hulle objekte het. Die verband tussen animisme en objektum-seksualiteit, die siel in elke objek. Sommige fokken sielkundiges wat verbande sien met Asperger’s, seksuele trauma en gender-disforie. Sapiens se geleidelike beweging na aseksualiteit. Die vrou wat verlief is op geskrewe woorde. Die trauma as ’n mens se geliefde – die Muur in Berlyn, die Torings in New York – voor jou oë op TV sterf.

      Gunnar neem jou af waar jy sprints doen op die dek van jou minnaar. Jy hardloop jou moeg op die lyf van staal, lê dan op die warm dek, jou wang teen die metaal.

      In die onderhoude ná die troue, vra jy vir hulle om ’n bietjie op te let hoe hulle oor hulle Apple Macs streel. Jy vertel hulle Andy Warhol het gewens hy kon in ’n motorfiets verander.

      Vir die film sny jy ’n opname van ’n onderhoud met ’n uitgeweke landgenoot op en behou net jou antwoorde:

      “Wel, dit ís ’n olietenkskip.”

      Sny.

      “Is jy nie ook bang vir jou minnaar nie?”

      Sny.

      “Ons senuweestelsels.”

      Sny.

      “Die seks? Jy bedoel watter onderdeel gaan waar? Ek kan jou dieselfde vra en jy sal ook nie antwoord nie.”

      In een van jou gunstelingskote sit jy op die dek van jou tenker, Sheep on Drugs T-shirt aan, wind wat onsuksesvol ruk aan jou styfgejelde hare, die uitsig soos ’n Windows screensaver, jou skinny jeans wyd oor een van die dunner pype van ’n dienspyplyn, en jy kan nie gelukkiger lyk nie.

      SLIMHUIS 2

      Vir ’n week ná haar pa se dood slaap sy in die stoorkamer wat agter die skuifboekrak weggesteek is. Hier is nie ’n Pris-oog nie. Hier hoor sy nie die geluide in die huis nie. Hier spook dit nie. Sy het ’n matras ingedra en vir haar ’n nes gemaak tussen die skoonmaakmiddels en besems. Bedags dwaal sy in die huis rond.

      Sy mis sigarette, haar voorskrif is amper op, maar sy het besluit om nie weer dorp toe te ry voor haar pligte volbring is nie. Dit is ’n ritueel wat sy moet uitspeel.

      Sy het lang gesprekke met Pris. Die Jack Russell snuif aanhoudend aan die kelderdeur.

      Die oggend van die agste dag staan oom Petrus voor die leefvertrek se groot venster. Hy klop en beduie vir haar om uit te kom.

      “Het Mevrou ’n matras?” vra hy. “’n Enkelbed een. My huis is mos nie groot nie, maar daar is plek vir jou.”

      Sy probeer stry, maar tien minute later is sy en oom Petrus besig om haar matras by die gang af te dra. Die hond spring teen hulle op, vreeslik opgewonde oor die avontuur, oor enige beweging van sy mensekameraad. Hulle dra die matras op hulle koppe sodat die bosse dit nie skraap nie. Hulle sukkel oor ’n duin.

      Oom Petrus het plek gemaak in sy huis. Hy het die twee stoele buitentoe gedra wat voor die rakke gestaan het met die veertien regterkunsbene, die vier-en-vyftig snow globes en die drie-en-twintig plastiekborde met Batman op.

      “Dit reën mos nie hierdie tyd van die jaar nie, hulle sal fine wees.”

      Hulle sit die matras neer en sy gaan haal beddegoed in die huis. Sy maak die vensters toe en groet vir Pris. Die slimhuis klink bekommerd dat dit ’n finale afskeid is. Sy belowe sy sal kom kuier. Sy moet na haar pa omsien. Rebecca sluit die voordeur en gaan trek by oom Petrus in.

      * * *

      Rebecca neem ’n paar oomblikke om die geluid van die see te herken. Dit is nie ’n TV nie, nie die motors op die deurpad nie. Die slimhuis registreer dat sy wakker word. Sy en die huis groet mekaar.

