Daan de Bruyn stem duidelik nie saam nie. Hy loer waar Lenie is.
“Liewe, dooie dôner,” sê hy. “As ek nie verleë was vir die werk nie, kon jy gaan bars het. Al die risiko lê aan my kant.”
“Vraag en aanbod,” sê Lood. “Maar ek glo jy sal regkom.”
So kry die Fouries ’n netjiese baksteenhuis met ’n groen sinkdak, drie slaapkamers, ’n spoeltoilet in die badkamer en ’n ronde venster in die eetkamer. Ênie Malmok poets die voorstoep se groen sementvloer elke week met Bok Politoer.
8. Psalm
Hul eie huis besorg die gesin ook kaart en transport van Koukonap. Hulle was nie meer van elders nie. Hulle was nou waarlik van hierdie geweste, waar die sterre snags laag oor die dorp hang, waar die kwik in die somer 115 grade Fahrenheit haal en die waterpype in die winter verys, waar donderweer in ’n goeie jaar tien duim reën bring.
Lenie gee die huis ’n naam. Toggekregen is nie heeltemal Afrikaans of Hollands nie en die klem val dalk êrens tussen opregte dankbaarheid en onbedoelde ironie. ’n Regte Lenie-naam.
Sy lê ’n rotstuin aan met aalwyne om die stam van die ou soetdoring in die voortuin. Sy hang familiefoto’s teen ’n muur in die voorkamer en lê graag die verwantskappe uit tussen al die Fouries en Viljoens, Rouxs en Van der Walts. Lood noem dit die Rogues Gallery. Die foto van sy broer Andries val dalk op omdat hy uniform dra. Hy is in Noord-Afrika dood teen die Duitsers onder generaal Rommel.
“Gesneuwel,” sê Lood. “Vir wat.”
Dries koop ’n broeipaar bont posduiwe by Bok Goosen en timmer met oorskietmateriaal van die huisbouery ’n duiwehok in die agterplaas aanmekaar.
“’n Hele halfkroon?” vra Lood.
“Bok sê dis opregte commons.”
“Ag so.”
Die duiwe begin broei. Dit word ’n swerm. Smiddae vlieg hulle draaie oor die dorp en gaan sit op die huis se dak. Dit veroorsaak gemengde gevoelens by Lenie, wat graag tee maak met water uit die reënwatertenk by die agterdeur.
Teen daardie tyd het Dries se geesdrif begin kwyn. Die duiwe se versorging het al meer Karel se verantwoordelikheid geword. Karel is gek oor diere. Oupa Sarel sê hy aard na die Viljoens. Hy moes eintlik op ’n plaas grootgeword het.
In die sement van die windpomp se blok staan Theuns se verjaardagdatum geskryf. Lood het dit daar uitgekrap terwyl die sement nog klam was, omdat die boor op 5 Mei water gekry het. Theuns kyk na alles met sedige oë. Dan noem mense hom ou Theunie en vryf oor sy borselkop.
Oupa Sarel was ook in die oorlog. Dit was ’n ander oorlog, lank gelede, teen die Engelse, wat hulle Kakies genoem het. Hy is agter Fouriesburg se berge gevang en na ’n eiland met die naam Ceylon gestuur. Daar het hy riempiestoele gemaak en met sy knipmes borsspelde uit been gekerf. Na die oorlog het hy alles wat hy gemaak het, servetringe, blakers en eierkelkies, onder die familie uitgedeel.
Al wat hy oor het, is ’n kissie van kiaathout wat oral saam met hom reis. Daarin bêre hy allerhande interessante goed soos riempies en ’n els, ’n paar growwe naalde en gebreide leer, borsels, lappe en skoenpolitoer, botteltjies patente medisyne en sy twee knipmesse, ’n Joseph Rodgers en ’n BEST.
Die seuns weet al wat oupa Sarel gaan vra. “Waarvoor staan dit?”
Karel volg die letters op die hef heen en weer: “Baas Ek Sny Treurig, Tog Sny Ek Blik.”
“Maar Oupa hou meer van die Rodgers,” sê Dries.
“Al is dit ’n Engelse mes,” sê Karel.
Na ouma Isa se dood het oupa Sarel vir hom ’n kamer in die ouetehuis op Bloemfontein gekry en elke jaar lang rukke by sy kinders begin kuier. Hy is Lenie se pa. Sy was ’n nooi Viljoen. Sy noem hom Pappa.
Vrydagaande eet die Fouries vis. Dis nie ’n Katolieke ding nie; die Fouries is Doppers. Of liewer, Lood moes Dopper draai voordat hy met Lenie kon trou, wat hy sonder opmerklike wroeging gedoen het. Doppers sing nie gesange nie, net psalms, maar hulle eet vis net wanneer hulle wil.
