Koukonap. Johann Botha. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Botha
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795801280
Скачать книгу
was daar saans voor die vervolgverhaal die Oordenking. Oupa Sarel se aandgodsdiens het beperk geraak tot uitvoerige tafelgebed. Nadat hy al geruime tyd weer terug was in Bloemfontein, het Lenie soms moeite gedoen om na die Oordenking te luister.

      Arme Pappa, dink sy dan.

      9. Speeltyd

      Langs die Fouries woon die Davels. Die pater familias, Lukas Davel, ry transport. Op die werf kom en gaan stapels bakstene en vragte bousand en langs die huis is ’n groot skuur vir die lorries, ’n werksbank en gereedskap, vellings, bande en sakke sement.

      Die twee stelle ouers is nie huisvriende nie, maar hulle groet oor die draad en neem kennis van mekaar se doen en late. Die Fouries vind dit soms effens ergerlik, indien nie onbillik nie. Toe Lood Fourie ’n boorgat laat sink, laat Lukas Davel op dieselfde aar boor. Hy troef Lood se windpomp en sinkdam met ’n elektriese pomp en ’n sementdam. Pas nadat Lenie Fourie ’n rotstuintjie by haar voordeur prakseer het, word daar vir Ragel Davel ’n hele lorrievrag ysterklip en aalwyne aangery.

      “Ek gun haar dit,” sê Lenie dapper. “Dis ook nie minder as reg nie.” Daarmee verwys sy sydelings na Lukas se onboetvaardige neiging om sporadies in die kroeg vas te haak.

      “Buitendien,” por Lood. “Na-apery is …”

      “… ’n opregte kompliment,” sê Lenie. “Ek weet. Dit laat my nou amper skuldig voel.” Sy voel ook skuldig omdat sy heimlik meen Ragel se rotstuin is, omvang ten spyt, nie so kunstig soos haar eie nie.

      “Laat die Davels doen soos hulle goed dink,” sê Lood. “Iemand anders se voorspoed kos ons niks.”

      Daarmee verwys hy op sy beurt skrams na die sigbare welvaart waarvoor Davel Transport se lorries sorg. Dalk net Lenie – nie Lood nie, daarteen was sy selfbeeld bestand – sou ’n tikkie afguns in sy stem eien.

      Anders as grootmense klouter kinders maklik deur die draad. Die Davels het twee seuns, Hugo en Klein-Lukas wat Loekie geword het, en twee dogters, Tilda en Naomi. Die drie Fourie-seuns lê, wat ouderdom betref, tussenin. Dries is jonger as Hugo en omtrent so oud soos Loekie. Karel en Tilda is weer portuurs, maar sy is ’n meisiekind. Hy tou uit beginsel liewer agter Dries en Loekie aan. Theunie het nie ’n pasmaat onder die Davels nie. Tilda is te oud en Naomi te jonk. Hy volg Karel dus soos ’n stertjie, terwyl Naomi dikwels op ’n skynbaar onbetrokke afstand agter hom aan drentel.

      Lenie Fourie beskou haar oudste, soos trouens al drie haar seuns, as buitengewoon slim, talentvol, goedgemanierd en voorbeeldig. Lood is effe meer skepties. Uit episodes soos die ryery die Grootvoor in, vermoed hy ’n inherente talent vir moleste. Daarby het Dries moontlik ’n slag om vriendskappe te sluit met ongewenste elemente.

      Dat die seuns die Davels se werf onweerstaanbaar vind, kan hy verstaan. Hy vind dit ook goed as die Davel-dogtertjies soms by sy vrou kom kuier. Lenie is wel erg oor haar seuns, maar heimlik sou sy darem graag ook ’n dogtertjie wou gehad het. Hier het sy nou twee om af en toe so bietjie te bederf. Die groeiende vriendskap tussen Dries en Loekie hou hy met voorbehoud dop. Hy het die gevoel daar kan onheil uitbroei.

      Maar niks val voor wat nie toe te skryf is aan normale seunsgedrag nie. Loekie trap op ’n pendoring wat afbreek in sy voet. Dries slaan sy duimnael blou met ’n hamer. Daar word getuimel en gestoei op die bousand. Karel doen ’n kraak in die radius op en loop drie weke trots met gips aan sy voorarm rond. Theunie val van ’n stapel bakstene en die sny aan sy agterkop vereis twee steke en ’n pleister.

      Die meisies oorleef ook die werfavonture. Tilda, wat haar soms as een van die seuns reken, met voorbehoud van regte, weier woedend in aangedikte trane om sokker te speel as hulle haar bly wegstamp van die bal. Naomi se mooiste lappop, die een met die geruite blou rokkie wat sy tussen haar duim en voorvinger vryf en vryf as die lewe haar oorweldig, beland in die dam. Niemand weet hoe nie. Die pop word van verdrinking gered.

