Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу
kan dit nie doen nie! Verdomp, Malloy, wees redelik!”

      Die Ier beantwoord sy uitbarsting met ’n ysige stilte wat Zeits des te meer ontsenu. Hy poog driftig om sy waardigheid te behou.

      “Jy soek moeilikheid, Malloy. Die Bowry-broers het ook aandele in die plek. Hulle sal jou lewer vir jou uitruk as ek –”

      “Dit betwyfel ek. Jy sien, hulle is gisteraand gearresteer by Norvalspont toe hulle die ZAR met ’n nuwe koetsvrag meisies binnegekom het.”

      Zeits se gesig verbleek tot ’n sieklike krytwit. Hy soek na woorde, maar dis asof alles in sy kop vasslaan.

      “Al drie van hulle: James, Jim en Dick Bowry,” sê Kit sag maar nadruklik. “Hulle sal in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehuisves word tot hulle verhoor word. Jy is gelukkig, Zeits, dat jy jouself nie tussen hulle bevind nie, want soos jy weet, het hulle meer as slawehandelary op hul kerfstok. Ek is oortuig dat minstens twee van hulle gaan swaai. Ek sou my dus nie op hulle hulp beroep as ek jy was nie.”

      Zeits weet met ’n skielike koue sekerheid dat hy die einde van die pad bereik het in Johannesburg. Hy twyfel nie dat die Ier die waarheid praat nie, want hy weet dat die broers op pad was van die Kaap af. Norvalspont, waar die koetse gewoonlik op die pont gelaai word om oor die rivier getrek te word, sou juis die plek wees om hulle in te wag sodra hulle voet aan wal sit op Transvaalse grondgebied. Hy soek desperaat na ’n uitweg en begin dan pleit.

      “Asseblief, Malloy, wees redelik. Magtig, man. Al my kapitaal sit in hierdie plek! Sonder drank is ’n salon niks werd nie!”

      Kit knik sy kop in stille instemming.

      Miskien is daar ’n kans, dink Zeits. Elke man in dié godverlate gehuggie het tog seker ’n prys. Hy leun vorentoe en fluister skor terwyl hy sy duim en voorvinger teen mekaar vryf.

      “Geld? Hoeveel wil jy hê? Ek en jy kan sekerlik tot ’n vergelyk kom. Miskien wil jy aandele hê in die Parisienne? Goeie besigheid, dié sê ek jou!”

      Die koue minagting op Malloy se gesig verpletter Zeits se oorblywende hoop. Woede wel in hom op. “Jou skynheilige vuilgoed! Jy’t self meisies in jou huise!”

      “Ja, ek het,” sê Kit. “Maar hulle is nie teen hulle sin daar nie. Dit staan hulle vry om te bly of te gaan soos hulle wil. En ons misbruik ook nie kinders soos jy nie.”

      Zeits begin begryp. Dis die verduiwelse twee meisietjies wat Malloy ’n maand terug by hom uitgekoop het; dís waarom die Ier wraak soek.

      Die klavier onder in die salon begin skielik koggelend te klingel en versplinter die stilte tussen die twee mans.

      “Soos jy self gesê het, is die Petite Parisienne nou waardeloos,” sê Kit en staan stadig op. “Ek is nietemin bereid om jou tweehonderd pond kontant daarvoor te gee. Ek praat nou van ’n oorname, Zeits, voetstoots.”

      Zeits maak sy mond oop om te protesteer, maar Kit spring hom voor.

      “Wag! Dis nie al nie. Tweehonderd pond sodra die koopbriewe geteken is, en ’n verdere honderd-en-vyftig pond as jy die dorp binne agt-en-veertig uur verlaat.”

      Kit haal ’n koevert uit sy baadjiesak. “Jou plek is reeds bespreek op ’n poskoets van Hay’s Coaching Services.”

      Hy gooi die koevert op die lessenaar neer, tel sy hoed op en buig formeel in die rigting van die asbleek Zeits wat hom so verwoed aanstaar.

      “My aanbod is geldig tot vanmiddag twaalfuur.”

      Met sy gesig reeds ingeseep, kyk Kit in die spieël hoe die praatsieke barbier sy skeermes oor die slypgordel trek. Die lem weerkaats flitsend die lig van die oorhangende Tiffany-lamp.

      “Gaan jy die hele dorp opkoop, mister Malloy? Mense sê jy’t Solomon Zeits uit die dorp laat boender, maar jy’t hom glo ’n fortuin gegee. Is dit so?”

      Toe hy nie ’n antwoord kry nie, gaan hy lustig voort.

