Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
suig gesellig aan die strooitjies. Vir ’n oomblik verlore in suiker.

      “Ah, oblivion!” lag Elizabeth.

      “Kan ek jou Beth noem?”

      Verras kyk Elizabeth op: “Ja? Seker? Maar hoekom?”

      Thuli trek haar skouers op. “Elizabeth klink so streng. Ek hou van Beth. Dit pas beter by jou.”

      “Beth dan.”

      Toe hul strooitjies begin snork, skuif hulle die glase eenkant.

      Maar Elizabeth bly senuagtig speel met haar strooitjie. Sy rol dit soos ’n slangetjie op en strek dit weer uit, terwyl Thuli haar hande dophou.

      “Ek sou sê, moenie uitgee nie,” begin Thuli. “Dit stel die studenteproteste in ’n slegte lig. Ek is nie gemaklik daarmee nie. Dit sal ook die indruk skep dat jul uitgewery nie woke is nie. Dat julle nie verstaan wat kulturele appropriasie is nie.”

      Elizabeth sug. “Vir my is die sterk punt van die boek dat elke karakter sy of haar kans kry om hul sê te sê. Dink jy nie dis ideologies mooi gebalanseerd nie? Dalk is dit eintlik ’n baie liberale uitbeelding van ons land se probleme, dan nie?”

      Thuli byt op haar lip, en Elizabeth voeg haastig by: “Ek bedoel, ek vra jou nou die vrae wat my baas my gaan vra.”

      “Elizabeth, ek’s jammer om te sê, die liberalisme waarop julle so trots is en wat julle so deugdelik laat voel, is net ’n invoerproduk van die kolonialisme. ’n Verdowingsmiddel. Wat die pyn van onderdrukking verdoof.”

      Elizabeth vee oor haar oë. “Ek het vermoed jy sal dit sê, Thuli.” Dan voeg sy by. “Weet jy wat bemarking aan my sal sê?”

      “Nee?”

      “Hulle sal my herinner dat EFF-kiesers en die Valliste nie ons lesers is nie. Dis nie ons mark nie. Vir ons tradisionele lesersmark kan die boek interessant wees. Selfs ’n topverkoper.

      “En jy weet, Thuli, as ek dit nie uitgee nie, wat die intellectuals vir my gaan sê: As julle uitgewery hierdie pad inslaan, begin julle iets wat net so erg is as staatsensuur, naamlik selfsensuur.

      “Hulle gaan my vra: Het jy die reg as jy iemand sien wat ’n boek sit en lees met inhoud wat jou nie aanstaan nie …” Elizabeth huiwer.

      “Het jy die reg om daardie boek uit haar hande te gryp?

      “Selfsensuur. Wanneer skrywers katvoet is, heeltyd, oor wie hulle mag skrywe, watter storie hulle kan vertel.

      “Hulle gaan vir my sê: Wil ons ’n land word waar mense mekaar se tonge uitsny en mekaar se oë toedruk? Wil julle verbeelding beperk en als polisieer wat volg ná daardie magic woorde Eendag was daar? Moet skrywers nou ’n pasboek dra wat hul bewegingsvryheid gaan beperk? Net as jy swart is mag jy op swart terrein inbeweeg?

      “Is die wêreld se stories nie juis die vrug van daardie wonderlike, onbeperkte spasie ná Eendag was daar nie?

      “Kan ons nou net van skrywers outobiografieë verwag, want hulle dúrf nie skryf oor dié en daai wat nie is wat húlle is nie …?

      “’n Kollega van my het onlangs daar op Stellenbosch by die universiteit gaan praat oor Elsa Joubert se boek Die swerfjare van Poppie Nongena, hoedat daardie boek ’n generasie Afrikaners se koppe gehelp swaai het, toe hulle die storie lees van die swart vrou Poppie wat in ’n township bly en toe vir die eerste keer besef hoe die lewe aan die verkeerde kant van apartheid is. Die skrywer het met ’n bandopnemer gesit en dis die storie wat haar huishulp haar vertel het. ’n Dokumentêre roman. Ken jy dit?”

      Thuli skud haar kop.

      “Dis ’n uitstekende boek, Thuli. Maar by die universiteit sê die jong wit studente vir my kollega dis ’n totaal verkeerde boek. Die boek kán nie. Dit mag nie gebeur het nie. Hulle kan die boek nie verduur nie.

