Hoe meer ons oor die Beendere uitvind, hoe vreemder word hulle. Ek praat met Shannon, ’n paleontoloog van Ierland.
“Dit is soos met enige objek,” sê Shannon. “As jy lank genoeg na jou kombuisstoel kyk, word dit die vreemdste ding op aarde.”
Niemand praat ooit lank met Shannon nie. Ek hou van haar, maar sy freak die meeste mense uit.
Ek kyk af in die krater wat ons om die Beendere gegrawe het. Daar verrys hulle uit die ysgrond om hulle, sommige dikker as die oudste bome, sommige soos visgrate. Daar bars hulle uit in al die verkeerde rigtings.
Sommige mense hier sê dit is miskien twee of meer kreature wat saam begrawe is, minnaars wat saam ten gronde gegaan het. Ander meen dit was twee diere in ’n geveg. Onder die soldate hoor ek ’n grap dat dit ’n orgie van gedrogte was, wat in hulle waansin nie agtergekom het dat hulle in die slyk wegsak nie.
Van die Beendere krul weg en dan skerp terug na mekaar; aan die bopunte raak hulle amper, maar nooit heeltemal nie: amper iets soos ribbes, as ribbes heeltemal anders gelyk het.
“Ja, die grond dish vir ons vreemde goed op,” sit Shannon haar monoloog in die kroeg voort, toe die horlosie sê dis aand. “Jy moenie te veel probeer verstaan nie. Die aarde is fokken oorspronklik. Elke stofdeeltjie was betrokke by die skepping van die sterre; die anonieme materiale kom uit die donkerste hoeke. Nou maak stof ’n kombers om die aarde om goed soos hierdie Beendere weg te steek. En ons kan aanhou grawe hier, maar dan moet ons weet ons soek vir kak. Daar is niks so hol soos die aarde nie. Die aarde is vol plot holes.”
“Shannon,” sê ek. “Hou op, ek sukkel om te drink as jy so aangaan.”
“Onthou net,” sê sy toe sy opstaan, “wanneer ons so lekker grawe. As ons inval. Niemand het al ooit die aardkern gesien nie. Ons hoop maar dis daar. En wat daar onder rondkruip, dít wil jy nie weet nie.”
“Shannon,” sê ek, “jy lees te veel horror stories.”
“Ek het leer lees in die geologieklas.”
’n Helikopter vlieg oor die kamp wanneer ek bed toe stap. Ek gooi op oor die gesplete enormiteite in die groot gat, onwaarskynlik oopgespalk, soos kake wat die son wou vreet.
Ek bel vir Judith, ek probeer haar gerusstel. Almal op die eiland soek na hom. Hulle gaan hom kry. Hulle gaan hom terugbring na jou toe. Ja, natuurlik. Hy kan goed vir homself sorg. Ek is seker dis net een groot misverstand. Ons bring hom terug vir jou. Sy vra of sy moet vlieg. Nee, sê ek, bly waar jy is, dis niks om oor bekommerd te wees nie.
Die manne in die pakke en die parkas is weer terug. Hierdie keer kom haal hulle my waar ek besig is met ’n fyn stukkie Been wat nie daar moet wees nie.
“Het professor Hansen ooit terneergedruk gelyk?” Hulle plant hulle volgende saadjie.
“Jy bedoel het hy gelyk of hy wil selfmoord pleeg?” Hierdie keer speel ek nie saam nie.
“Ons het antidepressante in sy bagasie gekry.” Hulle het in sy goed gekrap. Ek weet hulle sou nooit toestemming gevra het nie, maar ek wonder of hulle vir Judith ook so blatant laat weet het dat hulle sy privaatheid geskend het.
Maer-man sê, soos die vorige keer, niks.
“Professor Hansen het geen geheim daarvan gemaak dat hy ’n depressielyer is nie.” Ek is sy enigste geheim. Hoop ek. “Maar die medikasie het gewerk. Sy gemoed was stabiel.” Hulle gaan nie sy pille blameer vir sy verdwyning nie.
“As u so sê.”
“Dis wat ek sê, ja.”
“Wat het u daar?” Die maer man wys na die Beentjie wat ek vashou.
“Ek het geen idee nie.”
Ons grawe iets soos ’n werwel uit (maar dit kan enigiets wees), so groot soos ’n woonstel in Tokio. Ons vind geen vinne of hande of pote nie. Sommige goed lyk soos walvisbene, ander soos gesmolte steierwerk. Iemand dink hy het die bokant van ’n kopbeen gevind. Hy roep almal nader, maar dan, toe hy verder grawe, staan almal terug. As dit ’n kopbeen is, weet ons minder as toe ons begin het. Ons aanvaar dit is iets anders en grawe aan. Ons neem monsters, katalogiseer, doen nog toetse, en elke dag vorder ons hoegenaamd niks.
Ek raak huiwerig vriende met Mariana. Ek vertrou nie heeltemal haar simpatie nie. Shannon en Mariana kom haal my saans en ons sit in die kroeg. Hulle hou aan nonsens praat en ek hoef aan niks te dink nie. Ek is nie gewoond aan soveel drank nie. Party aande huil ek op hulle skouers en ander aande gooi ek op in die badkamer. Ek weet hulle weet teen hierdie tyd hoekom ek so ontsteld is oor ’n verdwene kollega, maar ons het ’n verswygde kontrak om nie daaroor te praat nie.
Howard is steeds weg en dit is nou al ses dae.
Almal lees die berigte wat ons joernaliste skryf om die lesers te laat aanhou lees en ons lag almal saam, die joernaliste die hardste. Dan, soms, word iemand stil. Wat as al die stories, of net een van hulle, waar is? Waar los dit ons, in hierdie plek, in hierdie kosmos?
Howard is nog altyd weg en nou is dit amptelik te lank. As hy hier uitgestap het die sneeu in, sonder ’n tent, sonder voorrade, sonder ’n span honde wat hom na een van die verlate Russiese myndorpies kon neem, dan is hy nou dood.
Die snaaksste is die illustrasies van die Beendere wat in die poniekoerante verskyn. Net so snaaks is wat die fundamentaliste van enige aard te sê het. Volgroeide mans wat in hul ma’s se kelders sit en videospeletjies speel oorstroom die internet met teorieë uit die paperbacks wat hulle lees, terwyl hulle medemense bogrondse lewens lei: Die tyd het gekom vir alles wat daar onder is om boontoe te kom. Die goeie nuus is, hulle was reg, al hulle games en comics was reg; die slegte nuus is, die tyd vir mense is verby. Christene juig oor die eindtye wat uiteindelik hier is. Nuwe aanlynkultusse verskyn elke dag en maak miljoene. Elke dag word nuwe godsdienste gebore; elke dag eindig die wêreld op hoeveel nuwe maniere.
Hy is weg. Shannon sê ons het nie hierdie skepsel gevind nie. Dit het ons gevind.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.