Vrydag kom die vis op die trein van Kimberley af, met droë ys in goiingsak verpak. Mank Manie se lorrie bring dit van die stasie af na Hadid se kafee. Dries gaan dit daar haal. Partykeer stap Karel saam. Die seuns kyk graag hoe die droë ys die water laat borrel en skuim as ’n mens dit in die leivoor dompel.
Lood se bydrae tot hul religieuse instruksie is beperk tot die dekreet dat hulle ook Sondagskool toe gestuur moet word sodra hulle skool toe gaan. Self verkies hy om op die rusdag ’n bietjie laat te slaap, die Sondagkoerant by die kafee te gaan koop en op die stoep te sit en lees.
Lenie praat wel, as die geskikte oomblik hom voordoen, met die seuns oor Liewe Jesus. Hy kan alles sien wat jy dink en doen, al is jy alleen in die kleinhuisie. Sy het Lood oorreed om saans by aandete ’n tafelgebed te doen. Hy gee ’n kloppie op die tafel en sê: “Liewe Heer seën die kos wat ons gaan geniet maak ons opreg dankbaar daarvoor amen.”
Wanneer oupa Sarel op Koukonap kuier, aanvaar hy dit as vanselfsprekend dat daar saans huisgodsdiens gehou sal word. Lood was te onverhoeds betrap om beswaar te maak. Toe word dit vaste gebruik.
Die oubaas lees voor uit die Bybel. Wel nie meer uit die ou Statebybel nie, maar op ’n wyse wat die Afrikaans na Hooghollands laat klink. Theunie kyk hom met groot oë aan. Karel staar verlangend na die venster. Hy wonder of Dapper weer buite sit en saamluister. Dries sink al dieper weg in die deinings van die gedrae stem wat die oubaas reserveer vir die Heer. Dit styg sin vir sin tot ’n hoogtepunt … en daal. Styg-en-styg-en-styg … en daal.
Na die voorlesing volg die vrae. Elke seun moet iets vertel van wat hy onthou. Oupa Sarel vind die antwoorde ontmoedigend. Dries sê Jakob het Esau sleg bedô … Mag mens maar sê beduiwel, Oupa? Karel voel jammer vir die donkies. Watter donkies? Die donkies in die Bybel, Oupa. Theunie is bang vir die spook. Watter spook? Die Heilige Spook. Gees, sê oupa Sarel. Hy wil verduidelik, maar Theunie raak huilerig. Lenie sê toe maar ou Theunie en tel hom op haar skoot.
By die gebed mag sy aan tafel bly sit en net haar hoof laat sak. Lede van die manlike geslag moet by hul stoele kniel. Oupa Sarel bid, toegewyd en deeglik. Vir vriende en familie, oor die lengte en breedte van die land. Vir die Kerk. Vir die Regering. Vir die heidene van Afrika. Vir diegene wat dit minder ruim het as ons. Vir die ou huisgesinnetjie hier byeen in aanbidding van U, o Almagtige Vader.
Teen amen sit Theunie al lankal weer by sy ma. Die kêrels se knieë voel gekneus. Soms is dit of daar sulke borreltjies deur ’n been bruis wat half aan die slaap geraak het. Hoe die oubaas se rumatiek-knieë dit hou, is ’n wonder op sy eie, want tot Lood is duidelik stram as hy opstaan.
Ten slotte volg die samesang, op ’n manier die hoogtepunt van die aand se aanbidding. Oupa Sarel gee ’n psalm op en sit die wysie in. Sy stem kraak al by die draaie, maar hou die noot in gewyde, slepende tempo:
Uit dieptes, gá-ááns verlóó-re,
Van réd-ding vê-êêr vandáán …
Dit kan Dapper nie weerstaan nie. Deur die oop venster kom die note van sy eerste, aarselende haau-oeeee … Sy sametjank getuig van innige meelewing. Algaande draai hy die volume oop met ’n hááááu-ahóéééé! wat die rame laat rittel. Die grootmense probeer moedig die noot hou. Die seuns luister met onderdrukte ekstase hoe Dapper sy siel in sy tjank sit. HAAU-oeee, a-HAAA-OOOU!!! Dis ’n smagting wat oor die dorp se dakke draal en gevoelvol uit verskeie windrigtings beantwoord word.
Geen psalm, geen streng wysvinger, geen vermanende blik kan die golf keer nie. Nie as jou ma se gesig rooi raak en haar kop al verder sak, of jou pa na sy sakdoek tas en sy neus met toewyding blaas nie.
Maande daarna kon Dries net betekenisvol áááu sê om Karel en Theunie onhebbelik aan die giggel te kry. Jare later het hy dit geëien as ’n eerste klein opstand teen reglementering. Hy sou Dapper altyd