Hulle sit al en Guptas drink, daai lang liter-biere, terwyl die polisie nog diékant sukkel met hulle ou bakkies.
So jy kan die bankwerkers seker nie blameer dat hulle my só sit en kyk nie. Elke ou wat hier inkom, is potentially life-threatening. Ek verstaan daai. Daai robbers dra ook lounge shirts, nes ek nou. Netjiese pakke. Entrepreneurs. Sakemanne.
Onse nuwe executives.
Hok binne hok binne hok, binne-in die hart van die hok is die bankkluis.
Ek sit voor haar. Student Loans. Tussen ons staan haar desktop. Sy bestuur haar desktop asof hy die konsole van ’n army-trok is. Loer vir my oor die skerm toe ek inkom. Hands on controls.
White capital.
Sy’s nie lus vir hierdie dag nie, sê haar gesig.
En nie lus vir hierdie soveelste bedelaar nie, lees ek in haar skouers soos sy defensive daar sit.
Naels swart geverf. Wit tannie, oorgery tot hier van Parow se suburb-kant af, dink ek.
Sy kyk my aan. Fire haar first shot. “Hoekom het jy nie aanlyn aansoek gedoen nie? Meneer.”
Daardie laaste woordjie is ’n toegewing. Dit klink meer soos ’n belediging as ’n beleefdheid.
“My data is gedaan.”
“Kan jy nie internettoegang kry op die kampus nie?” Sy wag nie eens tot ek antwoord nie. “Ís jy ooit ’n student?”
“Die kampus is toe. Fees Must Fall het alle ingange geblok.”
“En jy’s nie een van hulle nie?”
Ek skud my kop. “Ek is van die Noord-Kaap.”
Sy flikker op. “So jy’s nie ’n betoger nie?”
“Ek doen Translation Studies,” sê ek.
“En wat is daai in Afrikaans?” Sy beweeg sodat sy my verby haar skerm beter kan sien. “Sal jy werk kry eendag? Gebruik daai sirkus van ’n Zuma-parlement nog vertalers?”
Ek haal my skouers op. “Net ’n tienduisend. Net om my jaar deur te sien. Ons moet dalk eers in Januarie sit vir eksamens. Klasse is hierdie week suspended weens die proteste. Ek moet langer in die Kaap bly, tot dan.”
“Jou finansiële rekord lyk nie baie goed nie.” Terwyl sy by haar skerm inbuk: “Ek sê jou, meneer Maarman. Daai Fees Must Fall-kinders het nog nie één eerlike dag se werk ingesit nie. Hulle ma’s en pa’s is vet katte in die regering en vreet die trog leeg terwyl die kinders op die Kasteel se mure pronk en ek en jy hier sit.
“Plaas dat die studente hul woede neem na die regering, ja, na hul eie ouers in daardie regering wat die land nou so die afgrond in bestuur.”
Haar vingers hamer oor die toetsbord voor haar. Terwyl sy praat, skiet haar oë oor die skerm.
“Wag maar tot hulle hul verniet grade gekry het en hulle in die werkplek moet uithaal en wys. Hulle sal gou op hul plek gesit word. Daar’s nie plek vir ’n geskreeuery en brandstekery in die régte wêreld nie.
“Protest gaan hulle dán niks help nie.
“Wie dink jy gaan ooit ’n job gee vir een van daardie studenteleiers wat elke aand op die TV-nuus is? ’n Werkgewer gaan mos weet jy pluk ’n lat vir jouself.
“En as hulle so aanhou, ek sê jou, gaan hul grade in elk geval niks werd wees nie. Teen daai tyd is al die goeie lektore al weg en die universiteite boskolleges.
“Wag maar, wag maar tot hulle die regte wêreld sien.
“Buitendien, ek het ’n vermoede. Julle betogers soek net ’n easy route na die werksplek. Julle kom hier by my in met smartphones en boetiekklere. Dis al wat julle wil hê. Dit gaan als oor geld.
“As julle eers jul cushy jobs gekry het, gaan julle geen woord meer sê oor economic justice en armoede en decolonialisation en cultural appropriation en Africanness en wat julle ook al nog oor praat nie.
