Die trein na Belmont was toe nog ’n belangrike skakel tussen Koukonap en die res van die wêreld. Deesdae groei die kakiebos tussen die dwarslêers op die spoorlyn. Vir Dries sou daardie besoek aan die halfdonker loods in die veld en die groot swart stoomlokomotief egter gehul bly in ’n atmosfeer van opwindende, onweerstaanbare geheimsinnigheid.
“Dié staatmaker kom nog uit die tyd van die ou Kaapse Spoorweë,” het Swys met trots vertel. “Hulle ou Karoo-klas. Hy’s net so bietjie opgefieks en geherklassifiseer. Tipe 5A, konfigurasie 2-6-2. Dit vertel jou van die asse en die wiele. Een as voor, dit gee jou twee wiele. Een wiel aan elke kant, natuurlik. Jy kan sien dis kleiner wiele.”
“Hoekom is dit?” vra Pieta.
“Hulle is daar vir stabiliteit.”
“En die grotes hier in die middel?” Pieta, wat bietjie van ’n buksie is, se kop is net-net hoër as dié knewels.
“Ses wiele op drie asse. Kyk hoe is die wiele met dryfarms gekoppel. Sien julle?”
Dis soos ’n inlywing in ’n geheime kennisveld waartoe geen ander seuns toegang het nie. Die twee bevoorregte knape knik aandagtig.
“Dis die wiele wat die trekwerk doen. Agter hulle dan weer een as met twee kleiner wiele, om hom stewig op die spoor te hou. Gee jou altesame twee plus ses plus nog twee wiele.”
Hulle stap in stadige bewondering om die ou ysterknewel, in die seuns se oë die toonbeeld van ontsagwekkende, brute krag.
“Oppas net. Versigtig daar, Moloi.” Een van sy handlangers is besig om die wiele en asse met ’n sterk straal stoom skoon te spuit.
Moloi draai die spuit met ’n glimlag versigtig eenkant toe. “Kom maar verby, kleinbasies.”
Swys begelei hulle deur die wonderlike werkings van stoomaandrywing. Hulle klim saam met hom in die kajuit, waar hy stange en wieletjies en blink koperpype openbaar, die drukmeter, die veiligheidsklep, tot die stoomfluit se trekarm. “Maar ons gaan hom nie nou trek nie, oom Nols slaap dalk nog!”
Binne die lokomotief se neus is die stoomketel. Die boiler, noem Swys dit. Die hitte in die vuurkas verhit die water in die ketel. Dit maak stoom en stoom word afgevoer na die silinders en die silinders dryf die wiele. Plek-plek raak Swys nogal tegnies. Hy vertel van die pype wat hitte deur die ketel gelei en van die vloei van oorskietstoom na die rookkas voor in die neus van die lokomotief.
“Dit versterk die trek van lug oor die kole.”
Al raak dit vir die seuns effe Grieks, knik hulle begrypend. Swys kom agter hy moet bietjie stadiger. “Dit werk soos ’n kaggel se skoorsteen. Dis hoekom ou Makadas ook ’n skoorsteen het.”
Met een van die stange teen die paneel skuif hy twee swaar ysterdeurtjies oop. Die seuns knip hul oë en deins onwillekeurig ’n treetjie agteruit. Dis of die hitte wat uit die vuurkas kom, in staat is om die vel van hul gesigte te stroop. Swys lag. “Jy raak daaraan gewoond. Kom ons kyk bietjie of julle die skopgraaf kan hanteer.”
Hy hou gemoedelik toesig oor hul pogings om ’n paar skeppe steenkool uit die koletrok te lig en in die gloeiende, bewende, geelwit hitte van die vuurkas te voer. “Ditsem,” prys hy. “Daarmee sal hy sommer hol dat hy bars.”
Hulle bekyk en betas sowat alles wat te bekyk en te betas is in en om die loods, die lokomotief self, die koletrok, die groot watertenk op sy staalstellasie, die slakhoop, soos Swys die uitgebrande steenkool noem wat nog ’n handlanger, Silas, blykbaar vrag vir vrag met ’n kruiwa in die veld laat verrys.
“Versigtig tog vir lewende kole, my outa,” maan Swys, klaarblyklik vir die soveelste keer. “Ons wil nie hier ’n veldbrand aan die gang sit nie.”
“Nee, ek maak seker, baas Swys,” antwoord Silas geduldig.
Die seuns aanvaar dat daar ook in die wêreld van stoomvervoer ’n vaste hiërargie bestaan: handlanger, stoker, treindrywer, stasiemeester. Verder as dit is hoër matesis. Wanneer oom Nols Human teen sesuur se kant by die loods aankom, tref hy twee diep gelukkige, van kop tot tone met steenkoolstof besmeerde seuns aan.