      Op ’n dag besef die dorp se seuns albastertyd het aangebreek. Die ou, melkerige soort se tyd is uitgedien. Die albasters in Keevy se winkel het veelkleurige vorms vasgevang in helder glas. Teen ’n sikspens ’n dosyn is die aanvraag stewig. Dries en Loekie besluit om die stryd strategies te benader. Hulle gaan as vennote speel en die winste deel. Hulle noem dit ’n sindikaat. Davel Transport se rommelkas het hulle ’n voorsprong besorg. Hulle spog elk met ’n knewel van ’n ghoen.

      Die alie-manie duur tot Keevy se winkel ’n besending rooi-wit-en-blou tolle inkry. Vislyn van die regte dikte is ook beskikbaar. In die skuur is daar ’n draaibank en ’n slypwiel. Na ’n gesukkel kry hulle ’n tol uit olienhout gedraai en van ’n vlymskerp punt voorsien. Die teorie is dat dit ’n gedugte wapen sal wees as rooftol gespeel word, maar sy balans is bietjie uit. ’n Mens kry hom nie gegooi dat hy behoorlik tol nie, hy waggel onbeholpe.

      Toe breek die draadkar-dae aan. ’n Kombinasie van bloudraad (vir die stuurwiel en bakvorm), staaldraad (vir goeie vering) en binddraad (vir fyner afwerking) lewer die beste resultate. Dries maak ’n Ford, want ’n Ford is die vinnigste van die merk af. Loekie verkies ’n Chev, want ’n Chev is die beste op die langpad.

      Die twee spandeer ure in hul draadkarfabriek. Karel word toegelaat as êppie, maar meisies en kleintjies se teenwoordigheid word ontmoedig, want dis soms pynlike werk as ’n draadtang ’n bloedblaas uit ’n dom vinger knyp. In sulke oomblikke wil ’n mens nie potensiële klikbekke naby jou hê nie.

      Aanvanklik word tot die wiele van draad gemaak: ’n as en twee wiele uit een stuk draad gebuig. Mettertyd word nuwe tegnologie ontwikkel. Wiele word uit leë skoenpolitoerblikke en garetolletjies geprakseer en los op ’n as gemonteer. Dit lyk nie net meer eg nie, dit maak ook ’n bevredigende geraas as jy ry. Dit ry ook vinniger, of so voel dit, al bly die spoed maar die produk van die drywer se vaart.

      Karel voltooi sy eerste draadkar, ’n robuuste boks van ’n voertuig. Hy besluit dis ’n stampkar en die ander bly versigtig uit sy pad. Dries en Loekie bemaak hul eerste pogings – dié met die draadwiele – aan Tilda en Theunie, wat nie lank geesdriftig bly oor dié gebaar nie. Draadkar ry kan harde werk word onder die Noord-Kaap se son.

      Die drie werktuigkundiges steek die straat oor na die stuk meentveld tussen die dorp en die stasie. Paadjies daar wentel tussen die bossies, klip en doringstruike deur, oor hardgebakte vaalrooi grond en blou spoelgruis in die droë lopies.

      “Is dit nie gevaarlik daar nie?” vra Lenie.

      “Nee wat,” sê Lood. “Daar’s niks erger as veldmuise en koggelmanders nie.”

      Hy maan die seuns darem weer om op te let vir slange of skerpioene, maar hy is nie regtig bekommerd nie. Hy is, per slot van sake, nie geneig tot voorspooksels nie.

      10. Doedelsak

      Die Viljoens is eerbare, gestrenge mense, in die oervorm dalk selfs bietjie humorloos, maar onder hulle is daar, soos seker in enige familie, ’n paar afwykings van die norm. So een is Boet Viljoen. Oom Boet vir die seuns.

      Hy daag een laatmiddag onaangekondig by die voordeur op, koffertjie in die hand, ’n paar dae se stoppelbaard op die wange, van kop tot toon vaal van die stof. Sy broek het bakknieë en sy hemp toon tekens van vervloë maaltye. Sy baadjie kort ’n paar knope en ’n baie goeie droogskoonmaak.

      Maar dis duidelik dat dié toevallighede hom nie juis pla nie, indien hy hoegenaamd daarvan bewus is dat hy dalk nie op sy heel beste vertoon nie. Hy laat val die koffertjie en betrek die seuns se ma in ’n hartlike, broederlike omhelsing. Voor sy kan koes, kry sy ’n klapsoen op die mond.

      En hy praat soos ’n damwal wat breek.

      “Liewe tyd, Lettie! Ná al die jare! Hoe goed is dit om jou te sien! Jy lyk nog net dieselfde! En is dit nou die drie seuns? Hel, maar hulle is groot knape! Ek dag nog hulle is babatjies! Wys jou net hoe mens kan kontak verloor met jou familie!”

      As hy nader tree om die seuns te groet, retireer hulle so effens. Net ver genoeg om buite bereik te bly. Theunie se groot kykers wyk nie ’n oomblik van dié vreemde oom nie. Dapper, wat kom kyk het wat aangaan, se lyftaal is soortgelyk. Sy nekhare rys, maar hy blaf halfhartig,