“Wag en kyk jy maar.”
#
Die regte wêreld, Antie, wil ek aan haar sê, is Fagan’s Farm se straatjies. Kom ruik jy hoe stink dit daar as die kakhuise vol raak. Kom kyk hoe lyk dit. Jou oog sal goed sien wat julle whities mos graag sien. Vir jou sal dit die laagste vorm van lewe wees. Jy sal crime sien, jy sal oorbevolking sien. Krioel, is die woord wat jy sal gebruik. Ek hoop nie ek is reg nie, maar dalk sal die woord ape by jou opkom.
Die kans is goed, Antie.
Ek weet hoe jy kyk. Jy sien vuil en arm en stink en ape.
Ek weet. Antie, ek weet.
Tannie, gee my net my geld dat ek kan aangaan.
’n Groot benoudheid gryp my vas. Die vrou voor my met haar swart naels, die swart moesie op haar keel wat spring terwyl sy praat, die makeup wat nie ’n stúkkie natural skin die lig laat sien nie.
Die gespuite hare, die kuif soos ’n brander wat breek. Pikswart pupille. Wit vel, nog nooit son gesien nie. Bleek, bleek. Die Sterns-ringe, blink en geknop van die bling. Klein sweetdruppeltjies op die ligte snorretjie wat swart lyk as sy haar kop draai en die lig van die skerm reg val.
“Ek wil net deurkom, Mevrou, my diploma vat en klaarkry. Ek soek net ten thousand, daai’s al.”
Sy kyk op. “Dáái’s al? Sê jy? Dáái? Jy praat Capey?” Die agterdog is terug. “Ek dag jy’s ’n Kleurling van die Noord-Kaap? Daar praat julle mos nie Capey nie?”
Sy lyk triomfantlik. Victorious. Sy is trots op haar vermoë om leningsaansoekers uit te vang. Een misstappie en jou hele liegstorie val plat, sê haar blink oë. Hier vang sy nou weer ’n klein bliksem uit.
“Hoe weet ek ek kan jou glo?”
My kop raas. Kleurling! “Mevrou kan tog iemand bel. U kan bel …”
“Wie?”
My kop hardloop. Iemand wat by haar gewig sal dra. Doktor Eliot? Nee, nee, hy’s so private school-Engels, sy sal hom nooit vertrou nie. Hy’s so deur die mis en deurmekaar; dalk ken hy nie eens my naam nie. Ek is stil in sy klas. Dalk sê hy iets oor my stilte. “Oh, yes, the quiet one, no, I’m afraid I don’t really … I’m terribly …”
Stille waters, diepe grond. So iets. Netnou sê hy so iets.
Brand! Ian Brand!
“Brand. Meneer Brand. Hy’s …” Ek krap in my geheue, waar nou weer? Waar is sy kantoor?
Waarheen stap hy, so koerant onder die arm, wanneer klas klaar is?
“Oh, yes. Brand. Hy’s ’n prokureur, hy’s ’n belangrike prokureur, hy …”
“En is meneer Brand op die universiteitspersoneel?”
“Nee, nee, hy werk in die Foreshore.” Ek voel ek wil uithardloop. Die vorige nag het die wind so hard deurgekom daar by die shelter dat ons teen twee-uur die oggend ekstra tou moes vat om die sinkplate se ente teen die dun boomstampies vas te woel.
Terwyl ons besig was, het die wind die een seil geskep en hy’t in die wind begin wapper, sy punte het soos geweerskote geklap, en toe vat die wind hom en hy dryf soos ’n groot swart vlermuis oor die highway, teen ’n kar se windscreen aan en klou eers vas, maar gelukkig ruk hy weer los en skiet die lug in.
Toe slaan die seil ’n taxi en die taxi skiet hier na regs, stad se kant toe, met die swart blinddoek oor sy voorkant. Ek het geluister, maar daar was geen crash nie; ek het verwag hy gaan die embankment strike want hy ry blind.
“Luister, Mevrou.” Ek leun vorentoe. “Hier het ek dan nou my studenterekord vir jou gegee. Daar lê dit.”
Sy