“Genade, Pieta,” lag hy. “Tant Kitta kry sweerlik ’n oorval as sy daardie hemp sien.” Hy groet Dries met ’n hand so hard soos yster. “Jou pa gister by die poskantoor gesien.” Hy glimlag vriendelik, maar sy woorde val soos lood in Dries se gemoed. “Hom gesê ons sal mooi na jou kyk.”
Wat die suiwer hoogtepunt van hul besoek moes wees – die triomfantlike fluit van die lokomotief en die rit in die kajuit saam met oom Nols en Swys van die loods tot by die stasie om die trokke te gaan haak vir die daaglikse tog na Belmont – raak vir Dries ’n rit van bekommernis eerder as vreugde.
Nadat hulle dankie gesê en gegroet en vir oulaas die lokomotief bewonder het, mik elke seun na sy eie huis toe. “Kom ons gaan kry net eers die pennie,” sê Pieta. “Ou Liesbet is seker poegaai getrap.”
Die pennie het dalk effens op die spoor geskuif, want die netjiese profiel van die koningin is deels ongeskonde en deels verwronge. Die seuns kyk met agting na die omvormde metaal. Die gewig wat dít kan doen, moet enorm wees.
“Kyk net hoe lyk haar wang en oor,” sê Pieta. “Skoon skeef.”
Dries het sy geesdrif vir die eksperiment verloor. Die geskende gelaat van Elizabeth II Regina herinner hom opeens aan Naomi Davel se gesiggie die dag toe die lorriewiel op haar geval het. Hy hou weer haar lyfie met ’n magtelose gevoel van innige spyt in sy arms.
Lood Fourie se instrument van bestraffing was bekend as Die Plak, ’n strook dik gebreide leer aan ’n houthandvatsel. Veel van ’n marteling het dit waarskynlik nie veroorsaak nie, maar dit het ’n oortuigende plofgeluid op die oortreder se sitvlak gemaak. Die norm was drie tot ses “van die beste”, afhangende van die graad van die oortreding. Die sielkunde gesetel in die oordeelswoorde het daarby ’n verdoemende rol gespeel: “Nou maar reg, gaan wag solank vir my in die buitekamer.”
Nadat hy Pieta gegroet het, rek Dries die pad huis toe so lank as moontlik. Hy het tyd nodig om te dink. Watter soort verwelkoming wag op hom? Hoe moet hy die saak aanroer? Dalk maak of niks gebeur het nie en wag dat sy pa of ma die eerste skuif maak? As jy mooi daaroor dink, wat het hy nou eintlik gedoen, wat het nou eintlik gebeur?
Die gevolg is dat hy sy ma se vraag of hy sy kuier by Pieta geniet het, verwelkom.
“Ons het saam met Swys by die lokomotiefloods ’n draai gemaak.” Hy wag vir die reaksie.
“Dit was seker interessant.” Sy ma klink rustig, asof dit ’n alledaagse uitstappie was. Sy pa kyk net na hom en sê nie ’n woord nie.
“Dis hoekom my klere so vuil is. Jammer, Ma.”
“Toe maar, Ênie sal dit wel skoonkry.”
Geen verwyt nie, geen sprake van Die Plak nie. Dries wil so half die gevoel kry dat hy besig is om met iets weg te kom. Dan besef hy dat hy ’n berisping sou verkies het. Die fout was nie om die loods te besoek nie. Dit was tog eintlik niks. Die oortreding was teenoor homself. Hy gaan na sy pa toe.
“Ek moes Pa vertel het van ons planne.”
“So leer mens.”
Dries voel hy kry amper trane in sy oë, so lief het hy sy pa op daardie oomblik. Hy neem hom voor om nooit weer lafhartig te wees nie.
’n Paar maande later koop Swys vir homself ’n tweedehandse motorfiets. “’n Regte klein piskriek,” noem hy dit, maar hy is duidelik trots op sy nuwe vervoermiddel. Hy bied sy trapfiets vir Dries te koop aan. “Tyd dat jy jou eie fiets kry,” por hy hom aan. “Praat bietjie met jou pa.”
Dries skilder die fiets se deugde in gloeiende taal. “Dis ’n groen dikwiel, ’n Raleigh. Dis een van die beste make. Hy het ’n lig en ’n klokkie en ’n pomp. Swys sê hy’t nuwe tjoeps en bande.”
Lood luister geamuseerd na sy seun. Dit ís seker tyd dat hy ’n fiets kry.
“Kan jy darem al fietsry?”