Die seders van Libanon. Adriana Faling. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Adriana Faling
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321527
Скачать книгу

      “Ja,” antwoord Saleh. “Ons bekering tot die Christendom was ’n baie groot skande vir die familie. ’n Vriend van ons wat op die luukse Nylbote werk, het dit gelukkig sien gebeur en Ashraf se lewe gered. Hy het my ook vroeër help ontsnap – ons is albei ons lewens aan Farouk verskuldig. Hy het Ashraf versorg tot hy sterk genoeg was om te reis.”

      “Ek het toe uiteindelik by Saleh aangesluit by ’n Christen-dissipelskapsentrum in die woestyn waarheen haar werkgewer haar geneem het. Ek was nog verswak, maar oorstelp om betyds te wees vir Emmanuel se geboorte kort daarna,” vul Ashraf aan.

      Yana skud haar kop verstom. “Genugtig, dit is genade!”

      “Dit was ongelukkig nie die einde nie.” Ashraf se gesig versomber. “’n Paar weke later het daar ’n rewolusie in Egipte uitgebreek met die Arabiese Lente.”

      “Ja, ons weet daarvan,” knik Nizar.

      “Wel, ek wou opsluit deel hê daaraan. Saleh het my gesmeek om dit nie te doen nie.” Hy kyk na Saleh terwyl hy die bekentenis maak. “Ek het soos gewoonlik my eie kop gevolg en is uiteindelik Kaïro toe, waar my broers my raakgesien het en weer gevange geneem het.”

      “Agge nee! Wat het hulle gedoen?” vra Junaïd meegevoer.

      “Hierdie keer het hulle ons seun geëis in ruil vir Ashraf se lewe,” sê Saleh. “Toe ons weier, het hulle ’n groot losprys gevra.”

      “Dit klink soos ’n fliek,” sê Yana. “Wat het toe gebeur?”

      “Saleh en Emmanuel was saam met Christene uit Suid-Afrika per bussie op pad terug na die sentrum in die woestyn,” Ashraf se stem is skor. “My broers het die groep in ’n lokval gelei.”

      “Hulle het aangedring op Emmanuel in ruil vir Ashraf se lewe,” neem Saleh oor. Emmanuel self sit grootoog en luister. Sy sit haar arm om hom voordat sy verder vertel: “Toe ons steeds weier, het hulle skote afgevuur. Die vriend uit Suid-Afrika het voor Emmanuel ingetree en is doodgeskiet.”

      “Petrus het sy lewe vir my seun gegee.” Ashraf se donker oë lyk waterig.

      Die stilte is tasbaar. Selfs al ken die kinders hierdie tipe geweld, is Pascale oortuig dat ’n mens dit nooit gewoond raak nie.

      “Petrus het ’n vrou met drie kinders agtergelaat. Salomé is haar naam,” sê Ashraf. “Dit is goed om myself daaraan te herinner dat ons die meeste moet maak van hierdie tweede kans, die lewe saam wat God aan ons gegee het. Die prys wat daarvoor betaal is, was te hoog om dit op te mors of nie ten volle te benut nie.”

      “Dit het alles vir ons verander,” vervolg Saleh. “Ons kon nie na ons vorige bestaan teruggaan nie. Ons het probeer, maar dit het ons leeg gelaat, en die wind was uit ons seile. Dit was buitendien te gevaarlik. Sover ons weet, het Khaled, Ashraf se oudste broer, uit die land gevlug, maar die res van sy familie was steeds ’n bedreiging. Ons het besluit om voltyds die dissipelskap-opleidingskool by te woon en as sendelinge opgelei te word. Dit was die beste besluit van ons lewe, naas om Isa te volg.”

      “Dit is wat ons die afgelope drie jaar gedoen het. Dit was ’n wonderlike tyd en terselfdertyd moeilik – ’n tyd waarin ons die Here moes leer vertrou vir elke ding wat ons nodig het. God is getrou en Hy doen wonderwerke! Hou altyd aan Hom vas.” Ashraf se stem dra gesag.

      “Ons glo dit ook.” Yana vou haar servet in kleiner blokkies. “Dis net party dae so moeilik wanneer ons na ons omstandighede kyk.”

      “Ek hoor jou.” Saleh druk haar hand.

      “Ek weet nog steeds nie hoe julle in Libanon beland het nie?” vra Yana.

      “Ja, genugtig, ons het die storie nou ver gaan haal,” grinnik Ashraf skeefweg. “Nadat ons klaar was met die opleiding, het ons gehoor van die gemeente wat hier werk onder die vlugtelinge. Ons was aangespreek deur die nood, maar ons het nie geweet hoe ons in Libanon sou kom nie. Dit was duur en het onbereikbaar gelyk. Ons het gebid en gevas en die Here het ons toe met pastoor Youssef en Eva in kontak gebring.”