      Die vlotter dryf oor haar oogbal. Sy vryf oor haar oogkas en ooglid. Daar hang ’n draderige skaduwee oor haar wêreld. Elke keer wanneer sy daarop probeer fokus, glip dit weg onder haar ooglid, na die donker kant van haar oog, waar dit lê en wag dat sy dit kom soek.

      Sy haal haar foon uit. Die internet sê dat in middeljarige liggame, soos dié van Rebecca, die jelkomponent wat menslike oë hul ronde vorm gee, vinniger begin krimp. Die mikroskopiese vesels bondel dikwels saam tot oogvlotters, die vlekkies verderf wat tergend die gesigsveld binnedryf.

      Die huis deaktiveer die elektrochromiese ruite se verdonkering, maar hulle bly ondeursigtig. Die mis wat die ruite bedek, is presies dieselfde kleur as die slaapkamer se muurverf. (Craven & Rosé Palimpsest Eggshell, sal Ariel later vir haar sê, wanneer sy vra watter kleur die mis is.)

      Sy bly onder die duvet lê, in haar vensterlose kokon. Haar oë beweeg vinnig heen en weer. Sy speel met die wurmpie in haar oog.

      Die grond bak warm en ontbind die mis stuk vir stuk.

      Ariel wys haar hoe Henk se oggendmedikasie lyk sodat sy dit self vir hom kan gee wanneer hy wakker word. Vandag dra sy ’n besonder kort denimbroekie. Sy is besig om Rebecca ’n blitskursus te gee voor sy haar hier gaan los. Pris vra of sy die koffiemasjien moet aktiveer.

      “O ja, Pris, aktiveer die hel uit die ding uit.”

      “Jammer, Rebecca. Ek vind geen hel in die masjien nie.”

      Sy staan saam met Ariel buite op iets soos ’n patio sodat sy kan rook saam met haar koffie. Hulle kyk oor die steil baai daar onder, die branders wat lusteloos breek.

      Ariel vertel Henk was besig om ’n huistoer te gee toe hy inmekaargesak het. Gewoonlik het Ariel die huistoere alleen behartig, maar Henk het aangedring om hierdie spesifieke miljardêr deur die huis te neem. Die vier-en-dertigste rykste man in Suid-Afrika was besig om sy sake stelselmatig uit Suid-Afrika na China toe te verskuif voor hy self na België sou emigreer, maar hy sou steeds soms in sy heimat wou kom visvang. ’n Gryskop-Afrikaner wat sou verkies om met ’n ander gryskop-Afrikaner te onderhandel. Henk het skaars vertel van die druksensors onder die bamboesvloer wat jou voetstappe waarneem en die vooraf bepaalde privaat kliniek kontak sodra jy die grond tref, toe sy eie lyf meegee.

      Sy skiet die stompie oor die oprit van duisende skulpskerwe.

      “Jy hoef nie te gekom het nie,” sê Henk vir haar terwyl sy hom by die skuins gang afhelp, die Jack Russell en potplant agterna.

      Rebecca wonder hoe dit moet voel om ’n blinde Jack Russell te wees. Die hond volg die twee pratende Sapiens se voetstappe en die selfaangedrewe plant op wiele. Hy spits sy ore vir enige woorde wat sy baas hom geleer het. Die hond verstaan meer van die Sapiens se taal as die Sapiens van syne. Die hond kan ruik sy baas is besig om dood te gaan.

      “In die huis van ’n lopende lyk, ’n potplant op wiele en ’n blinde brak is trappe net ’n wrede grap,” sê haar pa in ’n verslete rooi paisley-japon wat sy onthou uit haar jeug, sy chemo-haarklossies in alle rigtings.

      Hy wil haar onmiddellik sy skepping wys. Sy probeer uitvra oor sy toestand; hy vertel haar van die optimale hoek waarteen die gang gebou is.

      “Goeiemôre, Henk,” sê die huis. “Sal ek die koffiemasjien aktiveer?”