As daar meer aan dié geskiedenis was, het die tyd ’n sluier daaroor getrek. Omtrent al wat die seuns verder te wete gekom het, was dat ouma Susan ander mense se wasgoed moes inneem om die pot aan die kook te hou en dood is toe hul pa nog op skool was. Hul oom Andries, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n offisier in Jan Smuts se weermag geword het, het toe pas in die bank op Senekal begin werk; hul tant Bessie het op trou gestaan met ’n boer van Frankfort. Lood moes uitspring en werk soek, en werk was skaars. Hy het as klerk by die poskantoor in Bloemfontein begin werk en na ure matriek klaargemaak.
Net af en toe het hy, amper onwillekeurig, die sluier ’n bietjie verder oor sy gisters gelig. Sulke geleenthede het in sy seuns se geheue bly steek. Toe hulle hom een keer wou uitvra oor hul oupa, het hy, soos gewoonlik, nie direk geantwoord nie.
“Nooiensfontein,” sê hy. “Dit was ons familieplaas. My ma moes als verkoop na my pa se dood.” Verder het hy blykbaar niks te sê nie. Dalk het hy ook nie veel meer as dit geweet nie.
Een Saterdag was hulle langtand vir die skoffelwerk wat hy op die werf gedoen wou hê. Toe vertel hy hulle met selfspot van die keer, kleintyd op Dewetsdorp, toe ’n kalf in die septiese put beland het. Hy is uitgesleep, maar die skoonmaak moes wag tot Lood van die skool af kom. Daar het ’n harde, stink kors aan die dier se lyf en ledemate gekleef.
“Joeg,” sê Karel, tussen afkeer en agting. “Hoe maak mens dan, Pa?”
“Partykeer moet mens nie te veel dink aan wat jy doen nie, jy moet dit net doen.”
Die storie van hul pa se broek was seker ook nie uniek vir die tyd nie. Dit het egter op die seuns indruk gemaak. Toe hy begin werk, het Lood net die een skaflike langbroek gehad. Saans het hy enige vuiligheid met ’n klam lappie skoongemaak, vetterige kolle met bensien. Dan het hy hom mooi gevou om die broekspype se nate presies reg te kry. Op ’n plank onder sy matras het die broek die nag deurgebring en soggens is hy netjies “gepress” weer te voorskyn gehaal.
In dié soort armoede kon die seuns hulle nie mooi indink nie, maar die metodiek en die strewe kon hulle begryp. Hul pa was altyd netjies versorg en het die slag gehad om selfs as hy ongeskeer en vol stof en sweet in die tuin besig is, die indruk te skep van ’n heer wie se voorkoms juis by die okkasie hoort.
Die seuns se Viljoen-familie was Doppers wie se plaas in die Oos-Vrystaat uit die Ou Testament na die berg Gilboa vernoem is. Die naamgewer moes ’n ironiese uitkyk op die wêreld gekoester het, want Gilboa is waar die Israeliete hulle sleg teen die Filistyne vasgeloop het. En toe speel een van die groot skandale van die Anglo-Boereoorlog hom juis digby die Viljoens se Gilboa af. Duisende vasgekeerde Boere het hulle hier aan die Engelse oorgegee, Sarel Viljoen inkluis.
Op ’n ander manier was die berge egter ’n uitkoms. Die Brandwaterkom is omring deur berge, die Witteberge, die Rooiberge, die Maluti’s. Om by elke vou in die landskap, elke afgeleë plaashuis, elke sandsteengrot uit te kom, was vir die Britse troepe onmoontlik. Op dié manier het die plaashuis behoue gebly en kon daar na die oorlog genoeg vee uit die rante en klowe bymekaar gemaak word vir ’n nuwe begin.
Uit Sarel Viljoen se huwelik met Isa Roux het drie kinders oorleef. Fred het in 1941 kragpale opgeblaas as protes teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog en is deur die Sap-regering in die tronk gestop. Isabel het in Johannesburg ’n kunsateljee en ’n kothuis met ’n vriendin gedeel. Lenie het ’n verpleegster geword en met Lood Fourie getrou.
Anders as Lood, het Lenie graag uitgewei oor die herkoms, vertakkings en algemene wel en wee van die Viljoen-familie, tot die mate dat die seuns daaroor met ’n sekere doofheid geslaan is.
In haar vertellings was hul ouma Isa ’n engel van genade wat vriend en vyand in haar huis verwelkom en uit haar huisapteek gesond gedokter het. Sy het kanker van die maag stoïsyns verduur en met ’n vredige gemoed en kalm gelaat van die wêreld afskeid geneem en na die hemel vertrek.
