Die ouer vrou neem ’n oomblik om die nuus in te neem, dan komplimenteer sy hom: “Sjoe, maar jy praat goed. Hoe oud is jy nou?”
“Ek gaan drie wees volgende jaar.” Hy wys met drie vet vingers in die lug.
“Sjoe, dis yslik groot! Aangename kennis. Ek is Elspeth en dit is my suster, Saramma. Mag ek julle name weet?”
“Sy is Mara,” Mohammed wys na Ilizabith. “Ek is Mohammed en my babasussie is Leila.”
Die kind weet nie eens wat haar regte naam is nie. Hy noem haar Mara – “vrou”, soos Khaled haar altyd toesnou. Hy het só na haar begin verwys asof haar eie naam irrelevant is. Hy ken nie eens haar naam nie, maar dit pla haar nie; dis veiliger om haar ou lewe te vergeet.
Ilizabith kry ’n ysblokkie uit die vrieskas en die vrou neem dit by haar. Sy stryk geoefen daarmee heen en weer oor Leila se tandvleis. Leila weet nie of sy moet lag of huil nie.
“Daarsy,” praat Elspeth met die babagesiggie. “Voel dit beter?” Leila se handjie klou steeds aan haar hand vas.
“Is julle alleen hier?” vra Elspeth belangstellend.
“Ja, my pa het vir ISIS gaan veg, Almadallah,” lap Mohammed uit.
Die vroue se gesigte verstar merkbaar. Soos dikwels in die verlede is Ilizabith bly dat sy nie praat nie, want nou hoef sy nie ’n verduideliking uit te dink nie.
Saramma draai weg en begin die kombuiskaste een ná die ander oopmaak, maar vind nie waarna sy soek nie. “Nee, ek sien geen pediatriese medisyne nie. Jy sal moet gaan kry,” sê sy vir Ilizabith.
Hoe? As sy kon, het sy dit lankal gedoen.
“Weet jy waar die apteek is?” vra die ander vrou, Elspeth.
Nee, skud Ilizabith haar kop.
“Wanneer kom jou ma terug?” vra sy.
“Sy het nie ’n ma nie,” antwoord Mohammed slim.
Die vrou frons en begrip flits in haar oë. “Hm, en jy mag nie alleen uitgaan nie?” Met haar blik op Saramma neem sy ’n besluit: “Ons sal vir jou gaan koop.”
Die ander vrou lyk of ’n bak water oor haar uitgegooi is.
Ag, dankie tog! Ilizabith haal vinnig die nota met die naam van die medisyne wat sy neergeskryf het uit, voor hulle van plan verander.
Elspeth lees dit. “Dis goed so. Kom, Saramma, ons gaan koop dit gou. Die kind kan nie so huil nie.” Sy oorhandig Leila weer aan Ilizabith, stap na die voordeur en sit haar sluier voor haar gesig. Die ander vrou is bleek, maar volg haar voorbeeld.
“Dit is nie te ver nie, ons sal binnekort terug wees,” troos Elspeth.
Hulle kyk eers deur die loergaatjie, dan op en af in die straat, voordat hulle uitglip en straataf verdwyn.
Pascale
BEIROET, LIBANON. OKTOBER 2014
Miskien was dit nie die slimste plan om sonder ’n man na hierdie swakker deel van Beiroet te kom nie. Pascale byt haar lip. Nee wag, sy moet ’n ontspanne gesig opsit, netnou jaag sy Saleh die skrik op die lyf. Sy loer onderlangs na die Egiptiese vrou voordat sy weer by die vensters uitkyk. Sy deursoek die omgewing vir ’n bekende landmerk. Niks. Nie dat sy die gebied danig goed ken nie. Boonop is hulle laat. Dit is al weer haar skuld. Ag hemel, as sy haar net soggens vroeër uit die vere kan lig.
Wel, daar is nie nou kans vir omdraai nie. Kyk noord en gaan voort, sussie! Om haar moed te gee, draai sy die radio ’n bietjie harder en beweeg ritmies saam met die Hillsong-liedjie se dromme terwyl sy saam sing:
“Saviour, He can move the mountains –
My God is mighty to save, He is mighty to save!
Forever Author of Salvation –
He rose and conquered the grave, Jesus conquered the grave!”
Saleh glimlag vir haar.
