Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318725
Скачать книгу
bied. Vroeg die volgende oggend het Tommy ’n oproep van ’n vriend gekry wat hom van ’n kontrak vertel het waarvoor hy kon tender. Hy het die persoon dadelik gekontak. Teen die einde van daardie dag het Tommy en Belinda ’n nuwe kontrak gesluit vir vier keer soveel as die een wat hulle verloor het. God het voorsien.

      ’n Seun op pad na ’n sendingreis: Dit was ’n Vrydagmiddag toe Theresa Daschner vir die soveelste keer langs haar bed kniel om met God oor haar seun se uitreik na Malawi te praat. As enkelma kon sy dit nie bekostig nie, maar sy het vertrou dat God haar van die geld sou voorsien. Terwyl Theresa met God gesels het, het sy duidelik ervaar dat sy ’n brief aan God moes skryf waarin sy elke behoefte wat hulle gehad het en ook die bedrag wat haar seun benodig, moet neerskryf. Deur haar trane het sy die brief afgesluit: “God, ek hoop om binnekort van U te hoor. Liefde, Theresa.” Niemand behalwe God het van Theresa se behoefte geweet nie. Toe sy en haar seun daardie Sondagoggend ná die kerkdiens by die kerk uitstap, het ’n onbekende man haar van agter aan haar arm gevat en ’n klein koevertjie in haar hand gedruk. In die motor het Theresa die koevert oopgemaak en in trane na die geld gekyk. Dit was meer as dubbeld die bedrag waarvoor sy God gevra het. Later het hulle uitgevind dat die weldoener agter Theresa en haar seun in die kerk gestaan het, toe hy ervaar hoe God vir hom sê: “Seën hulle groot!”

      ’n Pensioenaris: As weduwee en pensioenaris het Babs de Nysschen reeds vroeg geleer om oordeelkundig te werk met die klein pensioen en ook die honorarium wat sy verdien het as opsigter van die kompleks waarin sy gewoon het.

      In 2009 het sy ’n kerkbasaar saam met haar vriende bygewoon en meer geld uitgegee as wat sy kon bekostig. Soos gewoonlik het Babs met God oor hierdie saak gesels. Die Sondagoggend ná haar gebed is Babs vroeg kerk toe om te verseker dat alles by die kerk reg was vir die diens. Toe sy in haar motor klim en die paneelkissie oopslaan om haar handskoene daarin te bêre, het ’n koevert haar aandag getrek wat sy nie voorheen daar gesien het nie. Sy het dit oopgemaak. In die koevert was ’n “dankie”-briefie van haar buurvrou vir wie sy ’n paar weke tevore ’n saamrygeleentheid werk toe gegee het. Saam met die briefie was die presiese bedrag wat Babs benodig het om die maand deur te sien.

      Lukas 11:9-10: “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

      God is ons FINANSIER. Al die geld van die wêreld behoort aan Hom. Ek moedig jou aan om op Hom te vertrou vir elke deurbraak.

      Vader God, baie dankie dat ek my nie oor die dag van môre hoef te bekommer nie. Ek weet dat U vir my sal voorsien. Help my om ’n goeie rentmeester te wees van alles wat U vir my gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na foto’s van die stories by www.benescke.co.za

      week 12 . dag 3

      God is ons finansier

      Daar was niks meer kos in die huis nie. Slegs een karige meubelstuk het in die leefkamer oorgebly nadat die balju daar was. Michélle het ’n knop in haar keel gekry toe sy kyk hoe haar man, Roelf, moedeloos op die enkelbedjie in die leefkamer lê. Toe Michélle haar trane nie verder kon terughou nie, het sy omgedraai in die rigting van hul slaapkamer. Hiér sou sy vir die soveelste keer op haar knieë voor God neerval en om uitkoms smeek.

