“Jy verbeel jou, Lioratjie. Toe-toe, gaan jy en oom Moshe nie ’n nes soek vir jou eier nie?”
Oom Moshe se kamerdeur staan halfoop. Liora gaan in. Hy staan in sy japon by die venster en uitkyk, sy rug na haar gedraai. Op die klein lessenaar langs hom lê ’n boekie en ’n pen en ’n opgefrommelde blaadjie.
“Oom Moshe …”
“Engeltjie!” Hy trek die lyfband van sy japon stywer vas en draai om.
“Het oom Moshe vergeet?”
“Natuurlik nie, ek wag juis dat jy wakker word,” sê hy en tel die bolletjie papier op. Hy druk dit nog kleiner en gooi dit in die snippermandjie langs die tafel. “Kom, ons het werk om te doen. Nee wag, kyk hoe lyk ek! Ek gaan gou stort.” Hy maak sy tas oop en haal ’n modetydskrif daaruit. “Vars uit Parys.” Hy wys na die datum. “Sien jy, Julie 1948 – en dit net twee weke gelede s’n,” sê hy en gee dit vir Liora.
“Le Petit Écho de la Mode,” lees sy hardop.
“Ek glo dit nie.” Hy staar haar met gróót oë aan.
“Wat, oom Moshe?”
“Dat jy al so goed kan lees, liewe deug! Laat ek liewer loop voor jy my dom laat voel.” Hy haal klere uit die hangkas, haak sy handdoek agter die deur af en stap badkamer toe.
Liora blaai deur die tydskrif tot sy die stort hoor loop. Toe haal sy die papierbolletjie uit die snippermandjie en gaan bêre dit in haar kamer.
Oom Moshe ruik lekker toe hy terugkom.
Sy gee die tydskrif vir hom terug.
“Nee,” sê hy, “dis joune. Kyk, ek het vir jou ma ook iets gebring om te lees.” Hy haal ’n boek uit sy tas en hou dit so dat sy die omslag kan sien. “Nie meer lank nie, dan sal ek vir jou ook dié man se boeke kan begin aandra.”
“La Peste, Albert Camus,” lees sy.
“Albert Camus inderdaad, ’n baie belangrike man, ’n Algeryn in murg en been. Moenie sy naam ooit vergeet nie, dit is maklik as jy onthou dat Camus ‘ou platneus’ beteken.” Hy sit sy vinger op die punt van haar neus en duik dit in. Sy lag en hy vryf haar hare deurmekaar.
“My volstruisie het ook al ’n naam,” sê sy.
Oom Moshe vou sy arms en sê: “Ek gaan nêrens heen voor jy my vertel wat dit is nie.”
“Struzzo,” antwoord sy.
“Struzzo? Waar kom jy daaraan?”
“Tante Alessa sê mense wat iets van volstruise af weet, sal dit self kan uitwerk.”
Hulle stap van kamp tot kamp. Die son is pas op.
“Dáár,” wys Liora ’n nes met eiers uit.
Maar oom Moshe loop verby die nes. “Struzzo,” sê hy weer. “A, ek weet: Struthio camelus. Baie skerp.”
“Én dis Italiaans vir volstruis.”
“Kom ons gaan terug na daardie eerste nes toe. ’n Meisie wat so ’n slim naam kan uitdink, weet genoeg van volstruise om ’n goeie broeipaar te kan uitkies.”
Sy kyk op na hom. “Tante Alessa het my darem ’n bietjie gehelp,” sê sy.
“Maak nie saak nie, jy bly ’n slimkop. Kyk net hierdie nes van jou, klaar hóéveel eiers daarin – die voëls gaan een van die dae begin broei. En dit is na genoeg aan die hek ook; as ons ons roer, bly ons onder die mannetjie se pote uit.” Hy kyk om, huis se kant toe. “Jou ma sal dwarsdeur die skuur moet kan kyk om ons te sien.” Hy haal ’n handvol mieliepitte uit sy sak. “Hier,” sê hy, “ek het dié gister al uit die skuur gegaps.”
Sy hou haar hande bak.
“Gaan gooi dit aan die ander kant oor die draad – ek sal jou eier oppas.”
