“Ons seun wil nie weghardloop nie. Hy glo ons het die reg om ons land terug te neem. Hy is bereid om daarvoor te veg.” Elspeth glimlag half hartseer.
Ilizabith skud haar kop heftig. Sy sal wat wil gee om weg te kom, en hulle wil hier bly! Dis malligheid!
“Dit is die lang antwoord hoekom ons hier is,” glimlag Elspeth.
Syself is ’n groter vyand van ISIS as wat hulle is! Hulle begin te gewoond raak aan die situasie.
“Wat kan ons vir jou doen? Waarvoor kan ons vir jou bid?” vra Elspeth uit die bloute.
Bid? Wat gaan dit help?
Sy kyk lank na hulle. Moet sy dit waag? Kan sy hulle vertrou? Iets moet sy doen. Sy skryf terwyl haar hart in haar keel klop: Ek kan vir julle inligting gee, baie inligting, alles wat julle wil weet van Daesh en waar hulle gaan aanval, wat hulle gaan doen. Dit sal hulle ondergang beteken. In ruil daarvoor help julle my en die kleintjies om te ontsnap? ASSEBLIEF!
Die vroue lees wat sy geskryf het en kyk geskok na mekaar. Ilizabith staan op en haal die vuurhoutjies uit die laai. Sy verbrand die briefie tot as in die wasbak.
“Mara, ons kan dit nie doen nie.” Elspeth is uit die veld geslaan. “Ons is net gewone mense. Ons het nie kontakte met die regeringsorganisasies of iemand wat jou sal kan help nie.”
“Buitendien, dit is jou pa! Hy sal julle mos nooit laat gaan nie? Ons kan nie net iemand se kinders vat nie. Waarheen sal jy wil ontsnap?” Saramma kyk haar verstom aan.
Ilizabith trek haar skouers op. Enige plek. Verkieslik die verste plek op die aardbol van Khaled af weg. Dalk die Noordpool?
“Ek is jammer, Mara. Ons het nie besef dat julle so ongelukkig is nie,” sê Saramma.
Die klein bietjie hoop wat sy gehad het, verdwyn soos die gebrande papier. Al wat oorbly, is die matelose hopeloosheid waaraan sy al so gewoond moes raak. Hoop is ’n gevaarlike ding. Hoop is ’n ondier – dit laat jou hoop. Ironies, nè? Die teleurstelling daarna is so pynlik om mee vrede te maak; ’n lang, seer pad tot by die neutraliteit daarvan om bloot te oorleef. Dit is waar sy moet bly: neutraal, hooploos. Dit is baie veiliger.
“Ek is regtig jammer, Mara.” Elspeth kyk haar met soveel simpatie aan dat sy simpel en kwaad voel.
Dit was ’n onnosele, impulsiewe ding wat sy gedoen het. Sy draai haar rug op hulle en begin die teekoppies wasbak toe dra. Hulle moet liewer nou gaan. As hulle haar nie kan help ontsnap nie, moet hulle haar uitlos. Dit is te gevaarlik om hulle hier te hê. Khaled kan uitvind, en wat dan?
Pascale
BEIROET, LIBANON. DESEMBER 2014
Die woonstel waar daar tans nege mense woon, toets Pascale se karakter meer as wat sy wil toegee. Dalk moet sy tog terugtrek na die gerief van haar ouerhuis? Almal is binne ingehok omdat die dae so koud is. Klein Sandra wat met haar ’n kamer deel, is alomteenwoordig, of so voel dit. Sy is ’n liewe kind, maar aap amper alles na wat Pascale doen. Sy kam haar hare soos Pascale s’n, wil haar grimering gebruik en kyk knaend op haar foon wanneer daar ’n boodskap inkom. Boonop volg sy Pascale oral rond. Pascale wou haarself al in die badkamer toesluit vir ’n blaaskans, maar dit is veral ’n gewilde plek aangesien daar so baie mense is wat dit deel. Buitetoe kan sy nie vlug nie, want dan jaag die koue haar weer binnetoe.
Saans wanneer die dogtertjie in kinderlike onskuld lê en slaap, val Pascale op haar knieë neer. Here, help! Miskien maak dit die lewe vir almal makliker as sy uittrek? Maar sien sy kans vir die spanning by haar ouerhuis?