      “Drie ander van die bordele se dranklisensies is ook ingetrek. Hulle sê my die een duskant Marshall Street se eienaar wou homself ophang, maar een van die ladies wat vir hom werk het glo gekeer. Sê jou, die hele dorp praat, meneer Malloy!”

      “Ja, hulle praat te veel, Dobson. Jy ook! Kry nou klaar en skeer my, ek is haastig. Daar is baie wat nog gedoen moet word!”

      Cockney Liz stap by die trappe van die Petite Parisienne af in die fel lig van die vroeë somerson in. Haar vervalle gesig herinner aan ’n voosgedrukte vrug.

      Sy kyk met misnoeë na Zeits se twee kajuitkoffers wat teen die balustrade op mekaar gestapel staan. Haar lewe lank was dit nog altyd die man wat die beste daarvan afkom in enige saak. Die man bevredig homself, dan trek hy sy broek op en draai sy rug op die vrou wat hy oomblikke tevore gebruik het.

      Destyds, in Eldorado en Barberton, was dit anders. Sý kon die reëls maak. Maar toe was sy wulps en mooi.

      Waarnatoe nou? Miskien een van die ander huise?

      Maar sy het gehoor dat Malloy ook daar besoek afgelê en begin skoonmaak het. Vervloekte Ier! Dis deur hom wat sy nou hier staan en nie herwaarts of derwaarts weet nie. Al wat oorbly is die diggers-kamp in Ferreira’s Dorp. Sy sal waarskynlik ’n sinkhut kan opslaan. Die delwers daar is nie té kieskeurig nie. Maar sy sal moet drank bedien, en ’n lisensie daarvoor sal sy nooit uit Kit Malloy kry nie. Niemand hoef haar te sê dat die man haar verag nie.

      ’n Roggelende hoesbui skeur uit haar bors en dwing haar hand na haar mond toe. Toe sy die hand wegneem, kyk sy met afgryse na die bloedvlekkies wat rooi en skuimerig daaraan kleef. Hoe lank het sy nog voor sy nie meer kán werk nie? As dit moet uitlek dat sy tering het, sal niemand, selfs nie eens die grootste vullis, by haar wil lê nie.

      Paniek en selfbejammering laat trane opwel in die eens opvallende mooi oë. Dit verblind haar sodat sy nie die man sien aankom wat die straat oorsteek na waar sy staan nie.

      Mac MacIntyre se bryerige Skotse aksent ruk haar uit haar droewe gedagtegang.

      “Liz? Cockney Liz …?” Mac besef dat hy nie eens die vroumens se regte naam ken nie, maar waarskynlik is daar niemand wat dit ken nie. Hy maak ongemaklik keel skoon. Haar trane takel die rooigemaakte wange nog meer af en laat haar soos ’n patetiese nar lyk. Mac kyk verleë weg en sien die opgestapelde kajuitkoffers. Zeits sal enige oomblik die trap afkom, en dan moet hy die saak met Cockney Liz klaar uitgesorteer hê.

      “Wat wil jy hê, Skotsman? Julle het mos gekry wat julle gesoek het.” Die bitterheid in haar stem sny deur die stilte voor die verlate Parisienne se fasade.

      “Ek het gekom om met jou te praat.”

      Sy vee haar gesig met die agterkant van haar hand af. Mac merk dat haar hande uitgeteer is, die kloue van ’n voël. Kit was reg: die vroumens is siek. Hy tree ongemaklik nader en hou dan ’n koevert na haar toe uit. Sy gluur agterdogtig na die koevert en dan na hom, maar vat dit nie.

      “Dis vir jou, Liz. Neem dit. Asseblief.”

      “Hoekom? Wat is dit?”

      “Geld. Honderd-en-vyftig pond.”

      Liz kyk hom takserend aan. Honderd-en-vyftig pond! Daarmee kan sy baie doen!

      “Jy kan iets daarmee uitrig as jy spaarsamig werk.”

      Kan die Skot haar gedagtes lees? Stadig steek sy haar hand uit na hom toe, maar huiwer dan. “Hoekom?” dring sy weer aan.

      Mac soek ’n oomblik na woorde. Hoe verduidelik hy dat sy vennoot, wat verantwoordelik was vir die Parisienne se ondergang, ’n sagte kol in sy kop het wanneer dit kom by vroue. Enige vrou, selfs iemand soos Liz.

      Kit het reëlings getref vir die ander meisies. Van dié wat wou bly het hy, tot groot ergernis van Mac, by van hulle eie dobbelsalonne ingeneem. Vir die ander het hy gereël dat hulle kan terugkeer na die plek van hul herkoms.

      Cockney Liz is die laaste een, maar niemand sien meer kans vir haar nie. Die verleë Mac druk die koevert ongemaklik