“Genoeg nou met jou. Kom. Klim op.” Sy plant haar bene wyd, buk, hou haar arms na agter. “Kom, Pa. Jy weet jy gaan jou des moers val hier af. Oppitie.”
“Moenie simpel wees nie, Becca. Ek is net effe duiselig.”
“Henk! Fokken oppitie!”
Ná ’n talming van ag tellings sal die video-opname wys hoe Henk sy kruk los en op haar rug klim.
BuddhAI volg sy kliënte die huis in. “A two-year-old is kind of like having a blender, but you don’t have a top for it. At least, that is what Jerry Seinfeld said.”
“Shut up, Plant,” sê Henk.
Ariel wil weet hoekom Henk so moeg lyk, waar die kruk is. Dit lê op die dak, sê hy, in die koolbedding. Sal sy dit asseblief gaan haal? Hy wil vir Rebecca die huis wys. Ariel sit sy hawermoutpap in die mikrogolf, mompel iets en loop uit.
Terwyl hy sy pap eet, wys hy met wye handbewegings na die twaalf meter panoramiese venstermuur, “die ononderbroke vooraansig”.
“Come on, Pa. Vertel vir my.”
Hy neem groot happe, asof hy konstant sy mond vol kos wil hê. “Hulle het my ses maande gelede gediagnoseer.”
Hy vertel hoe hy drie jaar gelede van sy beleggings losgemaak het en die stuk grond gekoop het waar hy en sy dogter, en soms sy vrou, gaan kampeer het. Hy het die eiendom, aangrensend aan die nasionale park, as privaat natuurreservaat laat registreer en die regte mense oorreed om die heinings te lig.
Sy plan was ’n eiesoortige aftreeoord: vyftig erwe, eko-slimhuise in ’n volkome selfonderhoudende kompleks, met sy eie son- en windaangedrewe elektrisiteit, sy eie water. Die kompleks se sekuriteit en oorhoofse funksionering sou deur ’n sentrale rekenaarsisteem beheer word, met vertakkings in elke wooneenheid, waar die sentrale rekenaar as geïndividueerde virtuele assistent sou optree. Elke eienaar sou sy of haar virtuele assistent en huis kon aanpas volgens eie smaak, maar die basiese bouplan sou die ontwerp wees waaraan Barbara voor haar dood gewerk het. Die heinings is gespan, die erwe is uitgelê, die paaie is geteer en die huis en Pris-sisteem was nie ver van klaar nie, toe die dokters vir hom sê hy moet begin opskud.
Henk het die elektrisiën en loodgieter bedank vir hulle dienste. Die oop drade en pype het net so bly staan. Die eko- en slimtegnologie-eksperts is laat gaan. Hy het vir Ariel, ’n nagraadse student in binnenshuise ontwerp, gevra om in die huis aan te bly om die reklame en huistoere te behartig. Die skouhuis was nie klaar nie, maar hy wou in sy laaste maande woon in dit wat wel daar was. In Barbara se huis. Rebecca moet dit klaarmaak, as sy wil. Dit is hare.
“Ieder geval, Rebecca, oor die venstermuur: Low-E-driedubbelglasvensters filtreer die UV en ander dinge, maar laat rooi lig in, wat die huisplante toelaat om te fotosinteer. Bamboesvloere regdeur die huis, behalwe, soos jy kan sien, hier in die kombuis. Alles plaaslik verskaf.”
Sy volg nie wat hy sê oor die smart-verf teen die mure en die Gaudí-invloed in die leefarea nie.
“Liewe Jesus, Pa.”
Hy stop. “Okay. Okay. Jy wil weet. Van die siekte.”
“Why not? Die modernistiese olifant in die sitkamer?”
“Ek het geweet daar’s fout toe ek nie meer twee tjops op ’n slag kon eet nie. Verlede jaar iewers. ’n Klein bordjie kos en dit het gevoel of ek ’n Krismis-ete in het. Sooibrand uit die hel uit. Gaudí is Katalaans-modernisties. Toe kom die krampe.”
Die huis se kameras, sien sy in die dooie swart oë in die hoeke van die vertrek, hou die siek man dop, raam vir raam, sy bewegings, sy oogkontak en die afwesigheid daarvan.
Hy is hande-viervoet op die plaaslik verboude bamboesvloer van die leefvertrek om vir Rebecca die openinge van die sentrale stofsuigsisteem se pypwerk te wys. Die huis se sensors dink hy kry ’n aanval en hy moet vinnig vir Pris gerusstel. Rebecca help hom op en sit haar hande op sy skouers.