Toe sy by oom Moshe terugkom, pik die broeipaar reeds die mieliepitte op, en hy maak die hek oop. Hulle stap na die nes toe, waar hy vir haar die eier gee. “Sit hom mooi in die middel neer.”
Sy soen die harde wit dop. “Sien jou anderdag, Struzzo.” Sy wikkel die eier tussen die ander in.
“Ons moet aanstaltes maak, my engel, anders sal ons vinnig moet leer harp speel.”
Hy tel haar in sy arms op en hardloop vinniger as wat nodig is met haar hek toe, sodat sy skreeu van opwinding. Toe die volstruismannetjie by die hek aankom, is hulle al veilig buite die kamp. Die voël stap uitdagend en dreigend heen en weer langs die draad met swiepende swart-en-wit vlerke.
“Sodra daardie voëls op die nes gaan sit, my engel, kan jy die dae begin aftel.”
“Twee-en-veertig, nè, oom Moshe?”
“Lyk my daar is niks wat jy nié weet nie. Jou ma vaar beter met jou leerdery as ’n skool vol onderwysers.”
Sy wens hy kon altyd op Finisterre bly. “Vertel my van die Klein-Karoo, oom Moshe,” sê sy.
“Ek hét mos al.”
“Vertel nóg.”
“Anderdag. Maar belowe my dat jy eendag soontoe sal gaan, dan kan jy self sien waar Les Plumes du Sahara se pluime vandaan kom, en die eier waarin jou Struzzo is. Én om …”
“En wát, oom Moshe?”
“Om te gaan kyk hoe die wêreld lyk waar ék gebore is en grootgeword het en eendag wil doodgaan en begrawe word. Sal jy so maak?”
Sy sit haar arm om sy nek en druk haar kop teen syne. “Ek sal,” sê sy, “as jy belowe om nie dood te gaan nie.”
Hy sit haar neer en sê: “Ek sal jou inwag daar.”
Hulle stap hand aan hand terug huis se kant toe. Tante Alessa kom van voor af aan en vat haar ander hand, en sy en oom Moshe swaai haar tussen hulle. “Jy kan bly wees Charlotte het dié spulletjie nie aanskou nie, Moshe Habib,” sê sy.
“Ek is.”
“Hoekom bly jy nie nog ’n paar dae nie?”
“Jy weet ek is op pad?”
“Hoe dan anders, ek het flussies by Charlotte ingeloer – sy lê daar en staar na die uitspansel van haar hemelbed. Dink jy ek ken my suster nie?”
“Iets het ongesê gebly, Alessandra. Ek het dit agterna vir haar in ’n brief probeer uitlê, maar ek kon nie woorde vind nie.”
“Nou probeer jy wat dit ook al is in jou tas pak – is dit wys?”
Liora druk haar hakke in die grond. “Nee!” sê sy. “Jy gaan altyd te gou weg, en dié keer verjaar ek, onthou?”
“Ai, my engeltjie.”
“Ek is nié jou engeltjie nie.”
Hy tel haar op en druk haar styf teen hom aan, maar sy ruk haar los en gaan sit dikmond op die skoppelmaai. Sy hoop hy sal onthou dat hy besig was om iets te skryf, en dit eers klaarmaak. Dan word dit dalk te laat om Algiers toe te ry. Maman sal vir hom sê die donker gaan hom in die bergpas vang, en as hy nie oor ’n afgrond ry nie, sal struikrowers hom voorlê. Dis wat sy elke keer vir Papa sê wanneer hy die pad Korsika toe vat om te gaan kyk hoe dit op sy familie se boerdery daar gaan, soos nou die dag weer.
Maar ’n ruk later kom oom Moshe koffer in die hand by die voordeur uit. Dit lyk vir Liora of sy hart seer is, maar sy weet al hardloop sy nou agter hom aan en slaan haar arms om sy bene en sê sy is jammer dat sy met hom ongeskik was, sal hy nog steeds in die lorrie klim en wegry.
Sy bly sit. Kyk hom deur haar trane agterna. Hy waai vir haar. Sy vir hom. Die stofwolk agter hom word kleiner en kleiner, tot die stuk pad kaal tussen hulle lê, met net die plasse blinkigheid wat soos water lyk.
Lank bly sy daar voor sy van die skoppelmaai afklim en na haar kamer toe gaan, en toe haal sy oom