Die eerste ent, tot buite die dorp, vorder sy fluks, maar die bome langs die pad staan nou yler. Van skaduwee tot skaduwee stap sy, en rus telkens, want sy wil nie gesweet by Moshe aankom nie. Sy is dankbaar dat sy ’n hoed opgesit het. Nou en dan gaan sy by ’n plaashuis met ’n geil tuin verby en beny die inwoners die koelte wat hul groot bome bied.
By Geluksfontein se hek stap sy onder die koepel deur en in die laning op. Sy is bly dat Rosa se kar nie onder die prieel staan nie, en loop om die huis na Moshe se kamer. Die buitedeur staan oop. Hy sit by die wastafel sy snor en knip. Sy het hom dit voorheen al sien doen, in Algerië en Parys. En elke keer, soos nou, ten volle geklee, baret en al, asof sy snor deel van die uitrusting is en daarby moet pas.
Hy sien haar in die spieël. “My engeltjie!” sê hy en plak die skêrtjie neer. Hy spring op, sy arms wyd oop.
Sy hou haar vrolik. “Dis so goed om jou te sien.”
Hy soen haar op elke wang en hou haar styf vas. “Ek gaan jou nie laat teruggaan Parys toe nie,” sê hy in haar oor. Dan hou hy haar ’n armlengte weg van hom. “Rosa het vir my gesê jy is op pad. Hoe was jou vlug?”
“Ek het gewens hulle wil vinniger vlieg.”
Hy kyk na haar met dieselfde glimlag en oë as altyd: warm en vol liefde. “Mens kan sien wie se kind jy is – nog net so mooi en elegant as toe ek jou laas gesien het.”
“Ses jaar gelede toe jy vir ’n paar weke in Parys was om my en Maman te groet.”
“Hoe lank bly jy?”
“Ek weet nie,” antwoord sy.
Hy swaai sy hand voor hom, asof hy haar woorde wil wegwaai. “Vergeet nou eers van teruggaan, wat gaan ons doen om jou uiteindelike tuiskoms te vier? Kom ons gaan sit onder die boom, daarso, dan gesels ons die verlange van die afgelope jare weg – briewe en telefoonoproepe kan nie instaan vir die warmte van geliefdes se teenwoordigheid nie.”
Toe hulle op die swaaibank gaan sit, frons hy. “Ek het nie ’n motor gehoor nie, hoe het jy hier gekom?”
“Gestap.”
“In dié hitte?” Hy staan op, loop haastig na sy kamer en kom terug met ’n glas water. “Jy moet doodmoeg wees,” sê hy.
Sy drink en sit dan die leë glas op die tafeltjie langs die bank.
Moshe steek sy hand in sy onderbaadjiesak en haal iets daaruit. “Hou jou hand,” sê hy, en toe sy dit doen, vou hy ’n ringetjie met twee sleutels daarin toe. “Gebruik my kar, ek ry byna nooit meer met die ding nie.”
“Nee, dit kan ek nie,” sê sy.
Maar hy slaan haar beswaar in die wind. “Dis so ’n lieflike dag, ek gaan gou vir Jo-Ann vra om vir ons vrugtesap te bring. Jy kan solank op my skoppelmaai sit as jy wil.”
Liora gaan sit op die plank tussen die twee toue, met haar rug na die huis. Sy bekyk die geil tuin en netjiese grasperk wat strek tot by ’n heining waarin ’n hekkie oopstaan; agter dié is ’n stofpad en volstruiskampe en ’n hoë skuur van riet. Tussen die skuur en een van die kampe staan ’n trekker en sleepwa met lusernbale by ’n hamermeul. ’n Pou kom statig voor sy lang stert en sy wyfies deur die hek aangestap.
Dit duur nie lank voor Liora bewus word van Moshe agter haar nie. Hy stoot haar versigtig vorentoe, en weer en weer as sy na hom terugswaai.
“Dit neem my nou meer as vier dekades terug,” sê sy. “Jy het my laat glo ek sal eendag kan vlieg, onthou jy?”
Hy vang die toue en rem die skoppelmaai tot stilstand. “Was dit ’n slegte ding om te doen?”
“Nee, dit het my altyd hoop gegee. Nou nog is ‘eendag’ vir my die allermooiste begrip, al het ek vrede gemaak met die onhaalbare vliegery.” Sy haal ’n dik koevert uit haar handsak. “Ek het foto’s gebring wat Maman vir my gegee het – wil jy sien?”
