Onder die kraan spoel hy die bloed en stof van Dries se been af, maak seker daar sit nie korrels sand of ander vuiligheid in die skrape nie, en … bring die botteltjie Kerol te voorskyn. Dries weet wat kom en byt by voorbaat op sy tande. Oupa Sarel drup van die donkerbruin vloeistof op ’n skoon flennielappie. Sonder omhaal ontsmet hy die wond. Hy doen dit deeglik. Daarmee klaar, kyk hy met so ’n effense laggie op na Dries.
“Brand dit so erg?”
“Ja, Oupa.”
“Dis goed so, dit brand die kwaad uit.”
Toegegee, nie een van die Fourietjies se verskeidenheid snyplekke en skrape wat só deur oupa Sarel gedokter is, het ooit kwaad ingekry nie. Dit kan natuurlik ook deels toegeskryf word aan ’n gesonde leefwyse in die buitelug.
By die ontsmetting van wonde het oupa Sarel egter nie sy botteltjie Kerol gelaat nie. Vir seer keel het hy gorrel met ’n bietjie Kerol in flou soutwater aanbeveel. Die donker druppels maak die water melkerig. Vir hoes, suig aan ’n titseltjie Kerol op ’n teelepel suiker. Die Kerol kleur die suiker bruin. Daar is ’n konkoksie met Kerol en kookwater, suurlemoensap of heuning vir elke kwaal, van omgekrapte maag tot winde en koliek.
Vir hardnekkige dorings brei jy ’n trekpleister met Kerol, brood en Sunlight-seep. Idem vir nege-oë, karbonkels en pitswere. En natuurlik, vir eelte, vratte en skurwe hakskene – onverdunde Kerol, mildelik aangewend. Herhaal en skuur met puimsteen waar nodig.
Waar hy daar tussen die rakke met die botteltjie in sy hand staan, gee Dries ’n snorklaggie. Dis dalk ’n wonderwerk dat oupa Sarel se kleinseuns sy medikasie oorleef het. Tog was dit vir hul ma selde nodig om een van haar kroos vir ’n siekte of skeet dokter toe te neem. In die era van penisillien het hulle gefloreer op boererate. Toe onthou hy die bok, en dié keer lag hy hardop. Maar anders as destyds is sy lag getemper met meegevoel.
Die oubaas se oorlog was al ’n halfeeu in die vergetelheid. ’n Plaas het hy lankal nie meer gehad nie. Nie ’n trop melkbeeste nie, nie lusernlande nie, nie meer ’n kapkar en karperde en ’n ryperd en ’n met Dubbin behandelde saal en ’n deftig gevlegde karwats nie. Nie meer ’n lewensmaat en ’n dorpshuisie oorkant die kerk nie. As sy kamer in die Bloemfonteinse aftree-oord hom vaskeer, haal hy ’n trein na een van sy kinders. Met Fred deesdae doenig in Durban en Isabel en haar sielsmaat bedrywig in hul Johannesburgse ateljee, is die bestemming ál meer dikwels die Fouries – en raak sy kuiers al langer.
Oupa Sarel moes die wêreld voor sy oë sien verander het, besef Dries. Vreemd om daaraan te dink – hy is gebore in ’n tyd toe ou president Paul Kruger geglo het die aarde is plat en het geleef om te verneem die Russe het hul Spoetnik in ’n elliptiese wentelbaan om die aarde gelanseer. Suid-Afrika het ’n unie geword en Boere het vir die Engelse in oorloë gaan veg. Elke huis het ’n telefoon en ’n radio. Motorkarre ry die wêreld vol en mooi spanne osse en muile kan jy nog net op skoue sien. Vrouens dra nie meer hoed in die kerk nie en bikini’s op die Sondagkoerant se agterblad. Die Nasionale Party het in 1948 die verkiesing gewen. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.
Dis dalk een van die redes hoekom oupa Sarel hom meer tuis voel by die Fouries as by sy ander kinders. Op Koukonap verander dinge nie heeltemal so vinnig nie. Jy het tyd om daaraan gewoond te raak.
Die dorp lê tagtig myl – en dalk meer as twintig jaar – van Kimberley. Teerpaaie moet nog by Koukonap uitkom. Daar is kleinhoewes, ’n handsentrale, ’n kinderhuis en lorries wat roomkanne na die kaasfabriek vat. Deftige mense moet ’n septiese drein laat grawe as hulle ’n spoeltoilet wil hê. Jy sien nog gereeld ’n donkiekar op straat. Die negentiende eeu is nog nie heeltemal buite sig nie.
Tog kan tyd swaar op mens rus as jy nie besig bly nie. As oupa Sarel opgestaan en gesig gewas, sy bed opgemaak en boeke gevat, aangetrek en sy koffie en beskuit geëet het – wat doen hy die res van die dag? Met Lood by die werk en die kinders by die skool kan hy tog nie heeldag met Lenie sit en klets nie. Wat die tuin betref, hou Japie Tarentaal dinge goed in stand.