“Die krampe, Pa.”
“Maagkrampe wat nie wou weggaan nie. Ek kon nie eet of drink nie, kon nie slaap nie. Heeltyd karsiek. Die een dag diarree, dan weer ’n week lank hardlywig. Ontwerpers stal hulle stoele en tafels en smart-goeters hier uit sodat die voornemende kopers sommer die hele pakket kan koop. Alles, behalwe die meubels in my slaapkamer, my studeerkamer en natuurlik die kombuis. Kyk, Becca. Onthou jy dit glad nie?”
“Nee, Pa, ek onthou nie jou nuwe kombuis nie.”
“Kyk weer.”
“Moet sê, dit lyk bietjie soos ’n movie set uit die seventies. Linoleum tussen al die bamboes. Die laminated tafel steek bietjie af teen die res.”
“Ons kombuis in Aliceburg. Jy het onder daardie tafel sit en speel. ’n Tafel net soos daardie een.”
“Liewe Jesus. Jy lewe in ’n fokken pophuis van jou eie verlede.”
“Ons verlede. Ons huis.” BuddhAI het in ’n hoek vasgehaak en probeer tevergeefs omdraai. Henk vertel vir haar dat elke standaardhuisplan voorsiening maak daarvoor dat twee of drie van die meer persoonlike ruimtes, soos die hoofslaapkamer en kombuis, replikas kan wees van vorige wonings waarmee die kopers ’n spesiale affiniteit het – “’n konkretisering van herinneringe”, noem hy dit. Rebecca kyk rond in die kombuis, probeer van die objekte herken. Sy loop na die kombuisvenster en probeer dit oopmaak. Sy ruk aan die agterdeur tot sy sien daar is geen skarnier of slot nie.
“Dit maak nie oop nie. Ons is onder die grond. Die deur is in die muur ingebou. Die venster is net ’n ligboks.”
“Dit lyk soos daai fake vensters in soapies.”
“Maar jy kom dit nou eers agter.”
“Touché.”
Henk vertel haar van Barbara se resepteboeke wat in Pris se geheue gelaai is, hoe sy outomaties basiese inkopies aanlyn doen deur die inhoud van die yskas – ’n aangepaste replika uit die 1970’s – te lees.
“Ek kan nie onthou dat Ma ooit eens ’n eier gekook het nie.”
“Sy het gekook. Vroeër. Die slimhuis is ’n sensor-ingebedde ekosisteem, alle toestelle en datanetwerke is verbind in Pris, alles van die toaster tot die termostaat, die deurslotte. Ons sorg nie meer vir ons huise nie, ons huise sorg nou vir ons. Pris het selfs gesigherkenningsagteware. Sy herken jou. En jy sal haar ook herken. Pris, kyk vir Rebecca.”
“Ek sien jou, Rebecca.”
“Jy is creepy, Pris. Maak soos Ma en verbrand gou ’n sny toast.”
“Jammer, Rebecca. Ek verstaan nie die –”
“Pris, stop dit. Jy ook, Becca.” Henk kyk by die nagemaakte venster uit. “Ná ’n maand of so is ek dokter toe. Bietjie winderig en slegte spysvertering, sê die eerste dokter. Eet jogurt. IBS, sê die derde dokter. Pille vir die IBS, pille vir die pyn.” Hy gaan sit by die tafel uit sy gerepliseerde verlede. “Êrens in Junie, dink ek. Ek lê en skree soos ’n maer vark in die bed. Toe ek die bloed in die toiletbak sien, bel ek ’n taxi. Naaste hospitaal, asseblief. Ja, Meneer, hier’s groot fout, sê hulle. Boek my in en toe begin die toetse. IBS, my gat. ’Scuse the pun.”
“Drop by drop is the water pot filled. At least, that is what the Buddha said,” sê BuddhAI.
Henk staan op. “Pris, hou MacPlant in die kombuis, anders gaan ek hom by die fake ruit uitsmyt.”
“Enige tyd, Henk. Henk, jy is arm en lelik, maar ten minste is jy snaaks.”
“Nog een van Ma se grappies.”
“Jy onthou regtig nie, nè?”
“Die fake kombuis is pragtig, Pa. En toe? Jy was by die toetse?”
Henk kyk na Ariel wat op die Collodi&C-ontwerpersrusbank lê met ’n Wallpaper-tydskrif op haar tablet. “Kom, ek wys jou die res.”