Hulle het nog maar na enkele foto’s gekyk toe ’n motor voor die huis stilhou.
“Seker nou Rosa,” sê Moshe, en sy verskyn inderdaad ’n oomblik later om die hoek.
Liora hou ’n foto op. “Wil jy saam met ons kyk, madame Rosa?”
“Natuurlik.”
Liora gee die foto’s een-een aan en sê ter wille van Rosa wie daarop verskyn. Een hou sy sonder verduideliking na Rosa uit. “Is sy nie mooi nie?”
Rosa kyk lank daarna. “Jou ma? Ja, sy is mooi.”
“En op die foto gelukkig en verlief in die arms van die bliksem met wie sy getrou het.”
Op die sepia-afdruk het Emilio en Maman albei baaikostuums aan. Hy het haar opgetel, haar bene is oor een van sy arms gehaak, sy ander arm is onder haar rug deur. Sy hand krul boontoe, met sy vingers openlik oor haar bors gesprei.
“Dit lyk of hy van haar besit wil neem,” sê Rosa.
Liora glimlag. “Jy praat asof jy hom ken. Weet julle hoeveel keer ek daardie foto gesien het wanneer ek deur Maman se album blaai, sonder om op te let waar hy vat. Ek het altyd net na hul laggende gesigte gekyk, na hom wat haar soos ’n baba dra, na my mooi Maman wat so gelukkig lyk. En op ’n dag, toe sy weer met die album oop op die tafel sit, het ek dit vir die eerste keer raakgesien en na sy hand gewys. Sy het my rok se hals met haar vinger weggetrek en daar ingeloer. ‘Mmm, dis tyd dat ons praat, Lioratjie,’ het sy gesê en die album toegemaak.”
Moshe neem die foto by Rosa. “Ek hou nie hiervan nie.”
“Jaloers, seker – of hoe dink jy, madame Rosa?” sê Liora.
Rosa staan abrup op, maak verskoning en gaan die huis in.
“En nou, Moshe?”
’n Ligte skouerophaling. “Sy het my hoeveel keer gevra of ek nie ’n foto van Charlotte het nie – hóéveel keer. Hoe meer ek vir haar sê ek het nie een nie – en dis die reine waarheid – hoe minder glo sy my. Sy het ’n obsessie oor jou ma.” Hy haal sy baret af, kam sy hare met sy vingers agtertoe. “Ek hoop seker verniet saam met Rosa dat sy jou sal volg, nè?”
Liora staan op en soen hom op die voorkop. “Maman sal kom as daar bestendigheid in Suid-Afrika gekom het.”
Moshe sit sy baret terug. “Moet jy so gou al weer gaan?”
Sy hou die karsleutels tussen duim en wysvinger. Is jy seker hieroor? sê haar houding.
“So lank as wat jy op Oudtshoorn is, is die Dart joune. Hoe anders sal jy Charlotte op die lughawe kan gaan haal?”
Hy stap saam met haar kar toe, maar op pad steek hy vas, neem Liora se hand en lei haar die woonkamer binne. Sy verkyk haar aan die hoë patroongedrukte plafon, die muurpapier, die meubels en matte en ornamente. “Sowat van oordaad,” sê sy.
“Verkry in ruil vir ’n handvol vere,” antwoord Moshe. “Maar dis nie wat ek jou kom wys het nie.” Hy gaan staan by ’n klavier en slaan die deksel op. “Asseblief,” sê hy, “enigiets waarvoor Charlotte lief is.”
Sy hang die klawerdoek soos ’n serp om sy nek en gaan sit om te speel, kies doelbewus ’n ligte stuk met helder tone, maar toe sy ’n keer opkyk na Moshe wat langs haar staan, hand op haar rug, sien sy trane in sy oë, en laat haar hande sak. Sy skuif op om vir hom langs haar op die klavierstoeltjie plek te maak en leun na hom toe oor. Hy maak ook so. En met hulle koppe teenmekaar bly hulle sit.
“Jy het haar só lief, Moshe, hoekom gaan jy nie terug Parys toe nie?”
“Soos ek nou is? Dit kan ek haar nie aandoen nie. Ek is reddeloos aan die verdwaal, my engel. Jy moet haar asseblief nie sê nie.”
Liora