      “Daai boek is destyds wyd geprys. Maar nou hoor ons die skrywer het, haar goeie bedoelings om apartheid se werklikhede vir haar gehoor uit te beeld ten spyt, die swart vrou se storie gesteel.

      “En tog het die boek wonderlike begrip gegee! Dit het Afrikaners in magsposisies se koppe geswaai.” Elizabeth draai haar kop skuins en kyk na Thuli. “Ek bedoel …” Elizabeth skuif nou op haar stoel. Haar wange is rooi. “Thuli, in hierdie era waar elke mens ’n citizen journo is en elkeen op Twitter kan spring of op Facebook sê presies wat hy of sy dink, nou wil julle stórie polisieer?

      “Kyk hoe dwing julle my om as uitgewer my skrywers se werk eers te meet aan politieke korrektheid. Met alle respek aan jou, dink jy dis vir my lekker om ’n skrywer hieraan te onderwerp?

      “Gaan julle ook skilders ’n pasboek laat dra, en beeldhouers?

      “Dis tog kulturele segregasie wanneer jy sê net swart skrywers mag swart ervaring uitbeeld, nie waar nie? ’n Soort onteiening van die gees? Nie waar nie?

      “Bedoel jy, Thuli, ’n wit filmmaker moet stories skiet waarin net wit mense optree? Waar gaan hulle nou sulke fantasieë kry in hierdie land van ons?” Sy beduie om hulle. “Kyk hier om ons? Watter soort spierwit fantasieland gaan hulle dan moet uitbeeld?

      “Het alle kulture nie deur vermenging ontstaan en gegroei deur die eeue nie? Wil julle kulturele konsentrasiekampe oprig? Hoe gaan ons dan ooit ’n gedeelde menslikheid verbéél?”

      #

      “Jy klink nes daardie Ian-vriend van jou.”

      Elizabeth bloos bloedrooi. “Nee, Thuli, ek is nie Ian nie … Ek …”

      “En ek is nie jou wit boeretannie-leser nie. Ek is jonk en swart en ek weet wat ek hier sien.” Thuli tik met haar wysvinger op die manuskrip. “Ek sien nóg ’n geval waar my storie, mý storie, gesteel word.”

      “Maar Thuli …”

      “Ek behou die reg voor om my ervaring as swart vrou, my lived reality, sélf uit te beeld. Jou besware kom vanuit ’n posisie van bevoorregting.

      “En bevoorregting maak blind.”

      Elizabeth vee oor haar oë. “Steeds. Segregasie, Thuli.”

      Thuli skud haar kop. “Hierdie manuskrip kan vir julle groot probleme bring.”

      Elizabeth bedink haar. Sy sug. “Ek weet. En ek weet wat buitelandse uitgewers in Frankfurt gaan sê: Ons raak nie hieraan nie. Ek hoor dit nou al.”

      Thuli knik. “Presies.” Sy dink na. “Maar my redes, myne as jou sensitiwiteitsleser, my redes verskil van húlle redes. Hul redes is bemarking en verkope. Besigheid. Loopbane. Hul handelsmerkreputasie as uitgewers.”

      Elizabeth skud haar kop. Sy’t haar hande weerskante van haar gesig. “Soms dink ek die hele wêreld is aan die mal raak. Ek …”

      “Nee, wag, Beth. Ek gaan jou sê hoekom ons hier ’n geval het van no platform …” Hulle kyk mekaar ’n oomblik in die oë. Dis toe, dink Thuli dikwels agterna, dat sy en hierdie jong vrou saam ’n besluit geneem het: Hulle sal bly praat, ondanks wat gesê word.

      “My redes is glashelder,” gaan sy nou sagter voort. “Dis baie eenvoudig. Hierdie storie is net nie waar nie.

      “Van die oomblik dat hierdie …” – sy tik op die bladsy – “… wit man begin tik het aan die storie, was dit vals. Toe hy boaan die eerste folio skrywe: Hoofstuk een.

      “Toe is dit al ’n leuen.”

      Thuli skud haar kop heen en weer. “No platform. No platform.”

      #

      “Sjoe, Thuli.”

      8

      Futsek

      Hy’t ’n PVC-raam so hy’s lig die man wat hom gejump het in sy groot wit lorrie en hiernatoe gebring en hom uitgeluister het en later vioolmusiek gestream het via bluetooth deur die bose soundlink speakers