      Twee jaar tevore het die Strydom-gesin ’n goeie leefstyl gehandhaaf. Roelf was die hospitaalbestuurder op die dorp. Hulle het in ’n gemaklike huis gewoon, twee voertuie besit en met Roelf se salaris kon Michélle sonder stres voltyds ma vir hul kinders wees. Dit het alles verander toe Roelf by die huis opdaag met die nuus dat hy uit sy werk bedank het. Hy wou sy eie onderneming begin. Maande lank het Roelf hard gewerk om sy onderneming aan die gang te kry. Ná twee jaar was die Strydoms se reserwekapitaal opgedroog. Die kinders moes menige dae sonder kos skool toe gaan en die balju het aan hul deur begin hamer. In ’n kort tydjie het hulle hul motors, hul huis en ook die meeste van hul meubels verloor.

      Van Michélle se welmenende Christen-vriende het haar in hierdie tyd begin aanraai om van Roelf te skei omdat hy “nie vir haar en die kinders kon sorg nie”. Sy het egter besef dis teen God se wil en het saam met Roelf aangehou om God te vertrou vir ’n deurbraak.

      Op daardie moedelose dag in die leë huis het Michélle op haar bed neergeval. Deur haar trane het sy die verhaal van Dawid en Goliat in haar Bybel begin lees. Die storie het skielik voor haar geestesoog afgespeel. Sy kon sien hoe die reus van armoede op haar afstap. Sy kon hoor hoe hy haar en haar gesin met dreigemente tart dat hulle nooit uit hierdie finansiële krisis sal kom nie. Net soos Dawid by die riviertjie gehurk het om vyf klippies op te tel, kon Michélle haarself by die water sien hurk. Sy het die Heilige Gees hoor vra: “Michélle, wat wéét jy van My? Wat lê in jou hart soos die klippie in Dawid se hand lê?” Terwyl Michélle ’n oomblik oor die moeilike maande teruggedink het, het sy begin onthou hoe God vir hulle gesorg het. In haar gees het sy ervaar hoe haar geloof al hoe sterker word.

      Toe Michélle by die vyfde karaktereienskap van God kom, het sy weer die Heilige Gees se fluisterstem gehoor: “Michélle, dit is met hierdie ‘klippies’ (waarhede) wat julle jul armoede-reus sal verslaan! Hou aan om op My te vertrou.”

      Dít is wat die Strydoms gedoen het. Elke keer wanneer die negatiwiteit gedreig het om hulle te oorweldig, het hulle hulself herinner aan wie God is. Hulle het begin om dit wat hulle wel nog gehad het, volgens Bybelse beginsels te bestuur. Roelf het mettertyd weer ’n goeie werk gekry. Vandag, ses jaar later, staan die gesin steeds verwonderd oor hoe God hul situasie omgedraai het. Vandag besit hulle byna twee keer soveel as wat hulle voor die krisis gehad het.

      Filippense 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

      Verkeer jy vandag in ’n finansiële krisis? Kyk ’n slag terug en herinner jouself aan elke situasie waar God in die verlede vir jou gesorg het. Onthou, Hy kan en wil enige moeilike situasie in jou lewe verander. Gaan jy Hom daarmee vertrou?

      Vader God, dankie vir elke besitting wat ek uit u hand ontvang. Ek weet dat alles in die hemel en op aarde aan U behoort en dat ek slegs rentmeester van u besittings is. Help my om nie negatief te raak wanneer dit voel asof U my nie dadelik antwoord nie, maar om steeds my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Michélle en Roelf by www.benescke.co.za

      week 12 . dag 4

      Teksverse en vrae

      Teksverse vir die week

      •Lukas 11:9-10: “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

      •Haggai 2:8: “Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige.”

      •Maleagi 3:8-10: “Sal ’n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: ‘Waarvan beroof ons U?’ Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds ’n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

      •Spreuke 3:9-10: “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”

      •1 Timoteus 6:10: “Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.”

      Vrae om oor na te dink

      1.God is ons FINANSIER. Wat beteken dit vir jou?

      2.Lees weer Lukas 11:9-10. Vertrou jy God genoeg om Hom te vra wat jy benodig?

      3.Lees Matteus 6:24. Kan jy met ’n geruste hart sê dat God vir