Die bok was Lenie se blink gedagte. ’n Vriendin op die dorp kon nie regkom met borsvoeding nie en haar baba wou nie regkom op die bottel nie. Lenie is simpatiek. Dit laat haar terugdink aan die probleem destyds met Karel. Bokmelk was toe die uitkoms. Waar kry mens deesdae bokmelk in die hande? Aha! Dit kan dalk ’n besigheidjie word. Bokmelk om allergieë te besweer. Mens kan selfs bokmelkkaas maak.
Oupa Sarel was te vinde vir die voorstel. Lood wys ’n lappie grond langs die vrugteboord aan vir lusern. En aangesien Dries uiteindelik van die duiwe ontslae geraak het, Karel se protes ten spyt, kan die duiwehok aangepas word om as bokstal te dien.
Rome is nie in ’n dag gebou nie en ’n boerdery vat ook tyd om aan die gang te kry, maar mettertyd groei die lusern kniehoog en kry die seuns hul eerste lesse in sekelsny. Met Japie se hulp word die bokstal reggemaak en ’n kraaltjie gespan. Vir ’n hele boerdery met ’n bokram inkluis sien Lood nie kans nie, maar sy navrae bring hom op die spoor van ’n lakterende ooi op een van die kleinhoewes. Die lam is gespeen en die ooi te koop.
In die weke wat volg, is dit of oupa Sarel hom met ’n sekere ironie inleef in sy nering as bokmelkboer. Sy kudde van een is ’n wit-en-bruin boerbokooi met ’n sagte bokbaardjie en verleidelike geel oë. Sy protesteer aanvanklik teen die melkery, maar oupa Sarel het al kleintyd geleer om met beneukte koeie te werk – hy skrik nie vir ’n bokooi nie.
Oënskynlik van sy rumatiek genees, al is dit tydelik, neem hy flink die korrekte melkposisie in. Hy span haar agterpote, skuif ’n bankie onder sy agterstewe in en knyp ’n emmertjie tussen sy knieë vas. Met duim en voorvinger werk hy die spene so behendig dat straaltjies melk teen die emmertjie se kant begin sing. Bella die Bok – so heet die dier in haar nuwe bedeling – raak rustig. Hier is ’n kenner bedrywig. Sy begin met ’n veraf kyk in die oë herkou.
Helaas is die idille van taamlik korte duur. Teen die tyd dat Lenie ’n paar bottels bokmelk in die Norge se vrieshokkie bewaar, raak Bella olik. Sy wil nie haar bek aan haar lusern sit nie. Sy ignoreer die lek waarmee oupa Sarel haar tempteer en trek haar neus op vir ’n mengsel van mieliemeel en melasse. Sy drink skaars water. Haar melk raak al minder. Sy staan wydsbeen met ’n kop wat hang.
Klaarblyklik tyd vir sterker optrede.
Tyd vir Kerol.
Op pad na die bokstal word oupa Sarel deur ’n prosessie Fourietjies gevolg, want hul kommer oor Bella se welstand word getemper deur diepe vertroue in hul oupa se vermoë om genesing te bewerkstellig – met die wondermiddel tot sy beskikking.
Die oubaas is goed voorberei. Hy het ’n dosis Kerol byderhand. Die gedagte is om dit met ’n lepel vir Bella te voer. Die probleem is, Bella wil nie gevoer wees nie. As sy die middel se reuk kry, vlieg haar oë wawyd oop. Sy skud haar kop nadruklik. As die lepel nader kom, kners sy op haar tande.
In sulke tye is jare se boerdery-ervaring goud werd. ’n Dorpsjapie sou miskien moed verloor. Nie oupa Sarel nie. Hy druk Bella behendig met die knie teen die draad vas en kry haar met ’n ysterhand aan die baard beet. Hy werk sy duim en middelvinger in die hoek van haar bek tussen die kake in en druk haar tong met sy voorvinger vas. Met haar kop in die lug kan sy skaars b-ê-ê sê, dis net ’n half geluidlose ê-ê. Op daardie oomblik kantel hy die lepel Kerol in haar keel af en laat los.
Bella staan ’n oomblik verbyster. Met ’n hees blêr gee sy ’n magtige sprong in die lug op, land op haar rug en skop ’n slag spasmodies met haar agterpote. Met haar laaste asem blaas sy ’n paar ligbruin borrels deur haar neus uit.
Groot drama, natuurlik. Noodbehandeling, van kunsmatige asemhaling tot ’n paar druppels Kerol in ’n teelepel brandewyn, vergeefs. Dit was verby met Bella en die hele bokboerdery. Dit was agterna ook of oupa Sarel nie meer dieselfde vertroue as vantevore in sy wondermiddel het nie.
“Dink so daaraan,” het Lood aan Lenie gesê. “Jou kinders is taaier as ’n