Sy is nêrens heen op pad nie.
Agter haar, onsigbaar, is daar ook niks.
Dis net sy. Beweeg. Beweeg. Sy móét.
Vorentoe.
#
My ma. My arme, arme ma.
Dis maande ná haar gesprek met Beth in die koffiewinkel in Kuilsrivier. Dit voel soos ’n ander lewe, ’n ander wêreld. Daardie seminare!
Thuli sit in Shanghai se Franse Konsessie in die boekwinkel met die swart deur met haar selfoon in haar skoot. Dit is oorverhit, asof die gesprek dit ontstel het. Dis so warm dat dit haar hand byna brand.
Sy’t pas ’n WeChat-boodskap, kwaad, aan haar pa afgevuur:
Fees Must Fall gaan nie net oor fooie nie, Pa. Dit moet die harde werk van die generasie van die Freedom Charter en die generasie van Soweto 1976 verder vat. Pa-hulle doen dit nie. Ons gaan dit doen. Dis al. En dis my laaste boodskap oor politiek. Ek wil nie ooit, ooit weer met Pa oor die politiek praat nie, asseblief. Julle’t opgemors. Julle. As ek nog een keer Pa se antwoord moet hoor wanneer iemand Pa vra hoe dit gaan, word ek mal. “Ek eet, my maat. Ek eet lekker.”
En dan nóg ene. Kwaaier:
Hierdie lyf van my, opgeneuk deur júlle rubberkoeëls. Hierdie lyf, Pa, uitgesluit uit als. Het Pa al daar ingestap, alleen, tussen daardie geboue van UCT in? Gaan daardie biblioteek in, ’n fort van Westerse denke. Die boeke gestapel om jou, soos mure. Ja, doen dit bietjie elke dag. Gaan loop daar. Stap in daardie gange af met daardie wit lektore wat jy kan sien sit, elkeen agter sy fort van ’n lessenaar, en hy kyk as jy verbyloop. Jy weet wat hy dink: Difficult black student. Ja. Dan voel jy dit aan jou lyf, Pa. En dan skiet jou eie regering jou nog in die rug ook.
Nee, Pa, dis klaar. Dis al. Eet maar lekker, jy en Sello.
Jou dogter, Thuli.
#
In haar gedagtes, ontstig deur die gesprek, is sy skielik terug in die Yu-tuin, met sy jasmynstruike, bamboes en gestapelde spoelklip. Dis ’n labirint met toeriste wat langs die klippaadjies wandel, toustaan by nou bruggies wat oor waterpoele span of stilweg ’n klompie trappies klim om in ’n onverwagte hoek, koel onder ’n bakhand klip en skuins onder ’n boom se takke in, ’n oomblik te rus.
Stadig beweeg ’n lang, maer man met ’n strooihoed deur die tuin. Terwyl Thuli op die paadjies verdwaal en sukkel om tussen vurke te kies en te besluit of sy al voorheen op hierdie spesifieke roete was, en nie meer noord of suid kan uitmaak nie, kom sy hom dikwels teë waar hy met ’n vangnet met ’n lang steel staan.
Nooit kyk hy na die drentelende toeriste wat soms by ’n trappie talm om ’n slapende waterskilpad op ’n klipbank in die son te bekyk of te wag op hul beurt om met kronkelende kliptrappies op te loop nie. Nooit maak hy oogkontak met haar waar hy botstil staan en kyk na die groot, geduldige goudvisse wat tydsaam en vetgevoer in die skadu’s wag en net dan en wan uitbondel in ’n vertoning van goud in die sonplasse nie.
Hierdie tuin is in die sestiende eeu gebou en party kliphoeke is glad gevat. Jy soek verniet feng shui hier, het Thuli gou ontdek. Dis asof almal hulle freneties haas om eers die doolhof uit te pluis, hoe paadjie op paadjie inkrul, hoedat jy telkens om verwronge stamme en rotswande teruggebring word na waar jy al was, en asof Thuli telkens die stil man teëkom waar hy versigtig buk en stadig ’n papiertjie uit die water lig, of eenkeer, toe sy weer digby die ingang beland, ’n drywende Coke-blikkie waaraan ’n trossie goudvisse reeds hang, uitskep.
Sy begin by die Saal van die Drie Koringhalms, waar vrugte van die oes uitgekerf is op die houtdeure en ’n muwwe reuk hang.