’n Wederkerende beeld van oupa Sarel was die dapper jong burger wat sy Mauser opneem om vir die Vrystaat se vryheid te gaan veg. Saans lees hy by die kampvuurtjie ’n stukkie uit sy Sakbybel en lê dan in die snerpende koue met sy kop op sy saal na die kommandovoëls en luister. Sy kombers is opgeskeur om die perde se pote toe te draai sodat hulle saggies verby ’n Engelse blokhuis oor die treinspoor kon glip.
Teen die tyd dat Dries ’n paar chronologiese kortsluitings in dié sage kon identifiseer, het hy dit goed gevind om lastige vrae liefs te onderdruk. Wat vir hom bo alle twyfel uitgestaan het as waarheid, volg lank na die oorlog. Lenie moes toe hoe oud gewees het? Omtrent so oud soos Naomi was? Seker bietjie ouer?
Oupa Sarel was gek oor dié klein parmant met haar swart hare en wakker bruin oë. “My klein Turk,” het hy graag gesê. Iets Oosters aan haar voorkoms is versterk deur die vroeë indruk dat sy haar pa se krom Viljoen-neus geërf het. Turk het sy troetelnaampie vir haar geword.
In die huis was Lenie haar ma se kind, daarbuite haar pa s’n. Soms het hy haar voor hom op die perd getel en saam lande toe geneem. By die melkery het hy vir haar ’n blikbekertjie aangehou vir warm melk direk uit die speen. Op die werf het sy hom oral agtervolg.
Op ’n dag skrik Isa geweldig toe Sarel met Lenie in sy arms by die agterdeur inkom.
“Jy moet help, Isa. Ou Poon het Lenie geskop.”
“Wat het jy dan …” Sy bedink haar. “Bring haar kamer toe. Versigtig nou …”
Lenie is bewusteloos. Wasbleek, maar sy haal asem. Haar hart klop sterk. Isa stel saggies ondersoek in na die bloed aan haar mond. ’n Paar tandjies is uit of afgebreek. Die tong en onderlip is gesny. Lenie kreun saggies. Sy trek haar kop effens weg van Isa se hand.
“Dankie Vader daarvoor,” sê Isa. “Ek was bang vir die nek.”
“Die tande,” verwyt Sarel homself.
“Dit lyk erg, maar dis melktande,” paai sy haar ontstelde man.
Nadat sy so goed moontlik vasgestel het daar is nie ander, verskuilde beserings nie, vee sy haar kind se gesiggie saggies skoon, maak seker sy is gemaklik en warm genoeg, en trek die gordyne toe.
“Laat sy slaap. Dis nou die beste geneesmiddel. Maar ek sal dophou. As dit nodig is, moet ons inry dorp toe.”
Behalwe vir nagmaal sit Sarel Viljoen selde sy lippe aan alkohol, maar daardie oggend skink hy vir hom ’n sopie brandewyn en water.
“Sy moes agter my aangeloop het na die perdestal.”
Lenie het dié storie by meer as een geleentheid vertel. Sy kon dit voor hul oë laat afspeel. Vroegoggend op die plaas. Die vallei lê nog in skaduwee, maar die son se eerste strale gooi reeds ’n rooi skynsel teen die hoogste kranse. Die gras langs die paadjie is wit van die ryp. In die stal kniel oupa Sarel by ou Poon se voorpoot. Die perd het groot, gespierde boude en ’n lang, swart stert. Oupa Sarel smeer ghries aan ou Poon se poot. Hy sien Lenie nie raak nie. Sy wil maak soos haar pa maak. Sy reik na Poon se agterpoot. Oupa Sarel hoor die sagte doef, soos wanneer jy beesvleis sagmaak met die vleishamertjie. Dis sy kind wat daar lê, onder ou Poon se agterpoot. Ou Poon trap versigtig om haar mis te trap.
Die prentjie wat die seuns daarvan het: Op die voetpaadjie na die huis stap ’n man met lang treë deur die vroeë oggendskemerte. Hy dra ’n dogtertjie in sy arms. Hulle word verdwerg deur die omringende berge. Die kamera trek al verder terug, soos in ’n Western met John Wayne.
Veel van ’n skop kon dit nie gewees het nie, amper ’n refleks, soos om van ’n lastige insek ontslae te raak. ’n Voltreffer was dit bepaald nie. Maar die brute krag van die dier sou selfs die geringste kontak van die hoef teen die tingerige kleuter vermenigvuldig.
Die dokter kom die volgende dag met sy kapkar