“Jy kan mos nie ’n fiets kry om mee te val nie?” terg sy pa. Dan gee hy skiet. “Wat wil hy hê vir die ding?”
“Drie pond, Pa.”
Lood wil die fiets inspekteer. Een middag na werk bring Dries die fiets huis toe. Hy waag nog nie om sy been oor die saal te gooi nie. Die fiets is nog nie syne nie. Lood skryf ’n kwitansie uit vir twee pond sewentien sjielings en ses pennies en tel die geld in Dries se hand uit.
“Sê vir hom dis al wat jy het, en laat hom die kwitansie teken.”
“Ja, Pa. Dankie, Pa.” Maar hy voel mismoedig. Die afslagprys kan hy nog verstaan, al wil hy nie eintlik nie. Swys kan ja sê of hy kan nee sê. Daardie kwitansie druk egter op sy gemoed.
Dis mos Swys. Dis mos nie ’n vreemdeling nie. Hoe kan hy so ’n stuk papier voor Swys neersit en vra dat hy teken? Dit voel nie reg nie. Sy pa se wetsgeleerde woorde klink vir hom onbeskof, amper beledigend.
Hiermee verklaar ek Francois Grobler dat ek die wettige opbetaalde eienaar is van Raleigh fiets reeksnommer RX7963 wat ek aan Dries Fourie verkoop vir die volle koopsom van £2/17/6 (twee pond sewentien sjielings en ses pennies), welke bedrag ek in kontant ontvang het op …
Swys kyk inderdaad met verwyt na Dries. “Watse kak is dié? Is dit nou hoe vriende maak? Lyk my jy vertrou my nie?”
Die woorde huiwer op Dries se lippe – “Dis nie ek nie, dis my pa” – voor hy hom bedink. Dit sou lafhartig wees. Wie wil die fiets hê? Hy, Dries Fourie. Sy pa skiet die geld voor, op sekere voorwaardes. As jy daardie voorwaardes aanvaar, is die verantwoordelikheid joune.
“Ek vertrou jou, Swys. Dit maak maar net die ding amptelik.”
“Die geld is hoeka te min.”
As jy nie ’n antwoord het nie, bly stil.
Die kontant lê ewe swygsaam op die tafel tussen hulle.
“Wat de hel,” sê Swys. Hy tel die geld op en teken die kwitansie, wat hy vies na Dries toe gooi. Dit fladder grond toe. Dries tel dit op, vou dit toe en steek dit versigtig in sy hempsak. In sy verbeelding het hy gesien hoe hy sy eerste transaksie met ’n stewige handdruk beklink. Swys lyk egter nie in die luim vir bladskud nie.
“Nou maar reg,” sê Dries na ’n rukkie.
Die fiets staan op tant Kitta se agterstoep vir hom en wag. Ja, alles is daar, die lig, die pomp, die klokkie.
Op pad huis toe waag hy dit wel om sy been oor die saal te gooi. Dan verloor hy sy balans. Die fiets maak ’n paar wilde esse oor die pad voor hy neerslaan. Maar dit maak nie saak nie. Dit sal regkom. Hy het sy man gestaan.
14. Slukkie
Lenie gebruik dryfhout en spoelklip in haar blommerangskikkings. Sy het ’n slag met rose. Sy speel “Rose-Marie” op die klavier en kry trane in haar oë as Jeanette MacDonald en Nelson Eddy dit oor die radio sing. Op skool het sy geïdentifiseer met die heldin in Martjie van Jan F.E. Celliers. Sy lees Tryna du Toit en leef haar in Georgette Heyer se historiese romanses in. Sy wonder partykeer of sy ’n goeie ma is en of drie seuns ’n goeie getal is.
Enige getal gesonde, goed geskape kinders is ’n gawe van Bo, en sy ruil haar drie vir niks of niemand ter wêreld nie. En tog, mens kan mos maar bespiegel. Haar gesondheid het dit nie toegelaat nie, maar indien dit moontlik was, sou vier nie beter gewees het nie, as dit by seuns sou bly? Twee sou darem te min wees. As dit drie moes wees, sou twee seuns en een dogtertjie dalk beter gewerk het? Of andersom?
Die ding met drie van dieselfde geslag, so lyk dit vir haar, is dat die bloot toevallige volgorde van hul geboortes houdings in die gesin bepaal en karakters vorm – of vervorm, as jy nie oppas nie. Die oudste is, nou ja, ’n egpaar se eersteling. Dis ’n posisie wat hy nooit afstaan nie, met al die aandag en verwagtings wat dit inhou. Die jongste is jou laatlam, jou laaste. Natuurlik word hy so bietjie gepiep en vertroetel. En hy skik hom daarna. Die middelkind het nie so ’n duidelik afgebakende plek van sy eie nie. Sy posisie is tussenin, te gerieflik klassifiseerbaar as een van … Een van julle drie kinders, een van julle twee oudstes, een van julle twee jongstes. Onbedoeld word hy misken en afgeskeep.