Deur die Kamer van Tienduisend Blomme, en die Saal van die Aankomende Lente, waar die rebelgroep die Kleinswaarde hul hoofkwartier in 1853 gehad het.
Geskiedenis, ruik Thuli, in die bedrieglike tuin. Die tuin is tydens die Opiumoorloë verflenter deur Britse offisiere wat barakke daar gehad het, en tydens die Taiping-rebellie het die Franse hier uit weerwraak verwoesting kom saai nadat hul Konsessie aangeval is.
Kolonialisme, snuif Thuli.
En net een keer, toe sy opkyk van waar sy oor ’n donker poel buk waarin sy haar verbeel daar beweging was, in ’n onverwagse oomblik, toe sy alleen was digby ’n voetbruggie, in daardie oomblik dat sy opkyk, kyk sy vas in sy swart oë wat haar indringend aankyk terwyl hy leun op sy lang vangnet waarin daar op die poelbodem reeds ’n vis vasgevang is.
#
Toe hul oë ontmoet, gaan hy vinnig voort met sy werk. Hy skep die vis met ’n glinstering van swaaiende waterdruppels uit en gooi hom, asof hy daarvoor vies is, met ’n ruk van die vangnet deur die lug sodat die vis in ’n goue boog waarin hy wriemel soos ’n spier wat uit ’n liggaam gesny is, ’n ent verder in die water val.
’n Volslae onnodige handeling.
’n Woede, hier in slegs haar teenwoordigheid.
#
Met net die geritsel van bamboesblare, en die vis wat verskrik soos blits in donker water verdwyn.
9
Memento Park, Boedapest
Elizabeth, ek vind in hierdie stad onderdrukte woede en ’n verslaentheid diep onder die nuwe energieë.
En hier in die mistigheid van Europa verlang ek na die tye toe my oupa nog geleef het en ek nog kind was en my pa ons teruggeneem het, gereeld, na die dorpie waar hy as klein seuntjie destyds die dorpsbiblioteek, in sy eie woorde, flenters gelees het.
Bedevaarte was dié road trips Karoo toe vir die Brands van Welgemoed, Bellville. Terug “land toe”, soos my pa die Xhosa-term oorgeneem het.
En ek verlang na die gesellige rit, in daardie jare voordat die N1 geword het wat hy deesdae is, meedoënloos met sy truckers aan’t jaag tussen petrostops na hul families ver suid, in Wellington of Kraaifontein.
Hulle jaag en hou die skouers van die pad angstig dop vir die petrolbomme wat deesdae na die truckers gegooi word. Skielik landwyd, asof georganiseer, op al die hoofroetes: hierdie oorlog teen truckers.
Ek verlang na die verrinneweerde groepie begrafnisgangers tussen bloekombome, uitgelewer om die oop graf, in swart opgetof in die blakende hitte. Ek mis die menslikheid van melktert, en die nostalgie van padtoebroodjies en mossies in die peperbome.
Die bedeesdheid van ’n Karoodorpie om vieruur op ’n Sondagmiddag.
Die sooi wat swart kantel voor die ploeg. Die bees wat sag poep aan stoomdrolle.
En ons gesin wat reissuf en selfbewus, stedelinge, voor die dorpsbibliotekie uit my pa se blink Benz klim en versigtig, eerbiedig, ja, elke jaar dieselfde ritueel, die bibliotekie binnegaan.
En Pa wat ons lei, verwonderd, na ’n klein tafeltjie in die hoek. “Hier,” sê hy dan elke jaar. “Hier het ek elke middag gesit.”
Dan het Ma geantwoord: “In hierdie biblioteek aan die einde van die wêreld.”
#
Die man wat die taxi bestuur na Memento Park, Boedapest, is bleek. Ian sit agter. Hy is vandag in swart geklee. Hy het sy swart brilraam op. Dag swart teen die agtergrond van die mis wat oral sweef, sal goed lyk.
Die taxibestuurder se linkerhand op die stuurwiel bewe liggies. Die man is verby sy middeljare, in grys geklee. Nie kortaf en ongemanierd nie. Eerder hiperkorrek, gewillig en terneergedruk.
’n Produk, dink Ian, van onderdrukte jeugjare agter die Ystergordyn. Watter snert moes hy nie aanhoor in sy vormingsjare nie.
Toe verander die verkeersreëls opeens. En nou, lank ná die val van die Berlynse muur, het hy ’n houding van permanente teleurstelling. Niks gaan hom weer opbeur nie.
Só lyk ’n man wanneer die