Oukei, Here, ek het U asseblief nodig om my kalm te hou en te help om die adres te vind in hierdie doolhof van straatjies. Sy stuur die skietgebedjie op en laat haar krampende skouers sak om ontspanne te probeer lyk. Uiteindelik herken sy ’n landmerk. Halleluja! Dankie, Here! juig sy stilweg. Die vorige keer toe sy saam met mense van die kerk hier was, het hulle in hierdie omgewing parkeer en is toe te voet verder. Waar kry sy ’n parkeerplek in dié miernes? Kyk hoe oorvol is die strate. Wag, daar is een! Sy swenk na regs. Saleh gryp aan die deurhandvatsel vas. Gits, dis ’n piepklein parkeerplek dié! Sy moet nou net nie die kar stamp nie, sy het nog nie lank haar bestuurslisensie nie. Sy mik, draai en skuur net-net in. Dankie tog, sug sy binnetoe.
“So ja,” glimlag sy vir Saleh. Hopelik lyk sy nie so verlig soos sy voel nie. “Van hier af stap ons verder.”
Beskerm asseblief die kar, Here?
Sy wil uithop, maar Saleh se hand keer haar. “Sal ek vir ons bid?” vra sy vriendelik.
“Ja, asseblief.” Saleh is miskien nuut hier, maar nie onnosel nie.
“God ons Vader, ek bid vir ons beskerming en dat die Gees ons sal lei in wat ons hier moet kom doen. Ons bid dit in die Naam van Isa, ons Verlosser.”
Hulle maak seker dat die kar gesluit is voordat hulle die strate met die swaar inkopiesakke aandurf.
Saleh kyk gespanne om haar rond.
“Lyk asof jy selfversekerd is en tuis voel hier,” gee Pascale raad en gooi haar kop agteroor. Saleh se rug trek dadelik meer regop.
In die smal straatjies sit winkeleienaars voor hulle bont stalletjies waar jy enigiets van selfoonlaaiers, plastiekbakke en speelgoed tot vrugte en groente kan koop. Elektriese drade wat op die oog af losweg aanmekaar gekoppel is, hang soos reusespinnerakke oor die vuil strate en verbind vervalle woonstelblokke met mekaar. Saleh kyk op en haar oë rek.
Pascale lag met haar: “Praat van vuurwerke, nè?”
“Ek het al baie dinge gesien, maar dít vat die koek,” sê Saleh. “Een vonkie en die hele woonbuurt is daarmee heen!”
Pascale moet ’n paar keer aanwysings vra by die nuuskieriges wat hulle aanstaar. Hulle word gewillig met groot handgebare aangehelp en stelselmatig maak hulle vordering tot hulle in ’n vuil stegie beland. Verlig herken sy die plek. Hulle klim met die smal trappe na die eerste vloer; party trappe is stukkend en daar is geen trapreling nie.
Pascale klop aan een van die deure. ’n Netjies geklede vrou maak oop. Sy is ligter van gelaat: Siries.
“Bonjour, Yana.” Pascale sit die pakkies neer en gee die vrou ’n drukkie. “Dit is Saleh van wie ek jou vertel het.”
“Sabalge, kom binne,” groet sy vriendelik.
“Shukran,” glimlag Saleh met Yana.
Pascale groet die seuns met ’n high five. Hulle dra die pakkies binnetoe en bondel saam agter hul ma. Die dogtertjie gee haar ’n stywe druk. Die kind laat altyd haar hart smelt.
“Sandra, het jy al weer jou vinger in die kragprop gedruk?” Sy pluk speels aan ’n kurktrekkerkrul.
“Ag, Pascale!” lag die agtjarige verleë.
Saleh laat Pascale die leiding neem. Hulle volg Yana deur die eerste klein vertrekkie, ’n kombuisie wat na die enigste woonvertrek lei. Die matrasse staan opgestapel teen die muur – vanaand sal dié vertrek in ’n slaapkamer omskep word vir ’n gesin van vyf. Daar hang komberse voor die vensters om te verhoed dat die bure in die woonstel inkyk. ’n Paar glasbekers staan gereed op ’n plastiektafeltjie met ’n tafeldoek van blink materiaal. Hulle gasvrou het die besoek van die kerk verwag. Hulle neem plaas op die plastiekstoele. Die drie kinders kom een-een in. Sandra kom klouter dadelik op Pascale se skoot, maar die twee ouer kinders gaan sit bedeesd-nuuskierig op die grond.
“Gaan hulle nie skool toe nie?”