      “Hulle het ons gehelp om hierheen te kom en ons voete te vind. Nou werk ons nog uit presies hoe ons moet help,” sluit Saleh die vertelling af. Sy glimlag vir Pascale. “Soos jy, Pascale.”

      “Jy is oorspronklik van Beiroet, nè?” vra Yana.

      “Ja, ek het hier grootgeword.”

      “Is jou hele gesin by die kerk betrokke?”

      Juis die vraag wat Pascale nie wil antwoord nie! “Nee, my ouers is Maronities.”

      Die stilte wat daarop volg, laat haar verplig voel om te verduidelik: “Ek het destyds saam met my beste vriendin ’n diens kom bywoon en tot bekering gekom. Sy is kort daarna deur ’n bus raakgery en is op slag dood.”

      “Dis vreeslik!” Yana klap haar hand voor haar mond.

      Adeline wat in ’n poel bloed lê, haar kop stukkend teen die sypaadjie, die lewe weg uit haar oë. Pascale sidder. Gaan daardie beeld nooit weggaan nie?

      “Ja, dit was. Alles het daardie dag vir my verander. Die lewe is kort en ’n mens moet elke oomblik laat tel vir die Koninkryk. Ek doen daarom nou eers ’n diensjaar by die kerk en sal dan kyk wat die toekoms inhou.”

      “Ons is gelukkig om iemand soos jy te hê. Dit is nie elke jong mens wat bereid is om sy lewe toe te wy nie,” probeer Saleh troos.

      Sy bedoel dit goed, maar dit maak Pascale vanaand ongemaklik. Sy haat dit as die ou wonde oopgekrap word, weerloos voor die intensiteit daarvan. “Kom ons praat weer wanneer die jaar verby is en kyk of ek nie te veel skade aangerig het nie,” probeer sy dit aflag. “Ek stem vir ’n kaartspeletjie, wie wil saamspeel?”

      Ilizabith

      RAKKA, SIRIË. NOVEMBER 2014

      Hulle sit weer elkeen met ’n koppie tee toe Saramma die litteken aan Ilizabith se pols opmerk. “Wat het daar gebeur?” vra sy.

      Ilizabith versteek haar hande vinnig op haar skoot onder die tafel. Op straat dra sy die abaya en handskoene sodat niemand dit ooit opmerk nie. Tuis sal sy moet waaksamer wees. Daar is ’n ongemaklike stilte.

      Voor die twee vroue hierdie week aan die deur geklop het, het sy reeds die sin op papier geskryf. Sy bring dit nou te voorskyn: Wie is julle en wat maak julle hier? Sy kan amper nie glo dat sy so ’n direkte vraag vra nie, maar die tekenwerk het ’n nuwe onverskrokkenheid in haar losgemaak. Boonop kan Khaled enige oomblik instap. Wat dan? Sy het gedink hulle kan verduidelik dat die vroue by ISIS wil aansluit en met haar daaroor kom gesels het. Die vraag is egter of hy dit sal glo.

      “Ons wou kom kyk of julle kinders regkom op julle eie, sonder ’n pa of ma wat vir julle sorg. Dis vir ons moeilik om te dink dat julle so allenig hier moet klaarkom.” Elspeth lyk opreg besorg.

      Ilizabith skryf: Ons kom reg. Iemand bring vir ons kos en ek kyk na die kleintjies.

      “Ja, maar jy is self nog ’n kind!” roep Elspeth uit. “Oorlog maak van kinders oornag grootmense,” voeg sy kopskuddend by.

      Ilizabith skraap die moed bymekaar om nog ’n sin neer te pen: Ons is julle vyande. Hoekom hou julle aan om by ons te kom kuier soos vriende?

      Die twee vroue kyk eers na mekaar voordat Elspeth die vraag versigtig beantwoord: “Ons is Christene. Ons glo in Jesus en Hy het gesê dat ons ons vyande moet liefhê.”

      Soos Ashraf dus.

      “Nadat ons jou ontmoet het, het ons gebid en ons glo die Here wil hê ons moet na julle uitreik.”

      Wat Elspeth sê, maak nie vir haar sin nie.

      “Kyk, dit is nie vir ons maklik nie.” Dis ’n eerlike bekentenis van Saramma. “Ons is vreesbevange vir ISIS. Om te weet jou pa veg vir hulle, maak dit vir ons ingewikkeld. Vandag het ons julle huis ’n rukkie lank dopgehou om seker te maak dat hy nie dalk hier is nie, maar ons wil gehoorsaam wees.”

      “Dit