“Ek kan nie verstaan dat ’n talentvolle kind soos jy, met skitterende resultate, nie wil studeer nie!” Haar pa se netjies versorgde rekenmeestervingers tik gefrustreerd op die tafel.
“Dit is nie dat ek nie wíl studeer nie, Pa. Net nie nou al nie. Ek is nie heeltemal seker wat ek wil studeer nie, en ná Adeline se dood wil ek iets sinvols met my lewe doen. Ek wil ’n verskil maak. Daarom voel ek regtig gelei om eers die diensjaar by die kerk te doen.”
“Gelei deur die Heilige Gees?” Haar ma is skepties gebore.
“Ja, Ma.” Sy kan self hoor hoe belaglik dit vir haar ouers moet klink.
“Ek moes jou nooit saam met Adeline na daardie Evangeliese Kerk toe laat gaan het nie.” Hoeveel keer het haar pa dit al herhaal? “Wat is fout met ons kerk?”
Sy gaan nie antwoord nie. Hierdie gesprekke loop altyd op ’n dooie punt uit. Dit is aaklig om haar ouers teleur te stel. Met hulle sterk Franse agtergrond het hulle ’n fyn opvoeding, hoëgehalte-opleiding en ’n stabiele toekoms vir haar beplan. Om hulle oudste dogter toe te laat om met die laagste van die laagstes in die samelewing, die vlugtelinge, te werk, was ’n buitensporige versoek. Sy was egter vas oortuig dat dit was wat sy moes doen.
Uiteindelik het haar pa bes gegee: “Een jaar. Net een jaar, dan skryf ons jou in by die universiteit.” Pascale besef dat sy nie ’n woord moet sê nie, en ook nie te bly moet lyk nie. “En moenie by my kom huil oor die arm kindertjies in die kampe nie, ek het nie geduld met hierdie armlastige nasie nie,” kry hy die finale woord in.
Daarmee was die toutrekkery afgehandel en sy het ’n jaar gewen. Die atmosfeer in die huis was ontoegeeflik. Niemand het haar ooit gevra hoe haar dag was, wat sy gedoen het of wie sy ontmoet het nie. Haar diensjaar was die olifant in die kamer waaroor niemand gepraat het nie. Sy is in wese geïgnoreer. Verduur. Die kind wat hulle teleurstel. Sy moes wegkom by die huis. Dit was onuithoudbaar.
Hier kan sy nog uithou. Môre gaan dit weer beter. Sy kry troos uit Romeine 15: Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.” Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.
Sy het nie bedoel om af te luister nie, dit was bloot dat sy die hele gesprek kon hoor. Saleh en Ashraf het seker aanvaar dat sy saam met Yana se gesin uit is. Intussen is sy so verlig oor die oomblik van vrede dat sy ’n rukkie stil op haar bed gaan lê het.
“Ek wens dit was vir my makliker, Ashraf. Ek wil Yana-hulle regtig graag help, maar dit is moeiliker as wat ek gedink het,” bieg Saleh. “By die opleidingsentrum in Egipte was ons gewoond daaraan om heeldag in ander se geselskap te wees, maar ons het die privaatheid van ons eie woonstel gehad om na terug te gaan. Ek mis daardie luukse.”
“Dit is die sterf-aan-jouself-deel waarvan ons die teorie geleer het, wat ons nou in die praktyk beleef,” praat Ashraf haar moed in. “Ons moet vasbyt.”
Moet sy uit die kamer kom sodat hulle kan sien sy is hier?
“Ek weet. Dis net: vir hoe lank nog? Hulle is gawe mense en die kinders is gehoorsaam en hulle bring hulle kant, maar die spasie is regtig net te klein vir ons almal.” Saleh klink moedeloos.
“Hulle hét oulike kinders.” Ashraf hou van kinders. “Maar hier is skaars genoeg plek om van plan te verander, wat nog te sê van speel!” probeer hy ’n grappie maak.
“Net om reguit te dink, is vir my ’n uitdaging, wat nog te sê om van plan te verander.” Saleh se stem breek. “As die kinders bedags kan skoolgaan, sal dit die saak al baie makliker maak.”
Dalk moet sy net hoes of teen iets stamp. Onseker bly Pascale lê.
“Is die gedeelde kombuis die grootste probleem?” vra Ashraf simpatiek.
“Dis nie net om die