Die seders van Libanon. Adriana Faling. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Adriana Faling
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321527
Скачать книгу
kop sonder ophou teen die muur gekap en gekap. Dit was verskriklik om te sien, ek kon hom nie laat stop nie. Hy is nie so ’n mens nie, regtig! Dit vreet hom op dat hy nie vir ons kan sorg nie.” Sy raak stil. “Maar dis ten minste veiliger as oorlog. Wel, ek dink so,” voeg sy met ’n ironiese glimlag by.

      Die kamer is stil toe sy uitgepraat is. Pascale voel of al die lug uit haar longe gepers is, daardie bekende gevoel wanneer jy magteloos voor iemand anders se kruis staan. Sy het geen antwoorde nie, geen raad nie, en haar geld is self baie skraps – wat sy gehad het om uit te deel, het sy reeds gegee. Sy hoop Saleh is in ’n beter posisie, maar dié sit ook met oë vol medelye na die vrou en kyk. Junaïd en Mathai sit teen die muur afgesak en staar voor hulle uit.

      “Ons het niks meer as die bietjie inkopies en Jesus om vir jou te bring nie, Yana,” begin Pascale.

      “Ek weet dat God genoeg is, dat Hy voorsien en dat Hy die hoop is,” sê Yana. “Dis regtig die waarheid. Ek weet Hy is genoeg. Dit is soms net goed om vir iemand ons storie te vertel en te weet ons is nie alleen nie.”

      “Ek het een ding geleer die afgelope maande,” sê Pascale met oortuiging. “Wanneer ek nie meer weet watter kant toe nie, het God reeds ’n plan. Hy is ’n God van hoop en wonderwerke. Ons gaan Hom vertrou vir julle situasie.”

      “Sal ons saam bid?” Saleh wys dat Pascale moet voorgaan.

      “Asseblief.” Yana vou haar hande eerbiedig in haar skoot. Die kinders buig hulle koppe en bid saam met die smeekgebed wat Pascale lei.

      Vrede, onbeskryflike Godsvrede, daal oor hulle neer. In die klein woonvertrekkie met die plastiekstoele en die opgestapelde matrasse is hulle op heilige grond.

      Ilizabith

      RAKKA, SIRIË. OKTOBER 2014

      Waar bly hulle? Dit voel vir Ilizabith of Elspeth en Saramma ure lank wegbly. Miskien was dit maar net leë praatjies en was hulle nie van plan om terug te kom nie. Leila huil steeds onophoudelik. Ilizabith het ook die ysblokkie oor haar tandvleise gesmeer en haar weer probeer voed, maar niks werk nie.

      Sou die Diwan al-Hisba hulle dalk gestop het? Sedert Daesh die beheer van Rakka oorgeneem het, is die hele polisiediens afgedank en vervang deur die moraliteitpolisie. Hulle moet toesien dat almal bo die ouderdom van sewe daagliks al vyf gebede by die moskee bywoon. Niemand mag handeldryf tydens gebedstye nie. Rook en alkohol is streng verbode. Dit is ook hulle wat die niqab op vroue afdwing. Om sonder ’n hoofbedekking in die openbaar te verskyn is ’n skande, asof jy naak loop op straat.

      Die vroulike vrywilligers van die Hisba is veral haatlik. Doen hulle dit omdat dit die enigste plek is waar ’n vrou ’n sê het in hierdie manswêreld? Waarom anders sou ’n mens kies om ander te polisieer en te boelie? Verraaiers van hulle eie geslag!

      “Ek is honger! Jy moet vir my kos maak.” Mohammed se geneul gaan haar gek maak!

      Uiteindelik ’n klop! Ilizabith wil juig van verligting. Hulle het selfs ’n druppertjie saamgebring! Elspeth help haar om die vloeistof in Leila se mondjie te drup. Leila trek haar gesiggie saam en haar lyfie ril van die vreemde smaak terwyl sy dit teësinnig afsluk. Dit lyk of die geskree weer gaan begin. Elspeth neem haar by Ilizabith en sus haar met ’n geoefende hand. “So ’n geskree haal alles uit ’n mens uit.” Sy sê dit soos ’n bondgenoot. “Sit jy ’n oomblik.”

      Sy loop met Leila in die gang op en af en sing vir haar, iets van Jesus en die engele wat Ilizabith nie mooi kan uitmaak nie. Die rooigehuilde ogies val uiteindelik toe.

      “Die arme dingetjie is omtrent uitgemergel van die skree. Dankie tog dat sy uiteindelik rustig is,” fluister Elspeth. “Waar kan ek haar neerlê?”

      Sy moet dit net sagkens doen. As die kind weer begin huil, huil sy wat Ilizabith is sowaar saam!