Is dit hoekom Karel van jongs af moeilik was? Asof hy van kleins af aangevoel het hy moet baklei vir aandag? Sy wonder of dokter Freud – of was dit Jung – kommentaar sou kon lewer op Karel se allergie vir moedersmelk. Is so iets inderdaad moontlik? Of die feit dat hy op al die kiekies in sy bababoek sy kop skeef hou – asof hy die kamera nie mooi vertrou nie. Of sy gehegtheid as kleuter aan daardie aaklige leerpop met die koeigesig wat hy Kokoted noem – in sy persepsie dus iets tussen ’n teddiebeer en ’n gogga.
Of sy trane van frustrasie in Sub A omdat hy links neig en die juffrou hom regs wil maak skryf. Daaroor voel Lenie tot vandag toe sleg. Teen die tyd dat sy en Lood dit agterkom, was dit te laat. Regs sou hy bly skryf, met ’n verbete greep wat potloodpunte soos mieliekorrels laat spat. Noudat sy daaraan dink, het dít dalk iets te doen met sy kort humeurtjie, selfs sy vrot spelling?
Al drie haar seuns is wonderlike kinders. En tog … ’n Moeder se hart voel dinge aan. Dries het wel ’n flink verstand, dit was van die begin af duidelik. Maar dat almal dit sê, is nie noodwendig ’n goeie ding nie, is dit? Gee dit hom nie ’n vals indruk van sy vermoëns nie? Verwag hulle nie te veel van hom nie? Sal hy kan vasbyt as dinge moeilik raak?
Ou Theunie is so ’n liewe kind, mens wil hom sommer net vasdruk. Maar beskerm sy posisie as jongste hom nie oormatig nie? Is dit hoekom hy soms so … so half passief reageer? Het hy nie klaar geleer om agter ander te skuil nie? Gaan dit nie op die duur sy selfstandigheid aantas nie? Mens kan tog nie altyd opkyk na ander nie?
As Lenie oor dié dinge wonder, dink sy sommer ver terug. Al drie die seuns se geboortes was moeilik. Hulle was groot babas, by die tien pond, en sy is klein van postuur. Na Theunie se geboorte was ’n histerektomie dus aangewese en sy het tot vandag toe las van ’n uitsakking. Natuurlik blameer sy nie die seuns vir haar gesondheidsprobleme nie, maar sy vind dit goed om met hulle daaroor te praat. Hul afwysende reaksie krenk haar. Dis of hulle nie daarvan wil hoor nie. Dries vlug openlik weg as sy in dié rigting gesels.
“Dit gaan tog oor die feite van die lewe,” kla sy by Lood.
“Wat verwag jy?” is sy reaksie. “G’n seun wil hoor sy geboorte het sy ma se gesondheid geruïneer nie.”
Hy weerhou hom daarvan om meer te sê. Sy meegevoel met die opofferings van moederskap maak hom nie blind vir die versoeking wat dit inhou vir emosionele afpersing nie.
Lenie vind sy antwoord kwetsend. Hy is ’n onsimpatieke buffel. Wat dink hy van haar. Sy het tog geen begeerte om haar seuns op te saal met ’n skuldgevoel nie. Sy wil maar net ’n bietjie begrip vir haar vrese en gevoelens hê. Sy voel haar soms bitter eensaam en misken, so vrou-alleen in ’n huis vol mansmense.
In sulke oomblikke, wanneer Lood by die werk is en die seuns buite speel, raak die lewe te veel. Sy maak seker Ênie is in die kombuis doenig. Sy trek die slaapkamerdeur agter haar toe en trek haar klerekas se onderste laai oop. Versteek onder die broekies en bra’s wag daar ’n plat halfbottel wodka. Net ’n slukkie of twee kan tog nie kwaad doen nie.
Dan gaan borsel sy haar tande.
15. Kerol
’n Botteltjie in oupa Sarel se kiaathoutkissie bevat ’n donkerbruin vloeistof wat ruik na dip. Agterna het die seuns soms dié botteltjie onthou en daaroor gelag. Wat sou daarin gewees het? Kerol, het hul oupa dit genoem. Eienaam of soortnaam? Tuisgemaakte konkoksie, ironies Kêr-ôl genoem, na die Engels Care All, of was daar inderdaad ’n patente medisyne met dié skynbaar toepaslike naam?
Jare later sien Dries toevallig, op ’n koöperasie se rak, ’n stowwerige botteltjie met die handelsnaam Kerol. Kan dit sowaar die Kerol van ouds wees? Volgens die etiket is dit ’n middel uitsluitlik vir eksterne gebruik, nuttig om eelte en vratjies in toom te hou, ’n potente mengsel van ureum,