      Hulle sluip op hulle tone uit die kamer. In die kombuis lyk Saramma ietwat ongemaklik waar sy Mohammed help met ’n legkaart. Ilizabith is die vrou ewig dankbaar dat sy hom besig hou. Sy weet nie wat om volgende te doen nie. Hopelik bly die vroue nog ’n rukkie. Sy is nuuskierig. Wie is hulle nou eintlik? Miskien moet sy vir hulle tee aanbied? Sy beduie na die koppies en mimiek ’n drink-aksie terwyl sy vraend na hulle kyk.

      “Ja, ons sal graag tee neem, dankie,” sê Elspeth. Saramma lyk gereed om te hardloop.

      “Ek wil ook tee hê! Ek wil ook tee hê!” neul Mohammed en stamp die legkaartstukkies weg.

      Nou moet sy net nie ’n koppie laat val of die tee stort nie. Wanneer laas het sy vir vroulike gaste tee gemaak? Sy hoef nie oor die antwoord te dink nie: dit was toe sy nog in haar eie ma se huis gewoon het. Sy moes al dikwels vir Khaled se manne eet- en drinkgoed aandra, maar het nog nooit self iemand vir tee genooi nie. Sy probeer dit so natuurlik as moontlik doen.

      “Julle het nie lank terug nie ingetrek, nè?” maak Elspeth geselsies.

      Ingetrek? Jy kan dit seker so noem.

      “Ons het eers in die woestyn gebly.” Mohammed pluk lastig aan die tafeldoek.

      Elspeth lyk nadenkend. “As jy nie omgee dat ek dit so reguit vra nie, maar julle is nie plaaslik nie, nè? Julle velkleur lyk donkerder. Egipties dalk?”

      Ilizabith skrik effe, knik dan tog. Sy is verbaas dat sy soveel toegee.

      Soos gewoonlik wil Mohammed die middelpunt van die aandag wees. Hy hardloop om en om die kombuistafel met sy ellendige plastiekgeweer. Hy skiet na hulle en skree weer: “Allahu Akbar! Ek is ’n vegter van die Islamitiese Staat!”

      Die vroue kyk geskok na mekaar. Haastig draai Ilizabith haar rug op hulle. Wat dink hulle?

      Sy maak die tee in stilte en gee eers vir Mohammed syne; enigiets om die kind rustig te hou. Sy sit die koppies voor die vroue neer. Sy wens die Saramma-vrou wil meer praat; dit maak haar ongemaklik dat sy so stil is en alles om haar waarneem.

      “So jou pa is weg om te veg?” Elspeth rig die vraag aan haar.

      “Ja.” Die trots slaan deur in Mohammed se stem toe hy Ilizabith voorspring met sy antwoord.

      Ilizabith kyk hulle stil aan en ’n idee begin posvat. Soms neem ’n mens ’n lewensveranderende besluit in ’n enkele impulsiewe oomblik. Soos toe sy besluit het om op te hou praat. Stom te word. Dit was die dag wat hulle die suur gebruik het … Dit was ’n eenvoudige, maklike en impulsiewe besluit wat haar van daardie dag af sou definieer: die stom vrou. Sedertdien het sy nog nie weer met ’n volwassene gepraat nie. Met die kinders, ja. Onafwendbaar.

      Die besluit om hulle nie te korrigeer dat Khaled haar pa is nie, is nog so ’n besluit.

      “Wanneer kom jou pa terug?” Die vrou se stem roep haar terug na die hede.

      Sy trek haar skouers op.

      “Wie sien om na julle?”

      Ilizabith wys met haar vinger na haarself.

      “Ek sien,” peins Elspeth.

      Saramma sê steeds niks nie. Sy sit op die punt van haar stoel en roer haar tee om en om.

      Mohammed mors ’n paar slukke van sy tee. Dan drentel hy weg om sy speelgoed te gaan haal, verveeld met die eensydige gesprek. Ilizabith keer hom nie, dis ’n verligting.

      “Ons het eintlik na ons vriendin kom soek wat voorheen hier gewoon het. Rosarita. Ons het maande laas van haar gehoor en ons raak nou bekommerd. Weet jy dalk wat van hulle geword het?” Elspeth voer steeds die gesprek.

      Die bloedspatsels, onthou Ilizabith. Sy kyk hulle reguit aan en skud haar kop.

      “Was hulle reeds weg toe julle hier aangekom het?” vra Saramma uiteindelik.

      Ilizabith knik.

      “Al hulle goed ook? Ek bedoel hulle klere en so aan? Ek kan sien dat hulle die huis en meubels net so laat staan het.”

      Ilizabith wys dat hulle haar moet volg. Sy neem hulle na die sakke met klere wat sy weggepak het.

      “Sy